Foto: Naomi Bruwer |
|
Sêgoed van Johan Bakkes “Ek reis en dan is die boeke aan die einde van die dag maar ’n byproduk. Al my stories is in elk geval maar net ’n klomp kortverhale watuit my joernaal kom.” (Aan Marieke Snyman, Nuus24, 19 Julie 2011) “Ek skryf veral vir mans. Ek wil nie veralgemeen nie, maar baie van hulle lees nie juis Afrikaans nie. Die ouens is te besig en so aan … Met my verhale probeer ek keer dat hulle halfpad deur die storie aan die slaap raak.” (By die bekendstelling van Oepse daisy op 31 Oktober 2011) “Om ouer as vyftig te wees het sy eie hoogte – daar doen jy net wat vir jou lekker is.” (Beeld, 8 November 2010) “Reis is eintlik waaroor dit vir my gaan. Ek doen alles in my lewe sodat ek kan reis.” (Rapport, 10 November 2006) “My huis is my nes. Ek kan lank weg wees, maar dis altyd lekker om huis toe te gaan.” (Rapport, 10 November 2006) “As ek ’n spesiale plek in Afrika móét noem, sal dit seker Timboektoe wees. Ek dink ek was een van die eerste Suid-Afrikaners wat ná 1994 in Timboektoe was. Baie mense het gedink daar bestaan nie so ’n plek nie. Dit is vir my flippen ongelooflik om te kan sê ek was daar.” (Rapport, 19 November 2006) “Dit is die rusteloosheid en die bleddie gelees oor vreemde plekke wat my uiteindelik op die pad gesit het. Die pad na wat ook al. Reis en lees is ’n terminale siekte en ’n bose kringloop.” (LitNet) “Reality is the illusion created by the lack of Jack Daniels.” (Volksblad, 14 Januarie 2002) “Ek is die gelukkigste wanneer ek op die lang pad is, in die natuur. Wanneer ek nie presies weet wat môre gaan gebeur nie. Daar moet natuurlik ook ’n bietjie risiko in wees, want ek hou daarvan om nuwe dinge te beleef. Ek is baie lief vir mense, maar dit is ongelooflik om so vir tien dae alleen in die Richtersveld of die woestyn te sit. Om op te som: wanneer die pad so oop lê en die musiek speel, met ’n bier tussen my bene, op pad na nêrens, is ek op my gelukkigste. Om weg te kom van die normale.” (LitNet) “Ek het ’n groot passie vir my taal en sal enigiets doen om dit te bevorder.” (LitNet) Wanneer is verdwaal die lekkerste? “As dit onbepland is – ’n ou kan bepland verdwaal. ’n Verdwaal maak die mooiste stories. Soos die ontdekker Vilhalmur Stefanson gesê het: ‘Adventure is what happens when you screw up.’” “Ek wil van kroeg na kroeg loop en die plaaslike mense leer ken. ’n Kroeg is ’n dorp se siel. Ek wil [die boek] noem Kroegkruip deur die dorsland – ’n soort van Lonely Planet as jy gesuip is.” (Beeld, 23 Oktober 2001) “My ma het altyd gesê ’n mens foeter nie ’n goeie storie met die waarheid op nie.” (Die Burger, 10 Maart 2012) “Die woestyn het ’n magiese betowering. Dis daar waar die sterrehemel op sy helderste is, waar die son se sak jou tot stilstand dwing. Dit is waar respek weer betekenis kry, want met die woestyn speel jy nie. ’n Tog deur die Namib is ’n ervaring wat jy nie mag misloop nie.” (Die Burger, 1 Mei 2008) “’n Reis is nie net iets wat jy moet verbykry om by die bestemming uit te kom nie.” (Beeld, 8 November 2010) “’n Man deurkruis die wêreld op soek na iets net om dit by sy aankoms by die huis te vind. Vir party is dit die studeerkamer met boek en rekenaar, vir ander ’n trofeekamer met bokkop en geweer. Vir my is dit ’n drinkplek – my kroeg.” (Rapport, 30 Desember 2010) “So, ek het fokkol pryse gekry, maar die mense koop my boek. Ek maak ook nie geld daaruit nie, maar die lekkerte daarvan is dat gewone mense op straat vir my kom sê hulle het dit geniet.” (LitNet) “Ek voel tuis in Afrika. Ek is nie bang om in ’n sjebeen in te kruip of in ander gate rond te hang om mense te leer ken nie. Wanneer ek egter in ’n plek instap, maak ek seker ek groet die mense. Ek is nie taalkundig aangelê nie, maar ek probeer om ’n paar woorde in die bepaalde taal te leer en gebruik dit. Jy leer ook die mense ken wanneer jy van openbare vervoer gebruik maak.” (Rapport, 13 Desember 2011) “Ek dink alle vroue is geestelik sterker as mans. Vrouens verduur ongemak en swaar beter. Ek reis baie in Moslem-lande en daar is vrouens myns insiens net ’n mite, jy sien hulle nooit nie. Die Russiese vrouens is verseker deur die bank die mooiste, maar ek dink ons vrouens uit Afrika hou dinge bymekaar.” Hoekom reis hy so baie? “Ek wou nog altyd gesien het wat lê aan die anderkant van die koppie en in die stilligheid hoop ek daar’s nóg ’n koppie, om ook sý anderkant te sien. As ek nie sigeunervoorsate gehad het nie, het mý nageslag nou een. My uiteindelike doel in die lewe is om ’n boemelaar te word.” Hoe lyk die ideale samelewing vir hom? “Ek weet nie of dit altyd vir hulle werk nie, maar die Boeddhistiese Sjerpas van die Koemboe-vallei in die Nepalese Himalajas was vir my die gelukkigste en vriendelikste klomp mense wat ek al raakgeloop het. Miskien omdat hulle niks het nie, en selfs dit met my gedeel het.” Johan se keuse van reisgenote: “My kriteria sou wees, gee mekaar ruimte binne dieselfde reis en wees gebou vir ongerief. Jou reisgenoot moet tevrede met homself wees.” (Maroela Media, 20 Maart 2024) Oor vriendskap: “Vriendskap vereis lojaliteit en liefde. Dis soos die huwelik. As jy jou huwelik wil laat werk, sal julle mekaar se nonsens moet kan opvreet. Elke mens het sy eie beweegplek nodig.” (Maroela Media, 20 Maart 2024) Oor sy skryfproses: “Dit is eenvoudig. Ek het nie stilte nodig nie. Ek maak ’n bottel wyn oop en skryf met die langhand in my eie kroeg.” (Maroela Media, 20 Maart 2024) “Die lewe soos aan my voorgesit, is tot die droesem gedrink en so is elke los krummeltjie verorber … hoe gelukkig kan een mens nie wees nie? Dat hy so-by-so die lewe kon uitleef voordat dit oor is.” (Uit: Erfgeld is swerfgeld; aangehaal op Netwerk24, 5 Julie 2020) Die belangrikste lesse wat hy by sy pa geleer het: “Jy mag oordeel, maar nie veroordeel nie. Deernis, en verstaan waar jy vandaan kom. Die geskiedenis maak die verstaan van die nou en toekoms meer draaglik. ‘Lojale verset’ soos Van Wyk Louw gesê het, is belangrik. Bevraagteken, maar luister. Vat niks persoonlik nie en moenie jou geluk deur ander probeer bewerkstellig nie. Wees eg en eerlik met jouself.” (Weg!, 9 September 2020) |
Gebore en getoë
Casparus Johannes Bakkes, of Johan soos hy beter bekend staan, is op 21 Oktober 1956 op Stellenbosch gebore – die oudste van vier kinders van Cas en Margaret Bakkes. Hy het twee broers, Christiaan en Marius, en ’n suster, Matilda. Sy pa is ’n baie bekende geskiedkundige en sy ma ’n bekende skrywer en niggie van Hennie Aucamp. Christiaan is ook ’n skrywer en Marius werk in die filmbedryf.
Johan se ma het altyd gesorg dat daar baie boeke in die huis is. “Maar,” erken hy teenoor Carel Lessing (Volksblad, 14 Januarie 2002), “ek is nie ’n swaar leser nie. Gee my eerder Wilbur Smith as Kafka. Ek kon nooit objektief lees nie. As ek ’n Louis L’Amour gelees het, kon jy seker wees ek is die cowboy.”
Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 11 Desember 2011): “My ma sê ek was ’n hiperaktiewe kind. Ek het myself kleintyd aan die slaap gerol en sy het gesê ek sal nooit ’n vrou kry nie. Ek het wonderlike ouers, maar ek is nog bang vir my ma. Wanneer sy bel en sy sê ‘Boetie …’, dan cringe ek oor wat ek moontlik aangevang het.”
Sy laerskooldae bring hy op Saldanha aan die Weskus deur en hy matrikuleer in 1974 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Sy grootwordjare in Saldanha is verantwoordelik vir sy liefde vir avontuur, reis en die natuur.
Saam met die studente van die Militêre Akademie op Saldanha het Johan as agtjarige gaan “vasbyt” in die Sederberge.
Johan het by sy pa geleer hoe belangrik dit is om alles te dokumenteer. Hy het altyd ’n kamera by hom en het rakke en rakke vol fotoalbums met aantekeninge oor elke foto, vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 13 November 2011): “Jy moet alles dokumenteer, anders vergeet jy. Ek het ook by my pa ’n waardering vir die natuur geleer. Ons is as kinders altyd saam met hom met rugsakke die berge in. My ma het ons gedwing om te lees en die wêreld in die boeke het ons nuuskierig gemaak oor dit wat daar anderkant is.”
“My ma het ’n moerse invloed op my; sy bepaal my ekwilibrium,” sê Johan aan Erns Grundling. “Sy het my gedwing om te lees en ek het gou besef daar is ander plekke as Saldanhabaai, waar ek grootgeword het. En my pa het my Sederberg toe gevat en lief gemaak vir die veld. Hy het my saans om ’n kampvuur van Napoleon en van Christiaan de Wet vertel.”
Verdere studie en werk
In die “ou” dae het jy, nadat jy matriek gemaak het, óf ’n predikant óf ’n dokter óf ’n onderwyser geword, vertel Johan in ’n onderhoud aan Alison Westwood, maar nadat hy RGN-opnames gelees het oor watter beroep die hoogsbetaalde is, het hy besluit om geoktrooieerde rekenmeester te word. Hy is dus ná matriek na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1977 sy BComRek-graad behaal, in 1979 sy honneursgraad in dieselfde rigting, en in 1980 sy Sertifikaat in Teorie van Rekeningkunde. In 1992 behaal hy sy MCompt aan Unisa. Hy begin in 1991 ’n diploma in natuurbewaring aan die Technikon RSA, maar maak dit nie klaar nie. Hy is tans besig met ’n doktoraat oor die ekonomiese oorlewing van natuurbewaring in Afrika.
Johan was vir twee jaar ’n kaptein in die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag. Twee botsende beginsels, naamlik lewenstandaard en lewensgehalte, veroorsaak dat hy die nut van ’n agtienuur-werksdag bevraagteken, en net na sy militêre opleiding oorweeg hy aftrede. Sy groot droom was om as professioneel-gekwalifiseerde boemelaar diens te doen, maar sy twee kinders het verhoed dat hy sommer so die pad kon vat.
Tussendeur sy werk as rekenmeester en professor (by Unisa van 1983 tot 2000 in toegepaste rekenmeesterskap en vanaf 2001 by die Universiteit van Wes-Kaapland) reis hy die wêreld vol.
Hy hou hom ook besig met wildboerdery (by Marble Hall) en die aanbied van safari’s. Hy is ’n geregistreerde toergids en besit sy eie safari-onderneming, Induku Safari’s. Hy is ook ’n ekspedisieleier en logistieke organiseerder en het onder andere die BMW Motorfiets Dorsland Ekspedisie in 2006 gereël, die South African/Zambian Crocodile Expedition in 1993 en die Pick ’n Pay Coastal Awareness Campaign in 1992, waartydens die hele Suid-Afrikaanse kuslyn gestap is.
Johan se een groot liefde is reis en nogmaals reis. Hy het die Visrivier-canyon al negentien keer gestap en ook Kilimandjaro en die Himalajas uitgeklim. Met safari’s en 4x4-togte het hy feitlik die hele suidelike Afrika deurkruis, en met openbare vervoer lande soos die Ivoorkus, Mali, Senegal, Mauritanië en Marokko tot in Europa. Hy het ook al op die Trans-Sahara-trein gereis, sowel as die Trans-Siberiese trein. Sy groot droom is om op elke trein in die wêreld te geklim het.
Wanneer Johan reis, skryf hy sy ervarings in ’n joernaal neer en sy stories word hierop gebaseer. Van sy reisartikels word in tydskrifte soos De Kat, Insig, Huisgenoot, Rooi Rose, Wineland, Sun-flyer en Wegbreek (later Mooiloop) en Weg! gepubliseer.
Sy artikel “Hel toe” wat in Insig verskyn het, is in 2006 bekroon met die eerste prys in die jaarlikse Mondi-toekennings vir joernalistiek in die kategorie Reis, sport en ontspanning. Die artikel handel oor sy reis na die laagste punt in Afrika.
Sy stories spruit hoofsaaklik uit ’n joernaal wat hy op sy reise hou. Volgens Johan kom die groot skryf eintlik van sy historikus-pa af, wat al van sy sestiende jaar af dagboek hou. Maar dit is nie 'n standaarddagboek nie, want hy dokumenteer besonderhede oor mense, gebeurtenisse, politiek, ens. Sy dokumente strek van die tyd toe hy stormjaer in die Ossewa Brandwag was, verby die eerste hartoorplanting en die maanlanding. (Aan Ronel Terblanche)
Maar die eintlike skryf van die stories in Johan se eerste boek, Moer toe die vreemde in, begin eers nadat Riana Scheepers een daarvan in die hande gekry het om met haar skoolkinders te behandel. Nadat Riana sy werk onder hande geneem het, het hy dertig stories binne vier weke klaargemaak. Hy vertel aan Carel Lessing (Die Burger, 5 November 2001) dat daar ook ’n skrikwekkende keurverslag was, maar dit het hom nie afgeskrik nie. “Ek skryf nie vir daai ouens nie. Die groot literêre geeste gaan my knieë afskiet.” Ook sê hy: “Kyk, ek wou nie my ma-hulle se plek inneem nie. Ek was maar Johannes die Loper. Ek het gevoel – net nie nog ’n Bakkes wat skryf nie.”
Moer toe die vreemde in word in 2001 gepubliseer, en soos Johan self sê, ontstaan sy stories omdat hy oor niks anders kan skryf as dit wat hy self beleef het nie (Rapport, 10 November 2006). “Ek is nie ’n skrywer nie, ek’s ’n storieverteller, ek’s ’n traveller, ek’s ’n professionele boemelaar. Ek’s doodeerlik as ek dit sê.”
Francois Smith skryf in Die Burger van 29 Oktober 2001: "Johan probeer om benewens die reisavonture ook meer menslike ervarings te betrek – die dood, die liefde, die ondeurgrondelikheid van menslike verhoudings. Sy forte is ’n soort lakoniese verrassingsverhaal waarin die besonderhede van die avontuur in diens van die knaleffek staan."
Carel Lessing (Beeld, 19 November 2001) meen dat hierdie "vreemde vertellings van vreemde plekke baie lesers plesier kan verskaf terwyl hulle self op ’n heel basiese vlak een van die groot vrae in die letterkunde probeer beantwoord."
Na die verskyning van Johan se tweede bundel reissketse, Nou’s ons in ons donner in, skryf Le Roux Schoeman (Die Burger, 23 November 2006): "Dit is ’n voorreg om die skrywer tussen die artefakte van sy avonture te hoor en te beleef. Die verhale, hoewel baie kort, is dikwels boeiend, en dis moeilik om te sien hoe verkope nie aangespoel sal word deur die stroom van die einste buitelugtydskrif-stortvloed nie."
"Johan Bakkes se kompulsiewe gedrag strek tot die uiteindelike voordeel van die leser," skryf Cecile Cilliers in Rapport van 9 Maart 2007, "want hy besóék nie net nie, hy belééf ook intens. En selfs meer: hy maak die nuwe wêrelddele en die mense daarin tot eie besit, om dit dan vir ons in kort maar boeiende sketse te beskryf."
Toe hy vyftig geword het, het hy aan Rapport (10 November 2006) vertel dat Nou's ons in ons donner in gaan oor "die droom van reis en om dit ’n werklikheid te maak. Want dit gaan daaroor dat ’n mens kan droom, maar jy moet doen ook. En die ou wat dit nie kan doen nie, kan reis deur my stories te lees.
