Aardklop 2017: Tinarie van Wyk Loots oor Asem

  • 1

  • Besoek Aardklop se webtuiste vir nog inligting en besonderhede oor die program. Kaartjies by Computicket.

Naomi Meyer gesels met Tinarie van Wyk Loots oor Tinarie se rol in Asem.

Tinarie, jy klim, wil dit voorkom, soms byna daagliks in nuwe karakters se velle in. En wórd daardie mense. Vertel my eers: hoe doen mens dit? Hoe vind jy vir elke karakter ’n stem, maniërismes en ’n ander persoonlikheid?

Die belangrikste ding is om die storie te vertel – al die leidrade is in die teks self – en dan maar net te probeer om toe te laat dat elke karakter sy of haar stem vind om sy of haar storie te kan vertel. Dit is een van die aspekte van teater wat ek so geweldig baie waardeer, omdat jy die geleentheid kry om die storie wat jy vertel op te neem, die karakter intiem te kan leer ken, en verrassende ontdekkings maak, nog tot op die laaste.

Wild. Hemelruim. Gif. Plant vir my ’n boom, André. Dogma. Die lys van verhoogstukke waarby jy betrokke is, gaan aan en aan. Wat is lekker aan Asem, wat is uitdagend?

Dit vereis baie fokus en konsentrasie – alhoewel die stuk om die sentrale karakter, Anna – gespeel deur die ongelooflike Antoinette Kellerman – draai, is dit bitter belangrik vir die ondersteunende karakters om juis dit te doen – haar te kan ondersteun en die spanningslyn en die magie nie vir ’n oomblik te laat ontspan nie. Die aard van die karakters vereis dikwels baie stilte, en dis eintlik baie moeiliker om stil te wees as om gedurig aan die beweeg te wees – dit is ’n absolute studie in luister na mekaar, en saam die intrige te dryf na die onvermydelike, met Anna aan die helm. 

Antoinette Kellerman en Tinarie van Wyk Loots in Asem

Vertel my asseblief van jou karakter in Reza de Wet en Marthinus Basson se Asem.

Ek vertolk die rol van Annie, Anna se anemiese dogter – sy is amper wasig in haar bestaan, asof tussen werklikheid en droom, die strewe na ware liefde, maar ook oorlewing – en daar is iets nie heeltemal pluis nie – maar ek wil nie te veel verklap nie!

En ook: jou karakter het ’n ander stem, telkens, in elke produksie. Maar die dinamika verander ook: toneelstukke loop ten einde en nuwe toneelstukke skop af. Hoe voel Asem vir jou, voor hierdie fees (Aardklop 2017), hierdie slag?

Dit voel vir my ons hele teatergemeenskap is een groot uitgebreide familie – ’n mens voel beslis die leemte na so ’n intense en intieme ervaring van ’n feesspeelvak, maar die breke daarna is ook so broodnodig. Die wete dat ons mekaar weer en weer sal raakloop en saam speel, is so ’n heerlike vooruitsig dat dit dikwels selfs die uitdagendste teater ’n ervaring maak om na uit te sien, omdat dit met sulke wonderlike mense gedeel word. Dit is so ’n voorreg om só ’n familie te hê. Ek sien so uit daarna om almal weer by Aardklop te kan sien.

Tinarie van Wyk Loots in die program In die bed met Bibi

En kom ons praat oor die gehoor. Nog ’n veranderlike. Bepaal hul reaksie op jou karakters hoe jy is? Of is jy wie jy is – jou karakter op daardie oomblik, op daardie dag? Het ’n gehoor in die donkerte van die saal enige impak op hoe jy speel?

Een van die aspekte van teater wat vir my so onontbeerlik is, is die feit dat dit lewende storievertelling is – iets amper oer, wat die mensdom nog altyd gedoen het – ’n oordrag van idees, verligting en vermaak, en omsigtigheid. En dit is juis hierdie aktiewe verhouding tussen gehoor en speler wat vir my so wonderlik is. Dit is absoluut veranderlik en organies, en op ’n manier is mens oorgelewer daaraan. Maar dit behoort nie jou karakter of spel te verander nie – die besluite wat geneem is in die repetisielokaal staan nog steeds, en ten spyte van die gehoor se reaksie – positief of negatief, vol sale of ’n enkele bywoner – vertrou jy die teks, jou medespelers, jou regisseur, jouself en al die werk wat julle gedoen het, en keuses wat gemaak is. Dit is makliker gesê as gedaan, en dit is elke keer anders, maar weer eens: dit is iets wat die ervaring so efemeer maak – hierdie uitruiling en verkenning van energie in ’n geborge spasie soos ’n oeroue tradisie en studie van menswees.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johan Esterhuizen

    Knap onderhoud! Tinarie besit selfinsig, insig en waardering vir haar beroep en 'n openhartige toeganklikheid wat nogals noemenswaardig is. Daarby is sy ook net plain talentvol!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top