Aardbewings: die aarde wat skud en rammel – wat van Suid-Afrika?

  • 1

Daar is tot 50 aardbewings elke dag – ons voel dit net nie altyd nie. Dit maak ons almal bang om ’n groot een te beleef, omdat jy soos met enige natuurramp totaal uitgelewer is.

Dit is onvoorspelbaar.

As dit voorheen gebeur het, kan dit weer gebeur, sê kenners, want Kaapstad het in 1809 en 1811 twee gróót aardbewings gehad. Die verskil is, vandag is die area bebou en hier is honderde duisende mense.

Nou die aand, net ná middernag toe ’n aardbewing wyd in Kaapstad en omgewing gevoel en gehoor is, het die onaardse gerammel my wakker gemaak. ’n Mens se brein gaan nogal vinnig deur verskeie scenario’s – my eerste gedagte was: Dit is ’n Boeing wat op ons en die nabye Groote Schuur-hospitaal val. Nie gáán val nie, hy is bésig om te val. Dit is bokveld toe met honderde mense. Ons ook.

Maar ek vra nogal: “Wat is dit?” En my lewensmaat, wat nog wakker is, sê: “Dit is ’n aardbewing.” En toe hoor ek dit anders. Elke mens beskryf dit anders, soos hulle dit ervaar vanuit hulle verwysingsraamwerk. Vir my het dit gevoel soos branders van reuserotse wat aangerol kom. En in daardie paar sekondes het ek gedink: Dit was diep in die see, naby aan ons kus.

Die seismologiestasies het dit binne minute geregistreer: 3,5 groot en 5 km diep sowat 47 van Saldanha.

’n Aardbewing wat op Suid-Afrikaanse bodem gebeur, of in die oseaan plaasvind, sodat ons dit voel, bly nuus, omdat ons dit nie daaraan gewoond is nie. Daar was egter al meer as 60 skuddings met ’n aardbewinggrootte (magnitude) van 5 of meer sedert 1809 in die land gewees.

Elke dag is daar seismiese aktiwiteite in Suid-Afrika en regoor die wêreld.

Die meeste seismiese aktiwiteite in die land vind weens goudmynbedrywighede plaas waar ’n klomp klein skuddings saam gebeur. Die myne is tussen 2 km en 4 km diep en die openings wat gevorm word, is aan geweldige druk onderwerp. Hulle kan ontploffend ineenstort, wat energie vrylaat in die vorm van seismiese skokgolwe wat dan soos aardbewings voel. Dit kan ook teen natuurlike breuke langs beweeg.

’n Deel van San Francisco ná die aardbewing in 1906. Foto: HD Chadwick / Nasionale Argief, VSA

Almal ken die naam Richterskaal, maar dit is eintlik iets wat redelik swak verstaan word. Dit is aangepas deur die jare om drie verskillende waardes saam te voeg wat te doen het met die grootte. So word daar dan verskillende M-waardes gegee. Die moment magnitude (Mw) wat juis na die golwe kyk, soos waar hulle reis en hoe hulle ontstaan, is dit wat mense vandag aan dink die Richterskaal is, maar dit word eintlik nie meer deur die wetenskaplikes gebruik nie. Nog verskeie ander wiskundige metodes word ingespan om die energie te bepaal, die eienskappe van die rots, die diepte en afstand

Die Gemodifiseerde Mercalli-skaal meet die intensiteit van die skudding, veral wat mense ervaar, en hulle beskrywings wat in die omgewing gebeur het. Dit word ook gebruik om historiese aardbewings te “meet” of ’n waarde aan hulle te gee. Die skaal is van I, waar byna niks gevoel word nie, tot VII, waar daar totale verwoesting is. Hoe lank ’n mens dit voel of hoor is belangrik – dit dui aan hoe naby en groot dit is.

Op 10 April 1695 is daar ’n aardbewing in Kaapstad gevoel, soos opgeskryf, en kenners het intussen volgens die beskrywings ’n grootte van 4,5 daaraan toegeken. Dit was iewers naby die dorp gewees, maar dit is onseker waar. Toe, op 14 Augustus 1857, was daar weer ’n soortgelyke skudding wat die mense van Kaapstad tot in Citrusdal en Genadendal gevoel het, en ’n grootte van 5,5 tot 6 is later daaraan toegeskryf. Kenners glo dié skudding was in die Ceres-Tulbagh-omgewing gewees, presies soos later weer op 29 September 1969.

In 1809 en 1811 was daar twee groot aardbewings in Kaapstad, naby die hedendaagse Milnerton. Op die plaas Jan Biesjeskraal is die plaashuis egter totaal verwoes in so ’n skudding. Daar het die aarde oopgeskeur, ’n myl lank en so breed ’n mens kan ’n ysterstaaf waaraan jy ’n gordyn hang daarin steek, het WL von Buchenroder daaroor geskryf.

Op 2 Junie 1811 het hy weer geskryf:

The weather, during the forenoon, had been warmer than usual; and the air was calm and perfectly tranquil. At this time I was in my room occupied in preparations for the journey: a part of the garrison, having been exercising on Green-Point, were returning to their barracks, when a sudden and violent explosion shook the whole house, with a noise as loud as that of a cannon fired close at the door. In three or four seconds after this, another report, still more violent and sharp, like the loudest clap of thunder, shook the building more forcibly than the first; and at the same moment I felt a strange and unusual motion. The atmosphere at that instant was agitated by a dreadful concussion.