"Mense wat my eerste boek Moer toe die vreemde in gelees het, kan meer van dieselfde verwag. Lekker reisstories, met so bietjie van die lewe tussen deur gesprinkel. Tog is daar een ding in Nou’s ons in ons donner in wat anders is. My stories is gewoonlik baie kort, amper kripties, want ek is nie slim genoeg om byvoeglike naamwoorde uit te dink nie,” sê hy.
Nou’s ons in ons donner in is in 2008 deur Elsa Silke vertaal en deur Human & Rousseau gepubliseer onder die titel To hell and gone. Meryl Berkowitz skryf hieroor (uitgewer se inligtingstuk): “The author’s adventurous spirit has taken him to destinations all over the world, the common thread being that these places are almost always off the beaten track. This collection of thrilling stories recounts his numerous exploits. [...] He also writes enchantingly about adventures closer to home. To hell and gone is a book to inspire the adventurer in all of us.”
Sy derde boek, Norrevøk (30°W27°N; 17°W21°N), bevat stories oor sy reis na Siberië in Rusland. Die bundeltitel is die naam van ’n klein Russiese dorpie. Sandra Troskie (Media24) skryf dat Norrevøk Bakkes op sy beste is. “Sy stories kronkel deur gister se onthou, môre se verwagtinge en eindig dikwels met slim slotte. Anderkant die gekruide taal raak sy kopreise plek-plek pure poësie. Vir hierdie leser, wat altyd wil, maar nie altyd kan nie, was die reise deur Norrevøk ‘’n totale lekkerkry.”
Stoffel Cilliers skryf in Beeld (Beeld, 10 Februarie 2009) dat die bundel nie ’n reisbeskrywing is nie. "Dit is eerder ’n klompie indrukke: elk slegs ’n paar bladsye lank, opgehelder deur foto’s wat atmosfeer knap weerspieël."
Dit is danksy Johan en ’n paar drinkebroers dat Theuns Jordaan vandag ’n ster is. Hulle het hom een aand in ’n restaurant hoor sing en was so beïndruk met sy stem dat hulle hom gehelp het om sy eerste CD te maak.
Johan is getroud met Nancy Vorster, ’n kliniese sielkundige en ’n kunstenaar, en hulle woon in die Paarl in die Wes-Kaap. Hulle is getroud toe hulle jonk was en het vyf jaar gewag voor hulle kinders gehad het. Kleintyd kon die kinders (Cara en Marc) saamgaan as dit prakties moontlik was. Johan vertel aan Ronel Terblanche op LitNet dat hy wegloop sonder om enigiemand te sê. “Wanneer my mense die oggend wakker word en die bakkie is weg, weet hulle Pa het al weer die pad gevat – gewoonlik net so vir tien dae. Maar nou moet ek ook sê, my vrou is ’n sielkundige en deesdae vra sy my wanneer loop ek weer, en nou vat sy al die fun daaruit.”
Die bronsarmbande wat aan Johan se arms is, weeg meer as twee kilogram tesame. Hy vertel aan Ronel Terblanche: “Die bangles het ek gekry in my omswerwinge in Afrika en het so deel geword van my – ek bad en leef daarmee en wanneer ek dit nie aan het nie, voel ek kaal. Sommige mense maak teelepeltjies bymekaar – ek hou van bangles. Sommiges is gekoop van ander se arms en sommiges geruil vir ’n blikkie boeliebief. Dit het miskien begin as ’n rebelse situasie om weg te kom van die normale, maar nou is dit deel van my lewe. Die bangles is natuurlik ook ’n bemarkingsfoefie. Mense sal vra waar kom ’n spesifieke bangle vandaan en ek sal sê Ivoorkus of Mali. Dan vertel ek van my volgende reis en vra of hulle wil saamkom.”
Volgens Johan is daar drie mense in sy binnekring: Nancy, Cara en Marc. Een maal ’n jaar spandeer hy alleentyd saam met elkeen van hulle. Toe Cara veertien geword het, is sy saam met hom Uhuru, die hoogste bergpiek in Afrika, uit. Hy voel vir seker skuldig dat hy nie so baie by die huis is nie, maar die kere wat hy wel tuiskom, sorg hy dat dit gehaltetyd is. (LitNet)
Samoe(r)sa reis word in 2012 gepubliseer. "Die draaipunt in hierdie reisverhale is Indië, meer spesifiek die berg Stok Kangri, maar daar is talle ver en naby afdraai- en ompaaie daarheen en terug. Op pad laai Bakkes sy reisgenote – dié wat saamgaan Indië toe én sy medepassasiers op sy lewensreis – die een ná die ander op,” skryf Erika de Beer in Beeld van 8 November 2010.
Sy gaan voort: "Die hoofstukke oor Indië word met dié 'oplaai'-stories afgewissel en telkens pas hulle soos ’n Ventertjie aan ’n sleephaak in by dit wat vooraf en agterna kom. Die kerngroep is die Boksombende en variasies op dié tema. Dis die ouens wat saam met Bakkes al die Visrivier-canyon snuif gestap en talle ander reise meegemaak het.
“Dis allermins ’n teerpadstorie dié. Dis ’n hardebaardreis, maar op sy eie manier ’n heilsame, humoristiese een, al begin dit met ’n swart gat en eindig dit met ’n besoek aan die begraafplaas en ’n kodisil tot ’n testament. Niks is versuiker nie en tog is dit maklik om alles vir soetkoek op te eet. Dit is wat dit is en die storie staan nie in die pad van ’n goeie stel feite nie.
“Bakkes is ’n meesterverteller. Party lesers sal wens hulle was daar, terwyl ander ewe lekker gerieflik op ’n rusbank sal saamreis."
In Rapport (30 Desember 2010) skryf Selwyn Milborrow: “Met sy unieke vertellings neem Bakkes die leser – soos in sy vorige boeke, Nou’s ons in ons donner in en Moer toe die vreemde in – hierdie keer op ’n Samoe(r)sa reis.
“En ons begin by die Richtersveld waar Nama nog gepraat word en die ‘amastap’ leef, deur na Kartoem se stofstrate, dan ’n drinkplek in Kreuzberg, Berlyn, tot in Indië, die land van kerrie en samoesas. Saam met Bakkes gooi ons ’n draai in Varanasi, die stad van die Hindoegod Shiva waar jy sterf en só bevry word van die siklus van geboorte en dood.
“In die verhaal ‘Reisgenote’ laat Bakkes die leser met die gedagte dat ’n lewensmaat eintlik ’n reisgenoot is wat hom of haar die ruimte vir alleen wees, saamwees, apart wees en sommer net om te wees, toelaat. ’n Reisgenoot mag immers nie eiesinnig wees nie. In die saamwees moet die reisiger ook alleen kan wees. So is die lewe dan ’n reis met byna niemand wat alleen by die lewenseindbestemming wil uitkom nie.
“En dis die belangrikste met wié jy die pad aandurf. Ondanks die beperkinge. Soos die verteller se vriendskap met Kalie wat geld het, maar nie tyd nie. Anders as die verteller wat tyd het, maar nie geld nie. Hierdie dilemma, die rokdraers en hul reis deur Jammu – Kasjmir – die deel waar Indië en Pakistan op mekaar skiet, skrik hulle nie af nie.
“Die stories in Samoe(r)sa reis is soos ’n reis die vreemde in: jy weet nie presies wat môre gaan gebeur nie. Die boek bevat 31 reisverhale en foto’s wat op hul avonture deur Bakkes, sy vrou en vriende geneem is. In die naskrif is daar ’n gedetailleerde weergawe van sy testament. Johan Bakkes, alias Johannes die Loper, die man met die bangles, Sylvester Stallone (soos hy in Zambië genoem is), het al in ’n onderhoud gesê hy is nie ’n skrywer nie, bloot ’n ‘trewwelaar’ met ’n storie. Maar in die genre van die reisverhaal staan hy uit en bied hy uitstekende vermaak.
“Soos met Bakkes se vorige boeke kan ’n mens net hoop Samoe(r)sa reis word in Engels vertaal sodat die wêreld ook kan sien wat Bakkes sien, beleef wat hy beleef. Die wêreld is te groot vir een leeftyd, leer ’n mens in Samoe(r)sa reis.”
