![]() |
oewerbestaan Melt Myburgh Uitgewer: Protea Boekhuis ISBN: 9781869193690 |
![]() |
Marike se laaste dans Deborah Steinmair Uitgewer: Human & Rousseau ISBN: 9780798151467 |
Melt: Hoe het die Sênet-job jou geïnspireer om te skryf?
Deborah: Vir my was dit baie besielend, veral die mense wat góéd geskryf het, wat so terloops goedgeformuleerde, vars gedagtes op die interwebs losgelaat het, dikwels anoniem. En uit ander se briewe het ek geleer hoe om my nié uit te druk nie, watter wollerigheid, temerigheid en herhaling soos ’n vasgehaakte grammofoonplaat om uit te skakel.
Wat ek bowenal geleer het, is: less is more. ’n Mens het maar ’n paar sekondes om iemand se oog te vang, nekhare te laat orent staan en hart te breek. Gryp dit aan. Moenie probeer mooi skrýf nie – dínk mooi. En toe Etienne van Heerden my vra om ’n rubriek te skryf, so gereeld as wat ek wil, “want,” het hy gesê, "jy het baie skryf in jou", was dit ’n motoriese moment. Tot in daardie stadium het ek meestal in Engels geskryf, maar om so elke dag met Afrikaans te werk het my geïnspireer.
En hoe het SêNet jóú geïnspireer om te skryf?
Melt: SêNet het my so besig gehou dat ek dit as verskoning gebruik het om my eie skryfwerk af te skeep. Ek het wel baie geleer uit die briewe van goeie skrywers en bedag geraak op die "spanning" wat goeie argumentering en logiese strukturering onderlê. Die swakker skrywes waarin dieselfde taal- en spelfoute oor en oor herhaal is, wou my later die mure uitdryf, en soos jy weet, het die webvoet nie tyd om elke brief oor en oor deur te gaan sodat mens ’n foutlose dokument het nie.
Die skryf van die redakteursbriewe was egter vir my ’n heerlike ervaring. Om twee maal per dag ’n geïnspireerde skrywe voort te bring, dwing jou om onder druk kreatief te raak. Nie dat ek dit altyd reggekry het nie. Maar dit werk ’n bepaalde skryfdissipline in die hand. Daardie "editorial" is eintlik ’n magtige ding, nie waar nie?
Wanneer SêNet-lesers my raad gegee het oor SêNet, het hulle my altyd verwys na jou "heerskappy" as webvoet. Hulle het dan altyd spesifiek genoem dat jy ’n moeilikheidmaker op "’n verskriklike mooi manier" sleg kon laat voel. Het jy ’n bepaalde strategie gevolg om gesprekke op SêNet te manipuleer, en het jy sensuur toegepas?
Deborah: In my tyd was daar nog nie die editorial nie, maar ek het my uitgewoed in die kommentaarblokkies, net omdat hulle daar is. My lewe lank het ek altyd, so glo ek, ’n geldige en redelike teenargument, maar die meeste mense is nogal ongepoets in die hitte van die argument en laat my nie toe om my pêrels van wysheid te strooi nie. Swyne! Daar kon ek op my gemak my sprook sprak. Ek het later geweier om ’n sekere veroordelende godsdiensdweper se briewe te plaas en dit het my in die moeilikheid laat beland. Dit was al wat ek nie kon verteer nie. Vir die res het ek lief geraak, miere in die broek en holruggeryde skelwoordjies en al.
Hoe het jý sensuur toegepas?
Melt: Met liefde. Nee, ek grap. Ek was berug daarvoor dat ek feitlik geen sensuur toegepas het nie. Wat ek wel met vrug gedoen het as mense aan my persoonlik gekarring het, was om hul e-posse te ignoreer.
Kan jy die eerste keer onthou wat ons mekaar ontmoet het?
