Nuwe Stories 2013-onderhoud: Rachelle Greeff

  • 0

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

Ek is waarskynlik tot die lees en die skryf van kortverhale aangetrokke weens my kort aandagspan. Lees dus al my lewe lank kortverhale. Dis ook ’n prakties haalbare medium as ’n mens kinders, man, huis, troeteldiere en tuin onder die voet het, en jy en jou kop op verskeie plekke gelyk moet wees.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Dit lyk of daar ’n hernude belangstelling in kortverhale in die wêreld is. Dis wel moeiliker om deur ’n Afrikaanse uitgewer aan boord geneem te word, weens die stand van die wêreldekonomie en die groter mededinging op verskillende terreine, asook die klem op “dekor” – ek gebruik die woord as metafoor.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Dis ’n vraag vir ’n uitgewer. Die stilte, konsentrasie en dissipline van skryf het nie verander nie. Ek het op ’n rekenaar begin skryf en doen dit steeds. Die instrument is net kleiner en ligter. En die drukker waarmee jy jou drukstukke maak om te redigeer, is vinniger. Jy kry ook elektroniese speltoetsers, hoewel die blaai en soek deur woordeboeke goed is vir skrywers. Jy moet jou woordeskat sterk en soepel hou.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

Relatiewe spoed, kompaktheid, moontlikhede vir kragtige emosionele lading, skop.

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

Die beste raad: skryf sonder hoop en sonder wanhoop.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Goeie poësie wys ’n kortverhaalskrywer hoe minder meer (kan) word. Kán word. Anton Tsjechof, Guy de Maupassant, Eudora Welty, Kate Chopin, Flannery O’Connor, DH Lawrence, Hennie Aucamp, Nadine Gordimer (die vroeë Gordimer), Koos Prinsloo, Raymond Carver, Ishiguro, Kurt Vonnegut, Colm Tóibín (deesdae). Ag, jong, daar’s nog.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Jy bedoel een – moet ek een uitsonder? Nee, ek kan nie. ’n Leser bring ’n bepaalde psigologiese konteks en agtergrond na ’n storie (wat gelees word). ’n Storie wat jou op ’n sekere dag aangryp, laat jou oor tien jaar dalk minder entoesiasties voel.

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Groot verskil tussen roetine en gebooie – as jy ’n skerp leser en skrywer is, sal jy dit weet. Dit verander soos my lewe en my omstandighede verander, en ook soos ek ouer word, en hoe meer ek blootgestel word aan ander skrywers en hul skryfwyses. Om met integriteit te werk is en bly ’n maatstaf. Om nie jou leser te minag of onderskat nie, máár om ook nie aan potensiële lesers se gemaksones of menings te dink terwyl jy skryf nie.

Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013.

Klik hier vir die kortlys.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top