Aanpassings: Digitale immigrante in die land van digitale inwoners

  • 3

christamorrison650

In die tuine van tale is daar altyd aktiwiteit – ploeg, plant, nuwe groei, snoei, onkruid uitroei. Waar en hoe dit ontstaan het en hoe die mens hier arbei, lei ons na nuwe en braak grond en stel ons in staat om nuwe saad te kultiveer en plant.

Van die belangrikste toerusting tot ons beskikking oor die afgelope paar dekades was tegnologie. Dit en die gepaardgaande media het hierdie landskap en sy vrug aanhoudend vergroot, verander en verryk met nuwe moontlikhede in denkpatrone en gedrag, nuwe formate, nuwe platforms.

Lesers en skrywers is tans massamediaverbruikers en digitale-tegnologie-gebruikers. Die impak hiervan strek wyd. Tegnologiese vernuwing, ekonomiese ambisie en kulturele skuiwe gaan hand aan hand en om die impak daarvan te probeer begryp moet mens globaal en na die tydlyn kyk – na die oorsprong, na wat nou gebeur en hoe ontluikende tendense lyk.

Mediageletterdheid is nie net belangrik om effektief te kommunikeer, inhoud te skep en te verbruik nie, dis ook noodsaaklik om die wêreld te verstaan waarin hierdie tuine van tale en hul bewoners bestaan.

Die eerste generasie wat gebore is en grootgeword het in ʼn wêreld waar tegnologie die primêre bron is van inligting en kommunikasie, die sogenaamde digitale inwoners, se eerste taal is nie Afrikaans, Engels of Xhosa nie, dis digitaal. Die res van ons sal altyd met een voet in ʼn ou akker staan, altyd die gebruikers wees van ʼn ander eerste taal, ʼn predigitale taal.

Dit is reeds ou nuus dat die herhaaldelike blootstelling aan stimulasie soos byvoorbeeld aan die woordeskat van ʼn taal, neurale weë en netwerke vorm. Generasies wat minder as 5 000 ure gelees het teen die ouderdom van 22 jaar, meer as 10 000 ure videospeletjies gespeel het, meer as 20 000 ure TV, YouTube en ander video’s gekyk het en sowat 200 000 selfoonboodskappe gestuur het, se breine, denkpatrone en gedrag lyk anders as dié van die sogenaamde digitale immigrante wat as primêre bron van inligting en kommunikasie papier, penne, hul stemme en landlyntelefone gebruik het of steeds gebruik.

Stap in die paadjie van tyd en klim deur drade

Die aanpassing by digitaal as taal is net nog ʼn stap in die mens se vermoë om geleenthede aan te gryp en uitdagings te oorbrug. Om terug te stap in tyd: skryftaal het ons ná spreektaal in staat gestel om ons denke geografies en oor tyd wyer te deel. Rekenaars het dit moontlik gemaak om foute makliker te herstel; die internet het lands- en tydsgrense basies laat verdwyn; en mobiele toestelle en sosiale media maak van die wêreld ʼn 24 uur per dag virtuele piekniek.

Digitale immigrante

Digitale immigrante leer, soos alle immigrante, om aan te pas by ʼn nuwe omgewing, by ʼn ander manier van doen, kommunikeer, by ʼn ander kultuur – sommiges vinniger en meer suksesvol as ander. ʼn Aksent is moeilik om van ontslae te raak wanneer jy ʼn tweede taal probeer baasraak – hoe langer jy jou eerste taal gebruik het, hoe meer onwaarskynlik en moeiliker.

Die “aksent” van digitale immigrante kan gesien word in byvoorbeeld hul soeke na inligting eerstens op plekke weg van die internet en dan eers op die internet as tweede opsie, in hoeveel vingers gebruik word om selfoonboodskappe te stuur, in volledige sinne en woorde in selfoonboodskappe, in telefoonoproepe om seker te maak ʼn e-pos is ontvang, in geel Post-it-notas op die rand van ʼn rekenaarskerm, in ʼn papieradresboekie, in ʼn brag-boekie, in ʼn uitgedrukte dokument wat geredigeer word met pen of potlood, ens.

