Aardklop is dood, lank lewe Aardklop

  • 2

 

Ilza Roggeband (foto: Naomi Bruwer)

Dit voel nog onwerklik. Soos 'n kêrel wat jou onverwags afgesê het. 'n Geliefde wat laat weet het dis nou genoeg, hulle wil jou nie weer sien nie.

“Dis te vinnig!” wil jy uitroep. Julle kon ons gewaarsku het, ons toegelaat het om aan die gedagte gewoond te raak. Genoeg tyd gegee het om te rou. Nie só nie! So met 'n laatnagberiggie wat soos 'n klein veldbrand op my Facebook versprei het.

“Die Aardklop-kunstefees sal nie weer plaasvind nie. Die direksie van die fees het dié aankondiging Woensdagaand in 'n verklaring gedoen. Luidens die verklaring sal die Aardklop-stigting voortaan fokus op 'nuwe, innoverende modelle om te verseker dat die uitvoerende kunste wel suksesvol bevorder en ondersteun word',” het Netwerk24 geskryf. (Lees ook hier.)

Net so. Mat onder die voete uitpluk.

Nie Aardklop nie. Net nie Aardklop nie.

My eerste Aardklop was in 2000. Huisgenoot, wat groot sukses met hul musiekverhoog by die KKNK behaal het, het besluit om dieselfde konsep Aardklop toe te neem. Dit was my eerste keer ooit in Potchefstroom.

Die verhoog was op Die Bult. As ek reg kan onthou, het daar nog nie somerreëns geval nie. Dit was droog en die gras was vaal. Op die verhoog het 'n paar bekende name opgetree. Ook 'n paar onbekendes, onder andere Kurt Darren, wat toe nog op passasiersbote gesing het. Feesgangers het die stoele vol gesit in die warm son. Laat in die aande het ons in Die Akker gaan kuier.

Huisgenoot se verhoog het al groter geraak, later geskuif na 'n stuk grond naby die sportvelde.

Daar is soveel stories. Die dag toe dit so hard gereën het dat die grond 'n roesbruinmoeras geword het. Die koöperasie het later nie meer waterstewels gehad om te verhoop nie. (Kurt en Dunay, toe nog sy meisie, het vir my 'n paar gekoop en na die Huisgenoot-tent gebring. Dis nou nog in my kas.) Die krag was vir 'n paar uur af, maar the show went on. Daardie selfde jaar het een van die buitelugkonserte uitgereën en dis inderhaas na Huisgenoot se tent verskuif. Dit was asof die reën almal, kunstenaars en feesgangers, die konsert net nog meer laat geniet het.

Ek onthou die jaar wat Laurika Rauch daar was met 'n konsert met haar grootste treffers. Net sy en Clinton Waring wat haar op klawerbord begelei het. Die aand se program was vol. Robbie Wessels met sy “Leeuloop” was voor Laurika, Kurt was ná Laurika. Die tent was gepak.

Terwyl Robbie op die verhoog was, het Laurika se klankman na my toe gekom. “Hoe gaan julle die mannetjie van die verhoog kry?” het hy gevra. Ek het hom belowe Robbie weet hy mag nie oor sy tyd gaan nie. Dit was ook so. Maar ek was senuagtig. Die mense was jolig. Op stoele gedans en gepaartie.

“Speel walvisklanke as jy moet, enigiets om die mense rustig te kry,” het ek vir die klankman gesê toe Robbie van die verhoog stap.

Dit was nie nodig nie. Toe Laurika op die verhoog stap, het die mense geklap en gefluit en toe gaan sit. Dit was asof die hele atmosfeer in die tent binne oomblikke verander het. Op 'n stadium het die gehoor so hard saam met Laurika gesing dat sy vir 'n oomblik moes asem skep, aangedaan oor die warm ontvangs.

Dit was die groot bloeityd in Afrikaanse musiek. Feesganers het stapels CD’s gekoop. Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Lianie May, Ray Dylan, Nicholis Louw, Klopjag, ddisselblom, Georgia, Jan Blohm …

In 2008, ná ek weg is by Huisgenoot, begin ek vir Aardklop se feeskoerant Spat skryf. Kobus Louwrens is die redakteur, Ivor Price sy assistent. Saam met my op die redaksie is onder meer Deon Maas, Theo Kleynhans en Harry Kalmer. Saam met ons is 'n span joernalistiekstudente, ywerig om te leer.

Ons werk hard en hardloop van die een produksie na die ander. Maar tyd vir kuier was daar altyd. Hoe dan anders as jy vir Deon en Theo as partners in crime het?

Ek word weer gevra om in 2009 vir Spat te skryf. En weer en weer. My partners in crime het deur die jare verander, maar ons het ook minder geword. Twee jaar gelede word Herman Lategan deel van die span; verlede jaar is ek en hy die enigste werkende joernaliste op die span. Thalyta Swanepoel is redakteur en Jacolette Kloppers die hoofsub, maar dis ek en Herman en 'n groep studente wat moet sorg dat die koerant vol kom. Maar nogtans sal ons jubel.

