Aantekeninge teen die skemeruur deur Clinton V du Plessis: ’n lesersindruk

  • 2

Aantekeninge teen die skemeruur
Clinton V du Plessis
Uitgewer: Cordis Trust Publikasies
ISBN: 9780994691354

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die digbundel Aantekeninge teen die skemeruur is pas gepubliseer. Dit is Clinton V du Plessis se negende digbundel. As ek dink aan poësie, dan raak ek lankal nie meer outomaties opgewonde nie. Poësie herinner my te veel aan onverstaanbare verse, vol vreemde woorde, en bekgevegte oor wat nou eintlik digkuns is en wat nie. “Daar verskyn te veel poësie!” klink die uitroep mos elke dan en wan. En die Facebook-digters staan ook in die tou sê: Ons het ook ’n plek!

Ek voel oor dit alles soos wat ek oor musiek voel: as ek daarvan hou, dan hou ek daarvan, en basta! Du Plessis se skryfwerk geval my eenvoudig, en ek het oor die jare in ’n ywerige leser van sy verse ontwikkel.

Aantekeninge teen die skemeruur is in ’n sekere sin ’n bietjie voorspelbaar. Die titel verklap alreeds dat dinge in hierdie bundel somber gaan raak, sommer baie somber. En so is dit ook. Die bundel is opgedeel in sewe afdelings. In die eerste afdeling, getiteld “Prewelings”, val die fokus veral op skryf en die skrywer. Hier moet mens verkieslik al ’n bietjie belese wees met die ontwikkeling van Afrikaanse poësie as jy al die verse beter wil waardeer. Jy moet vertroud wees met TT Cloete se skryfwerk, waarop Du Plessis ’n tipe repliek lewer in ’n vers getitel “God: Die rekenmeester” (Du Plessis is self ’n rekenmeester van beroep). Daar is ook etlike verwysings na en sinspelings op ander digters, veral DJ Opperman (1914– 1985).

In “Stelwerk” skryf hy oor die digkuns: “Ook digters sal brand, soos fakkels in ’n donker land” (18).

Vir my is “Taalles 101” een van die aangrypendste verse in die bundel. Dit verskyn in afdeling twee getiteld “Littekens van landskappe” en vertel iets van die tragiese verlede van Afrikaans: “die taal het ’n balaklawa gedra/ As die derde mag in die donker lokasies van teeninsurgensie.” ’n Uiters nodige vers in die tyd waarin ons sit! Want mense het perspektief verloor oor die verlede van Afrikaans. Ek hoop dat hierdie vers in die toekoms deur skole voorgeskryf sal word.

Du Plessis se skryfwerk wemel van eietydse vraagstukke en karakters. Die heengaan van ikone soos David Bowie en Leonard Cohen. Die politiek. Die pynlike apartheidsverlede. En daarby ingemeng kom outobiografiese motiewe. In “Gereserveer” is die onderwerp skynbaar ’n persoonlike ervaring van die apartheidsjare. “89, nie uit nie” is ’n lofgedig oor die digter se ma, wat verskyn in afdeling drie getiteld “Kiekies”. In hierdie afdeling is daar ook “Memories are made of this”, wat aansluit by die fotomotief en verklaar: “Alle skrywes word ’n soeke na verlore tyd.”

Die laaste vier afdelings van die bundel, getiteld “Restant”, “Plakboek”, “Wiegeliedjies” en “Nag!”, is aansienlik korter as die eerste drie. Ook hier word skryfwerk self as onderwerp verder gevoer, soos in “Bly te kenne”, wat handel oor die Nederlandse skrywer Joost Zwagerman, wat oorlede is weens selfdood.

“Eerste skooldag”, ’n vers in die afdeling “Wiegeliedjies”, is vir my nóg ’n hoogtepunt. Hierdie vers herinner my eerder aan ’n Boeddhistiese gebed as aan enigiets uit die Afrikaanse digkuns. Du Plessis het my stilgeskryf met hierdie vers, en mens kan dit gerus gebruik vir meditasie: ’n mens bly immers jou hele lewe lank ’n student/skolier. En elke dag is ’n nuwe begin met nuwe geleenthede.

In “Verdwaal”, in dieselfde afdeling, borduur Du Plessis voort op die somber aard van die res van die bundel, en hier handel dit oor vier kinders wat in 2011 gesterf het weens hongersnood in Noordwes. In die proses deel hy ’n stewige en welverdiende klap uit na die TV-program Top Billing en die persoonlikhede wat daarmee geassosieer word.

En ten slotte is daar “Nuusberig as lykdig”, nóg ’n aangrypende vers wat weer stilstaan by die afsterwe van Suna Venter, die bekende joernalis en lid van die sogenaamde SABC 8, wat oorlede is weens ’n hartverwante toestand.

Of Aantekeninge teen die skemeruur die goedkeuring van die letterkundige owerstes gaan wegdra, sal ons nou maar moet wag en kyk wat gebeur. Du Plessis skryf juis in “In my kanon” oor “’n versigtige, miskien ja-knik van Hambidge” (35). Maar vir my het hierdie bundel meer as genoeg substansie om daarvan ’n treffer in my boekies te maak. Miskien verskyn daar tog te veel poësie. Of miskien nie. Ek het nie sekerheid oor die saak nie. Om die waarheid te sê krap die vraag nie juis aan my nie. Maar van een ding is ek seker: ek gaan hierdie bundel herlees.

  • 2

Kommentaar

  • Naomi Grobbelaar

    Aantekeninge teen die skemeruur van Clinton V du Plessis is Dinsdag19 Desember 2017 op RSG se Vers en Klank met voorlesings deur Daniel Hugo bekend gestel.(Potgooi). Drie eksemplare met sy handtekening was uitgeloof in 'n sms kompetisie. Dankie RSG! In die donker het ek teen my "skemermuur" vasgehardloop om my foon te gryp, maar ek kan nie wag om ons eie SA Clinton vas te hou en in die oë te lees nie. Du Plessis is 'n rekenmeester van Cradock. (Aantekening: ek reken - hy is 'n meester met hierdie bundel...)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top