A wrinkle in time

  • 1

met Oprah Winfrey, Reese Witherspoon, Mindy Kaling, Storm Reid, Zach Galifianakis en Chris Pine

“The wound is the place where the light enters you.” – Rumi

Is dit moontlik vir die mens om op ’n manier verbind te wees aan wesens of elemente ligjare van die aarde af? En is hierdie konneksie sterk genoeg vir ons om ’n invloed daarop te hê of veranderinge teweeg te bring, en selfs om daardie konneksie te gebruik om binne ’n paar sekondes tot daar te reis?

Mnr en mev Murray se navorsing poog om hierdie vrae te beantwoord, maar nadat mnr Murray op ’n dag spoorloos verdwyn, is sy gesin vasgevang in die onsekerheid van of hy nog lewe en of hulle hom ooit weer gaan sien. Wanneer hy na vier jaar steeds vermis word, roep sy geniale sesjarige seuntjie, Charles Wallace, drie wesens op om hom en sy wantrouige maar intelligente ouer sussie, Meg, te help om hulle pa op te spoor.

’n Mens sou dink dat die “wrinkles” wat hulle moet oproep om na ander plekke in die heelal te reis die grootste uitdaging van hierdie soektog sou wees, maar die karakters besef gou dat die toutrekkery tussen goed en kwaad, die pyn van die verlede (soos Meg se uitdagings ten opsigte van haar selfbeeld en boelies) en die onsekerheid en hartseer sedert hul pa se verdwyning ’n groter uitdaging bied. Maar soos Rumi se aanhaling dit stel, is dit juis hierdie wonde wat lig oor donker laat seëvier.

Al is hierdie Disney-film, geskoei op Madeleine L’Engle se roman, meer op kinders gemik, is daar oorgenoeg dialoog en humor wat dit vir volwassenes lekker sal maak om saam met die jongspan te kyk. Ons het almal nou en dan nodig om te hoor dat daar ’n ontelbare aantal dinge sedert die ontstaan van die heelal op spesifieke maniere bymekaar moes gekom het vir ons elkeen om op hierdie tyd en plek te wees wie ons is en dat ons, ten spyte van ons tekortkominge, goed genoeg is. Dit help ook dat Oprah Winfrey die een is wat ons opnuut daarvan bewus maak!

Kinders sal die oordrewe kostuums en spesiale effekte geniet, alhoewel die grimering en kostuums na my smaak ’n bietjie meer afgerond kon gewees het, en die spesiale effekte ’n bietjie meer professioneel. Die kombinasie van fantasie en werklikheid is wel baie goed gebalanseer en help jou om die dialoog ernstig op te neem, terwyl die fantasie-elemente jou onverwags wegvoer na plekke waar niks is soos dit op die oppervlak lyk nie.

Die jong akteurs se spel is verbasend goed en die tienjarige Deric McCabe sal beslis jou hart steel. Storm Reid, wat die rol van Meg vertolk, is veelsydig en beeld die kompleksiteite van haar ouderdom en spesifieke uitdagings uitstekend uit. Alhoewel bekendes soos Oprah Winfrey en Reese Witherspoon belangrike rolle vertolk, oorskadu hulle nie die jonger akteurs nie.

Die film lewer belangrike kommentaar op dinge soos boeliegedrag, selfbeeld, ouers se teenwoordigheid tydens kinders se vormingsjare en om jou tekortkominge te aanvaar. Ek beveel dit beslis aan vir ’n volwasse kyker wat ontvanklik en nie oorkrities is nie, en vir kinders wat ’n liefde vir fantasie en/of wetenskap het.

  • 1

Kommentaar

  • Resensie van die film "A Wrinkle in Time" - natuurlik geïnspireer deur die religie van die opoffering van die Weste op die altaar van die Jeshua verwerpende Linkse "god" (dese "god" onder meer bestaande uit mammon - geld, oikofobiese selftugtiging en selfvernedering, globalisme, nihilisme, egalitarisme "gone wrong", internasionalisme en so meer).
    "Despite the presence of the some of the biggest stars in the world (Oprah Winfrey, Reese Witherspoon, Chris Pine), despite coming from a children’s novel beloved for decades, despite the second-to-none marketing machine that is the Magic Kingdom, the movie was an economic catastrophe ... As Breitbart News reported at the time, the crucial mistake the filmmakers and Disney made was removing the Christianity from what is essentially a Christian children’s book.
    My point is not that this act of anti-Christian bigotry hurt the movie by offending moviegoers, but that this act of bigotry stripped Wrinkle of if its central themes, and by extension, of all the substance and human insight that comes with Christian themes, which are also universal themes. According to countless reviews, what was left was a confection of empty calories: lovely CGI on the outside and a black hole of meaningless spirituality on the inside ..."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top