In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Op 28 Junie 1878 het 'n gekose komitee van die destydse Kaapse parlement begin met 'n baie sonderlinge ondersoek – die eerste in ons regsgeskiedenis.[i] Die komitee, onder voorsitterskap van sir Thomas Upington – die latere eerste minister van die Kaapkolonie – moes ondersoek instel of regter James Coleman FitzPatrick 'n geskikte persoon was om dié belangrike en hoë amp te beklee. Dit was na aanleiding van sekere ernstige klagtes wat oor die regter ontvang is.
Regter FitzPatrick was 'n Ier van geboorte. Hy het, in volgorde, in Ierland as advokaat gepraktiseer, daarna diens gedoen as hoofregter van die Goudkus, toe as regter in Brits-Kaffrarië, Grahamstad, en uiteindelik in Kaapstad. Hy was reeds nege jaar lank lid van die Kaapse regbank toe die ondersoek in 1878 deur die gekose komitee geloods is. Die aanstigter daarvan was die 31-jarige parlementslid vir Graaff-Reinet, Andries Maasdorp – die latere regter-president van die Vrystaat.
Daar was heelparty klagtes teen regter FitzPatrick, onder meer dat hy sy plig sou versuim het deurdat hy die openingsdag van die rondgaande hof op Oudtshoorn, 24 Maart 1877, sou uitgestel het sodat hy 'n plesiertog na Knysna kon onderneem. Dit sou ongerief en onkoste vir beskuldigdes, getuies, prokureurs en advokate veroorsaak het.
Voorts was daar vyf klagtes dat hy "onsobere gewoontes" sou gehad het. Hy sou glo byvoorbeeld eendag met die rondgaande hof se sitting op Riversdal opvallend erg onder die invloed gewees het, tot verleentheid van die geselskap wat hom buite die dorp ontmoet het.
'n Verdere klagte teen regter FitzPatrick was dat hy fisiek nie geskik vir sy taak was nie, omdat hy nie 'n dag lank kon konsentreer nie en elke middag 'n uiltjie sou geknip het terwyl hy op die regbank gesit het.
Verder is die regter daarvan beskuldig dat hy nie oor die nodige verstandelike vermoëns vir sy pos sou beskik het nie. Hy sou feite met mekaar verwar het en soms die feite net eenvoudig nie begryp het nie. As voorbeeld is genoem 'n geval waar iemand aangekla is van aanranding, maar waar die regter aan die einde van die saak in sy opsomming vir die jurie gesê het dat hulle die arme beskuldigde sommer aan moord skuldig kon bevind! (Ja, daar was ‘n tyd toe die juriestelsel wel in Suid-Afrika gegeld het.)
Die verhoor voor die gekose komitee het meer as 'n maand geduur en die verslag – wat 295 bladsye beslaan – bevat onder meer regter FitzPatrick se aangrypende rede waarin hy homself klaarblyklik met groot bekwaamheid verdedig het. Hy was 'n skerpsinnige, gevatte en welsprekende debatteerder, 'n meester van die Engelse taal. Kyk net hoe mooi betuig hy byvoorbeeld sy spyt dat hy sy dokter moes roep om oor sy swak gesondheid te getuig, blykbaar die rede vir sy slaperigheid en anderlike verdagte simptome: "I have had to hawk my sufferings as beggars hawk their sores; not to extort alms, but to solicit justice." In Afrikaans sou dit min of meer só lui: "Soos 'n bedelaar met sy sere smous, so moes ek my gesondheid oopvlek; nie om aalmoese te bekom nie, maar ter wille van geregtigheid."
Die gekose komitee het die meeste van die klagtes eenparig verwerp, maar bevind dat onder meer die plesiertog na Knysna terwyl werk gewag het, 'n mate van ongerief en verspilde koste teweeggebring het. Andries Maasdorp en twee ander lede van die komitee het egter voet by stuk gehou dat die regter nie fisiek vir sy taak geskik was nie, maar hulle was in die minderheid.
Die uitslag was 'n triomf vir regter FitzPatrick. Sy gesondheid was egter swak en 'n jaar na die gebeurtenisvolle sitting van die gekose komitee het hy met pensioen afgetree. Hy is die volgende jaar – in 1880 – in die ouderdom van 64 jaar oorlede. Sy beroemde seun, sir Percy FitzPatrick – die skepper van Jock of the Bushveld – het sy regter-pa se wonderlike literêre gawes geërf en verder uitgebou.
[i] Vgl in die algemeen Ellison Kahn: The trials and tribulations of Mr Justice FitzPatrick. South African Law Journal (1958), deel IV, ble 428 ev.