Soos met enige ding wat groei, het die fees deur die jare verander. Daar was die jare waarin jy amper kon verdwaal tussen die massas, gesukkel het om 'n tafel in 'n restaurant te kry. Later, veral met die slim idee om die verhoë na die feesterrein te verplaas, het die fokus van die fees verskuif. Die Bult was verlate, maar daar was altyd parkering voor die Boeke-oase. Og, die Boeke-oase met sy gesprekke, rakke en rakke vol boeke en geselsies onder die sambrele terwyl jy 'n koffie of crème soda drink. Dalk water teen die hitte en droogte. (Hoe het ons Kapenaars nie gesukkel met die droë lug nie!)

Die gehalte van die produksies deur die jare was amper deur die bank goed. Ja, daar was so hier en daar 'n laagtepunt – ek is onder meer twee jaar gelede 'n dametjie genoem wat nie weet waarvan ek praat nie terwyl die “kunstenaar” my minder vleiende resensie op die verhoog rondgeswaai het – maar as ek terugkyk na die 15 feeste wat ek bygewoon het, is dit die hoogtepunte wat uitstaan.

Verlede jaar se Moeder Moed en haar kinders.

Die jaar voor dit Die Seemeeu. God van Chaos, waar Anna-Mart van der Merwe my laat lag het dat die trane loop.

Christo Davids en Jody Abrahams se Titanik: Een yslike avontuur.

Wentel, wat ‘n fisieke uitwerking op my gehad het en gesorg het dat ek ná die tyd vir 'n ruk moes gaan sit om diep asem haal.

Die eerste keer wat ek vir Mathys Roets op 'n verhoog ná sy ongeluk gesien het, was by Aardklop.

Die buitelugkonserte.

Toni Wille van Pussycat wat saam met Luna Paige “Vier Seisoene Kind” sing.

Hoe ek vir Albert Hammond gesê het as hy “buy a donkey” sê, sal die mense dink hy sê dankie.

Te veel hoogtepunte om te noem.

En dan: wanneer ek aan Aardklop dink, dink ek aan twee dinge wat aan die een kant niks met die fees te doen het nie en tog ook alles met die fees te doen het – die Elgro en Snowflake. Die Elgro, waar ek vir baie jare gewoon het. Waar die mense my later op my naam gegroet het en waar daar steeds radio’s in die bed se headboard ingebou is. Waar die vrou wat die omelette gemaak het, my gegroet het met 'n “môre, sisi” en waar daar muesli en jogurt in wynglase bedien is. Waar jy met ontbyt by amper elke tafel kon stop om 'n geselsie te maak: Wat het jy al gesien? Wat is jou hoogtepunt tot dusver? Wat gaan jy nog kyk?

En Snowflake. Snowflake, Snowflake, Snowflake. Santoni Engelbrecht met haar bos rooi hare en bont tekkies wat musikante gaan uitgrawe het wat ons asems weggeslaan het. DJ Chopper wat die dansvloer vol gehou het. Die mense, die shooters, die kuiers. Die min slaap, en die volgende oggend weer ontbyt eet en aangaan asof jy 16 jaar oud is.

Daar was die kuns. Altyd op die Maandagaand begin by die Kunssafari. Eers by die Botaniese Tuin, dan na die Ouditorium, die Alumnisaal, later na die uitstalling van die feeskunstenaar. Glasie wyn in die hand, gesels-gesels tussen die kuns deur. Ek kyk na die mure in my huis en sien werk wat ek deur die jare gekoop het: Strijdom van der Merwe, Wendy Malan, Theo Paul Vorster, Sandile Goje, Michele Rolstone … Die werk wat ek wou koop, maar nie kon nie. Angus Taylor, Gerhard Marx, Diane Victor, Daniël Naudé, Susan Grundlingh …

Jy kan nie kuns by Aardklop praat sonder om Theo Kleynhans se naam te noem nie. Sy rondleidings was legendaries. Met kennis het hy vir jou van elke kunstenaar, elke stuk vertel. Kuns lewendig gemaak.

Dan die mense, die wonderlike mense wat ek nie andersins sou leer ken het nie. Die span van Aardklop. Eers Giep van Zyl en later Marelizé Kruger. Toe Andries Vrey met sy pet op die kop en sy pakkie sigarette naby. Anne-Marie Raath vir wie niks ooit moeite was nie. Die studente wat sy elke jaar gereël het om ons rond te ry. Slim kinders met goeie maniere. Chrizanda Botha, Anadia Grobler, Sunet van der Merwe en Monique Jacobs. Die formidabele Marguerite Robinson. Estelle Dippenaar, JP en Ruda Landman, Rudolf en Sonia Gouws, Salie en Lisa de Swardt. Mense wat jy jaar na jaar by die fees gesien het en almal met een gemene deler: Aardklop en die kunste. En 'n geselsie en 'n glas wyn.

Natuurlik was daar skinder en skandes, maar ek dink aan hoe ek en Theo altyd gepraat het van “ons is nou in die kar”, met ander woorde hierdie storie bly hier en net hier. En “in die kar” sal dit bly. Want wanneer ek terugdink aan my 15 Aardkloppe, dink ek daaraan met suiwer vreugde in my hart. My lewe sou soveel armer sonder Aardklop gewees het. Ek sien daarna uit om te sien wat die Aardklop Stiging beplan.

Aardklop is dood, lank lewe Aardklop!

  • 2

Kommentaar

  • Giep, as burgermeester van Tarentaal is toeka al gevra, Hoekom ... Hoekom ... Hoekom?
    Nou vra ek ook Hoekom?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top