Wetenskaplikes wys dat tale wat eers later aangeleer word, ander dele van die brein stimuleer. Sonder om dus eers te kyk na hoe digitale inwoners tegnologie gebruik as kommunikasiemiddel en hoe hul gedragspatrone verskil, is ʼn voor die hand liggende vraag: Is dit enigsins moontlik vir digitale immigrante om die taal van digitale inwoners so goed te kan gebruik dat al die nuanses reg geïnterpreteer en verstaan word? Vra dit konstante aanpassing? Vra dit moeite, herhaalde blootstelling, ʼn doelbewuste poging?

Aan die ander kant: Maak dit sin om van die inwoners te verwag om die immigrante se taal te praat – so goed soos die immigrante self? Maak dit enigsins sin om te verwag dat die inwoners dieselfde gedragspatrone en kultuur sal openbaar as die immigrante? Kan die gebruike en reëls van die immigrante se taal wat letterlik verskil van hul eie, in hul leefwêreld, by hul toerusting en denkpatrone pas?

Digitale inwoners

Die kanse dat die tegnologiese revolusie sal omkeer, is nul. Die kanse dat die breinstruktuur van digitale inwoners gaan verander en lyk en funksioneer soos dié van digitale immigrante, is ook nul. Om die kommunikasiegaping kleiner te maak tussen die twee “taal”-groepe sal aanpassings gemaak moet word – komende meestal van die digitale immigrante – soos alle immigrante wêreldwyd buig en van kan getuig.

Digitale inwoners se blootstelling aan doelgerigte interaktiewe videospeletjies van jongs af het ʼn groot impak op hul geheue, fokus, aandagspan, kennis, ruimtelike-oriënteringsvermoëns en probleemoplossingstegnieke. Besluite word van kleins af (met ʼn vinger op ʼn knoppie) in minder as ʼn sekonde geneem met duidelike nagevolge. Interaksie (ʼn reaksie op ʼn aksie) is natuurlik deel van hul wêreld. Hulle is gewoond om inligting in lae te ontvang – skakels lei na ander bronne en media soos ente op takke.

Hoe en waar kommunikeer digitale inwoners?

Hoewel syfers van land tot land en tussen kulture verskil, het die afgelope dekade gewys dat dit net ʼn kwessie van tyd is voor die tendense in Eerstewêreldlande of kulture hulself tot ʼn groot mate in die res van die wêreld herhaal.

ʼn Kwart van die wêreld se bevolking gebruik tans sosiale media. Elke 60 sekondes word ongeveer vyf miljoen plasings op Tumblr gepos, 300 000 foto’s op Snapchat en meer as vyf miljoen video’s op YouTube gekyk. Meer as 90% van die jeug (13–17 jaar oud) wat toegang tot tegnologie het, spandeer daagliks tyd op digitale platforms, meer as 70% op Facebook. ʼn Kwart van die jeug is “amper heeltyd” besig om te kommunikeer of media te skep of digitale tegnologie te gebruik vir ontspannings- of ander behoeftes. Die jeug spandeer gemiddeld agt ure op verskeie toestelle (videospeletjies, musiek, video’s, sosiale media, ens).

Studies in 2010 het reeds bewys dat die gebruik van selfoonboodskappe as kommunikasiemedium meer gewild is as oog-tot-oog-kommunikasie. Sowat 30% van boodskappe tussen tieners behels die uitruil van inligting (bespreking van gedeelde belange soos skoolwerk ens) en die res het te doen met die vestiging en versterking van hul verhoudings met mekaar (nagsê, bemoediging, ens).

Onlangse studies wys dat die gebruikers van mobiele slimtoestelle net ongeveer vyf toepassings gereeld gebruik. Vir die jeug sluit dit sosiale media, speletjies en boodskappe in. Die gewildste kategorieë is speletjies, musiek, video’s/films, multimedia, sport en boeke/tydskrifte/prentstories.

Die digitale landskap staan vol bladwisselende bome – aanhoudende verandering en vernuwing van byvoorbeeld platforms. Tans vind ons boekliefhebbers op Goodreads, storievertellers op Cowbird, nuusverslaafdes op Twitter en Medium, fotoliefhebbers op Instagram, stokperdjie-entoesiaste op Pinterest en Etzy, visuelekunsliefhebbers op DevianArt.