Deborah: Ek dink dit was rondom die Nagtegaals? Of was dit by Rachelle Greeff se boekbekendstelling? Jy het by Rondebosch Boys’ High skoolgehou. Ek onthou net dat ek van jou geweet het en jou toe opeens geken het. Dit het gevoel of ek jou al lank ken en ek het gedink jy is aantreklik. Kan jý onthou?
Melt: Hoe sal ek dan nou ooit vergeet! Dit was in die Sentrum vir die Boek in Kaapstad by die bekendstelling van Reinet Nagtegaal se ABRAK’DaBRA. Ek het jou per ongeluk "Naomi" genoem. Jy het so ’n mooi hoedjie gedra en jy was daar saam met Annelie.
Deborah:Wat in jou lewe het jou die meeste genoop/gevorm om te skryf?
Melt: Die behoefte om te skryf het my op hoërskool oorval. Ek vermoed ek wou ontkom aan die geweld van die sosiale omgewing van die tagtigerjare waarin ek my bevind het. Jy weet, daardie gemilitariseerde samelewing waarin kadette op skool en diensplig na skool soos ’n skadu oor ’n tiener se lewe gehang het. In daardie dae was die mishandeling van plaaswerkers en huisbediendes aan die orde van die dag in die omgewing waarin ek grootgeword het. En dit het my gepla. Vir my het dit voorgekom asof ek die enigste wit mens was vir wie dit ’n probleem was. So, ek was geïsoleer en ek het, danksy André P Brink se Kennis van die aand, wat ek as tiener te lese gekry het, besef dat skryf ’n manier is om deur daardie isolasie te breek.
Ek het in standerd nege ’n opstel vir my Afrikaans-onderwyser geskryf waarin ek geweld wat ek waargeneem het, grafies beskryf het, vloekwoorde en al. Hy het my nul gegee en my aan my oor uit die klaskamer gelei, maar later darem vir my ’n ordentlike punt gegee. Hy het nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie. Daardie einste onderwyser was later my redding toe hy my pa, wat van my ’n polisieman of Telkom-werker wou maak, omgepraat het om borg te teken vir die onderwysbeurs waarvoor ek aansoek gedoen het – my hoofvakke: Afrikaans en Engels!
Maar vertel my van jou roman, Marike se laaste dans. Hoe het die storie met jou gebeur? Ek wil alles hoor.
Deborah: Die roman het my net oorrompel. Vandat Marike de Klerk vermoor is, spook sy al by my. Ek het gevoel daar het nie genoeg hane daarna gekraai nie. Al was sy nie my soort vrou nie, sy was ’n mens en ’n suster en sy het so hard probeer dat sy permanent gefrons het en sy is weggegooi soos ’n uitgesuigde lemoen en toe nog so onwaardig vermoor. Baie brokkies van my verlede, gaterig soos ’n Emmentalerkaas, het ook by my bly spook en ek moes iets daarmee doen. Hoe dit bymekaargekom het, weet ek nie.
Hoekom skryf jy reeds poësie? Is dit die ritme wat jou verlei, die gedrongenheid, die beelde?
Melt: Dis die beelde wat my verlei. En die gedronge aard pas my aandagafleibare geaardheid. My gedagtes het ’n manier om nie lank op dieselfde kol gefokus te bly nie. Ritme is nie vir my ’n bewustelike ding nie; ek reken dit kom natuurlik. Ek dink ek het net een digbundel in my, en dis Oewerbestaan. As ek dit vir mense sê, betig hulle my en vra: “Hoe kan jy dit sê? Jy wéét nie!” Ek dink ek voel maar net versadig na die aflewering van Oewerbestaan.
Om ’n roman te skryf, dink ek, is die “ultimate”. Etienne van Heerden grap mos hoeka: die romansier kry die geld en die vroue, maar die digter, aaa, die digter kry die gedig! Pieter Fourie spot weer met my en sê altyd elke digter wil éintlik ’n dramaturg wees. Nee, ek dink ek is eers klaar met poësie. Daar is ’n grusame verhaal oor ’n reeksmoordenaar wat prostitute in die Kalahari-duine begrawe het, en dit skree ten hemele om roman te word.
