Aardklop 2021-persverklaring: Opwipfees, 28 September – 3 Oktober

  • 5

https://aardklop.co.za/

Met groot opwinding maak Aardklop bekend dat ons voortgaan met die beplande opwipfees. “Ongeag met wie jy praat, die versugting bly dieselfde: Ons het almal ’n behoefte om asem te haal, letterlik en figuurlik.  Maar veral om sáám asem te haal. Kunstenaars en die publiek smag na uitlaatkleppe en blote samesyn. Aardklop 2021 inspireer, verrras, vermaak en nooi uit: Kom skep saam asem!” Alexa Strachan, feesbestuurder.

’n Mini-Aardklop, wat ’n verskeidenheid van drama, musiek, films, gesprekke, kursusse en visuele kuns insluit, word 28 September – 3 Oktober by verskillende plekke en teaters in Pretoria aangebied: Atterbury Teater, die Voortrekkermonument en Afrikaanse Hoër Seunskool.

Volgens Alexa Strachan is die belangrikste redes vir hierdie besluit Aardklop se behoefte om ’n platform en hoop te bied aan kunstenaars en mense in ’n bedryf wat op sy knieë gedwing is. Die feit dat die skool- en universiteitsvakansies bly verander, asook die beperking op getalle, maak dit onmoontlik om die fees in sy tradisionele formaat in Potchefstroom aan te bied.

Aardklop se borge en vennote, wat die NWU Potchefstroomkampus, Dagbreek Trust, NATi,  Atterbury Trust, AK 21, en LW Hiemstra Trust insluit het hul begrip vir en ondersteuning aan die projek uitgespreek.

Die suksesvolle aanbieding van Aardklop Pronk Podium by die AfriForum-teater verlede week, het boonop bewys dat Aardklop-gehore in Gauteng steeds die fees wíl ondersteun.

In ware opwipformaat, sal die verskillende produksies en kaartjieverkope daarvoor bekend gemaak word binne die volgende paar weke.

Produksies waarvan die kaartjieverkope reeds geopen is, sluit in:

  • Karnaval van die diere, met onder andere Nataniël (verteller), pianiste Charl du Plessis en Megan Geoffrey-Prins
  • Frank Opperman se debuutproduksie Ek wens, ek wens
  • Opdrifsel met die bekroonde akteurs Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels

Vir enige navrae, skakel 087 527 0023, stuur ’n e-pos aan navrae@aardklop.co.za

  • 5

Kommentaar

  • Hoewel ek begrip het vir die omstandighede ... Is die NWU so in vrees vir die virus dat daar nie slegs kleiner getalle akkomodeer kan word, ipv om van dorp te verskuif nie? Dit is 'n reuseteleurstelling!
    Nietemin is ek bly dat ons wel 'n Aardklop kan bywoon.

  • Sewes Scholtz

    Ek verstaan nie baie mooi nie. Mis ek iets? Nou hoekom kan Potch nie 'n Aardklop-opwipfees beleef nie?
    Wat word beplan vir die toekoms? Of het Pretoria nou finaal Aardklop gekaap?
    Vra maar net.

  • Die fees loop nou dood. Koebaai, Aardklop. Eers word agteroorgebuig om mense buite ons tradisie te akkommodeer, en nou word verskillende dorpe betrek. Maak nou maar vir elke dorp 'n fees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top