I hastened out of doors to ascertain what had happened; but when I came into the street, and beheld all the inhabitants rushing out of their houses in wild disorder and fright; some pale and trembling, running up and down, unconscious whither they were going; mothers distracted at not finding their children with them; and every one with terror depicted in his countenance, crowding into the open street; when I beheld this, I instantly guessed that an earthquake had happened, for no answer could be got from those to whom I addressed the question; fright prevented their hearing what was said. … I believe that every individual inhabitant of Cape Town, men, women, and children, excepting those who from infirmity were unable to move, was, at that time, out in the street. There, all remained for at least an hour; and many for the whole day.

Walking afterwards about the town, … I was told that many houses were exceedingly rent, and some more materially damaged: but none were actually thrown down. At the mill, however, at Salt-river, the dwelling house, it was said, had received so much injury, that the owner considered it no longer safe or habitable. … Many of the ornamental urns which had escaped the earthquake of 1809, were now tumbled from the parapets down into the street: one on the top of the house where I resided, was shivered to pieces; and the wall of my bed-room was in the same instant divided by a crack which extended from the top of the house to the bottom.

’n Foto geneem deur die Amerikaanse Vloot op 5 Januarie 2005, dae ná die aardbewing en tsoenami op 26 Desember 2004. Dit was ’n nedersetting in Soematra. Foto: Wikipedia Philip A McDaniel

Hierdie was groot aardbewings: 1809 (6,5) and 1811 (6,0), soos hulle later beskryf is. Dit was weens skielike verskuiwings op ’n breuk aan die kus van Bloubergstrand, volgens navorsing. Gedurende die ontwikkeling van die Koebergkernkragstasie is die breuk gekarteer as ’n gordel wat in ’n noordoostelike rigting loop, sowat 8 km aflandig van Koeberg. Dit strek ook suidoos onder Milnerton en kan selfs baie ver oor die sentrale Kaapse Vlakte loop, tot by die noordoostelike dele van Valsbaai, weens die groot breuk tussen Rooiels en Bettiesbaai. Dit hou ’n bedreiging vir tienduisende mense in.

Wanneer dit by aardbewings kom, en as jy na die historiese data kyk, skets dit nogal ’n vreesaanjaende prentjie.

Die kernreaktor is gebou op ’n aseismiese fondasiestelsel om ’n aardbewinggrootte van 7 te weerstaan 10 km van die episentrum af. Nou ja, dit voel soos ’n effense troos.

’n Area aan die kuslyn van die Stille Oseaan van 40 000 km, min of meer in die vorm van ’n gebuigde perdeskoen is die Vuurring. Sowat 90% van aardbewings en 75% van vulkaniese uitbarstings vind daar plaas. Skets: Wikipedia

Oor ’n area aan die kuslyn van die Stille Oseaan van 40 000 km ver, min of meer in die vorm van ’n gebuigde perdeskoen, is daar die Vuurring. Sowat 90% van aardbewings en 75% van vulkaniese uitbarstings vind daar plaas.

Al langs die Vuurkring oorvleuel die plate, of subduksiesones. Die plate wat onder is, word afgedruk deur die boonste plate. Soos die plate afgedruk word, smelt hulle en word magma, en dit lei weer tot ideale toestande vir vulkane. Maar op een van die plekke – ’n grens tussen die Stille en Noord-Amerikaanse plate is daar ’n transformasiegrens; hier skuif die plate langs mekaar. Daar is dit nog erger en groot aardbewings vind hier plaas omdat soveel spanning in die kors opbou.

Dit was ’n aardbewing van 9,1 diep in die see naby Indonesië in 2004 – deel van die Vuurring wat die verwoestende tsoenami veroorsaak het. Dieselfde het gebeur in 2011 toe ’n aardbewing van 9,0 in die see ’n tsoenami veroorsaak het. Wie sal ooit die tragiese en traumatiese beelde van meer as 250 000 mense wat gesterf het, vergeet? Vele van daardie beelde bly my steeds by.

Navorsing is gedoen om te kyk wat die risiko is dat Kaapstad, Durban en Port Elizabeth getref word deur tsoenami’s wat veroorsaak is deur aardbewings. Drie bronne is geïdentifiseer waar dit kan ontstaan. Die sone in Soematra-Andaman; die Makran-trog naby die Golf van Oman; en die Suidelike Sandwich-eilande is bestudeer en dit hou nie ’n wesenlike risiko vir Suid-Afrika in nie, selfs al is dit so erg soos wat dit in 2004 was.

Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie – natuurrampe is almal ewe angswekkend. Tog, op ’n manier is dit maar net die hoe ons planeet is – dit is eerliker as dit wat ons aan haar doen.

 

Ander bronne

Sarad Master, Januarie 2012. Oldest “earthquake” in South Africa (Robben Island, 7 April 1620) discredited. South African Journal of Science. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0038-23532012000500020

CJH Hartnady. Cape Town Earthquakes: Review of the historical records. https://www.disaster.co.za/pics/Cape_Town_quakes.pdf

M Brandt. Seismic hazard in South Africa, 2009. Seismological Research Letters http://wiredspace.wits.ac.za/bitstream/handle/10539/9298/PART1.pdf?sequence

Bejaichund, M ea. Seismotectonic models for South Africa: Synthesis of geoscientific information. Problems, and the way forward, 2009. https://www.researchgate.net/publication/250075373_Seismotectonic_Models_for_South_Africa_Synthesis_of_Geoscientific_Information_Problems_and_the_Way_Forward

McCarthy M. Hoe op aarde? 2009. Struik Nature

Andrzej Kijko; Tsunami hazard assessment of coastal South Africa based on mega-earthquakes of remote subduction zones; pure and applied geophysics, 2018. 10.1007/s00024-017-1727-3

 

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top