Aansoeke ingewag vir LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool

  • 0

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting bied van 12 Oktober tot 1 November 2020 ’n mentorskapprogram vir belowende Afrikaanse en Engelse skrywers aan. Die Kommadagga-slypskool, wat gemik is op skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, sluit aan by die instansies se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig.

Die naam van die slypskool verwys na die omgewing waar Jakes Gerwel grootgeword het. Die slypskool word in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos gehou en Rachelle Greeff, die bekende skrywer en dramaturg, sal as mentor optree.

Verblyf, vervoer en alle etes vir vyf kandidate op Somerset-Oos is by die program ingesluit. Voornemende deelnemers kan nou aansoek doen om vir dié geleentheid in aanmerking te kom. Aansoeke sluit op Maandag 14 September 2020 om 12:00.

Belangstellendes wat op kortverhale, rubrieke, tydskrifstories, artikels of meningstukke wil fokus en nog nie voorheen ’n boek gepubliseer het nie, kan aansoeke stuur aan [email protected]. Die volgende besonderhede moet aansoeke ingesluit word: ’n kort biografiese beskrywing, volledige kontakbesonderhede, een of meer skryfstukke waarop slegs die titel van ’n stuk aangedui word, asook ’n kort motivering hoekom die kandidaat meen hy/sy sal by die projek baat. Volledige besonderhede is hier op LitNet beskikbaar.

Etienne van Heerden, LitNet se stigter-redakteur, sê: “Jakes Gerwel het my in LitNet se beginjare gehelp om ’n borgskap vir die webwerf te kry. Uitstekend dat ons nou, dekades later, met die Stigting kan saamwerk, en ’n bekwame mentor soos Rachelle Greeff kan hê.”

Die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, sê: “Ons is trots daarop om ons werksaamhede saam met LitNet te kan uitbrei en die kortkuns-genre te bevorder. Dit is veral opwindend dat ons nie net op die kortverhaal as sodanig sal fokus nie, maar ook op die skryf van artikels, tydskrifverhale en meningstukke – alles maniere om deur skryfwerk ’n inkomste te genereer.”

Rachelle Greeff (Foto: Bernard Jordaan)

Rachelle Greeff, wat haar merk in Afrikaans en Engels gemaak het, was die begeleier van verskeie jong skrywers wat die afgelope agtien maande met gerekende publikasies debuteer het. Rachelle werk in verskeie genres en het al gesogte pryse vir haar kortverhale ontvang. Haar bekroonde toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik is landwyd gesien en The sewing machine is in 2012 op die Edinburgh Festival opgevoer. In 2002 was sy ’n finalis van The Caine Prize for African Writing, ook “The Baby Booker” genoem. Van haar skryfwerk is ook in Duits, Nederlands en Deens vertaal.

Van suksesvolle kandidate word verwag om werk te lewer vir publikasie op LitNet, en om onderhoude toe te staan. Ingevolge die nasionale rampregulasies rakende die COVID-19-pandemie sal daar van kandidate verwag word om tydens die skrywersverblyf gehoor te gee aan saniterings- en distansiëringsvoorskrifte, en om vrywaringsvorms te teken.

Die Jakes Gerwel Stigting fokus veral op die bevordering en uitbou van die Suid-Afrikaanse letterkunde. LitNet vier vanjaar sy 21ste verjaarsdag, en is sedert 1999 toegewy aan die slyp van nuwe talent.

Lees hier vir meer besonderhede:

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool

LitNet and the Jakes Gerwel Foundation’s Kommadagga writing workshop

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top