Julle is saam met die wêreld se cultists en Kool-Aid-liefhebbers miskien nogal teleurgesteld dat die aardbol toe nie in Desember ophou draai het nie? So ’n gebeurtenis sou Die Skynmaagde dan as post-post-apokaliptiese band weereens op die kruin van innovasie en vernuwing laat ry het?
Ewig: Post-apokaliptica is ons mecca. Ons hoogtepunt as band sal uiteindelik op die kruin van daardie golf wees wat die aarde uitwis. Daar is nog baie shows om te speel en songs om te skryf. En toere na Japan toe. Die skrik warrelwind van die einde van die wêreld laasjaar was maar vir wannabees.
Blackie: Ek was op 21 Desember in die middel van ’n intensiewe sabbatical van sowat vyf dae. Daartydens is nuwe elemente vir die klankbaan vir die einde van die wêreld bedink. Dit sou strawwe ironie gewees het indien die wêreld tot 'n einde gekom het voor daar 'n geleentheid was om dit uit te voer. Om Radiohead aan te haal: '' … and if London burns, I'll be standing on the beach with my guitar."
Met hoogtepunte soos ’n besonders virale band-geboorte, julle eerste EP (Alombemind en aan bewind), ’n musiekvideo vir “Die Kommunis Sokkie” wat julle vir die MK MVP’s losgeslaan het en ’n Desember-draai op die MK Top 10 chart kan daar nie juis van groeipyne gepraat word nie. Wat lees die sy-dolfyn in Die Skynmaagde se toekomsstrome vir 2013?
E: Ons wil baie graag presies sê wat ons wil en nie tot ’n bestaande genre behoort nie. Verder hoop ons dat ons ‘n volle 13-snit album kan opneem. Ons soek sponsors. AVBOB en Hungry Lion is in ons visier.
B: Om eerlik te wees, die baba het redelik gemaklik uitgeglip en naakte wawiele op die hospitaalvloer uitgevoer wat die materiaal, mediablootstelling, ensovoorts betref. Sover dit gereeld optree, toer, 'n vollengte-album opneem en die kweek van volhoubaarheid aangaan, is die outjie maar nog net besig om te kroon. Ons gaan hom vinnig grootmaak.
Die Skynmaagde het in 2012 baie gegroei vir ’n eenjarige. Watter wyshede het Blackie, Ewig (is dit nog Verwey?) en die Maagde as groep uit die jaar gehaal?
E: Inderdaad Verwey. Ons het geleer hoe om ’n mede band-lid sleg te sê sonder om hom die afgrond in te dryf. Ook hoe om ’n vennootskap te koester in sy unieke rigting waarin dit gaan eerder as om dit eensydig te probeer strem.
B: Die belangrikste ding wat ek geleer het, is dat as jy dit wat jy wíl doen voluit gas gee en nie tob oor "die mark" en "inpas" en daai goed nie (ja-ja, dit klink flou, maar dis waar), sal jy 'n merk maak. Dan gaan dit oor momentum. Die lekkerste ... ná byna 29 jaar se rondneuk het ek uiteindelik 'n fan of twee. Dit is goed.

Die Skynmaagde, Ewig Verwey en Blackie Swan
Foto: Jan Gerber
Julle noem onder andere Flight of the Conchords en Lonely Island (hoekom nie Tenacious D nie?) as invloede vir dit waarmee julle besig is. Watter bands of kunstenaars beïnvloed of inspireer Die Skynmaagde wat die actual musiek aanbetref?
E: Kyk, ons musiek op sigself is nie ’n simfonie nie. Die musiek is bloot die catwalk en ons lirieke is die modelle. Of dit is ten minste hoe ons dit sien. Ons musieksmake is totaal en al uiteenlopend. Interessant genoeg lees ons baie dieselfde stuff. Vonnegut, Kerouac, Leroux en ander mal goed.
B: Tenacious D is baie in-your-face. Ons stories is meer subtiel/satiries, soos FOTC en Lonely Island pleeg. 'n Vriendelike antie wat suurklontjies smokkel moet na van ons musiek kan luister en sonder dat sy dit besef, sal haar bewussyn gelei word na voorheen onverkende gebiede, of dit nou is by die knersvlakte van verlore hoop of die lowere velde waar euforie kabbel … Oor die invloede – elke lied klink anders, so die inspirasie is redelik wyd, van Laurika Rauch tot 50 Cent (ek hoop hulle colab eendag).
As ek dit nie mis het nie het julle al reeds nuwe toevoegings tot julle liedjie-arsenaal soos op Alombemind en aan bewind gemaak. Hier dink ek byvoorbeeld aan “In Die Klub” wat so ruk terug op Toast Coetzer se The Unhappy Hour as eerste Afrikaanse post-apokaliptiese hip-hop folk song gedebuteer het (julle laat julle duidelik nie deur genre beperk nie). Hoe werk julle kreatiewe proses tipies as dit by liedjieskryf kom?
E: Blackie sit met ’n sigaret op die bank in sy woonstel en ’n groen leerboekie op sy skoot. Ek sit dan op so ’n bed in die hoek wat ook as bank dien. Dan tuur ons die verte in en dan om die ys te breek sal een van ons iets sê soos: “wat as dwergies die eintlike genieë was en katte die eintlike ninjas?” Gewoonlik word dit dan ’n liedjie.
