kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Zirk van den Berg

  • 0

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgestel en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

’n Ander mens deur Zirk van den Berg is genomineer in die kategorie: Film.

Zirk van den Berg

Koop ’n Ander mens by Kalahari.com.

Lees Jonathan Amid se resensie van ’n Ander mens

Lees 'n onderhoud met Zirk van den Berg oor
Halfpad een ding.

Lees 'n uittreksel uit
Halfpad een ding.

Koop Death’s Dark Abyss by Kalahari.com.

Koop The Following Story by Kalahari.com.

Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?

Dis ’n wonderlike verrassing en boonop ’n eer om my naam neffens die ander finaliste s’n te sien. Skryf is ’n eensame bedryf en jy weet nie wat van jou storie word as hy eers uitgegee is nie - nog meer so as jy aan die ander kant van die aardbol van die mark af sit. Ek waardeer die nominasie baie, en is veral bly vir James Woodhouse van Kwela se onthalwe. Hy het die manuskrip onthou jare nadat hy dit die eerste keer gesien het, en die moed van sy oortuiging gehad om die boek uit te gee toe omstandighede hom toelaat. Ek is hom baie dank verskuldig.

Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?

Ek is te ver van die mark af om die vraag met spesifieke verwysing na Afrikaanse skryfwerk te beantwoord, buiten om te sê dat daar nie iets soos regverdigheid in die boekmark is nie. Middelmatige boeke verkoop in hul derduisende en goeie boeke verdwyn soos klippers in ’n plaasdam. Dan Brown verower die wêreld, Larry Brown is haas onbekend.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?

Die idee het my baie jare gelede een oggend getref toe ek van die huis af na Mowbray-stasie toe stap om in die Kaap te gaan werk. Wie weet waar dit vandaan kom. Ek het in daardie stadium op die punt gestaan om te emigreer, en die idee van nuwe identiteite was seker in my agterkop iewers. Ewenwel, ek het besef dis ‘n lekker idee vir ’n storie en het hom maar so gaandeweg oor jare heen ontwikkel. Aangesien hy in die buiteland geskryf is, het dit my ook geleentheid gegee om bekende goed uit my Suid-Afrikaanse wedervarings op te rakel.

As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?

Skryf self is die lekkerste, als daarvan. Dis wonderlik om dinge in jou kop op loop te sit en woorde uit te ryg wat dit weergee. Ek is nou nie wat mens ’n literêre skrywer sou noem nie, maar vir my is die gehalte van die prosa self uiters belangrik. Lesers lees stories, maar as skrywer skryf ek woorde. Daardie kosbare geleenthede wanneer die woorde begin sing, maak dit als die moeite werd.

Die mees frustrerende aspek kom by die uitgee, want skielik is jy kniediep in die kommersiële wêreld.

Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Kort nadat ek geslaap het. Ek kan vroegaand indut en later skryf – my vroeëre boeke is meestal so geskryf. Vanjaar het ek gedissiplineerd begin werk en sit elke oggend ’n uur of wat opsy vir skryf voordat my dagtaak begin.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek hou van skrywers wat hul eie visie vreesloos najaag, veral as hulle dit op ’n toeganklike manier doen. Daar is misdaadskrywers wat dit regkry, byvoorbeeld Charles Willeford in sy vier Hoke Moseley-boeke, Jim Thompson in boeke soos Pop. 1280 en The Getaway, en die hedendaagse Italianer Massimo Carlotto in ’n boek soos Death’s Dark Abyss. Die sci-fi-skrywer Philip K Dick bly ’n gunsteling, hoewel sy prosa meermale maar rompslomp is. Dan hou ek steeds geweldig baie van Nabokov, veral die vroeë werk.

Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Ek lees Cees Nooteboom se The Following Story elke paar jaar. Dieselfde met King Solomon, wat Romain Gary onder die naam Emile Ajar geskryf het. En Nabokov se The Eye.

As jy nou aan jouself dink as 'n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?

Die digter Pieter van der Lugt het eenkeer vir my gesê elke skrywer is ’n ongepubliseerde skrywer van sy volgende boek. Dis hoe ek daaraan dink. ’n Mens kan maar net, soos PG du Plessis dit gestel het, maak en hoop.

En natuurlik die ding wat ek sal sê (onnodiglik, want mens kan dit honderd maal hoor en moet dit nog steeds self op die harde manier leer): So geskryf en so laat staan werk nie. Die verskil tussen ’n so-so boek en ’n goeie een is herskryf, herskryf.

Werk jy aan 'n nuwe boek?

Ek is besig met die finale afronding van ’n storie wat afspeel in my geboorteland, Namibië, tydens die Duitse besetting, met ’n polisieman as hoofkarakter.

Indien jou boek verfilm word, sou jy wou betrokke wees by die draaiboekverwerking en verfilming?

Indien moontlik, ja. Ek het in die jare toet twee enkeldramas geskryf wat op TV uitgesaai is. Ek het dus bietjie kennis van draaiboeke en ken natuurlik my eie storie baie goed. 

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top