Aardklop: Rina Hugo en Zanne Stapelberg in ATKV-musiekproduksie

  • 0

AMEN, ’n ATKV-musiekproduksie gebaseer op gebedsmusiek en liedere waarin die woord "gebed" voorkom, het vroeër vanjaar gedebuteer op die US Woordfees en was een van die topverkopers van Woordfees 2013. Hierdie produksie het musiek uit alle genres, onder andere klassieke musiek, musiekblyspele, gospel, kontemporêre musiek, opera en selfs rock, wat verwerk is vir klassieke stemme, ’n 9-stuks orkes en ’n massakoor, ingesluit.

AMEN vind dan ook binnekort by Aardklop plaas en gehore kan uitsien na vertolkings van onder andere die bekende "Magaliesburgse Aandlied", Mozart se "Laudate Dominum", "Bring Him Home" uit Les Misérables en selfs Madonna se "Like a Prayer".

Rina Hugo, vir jare reeds een van Suid-Afrika se gewildste sangeresse, en sopraan Zanne Stapelberg, wat ook geen bekendstelling nodig het nie, is die ankerstemme van hierdie program. Die sopraan Caroline Modiba het so pas Muziqanto, die ATKV se nasionale klassiekesangkompetisie, gewen en die ATKV sluit dan ook met trots vir Caroline by hierdie unieke musiekproduksie in.

Alle verwerkings is gedoen deur die Gautengse orrelis, Ockie Vermeulen, en die orkes bestaan uit die volgende musici:

  • Klavier (Ockie Vermeulen) *musiekregisseur
  • Kitaar (Juan Oosthuizen)
  • Baskitaar (Denny Lalouette)
  • Tromme (Hugo Radyn)
  • Viool 1 (Lizelle le Roux)
  • Viool 2 (Nelly Shmukler)
  • Altviool (Jeanne-Louise Moolman)
  • Tjello (Susan Mouton)
  • Saksofoon (Matthew Lombard)

Die koor van Hoërskool Wonderboom in Pretoria, onder leiding van Albert Morland, vorm ook deel van hierdie produksie.

AMEN is ’n ATKV-produksie, met Ilse Sch?rmann as uitvoerende vervaardiger namens die ATKV. Hierdie produksie word in samewerking met die US Woordfees aangebied. Let asseblief daarop dat AMEN nie ’n gospelproduksie is nie, maar dat die musiek en uitvoering daarvan gehore se hart en siel sal aanraak.

Hierdie unieke konsert vind op Sondagmiddag, 29 September om 14:30 in die Sanlam-ouditorium in Potchefstroom plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Die vertoning duur 70 minute met geen pouse nie.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top