Dit is nie gebruiklik vir ’n skrywer om op ’n resensie van sy werk te reageer nie, maar Johan is nie iemand wat hom aan gebruike en voorskrifte steur nie. Dus, toe ’n resensent kla dat Bakkes se Samoe(r)sa reis te veel “Jack Parow” in het en nie genoeg “Juanita du Plessis” nie, het Bakkes besluit om sy nuwe boek die ironiese titel Oepse daisy te gee. Ná titels soos Moer toe die vreemde in, Nou’s ons in ons donner in en Norrevøk word daar in die voorwoord van Oepse daisy vermeld dat dié boek se titel “net sowel ‘O bliksem’, ‘O gits’ of ‘O magtag’ kon gewees het”, want “miskien is dit tyd om Juanita du Plessis in plaas van Jack Parow te speel.”
Só het Johan ook by die bekendstelling van Oepse daisy by Protea Boekwinkel op Stellenbosch vertel. Hy het ook ’n “skatalogiese storie” aan die bepaalde resensent opgedra. “Ongelukkig was die storie ‘te skatalogies’ om in die bundel opgeneem te word,” het Bakkes gesê. Die titel van die storie verskyn wel in die bundel, saam met ’n foto van ’n man wat ’n kleinhuisie in die sneeu besoek en ’n opdrag aan die resensent, maar die verhaal, met ouderdomsbeperking 3–13 PG, kan slegs op NB-uitgewers se webtuiste gelees word.
Die titel Oepse daisy is egter nie net gekies as ’n stekie in die resensent se rigting nie. Die gelyknamige verhaal in die bundel het te make met een van Bakkes se heel moeilikste reise, naamlik om kolonkanker te oorwin. Die titel sê hy is nog nie naastenby naby aan “pushing up daisies” nie. Bakkes het selfs sy toewyding tot die stryd teen kanker gewys met die pienk das wat hy by die bekendstelling gedra het.
Ook Oepse daisy bevat vertellings oor ver en naby reise. “Maar dit gaan vir my eerder oor die sielsdinge van reis, as oor die plekke waar ek kom,” het hy gesê. Alhoewel humor steeds ’n groot element in sy werk is, erken Bakkes dat die verhale ’n tikkie nostalgie en melankolie het. “Miskien kom dit saam met die ouderdom, ek weet nie.”
Daar is heelwat foto’s in sy boek, “vir die mense wat nie kan lees nie”. Bakkes neem foto’s oral waar hy kom. Hy het selfs ’n foto van die gaste by die bekendstelling geneem, om glo vir sy vrou te wys hy “loop nie rond nie”. Dit is vir hom wonderlik as mans hom voorkeer en vra of hy die “man van Moer toe is”.
Die meeste van hierdie 27 reissketse het eers in die MyTyd-afdeling van Rapport verskyn. Magda Swart, die redakteur van MyTyd, se opdrag aan Johan was: “Ek hoop jy onthou nog dat jy belowe het om af en toe ’n reisrubriek / storie / wat ook al te doen. Jy kan so 1 600 woorde skryf en daar is ’n sterk klem op foto’s. Van die goed wat ek in gedagte het, is die sielsdinge van reis en verken, veel eerder as die plek en die pad soontoe …” (Justin Fox in sy resensie op LitNet)
Justin Fox het Oepse daisy vir LitNet geresenseer. “We visit Bakkes’s favourite South African haunts, such as the West Coast and Kalahari; there are long expeditions through Namibia, Angola and Tanzania; visits to Mali, the Ivory Coast and Morocco; trips to Italy, Greece and Russia. Bakkes favours going off the beaten track, far from tourist routes. Instead of spending money on expensive accommodation he unrolls his sleeping bag and nestles down exactly where he finds himself at the end of each day. This freedom allows him to meet fascinating characters and often puts him in the hands of common people who welcome him into their hearts. It is a brave and rewarding way to travel.
“There are a number of themes that resurface throughout the collection. Bakkes’s response to other writers and their experience of the places he visits is a recurring interest. So, too, his passion for food and drink which weaves itself into almost every tale. Music is an abiding love and Bakkes frequently marries the place with its characteristic sound, often the folk music tradition of the region. The music seems to infect his prose, and its lyricism reinforces Bakkes’s romantic vision of travel.
“Another common theme is the use of historical figures as a means to investigate a region. One of his finest sketches recounts an evening spent in a bar cum brothel in the back streets of Stone Town, Zanzibar. He strikes up a conversation with an elderly gent sitting in the corner writing. It is only at the end of the tale that we discover his is an imaginary conversation with Ernest Hemingway.
“Bakkes frequently uses traditional short-story techniques in his ostensibly simple, factual telling. For instance, he employs a teaser at the beginning of many sketches, such as ‘’n Italjaner in Afrika’, where he mentions in passing an 18th-century Italian who joined Napoleon’s army, and then goes on a tangential tale about a contemporary South African Italian living in Port Nolloth. It is only at the end of the story that these two threads come together.
“Another effective Bakkes device is the flashback. ‘Die Weduwee’ contains a series of anecdotes concerning the 1904 rebellion in Namibia juxtaposed with a contemporary journey in search of the story behind a grieving widow. In ‘Diamond Lil’ we flash back and forth between a 19th-century lady of the night and a modern bar girl. The past and present continually collide, adding resonance and deepening the meaning of both trajectories.
“All the stories are written in an intimate, assured and accessible style. You could almost be sitting around the fire with Bakkes, listening to him spin his yarns deep into the night, a mug of brandy in hand and jackals howling in the distance. There’s humour and wit, drama and sadness. The humour is often delightfully self-deprecating, as in ‘alkoholgebruik het my lewer groot genoeg gekry dat hy al hoërskool toe gaan’.
“Bakkes is obviously very comfortable with the short-sketch format, but the form can also be a hindrance. There are times when the 1 600-word limit imposed by the newspaper prevents deeper exploration of ideas. This is a problem that often arises when journalists republish their articles in book form. On occasion there needs to be a rewriting and reconfiguration of the original piece. At times one wishes that Bakkes had sunk deeper shafts, pushed a theme further, explored more of the literary potential. In so doing, some stories could have been lengthened and others cut. For instance, sketches that perhaps stretch the travel metaphor too far, such as his meditation on hamburgers or his visit to Glenda Kemp’s strip show, could have made way for a lengthening and deepening of other narratives.
“The one sketch that firmly breaks with these journalistic strictures is ‘Oepse Daisy’, the final and title story of the collection. This was not written for a newspaper and deals with his own ill health and journey through cancer. Where he uses the travel metaphor to explore sickness, time, aging and death we have Bakkes at his best. He writes, ‘Met die reise wat vir ons saak maak, weet ons nie aldag wat op die pad gaan gebeur nie.’ And so begins his journey through ‘hospitaalsale, X-straalkamers, MR-masjiene en operasieteaters’. It’s told with absolute honesty and without sentimentality.
“Oepse Daisy is a colourful, richly diverse collection of travel sketches told in an earthy, no-nonsense style. At times poignant and nostalgic, at times witty and playful, it is a uniquely South African take on travel. This is an easy read, with bite-size anecdotes, and is highly recommended for those with itchy feet, especially lovers of off-the-beaten-track travel.”
Johan se treintoer in Siberië was deel van sy missie om op elke trein in die wêreld te ry. Hy het Siberië beskryf as “die koudste plek in die wêreld waar mense ’n bestaan voer”. Hy het verder oor hierdie koue plek uitgebrei: "Dit was -57 °C; ek kan dit nie beskryf nie. Daar sit hulle bier in die yskas dat die goed kan warm word. Hulle het gesê jou trane kan vries, maar dit het nou nie werklik met my gebeur nie. Die Russe het gedink ons is mal. Ons gids was ’n jagter en martial arts-ou wat in hokke baklei, heeltemal van sy kop af...” (Aan Erns Grundling)
Stephanie Niewoudt skryf in Rapport (13 Desember 2011) oor Johan: "Hy kan nie, soos soveel van sy kollegas, agt uur per dag in ’n pak rondsit nie. Trouens, ’n mens kan jou die baardman met die minstens twintig armbande van koper, tou, knope en riempies om sy polse geensins in ’n formele werkplek voorstel nie. Die akademie het uiteindelik vir hom meer tyd en vryheid gebied om te reis. ’n Tipiese professor is hy nie, maar tog besef ’n mens jy kan jou kwalik, juis vanweë sy andersheid en wye kennis van die wêreld, ’n meer geskikte leermeester voorstel.
"Johan se geesdrif vir reis, sy blyplek, sy familie borrel oor. ’n Mens onthou skaars dat hy ook in Oepse daisy skryf oor die kolonkanker wat by hom gediagnoseer is (hy is ná ’n operasie en behandeling “skoon” verklaar) en die emfiseem waarmee hy saamleef. Maar soos hy skryf: 'So gaan ek nie nou my lewenstyl verander om “langer te lewe” nie; ek het mos voluit gelewe tot nou – hoekom dan nie tot die einde nie?'"
