A feast from nature deur Renata Coetzee: ’n resensie

  • 0

Regs: Renata Coetzee op die agterste flapteks van Spys en drank, Struik, 1988

A feast from nature
Renata Coetzee
Redakteur: Truida Pekel

Uitgewer: African SUN Media
ISBN: 9780620790734

Renata Coetzee het op 27 Junie 2018 op 88-jarige ouderdom heengegaan. Hierdie tragiese nuus het ek ontvang terwyl ek in die Suid-Kaap wittebrood gehou het, en kort nadat ek dr Coetzee net vlugtig by ’n bekendstelling van haar laaste boek, A feast from nature, ontmoet het. Ek het die boek saamgeneem na Franskraal, waar ons ons kort vakansie deurgebring het, en was dadelik beïndruk met die gehalte en leesbaarheid van dié treffende stuk werk.

Toevallig was daar ’n hele paar kookboeke in die gastehuis op Franskraal, onder andere Spys en drank, die oorsprong van die Afrikaanse eetkultuur met 167 outentieke reseppe, deur die einste Renata Coetzee. Die uitgewer was Struik, in 1988, en daar is ’n foto van ’n jong Renata op die omslag agter. Die boek is A4-grootte en in portretformaat, terwyl Feast in landkapformaat (354 x 250 mm) is. Albei is hardeband en in volkleur. Feast kos R650 en dit is die tweede uitgawe. Spys en drank het vir die eerste maal in 1977 verskyn.

In die mediavrystellingsblad wat ek saam met die boek ontvang het, word vermeld: “Renata explored the food culture and lifestyle of early humans, and of the Khoi-Khoin. She combined many decades of of knowledge as a nutritionist and food culture expert with multidisciplinary research of over 15 years – bringing together aspects of archeology, palaentology, botany, genetics, history, languages, culture and much more, in a unique way. While scientificaly sound, it is beautifully illustrated and a true collectors piece.”

Bostaande, hoewel ’n bekvol, is geen oordrywing nie. Inteendeel, dit som mooi op hoe ek dit ook wou stel – dat dit ’n slim, weldeurdagte interdissiplinêre benadering gevolg het, gemik op die algemene mark. Feast is in meer as een opsig ’n fees, en vir ’n groot aantal feesgangers, nie net diegene wat in genoemde studievelde belangstel nie. Die skrywer en haar medewerkers het dus ’n wye net gegooi, en hoewel die prys sommige mense mag afskrik, sal hulle reeds met die eerste deurblaai besef dat hulle waarde vir hulle geld kry.

Ek self, wat veral in argeologie, geskiedenis en kultuurgeskiedenis belangstel, maar interdissiplinêre benaderings hoog ag (dit gaan immers oor die groter prentjie, en ’n mens wens dat meer mense in ons land dit kon besef), en Feast is werklik ’n baken wat dit betref – ek is in my noppies om hierdie boek op my rak te hê. Ongetwyfeld sal dit dikwels daar afgehaal word om weer en weer gelees te word; nie net vir die inligting nie, maar ook omdat dit visueel so treffend is – dis esteties gesproke ’n plesier om te aanskou, te danke aan Adriaan Vorster se uitstekende ontwerp en uitleg en die skeppings van kundige fotograwe en illustreerders. Terloops, een van die fotograwe wat voorheen met Renata saamgewerk het, die 89-jarige Günther Komnick, was ’n week tevore ’n gas by my troue, en ook teenwoordig by die genoemde bekendstelling op Stellenbosch. So klein is die wêreld ...

Maar genoeg van hoe die boek met my persoonlik praat. Hoe sal ander dit ervaar?

Eerstens is dit ooglopend meer as net nóg ’n kleurvolle koffietafelboek. Dis 232 bladsye vol navorsingsresultate wat keurig aangebied word en so doelmatig verskaf word dat selfs ’n lui leser dit sal wil verslind. Soos Mark Solms dit voorin stel: “In an age where information is so rapidly accessed over the internet, it is easy to overlook the herculean effort that went into this book.” Hy sê dit het die skrywer ’n leeftyd geneem om hierdie inligting te versamel en dat die boek die produk is van sodanige omvattende en nougesette werk; ’n kroon wat op ’n lewenstaak gespan is. Renata Coetzee is waarskynlik dié kenner van inheemse kosse, ’n titel wat sy met dekades van toewyding verdien het.

Wat die inhoud betref, kan ’n mens kwalik die diepte en omvang in ’n paar paragrawe beskryf. Om darem ’n idee hiervan te gee is dit nuttig om na die indeling te kyk, naamlik: Part 1: Roots of the first humans; Part 2: Veld food; Part 3: Game and fish; Part 4: Herds and flocks; Part 5: History, nutritional value and conservation of the Khoi-Khoin veld-food plants. Daar is ook ’n bibliografie, indeks en ’n tydlyn wat die evolusie en migrasie van die vroeë mens aandui.

Daar is werklik soveel interessanthede in die boek vervat, dit verstom ’n mens – soveel meer as net oor kosse: soos die spelwyses van die destydse inheemse taal en die invloed daarvan op Afrikaans; dié mense se tradisonele kalender; die tipes oermense en fossiele wat in suidelike Afrika ontdek is; asook kewers, plante, gereedskap, woonplekke, versierings, tradisies en die verslae wat deur Europeërs daaroor gedoen is, by wyse van tekeninge en skriftelike beskrywings. Die afbeeldings is pragtig en in kleur, soos ook die talle foto’s van onder andere gebak (soos askoek, potbrood, vetkoek) en vissoorte, wilde diere, en plante met hulle Engelse, Afrikaanse en Latynse name, en soms Khoi-name, afgebeeld.

Om af te sluit, A feast from nature is ’n fees om te lees, en ’n verrykende kenniservaring, maar daar is iets méér ... dalk ’n eggo uit ’n gedeelde verlede wat alle mense kan waardeer. Mag Renata Coetzee se bydrae tot ons geskiedenis ons help om ’n groter begrip van mekaar te ontwikkel en sodoende ’n beter toekoms te beding. Lees dit gerus – dis ’n belegging, beide as Africana en vir persoonlike bevrediging. En glo my, ek bedoel dit – ’n man lees nie (sommer enige boek) tydens sy wittebrood nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top