Hierdie gemeenskappe trek mense van verskeie ouderdomme, tale en lande. Informele, visuele en bondige taalvorme is aan die orde van die dag. Dié gemeenskappe word nie uitgeken of gekies vir die taal wat gebruik word nie, ook nie volgens ouderdom of kultuurgroep nie, maar vir die uitruil van idees (in watter mediavorm of kombinasie daarvan ook al), belangstellings en waardes wat gedeel word. ʼn Voorbeeld daarvan is die 26 miljoen mense wat onlangs op Facebook hul profielfoto’s in reënboogkleure verander het om die regte van homoseksuele mense te ondersteun.

Die interaksie tussen taal, ekonomie en kultuur hier ruil gereeld plekke as saad, grond en reën.

Digitale immigrante en bewoners skud hande in Afrikaanse letterkunde

Goeie voorbeelde van hoe digitale immigrante hard werk en nuwe beddings spit om die jeug se taal beter te verstaan en tot hul te spreek, word in Johan Anker se artikel Die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van ’n nuwe sosiale paradigma in ’n onlangse Afrikaanse jeugroman” op LitNet bespreek.

Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo se jeuglektuur illustreer hoe die jeug se taal, digitaal, verweef is nie net in die predigitale taal Afrikaans nie, maar ook in die jeug se leefwêreld gefokus op konnektiwiteit, interaktiwiteit en toeganklikheid.

Nuwe formate, genres en fiktiewe karakters wat deelneem aan RS (rolspeletjies) en verwikkel is in kuberverhoudings, dra die stempel van ons tyd. Ek raak opgewonde as ek dink aan hoe die digitale inwoners sal uitbou hierop. Hierdie taalaarde is vrugbaar in dimensies wat nie bestaan het in die era voor elektroniese media nie.

Tendense

Die veranderings in die mens se gebruik van taal word tans aangespoor deur die moontlikheid van en behoefte aan blitsige kommunikasie, konstante konneksie met mekaar, die gebruik van interaktiewe multimedia op verskillende platforms en die toeganklikheid vanaf verskeie toestelle op dieselfde tyd. Dit is tans digitale inwoners (en immigrante wat goed aanpas) se behoefte en gemaksone.

Die toenemende bekostigbare gebruik en beskikbaarheid van mobiele toestelle met hul beperkte grootte en opbeperkte invloed op die manier van kommunikeer en die tipes media wat gemaklik daarop gekommunikeer kan word, verklaar die gewildheid van bondige en visuele kommunikasie. Snapchat, Instagram en YouTube is die gewildste platforms.

Wetenskaplike studies wys dat die mens se brein selfs woorde as visuele beelde en klanke herken. In ag genome hoe lank dit neem om ʼn gesproke en geskrewe taal aan te leer en daarin te kommunikeer en hoe lank dit dan weer neem om die simbole of klanke in die brein te ontsyfer as beelde, maak dit sin dat spoed en kleiner spasie die mens dwing om terug te keer na wat natuurlik en vinnig in die brein verwerk word: klanke en visuele beelde. Oudio, video, videospeletjies ander vorme van visuele kommunikasie is nie net die kenmerk van elektroniese tegnologie waarmee digitale immigrante grootgeword het nie, die mens se brein is nog altyd heel eerste daaraan blootgestel – lank voor geskrewe taal. Die mens as sodanig honger daarna en word daardeur versadig.

Ons skets vir mekaar beelde, narratiewe, animasie – of ons nou bloed, of spoeg op klip, ink op papier, of pixels op ʼn elektroniese skerm gebruik. Stories sal ons aanhou vertel; ons taal en tale sal aanhou groei, gesnoei word; nuwe saad sal skiet.

Verskillende taalgebruikers (Afrikaans, Spaans, Punjabi, Ndebele ens) sal meer en meer vrugte deel, die smake herken in klank en beeld want dit is wat van ons tonge sal rol en ons oë en ore vul. Hierdie nuwe priëel is ’n netwerk wat baie stamme en wortels deel en nog baie digter sal groei.


 

Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Johan Anker wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van ’n nuwe sosiale paradigma in ’n onlangse Afrikaanse jeugroman.

Lees nog webseminaarbydraes hier.

  • 3

Kommentaar

  • Schalk van Wyk

    Baie interessante artikel. Ek sou ook graag wou weet watter invloed die digitale media op die kreatiewe denke van die digitale immigrante het.

  • Dit is 'n lekker-lees artikel met insig. Dit is 'n artikel wat ek vir my Pa en seuns kan gee om te lees, en almal sal dit kan geniet en kop knik. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top