kykNET-Rapport Boekpryse 2014: Commendatio vir ’n Ander mens deur Zirk van den Berg

  • 0

'n Ander mens is bekroon met die eerste kykNET-Rapport Boekprys vir Film.  Herman Binge het die commendatio gelewer:

Zirk van den Berg

Koop 'n Ander mens by Kalahari.com

Lees 'n onderhoud met Zirk van den Berg oor die kykNET-Rapport Boekpryse.

Foto's van die toekenningsgeleentheid

Lees gerus ’n Ander mens
Jonathan Amid

’n Rolprent is afhanklik van ’n aangrypende storie en in Zirk van den Berg se verhaal van Daniël Enslin, ’n vaal mannetjie wat ’n ander mens moet word om te kan oorleef, is daar genoeg spanning om jou vir 90 minute vasgenael in jou bioskoopstoel te laat sit!

Die eerste belangrike element wat ter sprake kom by die verwerking van ’n roman na ’n rolprentteks, is die kommersiële en dramatiese potensiaal van die tema. Dit het hierdie roman in ruim mate. Die tema van die dubbele persoonlikheid in ’n Ander mens wentel om misdadigers wat  besluit om gedurende misdaadverhore staatsgetuies te word. Misdadigers wat vir hulle eie beskerming een lewe verlaat en hulle nou as ’n ander mens in ’n geheime lewe bevind.

Dit op sigself is nie nuus nie. Die tema van die dubbele persoonlikheid kom reeds voor in rolprente soos Dr Jekyll & Mr Hyde, Straw Dogs, The Bourne Identity en vele van Alfred Hitchcock se rolprente, maar Zirk van den Berg maak die verskynsel op ’n ongewone, hoogs interessante manier nuut.

Die roman is nie net aksiegedrewe nie, maar ook sterk karaktergedrewe. Die hoofkarakter, Daniël Enslin, is ’n staatsgetuie. Die persoon in beheer van die polisie se getuiebeskermingsprogram is Erica van der Linde. Sy moet sorg dat getuies wie se lewens bedreig word, beveilig word. En sy het die perfekte metode gevind om hierdie opdrag uit te voer: sy vermoor hulle. Maar in Daniël Enslin se geval loop haar planne skeef. Dit dwing haar om ook self ’n ander mens te wees.

Deur Van den Berg se pragtige beskrywings van die wye Afrikalandskap, vanaf die afgeleë woestyn in Namibië tot by die woelige voorstede in Kaapstad waar drome onderbreek word deur die klank van alarms wat loei en honde wat blaf, lei hy die leser tot in die hart van skrikwekkende gebeure. Met ’n hoofkarakter aan wie die leser geheg raak, een wat dalk nie ’n superheld is nie, net ’n gewone mens soos ek en jy, een wat besluit het om te oorleef.

Geluk aan Zirk van den Berg! ’n Ander mens is ’n waardige wenner van die kykNET-Rapport Boekpryse se eerste filmtoekenning: Ek sien reeds die loksin op ’n rolprentplakkaat: Niemand sal jou kry nie, want ek gaan jou vermoor …

Herman Binge, namens die beoordelaars

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top