USAN-kongres 2014: Alettie van den Heever

  • 0

1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?

Dit was ‘n uiters goedgeorganiseerde kongres.

2. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?

Ja, die vraetyd, sowel as teetye, het geleentheid hiervoor gegee. Dis moeilik om enkele referate uit te sonder. Die referate wat oor letterkundige vertaling gehandel het, het my spesifiek geïnteresseer.

3. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?

Dit was wonderlik dat mense soos Louise Viljoen ná referate vrae gevra het en so ons denke kon stimuleer. In daardie sin kon ‘n mens definitief by gerekende navorsers leer.

4.  Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?

Intellektuele genot is die grootste oorweging. Ek wens ek kon sê: om die wêreld van kennis te verryk. Ek wens selfs ek kon sê: om brood op die tafel te sit. Maar LitNet is een van die min forums waar ‘n mens jou navorsing vir brood kan verruil.

5. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?

Dit was wonderlik dat mense vanuit verskillende kontekste kon deelneem. Die tolkdiens wat gelewer is, het ‘n mens laat voel dat daar werklik oor grense heen beweeg is. Ek is nie seker of dit die vraag voldoende beantwoord nie.

6. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses sinne op te som. Kan jy dit probeer doen?

Om eerlik te wees. Dit was reeds moeilik genoeg om ‘n mens se navorsing in 20 minute in te pas. Dit sal baie tyd en breinkrag neem om dit in ses sinne op te som. En ek sien bloot nie nou kans nie.
Dankie vir LitNet se belangstelling in die kongres. Ek dink werklik die organiseerders verdien al die erkenning wat hulle kan kry.
 

Lees die ander USAN-navorsers se indrukke.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top