Jy is egter ’n gepubliseerde digter én romansier. Met A See Through Suitcase het jy jouself gevestig as baie knap digter. Hoe ervaar jy die verskil tussen prosa skryf teenoor dié van poësie? Boonop in Engels én Afrikaans?
Deborah: O, ek is ook hoogs aandagafleibaar. Ek hou van rubrieke en gedigte wat "in einem Guss" uitgestort word en dan net gepolish word. Om momentum te behou, is nie ’n grap nie. Ek dink ek het miskien ook net een bundel in my gehad, en dit was Suitcase. Ek kan nie eintlik in Afrikaans dig nie. Die ritme van Engels verlei my. Maar ek wil nog baie romans skryf, noudat die prop uit is. Ek moet net tyd steel – ek glo mens het ’n blok tyd nodig, onafgebroke, vir ’n roman. Ek kan nie elke aand na werk ’n paar paragrawe skryf nie.
O, en nog ’n vraag: Jy is besonder goed met networking, miskien omdat dit vir jou so spontaan kom. Ek dink jy is lief vir mense, en alle mense oral – tannies, moffies, ouderlinge, noem maar – is lief vir jou. Ek bewonder dit. Ek voel gewoonlik soos Simon & Garfunkel se eiland, I am a rock, I am an aai haai haailand. Hoe doen jy dit?
Melt: Vyftien jaar in die onderwys het my geleer om met ’n verskeidenheid mense oor die weg te kom. My uitgangspunt was altyd om elke mens te behandel asof hulle koningskinders is. Die onderwys het my ongelooflik baie gehelp met die SêNet-job. Ek geniet mense, en humor is die groot gelykmaker. My humorsin het veroorsaak dat ek nie probleme met dissipline gehad het toe ek onderwyser was nie. En by SêNet het dit veroorsaak dat omies, ouderlinge, tannies, en ongelukkig te min moffies halsoorkop verlief geraak het op my.
Ek sien in die By-onderhoud met Kirby van der Merwe jy het ’n baie interessante kinderlewe gehad, met hippie-ouers. Soos ek kan aflei, is jy ’n wonderlik onkonvensionele ma. Hoe cope jy met kinders grootmaak én skryf én sekerlik nog ’n opwindende liefdeslewe?
Deborah: Die opwindende liefdeslewe het in die slag gebly, as daar ooit een was. Verder cope ek, soos jy, met behulp van humor; en met so min as moontlik vooropgestelde idees leef ek elke dag soos ’n skoon bladsy. Daar is min tyd vir skryf. Ek weet nie of my tiener sal saamstem dat onkonvensioneel wonderlik is nie. Op daardie ouderdom hunker ’n mens na ’n ma wat in Louis Vitton-lappe rondhang in ’n Merceds of luukse viertrekvoertuig. My Chery is gestamp, my klere hand-me-downs of vlooimarkprodukte (sy het al een keer die woord “bergie” gebruik oor my uitrusting), en ek is altyd aan die hardloop, een keer sowaar verby haar klaskamer in Kloofstraat op ’n skoologgend met ’n reuse Pep Stores-sak in die hand. Eendag sal sy daaroor glimlag.
Vertel my hoe kry jy idees vir gedigte en hoe en waar en hoe lank skryf jy aan ’n gedig en hoe weet jy wanneer is dit klaar? Want dit was nogal vir my ’n probleem.
Melt: Ek is baie outyds in my benadering en wag gewoonlik vir "inspirasie". Ek reageer gewoonlik op visuele prikkelings, baie dikwels drome waarin herinneringe in een of ander gewysigde vorm aanmeld. Met Oewersbestaan is van die gedigte in ’n enkele sitting geskryf, terwyl ander oor ’n tydperk ontstaan het. Ek het egter nie die stamina om eindeloos te karring aan ’n gedig nie. As dit nie reg "inval" nie, laat vaar ek dikwels die aanvanklike idee. Ek het nie juis ’n probleem om te weet wanneer die gedig klaar is nie. As hy klaar is, is hy klaar.
