Kaapse sopraan wen ATKV-klassiekesangkompetisie

  • 0

Tydens ’n glansgeleentheid  in Oudtshoorn op Saterdagaand, 10 Augustus is Caroline Modiba (27) aangewys as die algehele wenner van die nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto

ATKV-Muziq is die afgelope 12 jaar die ATKV se jaarlikse bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika. Die ATKV het egter besluit om naas Muziq, wat ’n instrumentale klassiekemusiekkompetisie is,  sedert  2011 ’n verdere bydrae te lewer tot die stimulering van sang in Suid-Afrika. Dié staan bekend as Muziqanto en is ’n nasionale klassiekesangkompetisie vir deelnemers tussen 18 en 35 jaar oud.

Die eerste ronde het vanjaar gedurende Mei plaasgevind. Die tweede en finale ronde van ATKV-Muziqanto het die afgelope naweek tydens die Klein Karoo Klassique-fees in Oudtshoorn plaasgevind. Dit is die tweede keer dat Muziqanto deel van hierdie fees uitgemaak het. Slegs twaalf kandidate is landswyd gekies om in Oudtshoorn te gaan sing, alhoewel een kandidaat ongelukkig moesonttrek as gevolg van persoonlike omstandighede.

Caroline Modiba, algehele wenner van ATKV-Muziqanto, in aksie.
Foto: Rudy van Heerden

Vyf  finaliste is aan die einde  van die tweede ronde gekies om tydens die finale ronde saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes, onder leiding van maestro Albert Horne, op te tree. Tydens hierdie geleentheid het die internasionaal bekende diva Mimi Coertse die pryse oorhandig. ’n Totale prysgeld van R60 000 is uitgeloof.

As  algehele wenner het  Caroline  prysgeld ter waarde van R35 000 ontvang. Sy is tans ’n lid van die Kaapstad Opera Studio, en neem ook sang by Hanna van Niekerk aan die Universiteit van Kaapstad se College of Music.

Thembisile Twala (mezzo-sopraan) het ’n algehele tweede plek ter waarde van R15 000 verower. Noluvuyiso Mpofu (sopraan) is as die derde plek-pryswenner aangewys en ontvang R7 000. ’n Prys van R3 000 is aan Bongiwe Nakani (mezzo-sopraan) toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse stuk. Sy het hierdie prys ontvang vir haar vertolking van Eerste Liefde, gekomponeer deur JP Steyn.                                               

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit sameroeper Lize Thomas, voorheen hoof van die TUT Operaskool in Pretoria, maar deesdae betrokke by Cape Town Opera, die mezzo-sopraan Elizabeth Lombard en Njabulo Madlala, die internasionale bariton wat as een van Suid-Afrika se voorste stemme gereken word en tans in Londen woonagtig is.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie,  RSG,  is vanjaar as amptelike mediavennoot van Muziqanto betrokke.

Van links na regs: Japie Gouws, besturende direkteur van ATKV-groep, Caroline Modiba en Mimi Coertse.
Foto: Rudy van Heerden

 
 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top