USAN-kongres 2014: Annelise Theunissen

  • 0

1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?

Vir my as individu wat relatief nuut is in die veld van navorsing, was dit ’n goeie geleentheid om kennis te maak met ander navorsers en ook my kennis te verbreed.

2. ’n Kongres vir jong navorsers was geskiedkundig binne die Suid-Afrikaanse konteks, soos Louise Viljoen in haar verwelkoming en Johan Hattingh in sy opening gesê het. Wat beteken dit vir jou om ’n “jong navorser” genoem te word?

Dit beteken dat jou werk steeds erken word in die veld, alhoewel jy in sekere opsigte nog onkundig is. Verder gee dit jou ’n mate van selfvertroue om aan te hou, op watter terrein jy jou ook al wil vestig, al is daar baie meer prominente werk voor jou deur baie suksesvolle navorsers gedoen.

3. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?

Absoluut. Die vloer was oop vir effektiewe akademiese gesprekvoering, wat jou nuwe idees gee en jou blootstel aan navorsingsterreine wat jy voorheen nooit sou oorweeg het nie.
Daar was nie een referaat wat gelewer is wat my nie geïnteresseer het nie. Alhoewel ek nie ’n letterkundige is nie, en eerder al die taalkundeverwante referate bygewoon het, was elkeen op sigself ’n groot inspirasie.

4. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?

Sonder twyfel. Dit is vir ’n jong navorser ’n groot voorreg om jou akademiese helde in lewende lywe te sien, en agter te kom hulle het ook maar begin waar jy nou is, maar met harde werk en toewyding het hulle ongelooflike hoogtes bereik.

5.  Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?

Op hierdie stadium vind ek baie plesier in die navorsing wat ek doen, en gelukkig is my belangstellingsveld iets wat goeie werksgeleenthede kan bied, veral in Suid-Afrika.

6. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?

Taal is meer as ’n studieveld, taal is my passie. Die bestudering van taal, sy raakpunte met elke studieveld en ook elke lewensterrein is vir my fassinerend. Ek glo dat so baie kwelpunte opgelos kan word as een taalgemeenskap die waarde van sy eie taal besef en ander taalgemeenskappe se tale respekteer en die diversiteit waardeer. Met laasgenoemde bedoel ek nie ons leef elkeen in ons eie taalwêreld nie, maar ons gebruik ook ’n skakeltaal om met mekaar te kommunikeer.

7. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses minute op te som. Nog moeiliker, kan jy probeer om dit in ses sinne te doen?

  1. Moedertaalonderrig is, volgens ’n uitgebreide literatuur- en empiriese studie, verreweg die beste medium van onderrig.
     
  2. Jim Cummins onderskei tussen twee vlakke van taalonderrig: BICS (Basic Interpersonal Communicaton Skills) en CALP (Cognitive Academic Literacy Proficiency).
     
  3. Slegs twee van die elf amptelike Suid-Afrikaanse tale (Afrikaans en Engels) het CALP-status bereik, terwyl die ander nege slegs BICS-status bereik het.
     
  4. Laasgenoemde hou ’n groot bedreiging vir Suid-Afrika se moedertaalonderrigbeweging in, omdat suksesvolle moedertaalonderrig nie in Suid-Afrika geïmplementeer kan word tensy die BICS-tale CALP-status bereik nie.
     
  5. Dmv ’n kwalitatiewe navorsingsmetode waar die data gekwantifiseer word (Q-metodologie), gaan die persepsies van kundiges in die veld oor moedertaalonderrig getoets word.
     
  6. Hierdie persepsies gaan dan uiteindelik gebruik word om aanbevelings te maak om Suid-Afrika se moedertaalonderrigkrisis aan te spreek.

 

Lees die ander USAN-navorsers se indrukke.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top