Die geraamtes van drome / The Skeletons of Dreams

  • 0

Die geraamtes van drome / The Skeletons of Dreams deur Carine Terreblanche, ’n internasionaal-erkende eietydse juwelier, open op 12 November 2013 om 18:30 by die Slee-galery in Stellenbosch.

 

Naomi Meyer het vir Carine Terreblanche hieroor gevra.

Ring (all around)

 

Hallo Carine, vertel asseblief vir ons lesers wie jy is.

Ek is senior dosent en koördineerder in die Kreatiewe Juweliersontwerp- en Metaaltegnieke-afdeling van die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het al aan verskeie internasionale uitstallings deelgeneem, waaronder Schmuck, die oudste en grootste kontemporêre juwelierskompetisie en -uitstalling in the wêreld wat jaarliks in München, Duitsland, plaasvind. My werk is al uitgestal in die VSA, Spanje, Italië en Australië en ek is onlangs genooi om deel te neem aan die uitstalling Elemento Radical wat vroeg in 2014 in Europa sal plaasvind.

Hangertjie (indie pendant)

 

 Wat is Die geraamtes van drome?

Die geraamtes van drome is my nuwe solo-uitstalling, en dit bevraagteken die tentatiewe, gekonstrueerde klowe tussen juweliersontwerp, beeldhouwerk, die skone kunste en handwerkkuns. Die titel verwys na die “voltooide” objek as die oorblyfsel van ’n droomwêreld wat noodgedwonge agtergelaat word aan die einde van die kreatiewe proses. Die vertoonde stukke is die resultaat van ’n meditatiewe, gedeeltelik onbewuste werkswyse. Die objekte het hul oorsprong in droomverlore krabbels op papier wat uiteindelik omskep word in ’n soort metaforiese alfabet van hout en metaal.

Die bekroonde Amerikaanse digter Tony Hoagland beskryf die proses van metafoor-skepping as volg:

It is a mystery hand going into a black mystery box. The head says, “Fetch me a metaphor, hand”, and the hand disappears under a cloth. A moment later, the hand reappears, metaphor on its extended palm. But, despite the spontaneity and ease of this event, we have only a vague idea of where the image came from. In fact, we don’t know. And neither does the hand. (“’’Tis Backed Like a Weasel’, The Slipperiness of Metaphor” in Real Sofistikashun: Essays on Poetry and Craft, Graywolf Press, 2006)

Dit wat “die hand” onder die metaforiese lap gaan haal het, is op hierdie uitstalling te sien. Of die objekte beskou word as beeldhouwerk wat soos juwele gedra kan word, metaforiese ornamente, verlore letters van ’n verlore taal, drome in die vorm van ringe en hangertjies, speelse dekor, visuele jazz of kleurryke onsin, kan die toeskouer self besluit.

Ring (supersize me)

 

Wat was die “sneller” vir hierdie uitstalling, of is dit deur niks spesifieks veroorsaak nie?

Dit is ’n proses wat oor tyd ontwikkel en vorm aanneem en nie net een insident of oomblik se inspirasie nie. In my sketsboek, waarin ek ’n meditatiewe, gedeeltelik onbewuste werkswyse volg, teken ek krabbels sonder om veel te beplan of beheer oor die proses te probeer uitoefen. Die resultaat is die tweedimensionele ondersoek na vorm. Die hout- en metaalvorme ontwikkel dan uit die versameling van tekeninge in my sketsboek.

Ring (ringjare)

 

Prakties: Hoe omskep jy die krabbels op papier in konkrete objekte? Watter tegnieke en materiaal gebruik jy?

’n Meer bewuste, beheerste besluitnemingsproses verteenwoordig die interpretasie van die tekeninge tot driedimensionele gekerfde hout en gevormde was- (“wax”) objekte en -beelde. Ek probeer egter so ver moontlik om deur my materiaal gelei te word, met die gevolg dat sommige besluite intuïtief is, en soortgelyk is aan die ontwerpproses.

Sommige van die silwerontwerpe is gevorm in sagte was en in die tradisionele Afrika-Ashanti-“lost-wax”-tegniek gegiet. Die sagte was is moeilik om te beheer en die resultaat en merke is tiperend van die tegniek. Die ander silwerontwerpe is deur middel van driedimensionele drukwerk gemaak deur die gebruik van CAD/CAM- (Computer-Aided Designed / Computer-Aided Manufacturing) sagteware, met ’n meer kontemporêre resultaat.

 

 


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top