Volgende vraag: As rubriekskrywer het jy jou onderskei as stilis van formaat. Skryf jy oor en oor en oor en oor? Wat frustreer jou die meeste van skryf?
Deborah: Nee, ek is ook soos jy: as dit nie regkom nie, moet dit weg. Ek skaaf al hoe minder. Maar ek wag tot die rubriek homself in my kop gevorm het voordat ek skryf. Dan gebeur dit amper magies, partykeer laat in die nag, en die volgende oggend voel dit asof die elwe dit in die nag vir my klaargemaak het. Wat my die meeste frustreer van skryf is dat die kosmos my nie kans wil gee om te skryf nie – ek moet dit altyd skelm tussen ander deadlines inpas. Ek wens die regering wou kunstenaars oppiep.
Wat frustreer jou die meeste van skryf? Jammer vir die herhaling, maar dis ’n goeie vraag, Meneer.
Melt: Skryf is vir my ’n uitputtende situasie. Ek sit en penaliseer myself die heeltyd in my kop terwyl ek skryf, omdat ek my produk perfek wil hê. Met ander woorde, ek sit en martel myself soos ’n idioot. Teen die tyd wat ek daar opstaan, het ek baie drank nodig om myself te kalmeer.
Wat dink jy van die literêre scene in die Kaap? Het jy ook vyande soos ek?
Deborah: Omdat ek vermetel genoeg is om resensies te skryf, het ek onvermydelik ’n paar vyande opgetel, veral in jou tuisdorp. Ai, ek wou nooit vyande hê nie. Ek staan eintlik buite die literêre scene.
Jy sê jy drink nadat jy geskryf het, nie voor of tydens nie. Wat inspireer jou, wat is brandstof vir skryf? En soos Alice vir die wurm gesê het: Hoekom maak jy grappies as dit jou so hartseer maak? Daar moet darem kompensasie wees. Wat dryf jou om te skryf? Wil jy by mense se harte uitkom?
Melt: Athol Fugard sê mos, nadat hy jare lank ’n alkoholis was, hy twyfel nog elke keer of sy "sober" metafore so treffend sou wees as wat dit onder die invloed van drank sou wees.
Noem my gerus naïef; ek dink skryf is tog ’n edele daad. Daar is meer as genoeg voorbeelde in Afrikaans wat getuig dat die skryfdaad ’n politieke daad is, ’n poging om die gewete van ’n samelewing te wees wanneer die maatskappy onder narkose is.
Noudat Oewerbestaan die lig gesien het, kry ek die heeltyd vrae soos die volgende van nieliterêre lesers, waarvan daar baie in my familie is: “Is dit ’n rêrige boek of is dit gedigte?” “Gaan jy ’n nuwe kar koop met die geld wat jy uit die boek maak, of ’n huis?” Kry jy ook sulke kak vrae?
Deborah: Wel, my jongste dogter reken ek is ’n loser en sê dit gereeld. Ek dink my kinders het net-net genoeg blootstelling om te weet ’n mens gaan nie eens ’n kar kan koop van tantième nie. My ouers is kunstenaars en weet ’n mens moet maar doen wat jy moet doen. Mense vra my wel gereeld of Marike de Klerk se familie my nie kan dagvaar nie. Ek is jaded genoeg om te reken dit sou goeie publisiteit wees.
Dink jy skrywers het ’n beter kans om te score? Ontvang jy reeds meer proposisies? (Ek sal nie weet nie, want ek kom nie juis uit nie.)
Melt: Ek dink rockers en prosaskrywers staan ’n beter kans. Almal dink digters is ernstig en hartseer. Maar dit moet mens seker vir gevestigde skrywers vra, nie vir ’n debuutdigtertjie nie.