B: Soms kom alles in 'n liedjie wat geskryf word natuurlik na vore – ek dink “Die Kommunis Sokkie” is 'n voorbeeld hiervan, hy is in 'n japtrap geskryf en alles het natuurlik en logies gevloei. Dit is nie altyd die geval nie. “In Die Klub” het begin met 'n ligte gespot met 'n plaasjapie wat hom probeer tuismaak in 'n middestadse klub en glorieryk faal. Toe ontaard die lied skielik in 'n metafoor vir verstoktheid en die futiliteit om vanuit 'n onbuigsaam konserwatiewe oogpunt die wêreld om 'n mens te probeer uitpluis, met 'n onafwendbare selfdood aan die einde … so dit het bietjie meer werk gevat.
Een van ons gunsteling-idees vir 'n lied, Disco Migael wat die wêreld red, kon ons nooit, ondanks ure se werk, kry dat hy rég is nie en moes hom dus soos 'n misvormde Spartaanse kindjie oor die afgrond werp. So dit wissel maar.

In ’n vroeëre onderhoud met die digter Bibi Slippers noem julle dat die werk van Etienne Leroux ’n bepaalde invloed op julle musiekmaak (en gevolglik, sou mens aflei, julle school of thought) het. Brei bietjie hieroor uit?
E: Leroux was maar die kampvegter vir normale Afrikaners in vreemde plekke en situasies. Dit is waar ons somehow beland het met ons musiek en lirieke. Dit is ook waar ons wil wegdoen van bestaande goed af. As ons ’n liefdesliedjie skryf dan gaan daar definitief ’n nie-metaforiese hond betrokke wees en as ons ’n liedjie doen oor ’n boer gaan hy op sy hande loop. Dis maar een van daai dinge.
B: Regardez, Magersfontein!
Terwyl ons by die onderwerp is: Julle musiekvideo vir “Die Kommunis Sokkie” is nogal … surrealisties en herinner aan iets wat op die Welgevonden plaas sou kon afspeel. Watter elemente, behalwe vir drogbeeldende rooi koeldrank, was belangrik by die konseptualisering van die video?
E: Hoe maller en vreemder hoe beter. Daar was sprake van Zille en Malema wat sou soen iewers. Daar sou ook ’n eend gewees het. Maar tyd het ons ingehaal.
B: Die idee dat ons die lied voor 'n enorme skare wat slegs in ons gedagtes bestaan sou uitvoer, was van die begin af daar (dit is immers besonder na aan die werklikheid). Om Papa Smurf te betrek was ook 'n onbetwiste besluit. Vandaar het die konsep verskeie vorme aangeneem, maar ek is bly die burlesque girls was daar. Baie bly. Na meer as 'n dag se verfilming buite Montagu met enorme ongeïdentifiseerde vlieënde goed met angels wat jou jaag, was dit baie welkom. Baie bly was ek.
Hoekom Afrikaans? Dink julle dis makliker om “kontroversieel” en “innoverend” in Afrikaans te wees?
E: Daar is niks so maklik soos om jou eie nasie bietjie te skud nie. Die Afrikaner boks deesdae graag sy eie bakkies. Ons spring ook maar tot ’n mate op daai trein. Engelse is meer gematig en mens kan nie eintlik met hulle spot nie.
B: Dis 'n moeilike vraag … ons het nooit regtig so daaraan gedink toe ons begin het met die projek nie, daar was nooit 'n daadwerklike "mikpunt" om omstrede te wees nie. Innoverend wel. Ons dink en skryf in Afrikaans en die stories speel meestal in 'n Afrikaanse verwysingsraamwerk af. Iemand het in die YouTube-comments probeer om die refrein van “Die Kommunis Sokkie” te vertaal na Engels. Dit klink nogal bisar.
In ’n onderhoud met MK noem julle dat die inverse van inspirasie “die onvermoë om pragmaties met waansin om te gaan” is. Hierin is sekerlik iets van ’n bestaansrede vir Die Skynmaagde te sien? Tot watter mate is julle musikale samesweerdery ’n meganisme om sin van die werklikheid te (probeer) maak?
E: Almal in die lewe besin oor een ding: Wat maak ons hier en wat is die punt nou eintlik? Elke vakgebied en rigting bekyk hierdie vraag vanuit ’n ander hoek. Ons maak sin vir onsself en beantwoord gedeeltelik die vraag deur in ’n vreemde band te speel.
B: Sin van die werklikheid? Dis darem 'n vervelige doelwit. Onsin van die werklikheid en sin van die onwerklikheid pas ons as band beter.
Was dit van die begin af die plan dat Die Skynmaagde met die tong stewig in die kies na die wêreld om hulle sou kyk? Hoekom is satire belangrik, en sal ons ooit die Maagde sonder hierdie humoristiese baadjie sien?
E: Vir nou is die tong gemessel in die mondhoek. Liedjies kom uit ons gesprekke uit en ons was nog net een keer ernstig in ons bykans agt jaar lange vriendskap. Dit was toe ons besluit het om ’n band te begin.
B: In die wandelgange word gefluister dat Die Skynmaagde die epiese tog na 'n nuwe bewussyn lei. Dis seker maar wat die doel van satire is, in watter mate ook al. 'n Epiese tog wat slegs 'n kort rukkie hou, is tog besonder on-epies, so die baadjie (koeëlvas, het die verkoopsman in Reddersfontein se beste derdehandse troeteldierwinkel beloof) sal bly.
Die Skynmaagde tree op 9 Maart saam met Koos Kombuis op by die Dorpstraat Teater as deel van die US Woordfees. Klik hier vir nog inligting of hier om jou kaartjie te bespreek.
![]() |
9 Maart 20:30 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R90 |
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