Johan se oorsese reise is dikwels saam met pelle, maar hy sorg altyd dat hy ook ’n paar dae op sy eie is. “Alleen reis gee my die vryheid van beweging; ek kan my eie afdraaipaaie vat. Dit is vir seker ’n selfsugtige ding – iemand het eenkeer geskryf ‘to travel is to unmeet people.’ Ek het ’n basis, ’n vrou (die skilder Nanna Vorster Bakkes, wat ook ’n kliniese sielkundige is), en twee wonderlike kinders, en dit gee ’n groter dimensie aan reis. My reis is ’n reis van terugkom, al is dit iets wat my jaag.” (Aan Erns Grundling)
Johan verduidelik die verhouding tussen hom en sy broer, Christiaan (of Chrisjan) só aan Erns Grundling: “My pa het nie aartappels geplant nie; ons het opgekom soos ons moes opkom. As ons mekaar sien, is dit vreugdevol, ons soengroet mekaar en dan kuier ons. Maar langer as twee dae, dan begin ons baklei en dan huil ons en dan raak ons weer lief vir mekaar en dan ry ons weer.”
Op Netwerk24 (12 Mei 2013) skryf die joernalis oor ’n kuier aan Johan se huis waar daar agter in sy "werf" ’n ou snuiftabakskuur staan wat in die begindae van die Paarl opgerig is. Johan het sy kroeg daar ingerig, maar dit is nie sommer so ’n kroeg nie. "Ene SF Marais het hier sake gedoen – die oorspronklike uithangbord pryk nog binne-in die kroeg. Op die bord staan: SF Marais en Kie, Vars Produkte, Snuif en Tabakhandelaar, Foon 4075."
Aan die mure is daar amper nie meer plek vir nog iets nie. Al Johan se memento's van sy reise dwarsoor die wêreld word daar uitgestal, met Afrika wat duidelik sy voorkeur is. "Hier is meer Afrika-maskers as wat die Duitsers elke jaar huis toe dra; ek sien ook ’n houtskaakstel en geraamde foto’s van al Johan se avonture. Johan se 'samoe(r)sareis(e)' het hom al van die Ivoorkus tot Timboektoe in Mali, van Senegal tot Marokko met ’n draai in Mauritanië gevat. G’n wonder daar hang ’n lap bedruk met ’n woestynkameel teen die een sinkplaatmuur nie.
"Digby die kroegtoonbank waar Johan op sy elmboë leun, staan Pop (’n mannekyn wat hy in Foschini op Ceres raakgeloop het) – in haar kamoefleer-uniform met ’n piepothelm op haar kop – sodat sy altyd naby Johan kan wees. '’n Man moet papiere hê,' glo Johan, en dit geld Pop ook. Dus het Pop haar eie paspoort. Johan beweer die lewensgroot Pop was al op vele van sy reise saam met hom. Pop sprak nie ’n sprook om die teendeel te bewys nie. Haar paspoort hou sy ook goed weggesteek sodat die stempels nie geïnspekteer kan word nie. [...]
"As Johan nie 'moer toe die vreemde in' [...] is nie, is dit hier in die tabakskuur waar hy sy sit en waar hy mildelik skink. En maklik praat – terwyl sy armbande klingel – en daar tot hanekraai gekuier word. Hier word ’n ding op sy naam genoem, kragwoorde gebesig – Norrevøk, dit was nou vir jou ’n bliksemse plek! – as die vertelling daarna vra. En geen wenkbrou word gelig nie.
"Binne-in Johan se tuiskroeg geld geen rituele nie; al is Johan ’n man wat '’n moerse sinnigheid' in rituele het. Buite die tabakkroeg in ’n ruim agterplaas is daar sewe braaiplekke – so na aan mekaar dat jy ’n tjop van die een na die ander kan gooi. ’n Man is mos nie lus om elke keer op dieselfde plek te braai nie! By die een sit jy op Malawi-stoele in ’n kring waar ’n lantern van Outa Lappies herinneringe oproep; by die ander kan jy biljart speel of by ’n lang tafel aansit. Op by die soldertrap bêre Johan sy boeke. ’n Kroeg is ’n dorp se siel, sê Johan.”
Marieke Snyman (Nuus24, 19 Julie 2011) wou by Johan weet of die besluit om te skryf doelbewus geneem is en of dit ’n uitvloeisel was van sy ma en broer se skrywery was. "My ma het die liefde vir boeke en lees by ons verwek. Sy het ons altyd gedwing om te lees. Maar daar was geen manier wat ek gedink ek sal ’n skrywer wees nie. Ek het glad nie daarin belanggestel nie. Daar is nou al ’n ma en ’n broer in die gesin wat ek skryf, en ek wou nie een van die 'Brontë-susters' word nie. Dis hoekom dit op 42-jarige ouderdom regtig eers met my gebeur het."
“My treklus is ‘terminaal’. By my is dit werklik ’n siekte. Ek wou as kind die heeltyd gestimuleer word en het myself letterlik aan die slaap gerol. Daar is iets wat my jaag. My lang reise word beplan, maar as ek in die bakkie klim, slaap ek net waar ek kom. Of ek gooi my bed-rol oop en lê sommer in die veld.” (Aan Erns Grundling)
Johan Bakkes het al met sy eerste boek gesê dit is sy laaste boek, en hy sê dit weer ná die publikasie van Openbaring, waaraan hy ook die subtitel ’n Reisjoernaal gee. Dawid de Wet skryf op LitNet dat Bakkes in Openbaring vir ons vertel van die twee temperatuuruiterste geografiese liggings waar mense nog ʼn bestaan maak. Hy skryf oor die mense wat daar ʼn bestaan uitkerf en die mense wat hy langs die pad daarheen ontmoet. Die mense wat hom soontoe vat, en dan ook oor sy mense. Die mense wat hom vergesel. En dit alles is natuurlik ʼn reis, soos die lewe.
“Bakkes spring tussen die stories van dié bende se reise na die koudste en warmste plekke op aarde. Tussendeur werk hy met die hitte van die lewe en die koue van die dood. En tussen al die uiterstes is daar nie ʼn goue middeweg nie. Net ʼn weg gebaan met goue vog en vodka. […]
“Bakkes en sy stam is net gewone mense, nie professionele avonturiers nie. Gewone mense wat buitengewone avonture aanpak, hulleself borg en hulleself met hul beursies by die huis kry. Dít is dalk die rede hoekom dié leser só ʼn diep beskrywing van die reisiger se psige raaklees. Bakkes het die keuse gemaak om nie lou te wees nie. Hy reis hard. En somtyds reis hy alleen. Hy reis na wilde en wonderlike plekke. En hy skryf soos hy dink, soos hy praat en soos hy drink.
“Tussendeur gee hy goeie agtergrondinligting of ʼn geskiedenisles. So het ek nie geweet Siberië beslaan ʼn derde van die noordelike halfrond nie, of dat die wêreld se grootste woud hier saam met 53 000 riviere en meer as ʼn miljoen mere te vinde is nie. Die swart-en-wit foto’s is regte reis-snaps wat nie bedwelm nie, maar eerder die prentjie voltooi.
“Die truuk van reis is om jouself bloot te stel. Bakkes doen dit goed deur te droom van die wildste reise en dit dan saam met sy vrinne aan te pak. Nog meer as blootstel, leef hy homself in die reis en die land en sy mense en dingetjies in deur te proe. Spys en drank, maar meestal drank.
“Die man is ʼn palliter (soos sy pa hom beskryf) en hy (en sy pelle) strewe om nie lou te wees nie. Hulle beleef vyftig grade Celsius en minus sewe-en-vyftig grade Celsius. Dis ʼn verhaal van twee reise en dan ʼn alleenreis. En eintlik ʼn soeke. ʼn Lewensreis. En ʼn afsluiting van ʼn vol lewe. Ek sal hartseer wees as dit Bakkes se laaste boek oor sy laaste reis is.
“In Openbaring, die laaste hoofstuk, kom Bakkes by sy bestemming uit. Reis en lewe voluit, is sy raad. Ek volg dit graag.”
