Grahamstadse Nasionale Kunstefees: Salt

  • 0

Emma Kotze skryf teaterresensies vir LitNet, maar is inderwaarheid self aktrise. Sy gesels met Naomi Meyer oor die produksie Salt, waarin sy vanjaar by die Grahamstadse Nasionale Kunstefees te sien is.

Emma, jy skryf dikwels vir LitNet teaterresensies en hier sien ek jy vertolk die hoofrol in Salt vanjaar by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad. Vertel gou vir ons lesers nog van jou agtergrond.

Ek is pas klaar studeer by die Universiteit van Kaapstad, waar ek teater en opvoering studeer het, asook Afrikaans en Neerlandistiek as hoofvakke gehad het.

Ek het egter baie van my tyd op universiteit spandeer om so wyd moontlik ervaring op te doen, en dit is ook hoe ek uiteindelik by LitNet beland het. 

Vertel ons lesers asseblief van Salt.

Salt is ' n spannende drama wat ook van fisiese teater gebruik maak om die verhaal te vertel. Die storie daag ons alledaagse persepsie van realiteit uit en bevraagteken dit wat ons as die waarheid waarneem. 

Jou karakter is Aya en sy is in 'n psigiatriese hospitaal. Hoe beleef jy jou karakter?

Ek sien haar nie regtig as iemand met 'n psigiatriese afwyking nie, maar liewer as iemand wie se realiteit eerlikwaar nie met dié rondom haar ooreenstem nie.  

Die program verklap dat daar baie akrobatiese dinge in die toneelstuk plaasvind. Kan jy nog meer daarvan vertel?

Ons maak wel baie gebruik van fisiese teater – dis 'n wonderlike manier om aan die karakters se wêreld lewe te gee.   

Wie behoort Salt te kom kyk?

Dit is regtig 'n teaterstuk wat ieder en elk kan kyk. Dit is 'n heerlike verhaal vir elkeen, maar as jy wil, net as jy wil, kan jy later weer bietjie daaroor nadink.   

Kry jy self kans om vertonings in Grahamstad by te woon, en wat het jy al gesien?

Ek maak altyd seker ek kyk soveel as moontlik. Na my mening is dit ons land se beste fees en 'n vertoonplek vir ongelooflike nasionale en internasionale werk. Cargo: Precious, The things you left behind en Machine makes man was van my gunstelinge, asook Undone. Verder was dit wonderlik om Ubu and the Truth Commission te sien, wat na vyftien jaar weer op 'n Suid-Afrikaanse verhoog te sien is. 

Dié kunstefees is vanjaar veertig. Is mens op Grahamstad se strate bewus daarvan? Hoe beleef jy die fees vanjaar?

Die fees voel vanjaar veral besig. Die afgelope naweek het dit gewemel van die mense. Daar is ‘n klomp interessante en opwindende nuwe bydraes tot die feeservaring. Ek dink egter dat die fees jaarliks ongelooflike baanbrekerswerk doen, ongeag wat die herdenkingsjaar is.

Foto's: Wynne Bredenkamp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top