Wat is alles in die pyplyn in terme van die bemarking van Marike se laaste dans?
Deborah: Ooo, ek weet nie juis nie, ek slaan dit maar gade, ek wil nie eintlik betrokke raak by bemarking nie; ek kan nie netwerk nie. Ek het nie eens vir myself ’n bruilof gereël nie – het voor die landdros gaan trou met twee boemelaars as getuies. Ek slaan die bal terug en vra wat doen Protea vir Oewerbestaan?
Melt: Ek hou privaat bekendstellingspartytjies waar ek Protea se ondersteuning geniet. Verder word daar praatjies geskeduleer by verskeie geleenthede.
Ek lees op bl 105 hoe jou hoofkarakter en Marike planne maak om te vlieg. Marike sê: "A nee a, vlieg is nie ’n stokperdjie nie. Dis nie soos draf of fietsry nie. ’n Mens vlieg wanneer die oomblik jou oorweldig. Die atmosfeer moet gunstig wees. Dis ’n kwessie van aanvoeling." Fantaseer of droom jy dikwels oor vlieg? Op watter maniere skud jy die swaartekrag van die aarde af?
Deborah: Ek fantaseer en droom helder oor vlieg vandat ek kan onthou. Ongelukkig trek baie van die dinge waarmee ’n mens swaartekrag probeer afskud, soos drank, jou eerder af grond toe. Ek doen nie dwelms nie, want ek vind die werklikheid al oorweldigend en verwarrend genoeg. ’n Goeie boek en veral gedigte soos joune help. En om hulpeloos saam te lag wanneer jy ’n absurde oomblik met iemand deel.
Wie is jou gunsteling-digters?
Melt: My gunsteling-digters is Opperman, Van Wyk Louw, Breytenbach, Krog, Stockenström en Marlene van Niekerk. In die twee weke sedert ons hierdie gesprek aangeknoop het, is jou boek in die Kaap bekend gestel en myne in Grahamstad. En ek kon Marike se laaste dans intussen te lese kry. Ek moet erken: ek is omgeboul daardeur. Die poëtiese krag en die stilistiese vernuf het my asem weggeslaan. Ten spyte van die waarskuwing voor in die boek dat lesers ’n groot fout gaan maak as hulle lewende karakters raaklees, kon ek tog nie anders as om bekende mense wat ek deur jou ontmoet het, daarin raak te lees nie. Is Marike se laaste dans nie eintlik 150 persent outobiografies nie?
Deborah: Ja, alles wat ek skryf is altyd outobiografies, hoewel dit seker wyser sal wees om vol te hou dat dit suiwer fiksie is. Dis ’n emosionele outobiografie, met verdigsel by, soos elke storie wat vertel word. Sodra ’n mens iets verhaal, kry dit outomaties ’n kanteling. Ek is Die Skrywer baie dank verskuldig want, soos een van die keurders opgemerk het, is haar dialoog die treffendste van almal s’n. Natuurlik, soos jy weet, is daar niemand op aarde wat kan praat (of skryf) soos Die Skrywer nie. Melt, ek gaan nou nie name noem nie, om hofgedinge te vermy, maar ek glo in my hart dat die boek ’n soort tribuut is, nie net aan Marike nie, maar ook aan Die Skrywer. Die vraag is natuurlik of mense gedienstig is met my soort huldeblyke, wat raar en effens opgefok is, om die minste te sê.
Ek wou graag vra oor jou bundel, maar sit nou hier in die Vrystaat met vakansie en het dit nog nie onder oë gehad nie. Miskien moet ek eerder vir SêNet ’n brief daaroor skryf sodra ek dit gelees het. Die paar gedigte wat ek jou al hoor voorlees het, op die Woordfees een maal en by Annemarie van Niekerk se sussie, was wonderlik, hoendervelmateriaal, en almal wat dit al gelees het, is ekstaties.