Protea Boekhuis in Pretoria is besig om met verdrag heruitgawes van al Johan se boeke te publiseer – nie net heruitgawes nie, maar dit word ook oorgeskryf. Vir die heruitgawes moes hy weer sy boeke lees en verstellings aanbring waar nodig: “Weet jy hoe stupid voel jy om ná 20 jaar jou eie goed te lees? En dan is daar ook verwysings wat vandag heeltemal uit plek is. So, ek moes duidelik maak in watter tyd die verhale afspeel.”
In 2022 het hy by NALN in Bloemfontein ‘n draai gaan maak om sy “skryfgoedjies” daar in bewaring te los – soos sy ma, Margaret Bakkes, hom aangesê het om te doen.
Ilse Salzwedel skryf op Maroela Media só oor Openbaring: “Al die stories in Openbaring word met die kenmerkende Johan Bakkes-humor en ’n goeie dosis selfspot vertel. Uit ondervinding weet ek dat hierdie Bakkes homself nie te ernstig opneem nie, een rede waarom mens so lekker lees aan sy boeke. Nog ’n rede is dat hy sy lewe met oorgawe leef. Hy noem homself immers ’n ‘pallieter, iemand wat die lewe aangryp en dit tot die laaste droesem geniet’.”
In Vrouekeur van 8 Julie 2016 gee Willie Burger sy mening oor Bakkes se skryfwerk in die algemeen, en meer spesifiek oor Openbaring: “Johan Bakkes het reeds met sy eerste boek, Moer toe die vreemde in, met sy kenmerkende styl en aweregse reisverhale, talle aanhangers gewerf. Sy ander boeke oor reise na vreemde plekke het hierop voortgebou. Hy dra nie klere wat by sy werk as dosent in ekonomiese wetenskappe pas nie en sy baard druk ook ’n vinger in die oog van die samelewingsnorme (en hy herinner jou die heeltyd hieraan!).
“Hy toer telkens weer die vreemde en vertel – op baie selfbewuste manier – die verhaal van sy eksotiese reise. Openbaring is eintlik die verhaal van twee reise – een na die koudste plek op aarde in Siberië en een na die warmste plek in Ethiopië. As ’n mens verby die ‘ekkerigheid’ van die reisbeskrywings kan lees (iets wat blykbaar die meeste lesers nie pla nie?) is die reisverslae boeiend omdat die klem nie op die toeristiese val nie, maar ’n verrassende blik op onbekende plekke bied.”
Vir Bakkes se baie aanhangers was Openbaring gelukkig toe nie sy laaste boek nie – in 2020 gee Protea Boekhuis Erfgeld is swerfgeld met die subtitel die -ste -ste plek uit. En weer sê hy dit is sy laaste boek (as ’n mens tussen die reëls lees).
Oor Erfgeld vertel Johan aan Erns Grundling (Weg!, 9 September 2020) dat hy “drie weke en 43 bottels wyn” lank aan die boek gewerk het. En hy beskryf Erfgeld as sy “onthou en nostalgie en ongeag dat ek al met my een been in die sipresse staan, is dié nou vir my ’n heerlikheid. Die boek is steeds ’n reisverhaal, maar dalk meer persoonlik.”
Erfgeld is swerfgeld is ook ’n huldeblyk aan sy pa, kommandant Cas Bakkes, ’n militêre geskiedskrywer, soldaat en reisiger: “’n Huldeblyk aan ’n man wat nooit self ’n pa gehad het nie, maar sy bes probeer het om sonder verwysing ’n goeie een te wees. Nie net vir my nie, maar vir al sy kinders. En ek glo hy het dit reggekry.”
Op Netwerk24 skryf Sophia van Taak: “Soos altyd is daar in Erfgeld is swerfgeld weer ’n ‘-ste’-doel voor oë: die droogste plek op aarde, die woeligste vulkaan wat ’n mens kan uitklim, die eensaamste eiland, ensovoorts. By al dié reise is daar vooraf beplanning betrokke, maar in ’n onrusbarende groot mate foeter hy en sy reismakkers eintlik net ’n koers in.
“En dis dié benadering wat bykans altyd ’n onvergeetlikheid oplewer. En indien nie, dan ten minste ’n skitterende storie.
“Wat my bring by die volgende rede om Erfgeld te oorweeg: Hierdie keer skryf Bakkes oor soveel meer as sy soeke na avontuur, of, soos hy dit noem, ‘die ewige behoefte om tog net nie gewoon en saai die lewenspad, soos vir iedere uitgestippel, af te handel nie’. Hy vat die spoor van ’n diepe hunkering om by homself uit te kom – die ‘-ste -ste’ plek. Op pad soontoe betrap die skrywer hom telkens op ’n afdraaipad die verlede in – sy eie, maar ook Suid-Afrika s’n. […]
“Die boek is dus ’n heerlike bundel onthoue, neergepen in sy unieke styl. Bakkes skryf soos hy praat – met nóg filter nóg finesse. Maar dit is juis wat sy teks so aanloklik maak. Die skrywer laat willens en wetens toe dat jy hóm agter sy vertellings raak lees – met sy mooi én sy morsig. Daarom glo ek sal Erfgeld se opregtheid ook resoneer by lesers wat nog nooit ’n Bakkes-boek onder oë gehad het nie. […]
“Dit is vertellings wat aangryp en vermaak; jou een oomblik laat snork van die lag en die volgende laat snik. Elke verhaal word verder verryk deur ’n aanhaling as inleiding. […]
“Al die elemente werk saam om ’n gebeurtenis vir die leser so meesleurend moontlik te maak. […] Bakkes slaag daarin om die genot van die oomblik meesterlik te vertolk. Jy kan sê wat jy wil van Johan Bakkes (ek dink hy gee in elk geval nie ’n flenter om nie), maar oor één ding kan jy nie stry nie: Min van ons het die moed om hom die lewensreis óf die reis na binne so onverskrokke na te doen. [...] Dit is dan Bakkes se nalatenskap aan sy lesers: Hy het namens almal die wilde vul bloots loop ry, met ‘die uitbundigheid van net dóén’. Dit is ’n aansporing om, solank ons nog oorleef, werklik te léwe, en die byna ondraaglike grootsheid van hierdie bestaan soms oor ons te laat spoel. Al is dit vir daardie één oomblik van akuut lewendig voel.”
Louise Viljoen bespreek Erfgeld is swerfgeld op die webjoernaal KragDag Gemeenskap: “Daar is ’n verrassing vir die leser op elke bladsy – hetsy ’n gepaste anekdote, ’n swart-en-wit foto, ’n geskiedkundige staaltjie of oorlewering, ’n interessante feit, ’n wolhaarstorie van sy pa of ’n lewenswaarheid wat jou onverhoeds tussen die oë tref. Deurentyd is daar Bakkes se eiesoortige humor, dikwels ten koste van homself. Of hy nou op ’n seevaart is, in ’n tent in die Nepalese Himalayas of op ‘n sneeumobiel iewers in die Russiese gopse, die leser is midde in die ervaring danksy die storieverteller se lewendige vertelstyl. Gerrit Rautenbach skryf op die agterplat: ‘Hierdie outobiografiese boek is onverbloemd en onverdund Bakkes in sy unieke vertelstyl. Eerlikheid, dis Bakkes. Sy uitkyk op die lewe word blootgestel, gebalanseer met sy groothartigheid en mensliewendheid.’”
En vir al die Bakkes-aanhangers was Erfgeld toe ook nie Johan Bakkes se swanesang nie. In 2021 publiseer Protea Boekhuis Hou die kruit droog. In ’n verduidelikende nota sê hy Hou die kruit droog is nie ’n boek nie, maar net “los gedagtes en ’n kopreis gedurende inperking in boekvorm”. Bakkes se Facebook-plasings uit die Covid-tyd is in Hou die kruit droog opgeneem, asook stukke uit sy ander werke.
Op LitNet skryf Riette Rust só oor Hou die kruit droog: “Bakkes se verhale is dikwels humoristies: Putsonderwater is ‘Suid-Afrika se Timboektoe – hy verteenwoordig die konsep “to hell and gone”, het die skrywer se ma gesê. Op die plaas Omkyk het die reisgenote links gedraai, ‘nie omgekyk nie’. […]
“Daar is baie feite in die bundel waarvan mens nie sommer andersins sal weet nie. Soos die lekker name van verlate opstalle in die Boesmanland: Stofbakkies, Dikpens, Haaromvlei en Krommaag. […]
“Intussen bring Bakkes hulde aan sy oorlede ouers en stel hy ons aan sy ander familielede bekend. Volgens die skrywer het sy pa nooit vir hom gesê hoe hy moet lewe nie, maar hom gewýs hoe om te lewe. Sy ma het weer gesorg ‘dat daar nooit ’n tekort was nie’ – veral aan liefde.
“Daarvan moet sy gesin genoeg hê, want dit is waarskynlik nogal ’n uitdaging om ’n kompulsiewe reisiger in jou binnekring te hê. Jy sal boonop elders moet raakvat. Konvensioneel is dié reisiger allermins. Wanneer hy alleen reis, sit Pop langsaan. Sy is ’n aantreklike winkelpop, volledig geklee, pruik en al. Daarby het Bakkes ’n groot dors na kuier en beman geen wag sy mond nie. […]
“’n Oppervlakkige mens is hy egter nie. Hy haal met bewondering sy oorlede medeskrywer Pieter Pieterse aan: ‘Elke mens behoort sy draai deur die lewe te loop. Maar elke mens behoort op ’n keer ... te gaan sit om oor homself rekenskap te gee, om binne-in homself in te kyk en uit te vind wat dit is wat regtig vir hom saak maak.’
“Bakkes het die laaste woord. ‘Mens sê nooit: “Tot hiertoe en nie verder nie.” Jy hergroepeer net vir die volgende dag.’”
En op Maroela Media sluit Louise Viljoen haar bespreking so af: “Bakkes se beskrywings van sy reiservaringe is boeiend en ook leersaam. Hy neem sy leser saam met hom die wêreld in – of hy nou ’n berg in Ethiopië uitklouter, by ’n lodge in Namibië inboek of die Kalahari met ’n bakkie aandurf. Mensekennis en fyn en diep kyk skemer deur in sy werk. Ek het baie lekker gelees aan Hou die kruit droog en dit baie inspirerend gevind.”
C Johan Bakkes is op Dinsdag 24 Junie 2025 aan kanker oorlede. Hy het die laaste tyd van sy lewe in ’n versorgingsoord in die Paarl deurgebring. Hy word oorleef deur sy vrou, Nanna, twee kinders en twee kleinkinders.
Huldeblyke:
- Marius Bakkes, sy broer: “Johannes had ’n kort humeur sy lewe deur. Kleintyd het ek maar lelik deurgeloop. Hy was ’n ou wat sy eie ding wou doen en sy eie stempel wou afdruk en vroeg-vroeg, op skool al, effens eksentrieke dinge begin doen het. Hy het al hoed gedra toe ander van ons jare dit nie eens sou oorweeg nie. As kinders was ons minder naby, maar daarna het ons hegte vriende geword.
“Hy was ’n intense ou wat graag sy emosies, gevoel en ervarings wou uitdruk – en dan wou hy ’n gehoor hê, of jy dit nou wou hoor of nie. Hy wou altyd mee wees wanneer ’n reis beplan word. Eenkeer met ’n besoek van my en drie pelle aan kleinboet Christiaan in die Kaokoveld, het hy van die besoek te hore gekom. Toe ons vier die middag by Fort Sesfontein se kroeg instap, toe sit hy al daar. […]
“Hy het my lewensmaat 40 jaar gelede al soos sy eie broer aanvaar en by hom gestaan soos eie familie. Dit was aangenaam om so twee of drie jaar gelede ons mooi boshuis by Hoedspruit vir oulaas met hom en Nanna te kon deel. Lekker om om die vuur te sit en groot te braai en goeie wyn te drink. Dis waarvan hy gehou het.” (Netwerk24, 25 Junie 2025)
- Lizz Meiring, sy kleinniggie en aktrise: “Ek het in my jonger dae ’n paar keer saam met Johannes opgetree. En elke keer is ek getref deur sy charisma, kennis en visie. Hy was eksentriek, maar ook hiperintelligent. As ons mekaar by kunstefeeste raakgeloop het, het ons partykeer deurnag gekuier. Johannes was ’n Renaissance-man, avontuurlustig en wêreldburger. Sy dood is ’n verlies vir die mensdom.” (Netwerk24, 25 Junie 2025)
- Dana Snyman, skrywer en vriend: “Johannes Bakkes kan jy nie sommer in woorde vasvang nie. Ek was bevoorreg om hom ’n bietjie te kon ken. Ek onthou weer vanoggend hoe ons eenkeer van die Paarl na ’n kunstefees op Kimberley gery het. Toe ons die oggend vroeg by sy huis in die bakkie klim, gee hy vir my ’n stuk van ’n swaar ketting. ‘Hier’s jou wapen,’ sê hy. Hy self het ’n pistool of iets by hom gehad. Asof ons Kimberley gaan beleër, nie ’n kunstefees bywoon nie. Sy pa, oom Cas, was ’n militaris en Johannes het ook iets daarvan in hom gehad, ’n kaptein van die lewe.
“Ek en party ander mense het hom Johannes genoem. Johan is ’n te mak en gewone naam vir hom. Of dalk is dit omdat hy soos Johannes in die Kinderbybel gelyk het, met sy baard en wilde hare. Johannes die Loper – sy spore lê die wêreld vol: Afrika, Europa, Rusland, China …
“Dit was in Junie toe ons daardie keer Kimberley toe gery het, en op pad, iewers anderkant Trompsburg, het ons in ’n plaasdam langs die N1 geswem, net om te voel hoe dit voel om in die winter in ’n plaasdam te swem.
“Toe my verloofde in 2017 haar eie lewe geneem het, was dit Johannes wat my gebel het. ‘Pak jou goed en kom na my toe,’ het hy gesê. By sy huis in die Paarl het hy soos ’n vader oor my gewaak. In sy laaste gesprek met my het hy gesê hy is lief vir my. ‘Voel jy dit?’ het hy gesê. Ek het dit gevoel, Johannes. Ek het.” (Netwerk24, 25 Junie 2025)
- Willem Fransman jr: “Johan Bakkes, in my boek een van ons grootste reisverhaalskrywers, daag by ’n Woordfees op waar ek op ‘n paneel was, met drie boeke in sy een hand vasgeklem en, tipies Johan, ’n glas wyn in die ander. Toe dit sy beurt is, praat hy met sy sterk baritonstem en entoesiasties oor elk van sy boeke. Sy derde boek was die Bybel. Toe maak hy die Bybel oop en daar gly sowaar ’n Kaptein Duiwel-fotoverhaalboekie uit! Hy vertel dat daar maar ’n stryd was om dié gewilde fotoverhale in hulle huis gelees te kry. Sy ouers kon nie verstaan waarom hy selfs met die Bybel toilet toe gegaan het nie. Maar hy wil dit onomwonde erken dat daardie prentjieboekies ook ’n invloed op hom as skrywer gehad het.” (Netwerk24, 25 Junie 2025)
- Annemarie van der Walt, vryskutskrywer van Kaapsehoop: “Ons almal weet Johan het die verste gegaan. Oor die aarde se laagste, hoogste, koudste, warmste en die binneste reise. Hy het dit so maklik laat lyk, daardie roekelose rusteloosheid. Not de hel, net hý was in Norrevok op soek na die enkeling se ganse menslike bestaan. Sy vriendskappe met iedereen was durend, eerlik. Hy het vroeër vanjaar een van sy armbande saam met Dana Kaapsehoop toe gestuur, soos vir ’n klomp ander vriende. By gebrek aan ’n parkbank gaan ek op ’n klip sit en dink aan C Johan Bakkes, die mens-ste. Hoe heerlik onwêrelds was hy.” (Netwerk24, 26 Junie 2025)
- Blou Willem Theron: “Hy was rêrig DIE legende. Het tien lewens in een gepak en ons deur sy stories en ervarings die wêreld laat beleef. Daar was net een soos hy.” (Maroela Media, 25 Junie 2025)
- Ilse Salzwedel, aanbieder van Skrywers en boeke op RSG: “Hierdie jaar het jy my op my verjaarsdag gebel, en ek kon hoor jy was klaar. Op van die pyn wat ek in jou stem gehoor het. Maar, het jy gesê, dit was goed. Jy was reg om te gaan, en oor absoluut niks spyt nie. Dankie dat jy so ’n vol lewe gehad het, en al jou avonture – en jou hart en humor en unieke waarnemingsvermoë – met ons gedeel het. Jy het groot spore reg oor die wêreld en in ons almal se lewe gelaat, liewe C Johan Bakkes. Ek kan nie dink dat jy enige vyande gehad het nie. Sterkte vir Nanna en die kinders, en dankie dat julle hom met ons as leser en aanhangers gedeel het.” (Maroela Media, 25 Junie 2025)
- Jean Oosthuizen, joernalis, in ’n uitgebreide plasing op Facebook: “Met sy aweregse reissketse het Bakkes ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer. Sy werk weerspieël ’n liefde vir avontuur, natuur en familie, maar het ook kontroversie uitgelok weens uitgesproke menings. Hy was ’n invloedryke stem in die Afrikaanse letterkunde, met boeke wat lesers laat lag en nadink.”
- Emile Joubert, skrywer en joernalis: “Johan was wat jy nou ’n volle mens sou kon noem – ruimhartig, geestig en met ’n vlymskerp humorsin. Hy het ’n liefde vir mense en vir die wêreld uitgestraal en had ’n rustelose hongerte om meer van die wêreld te sien en meer van die aarde se mense te ervaar.” (Paarl Post, 25 Junie 2025)
- Jaco Kirsten, joernalis en skrywer: “Ons het van tyd tot tyd heelwat saam gekuier en stront gepraat. Maar as ek sê ‘stront’, bedoel ek kwaliteit-stront – nie hierdie sinnelose stront wat so baie ander mense probeer praat nie. Oor witwyn in Riebeek-Kasteel; oor Captain Morgan in die Klapmuts-hotel; ’n bier in die Diaz Taverne. En so lief as wat Johan vir gesels was, so ’n goeie luisteraar was hy. Aan huis by ons wou hy elkeen se familiestamboom uitpluis. Dan neem hy foto’s en maak aantekeninge. Johan was een van die mees komplekse mense wat ek ooit die voorreg gehad het om te leer ken – hiperintelligent, avonturier, kuiergat, skrywer, geoktrooieerde rekenmeester, professor en algemene bon vivant.” (Paarl Post, 25 Junie 2025)
En Gerrit Rautenbach, Johan Bakkes se groot vriend, onthou hom só: “Boeta, vir wat gaan neuk jy nou die rooi randjies deur? Vir dié van julle wat nie weet wat dit beteken nie, hy is oor die Styx. Vir dié van julle wat nie weet nie, hy is nie meer met ons nie. Hy het finaal gegroet. En ek is nie bly nie, maar verlig. Want die laaste tyd het ek ’n ikoon sien kwyn. Nie net fisiek was hy groot nie, hy was ’n groot gees. Hy het alles groot gedoen. Goed gedoen. Hy het soveel dinge gedoen wat die meeste mense net oor kan droom. Hy kon die laaste tyd amper nie sy eie huis se paar trappe opstap nie, maar desjare het hy van Opuwa regdeur die Namib tot by Swakop gestap. Dis ’n duisend kilometer in net 27 dae. Maak die som. Waarskynlik van daar het hy die titel Johannes die Loper gekry. […]
“Johan was ’n enigma en baie mense in een. Hy het soos Takoeza gelyk, maar sy binnekant was doeksag. Hy het woes voorgekom, maar was haarfyn georganiseer. Hy was ’n briljante CA met deurtrapte stapstewels en ’n kopband. En ’n arm vol bangles. Hy het hard gepraat, dik gelag en sterk gevat. Maar hy het maklik getraan oor ’n mooi storie. Hy het haastig voorgekom, maar altyd tyd gehad vir ander. Sy baie boeke was almal alfabeties gerangskik.
“Ek onthou een nag in die diep Namib was ons saam met ’n groep mense en hy het die kinders maak sit om die kampvuur en spooksprokies vertel. Hulle monde het oopgehang terwyl hy gesluk-sluk het aan sy rum en hy nuwe wonderwerke uitgedink het. Hy was vandaar vas elke aand. Hy was lief vir mense. Hy was lief vir die lewe.
“Dan was daar die duine. Boeta het saamgery, nooit bestuur nie. Net gesorg dat ons nie droogloop nie. Bo-op een van die hoogste duine gryp hy die paneelbord vas. ‘Hou vas, Pappie gaan jaag,’ reken hy. Twee uur later stop ons op die oewer van die oorvol witwater van die Kuiseb in vloed. ’n Rare gesig. Johan gee die water so een kyk en begin klere uittrek. ‘Maak los, Pappie gaan bad!’
“Alles was vir hom spesiaal. Niks was sommer nie. Sy pa het hom ’n pallieter genoem. Dis ’n lewensgenieter. ‘Johan is besig om homself dood te lewe,’ het sy liewe Nanna-vrou gereeld opgemerk. Hy het seker, maar hy het niks laat verbygaan nie. Alles was 200%. […]
“Daar was soveel kante aan hierdie man dat dit moeilik is om alles vas te vat. Eers was hy ’n dosent aan kleurlose Unisa, maar het later afbeweeg na die veelkleurige Universiteit van die Wes-Kaap. Jare later wyl hy professor by UWK was, wat CA’s van sy honneursstudente moes maak, het die opstande gekom. Die universiteit was onbruikbaar. Johan en Nanna had ’n groot huis in die Paarl en het die hele spul daar laat intrek. Nanna het kos gemaak en Johan het klas gegee. ’n Soort van satellietkampus. En in broederskap gesorg dat al 12 van hulle CA’s geword het. Hy was trots op hulle. Ek was trots op hom.
“Boeta Johan, my groot vriend, jy wat die ste-ste-reise in oormaat gedoen het, ek kan aanhou vertel, maar nou groet ek jou liewerster. Van al die ste-opsies het jy dalk nie die oudste geword nie, maar jy kom in aanspraak vir die meeste. En uniekste. Geniet nou jou grootste reis. Alles van die beste, Ouboet.” (LitNet, 25 Junie 2025)
Publikasies:
|
Publikasie |
Moer toe die vreemde in |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Nou’s ons in ons donner in |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engelse vertaling 2008 deur Elsa Silke |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Norrevøk (30°W27°N; 17°W21°N) |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
To hell and gone |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780798149440 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Reissketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Samoe(r)sa reis |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Reissketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Oepse daisy |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Reissketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Openbaring: ’n reisjoernaal |
|
Publikasiedatum |
2016 |
|
ISBN |
9780795801129 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
|
Literêre vorm |
Reissketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Erfgeld is swerfgeld. Reis na binne. Die -ste -ste plek |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
9781485311225 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
|
Literêre vorm |
Outobiografiese skryfwerk |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Hou die kruit droog |
|
Publikasiedatum |
2021 |
|
ISBN |
9781485312154 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
|
Literêre vorm |
Los gedagtes |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Artikels oor C Johan Bakkes
- Bakkes, Johan: Waarom? LitNet, Seminaarkamer
- Britz, Elretha:
- C Johann Bakkes (Stellenbosch Writers)
- C Johann Bakkes (Wikipedia)
- C Johann Bakkes, Johannes die Loper & NALN. Facebook, 21 Augustus 2022
- De Beer, Alette: Bakkes-broers gewildste op Woordfees se skrywersprogram. LitNet, 30 Januarie 2012
- Dit gaan nie net oor die fisieke reis nie, maar ook die reis van die lewe. Rapport, 10 November 2006
- Gordon, Petro: Doodgelukkig in Moeder Natuur. Die Burger, 4 Maart 2012
- Grundling, Erns: Ontmoet die skrywer: C Johan Bakkes. Weg!, 9 September 2020
- Joubert, Maureen: Reisiger sonder ’n bang haar. Die Burger, 6 November 2006
- Lessing, Carel:
-
- Dié Bakkes maak paaie bymekaar. Die Burger, 5 November 2001
- Moer toe die wye wêreld in. Beeld, 23 Oktober 2001
- Nóg ’n wilde Bakkes neem die pen op. Volksblad, 14 Januarie 2002
-
- Myburgh, Melt: Vyf vinnige vrae aan Johan Bakkes. LitNet, 29 Januarie 2007
- Nieuwoudt, Stephanie: Gebore om te reis. Rapport, 13 Desember 2011
- Oepse daisy, sy kroeg is vir twak praat. Netwerk24, 12 Mei 2013
- Rautenbach, Elmari: Kanker demp nie Bakkes-reislus. Beeld, 13 Oktober 2011
- Rautenbach, Gerrit:
- Snyman, Dana: C Johann Bakkes. Facebook, 8 Junie 2025
- Snyman, Marieke: Boeke is ’n byproduk, sê Bakkes. Netwerk24, 19 Julie 2011
- Terblanche, Ronel: Die man wat wegloop vervolmaak het. OuLitNet, Die mond is nie geheim nie
- