LitNet Akademies: ’n Evaluering van Jannie Pretorius se positiewe profiel van Emme-Lancia Veronique Faro

  • 0

Die navorser dui aan dat hierdie studie gemotiveer is deur die behoefte aan suksesvolle rolmodelle vir skoolleiers wat deur middel van waarderende onderhoude nagevors is. Die inleidende fokus van hierdie artikel is dan ook gerig op die groeiende krisis in die Suid-Afrikaanse onderrigstelsel en die navorser dui aan dat ‘n moontlike “oplossing” vir hierdie probleem sou wees om suksesvolle leerders as rolmodelle vir ander leerders te identifiseer.

Dit is egter belangrik dat daar nie uit die oog verloor moet word dat die mees algemene gebruik vir waarnemende ondersoek as navorsingstrategie daarop gerig is om verandering te bewerkstellig en om as uiteinde daarvan met nuwe oë na ‘n verskynsel te kyk. In hierdie geval is die verskynsel leierskap of eienskappe van ‘n goeie leier.

Waarderende ondersoeke word nie onderneem om sekere probleme op te los soos wat die navorser dit in hierdie artikel stel nie. Dit is dan ook die proses van transformasie of nuwe insigte wat die fokus behoort te wees in die navorsingsproses, en die verwagting wat die leser sou kon hê, is dat die artikel sou rapporteer oor die proses van transformasie binne die gegewe skool aangaande leierskap of eienskappe van ‘n goeie leier; met ander woorde, hoe die skool en leerders van hierdie skool nou anders dink oor die rol van ‘n leier of eienskappe van ‘n leier na afloop van die waarderende ondersoek. Vir voormelde om te kan plaasvind sou dit nodig wees om deelnemers wat tans in die skool is, by die studie te betrek en nie leerders wat klaar die skool verlaat het nie.

Die ontwerp van hierdie studie is nie korrek nie, aangesien daar nie met al die elemente van die waarderende ondersoek omgegaan is nie. Die wyse waarop data ingesamel is in hierdie studie, dui eerder op ‘n naturalistiese ondersoek wat retrospektief is omdat die data wat ingesamel is, biografiese inligting is, en inligting wat deur middel van ‘n proses van nabetragting oor gebeure gegenereer is.

Die ontleding van die data word nie direk gekoppel aan bepaalde temas nie en word oopgelaat vir die interpretasie van die leser.

Die betroubaarheid van hierdie navorsingsbevindings word nie bespreek nie en daar word geen aandag aan etiek gegee nie.

Dit is my opinie dat hierdie navorsing wel interessant en nuut kon wees en dat kwessies rondom ontwerp en data-analise die waarde daarvan aansienlik laat daal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top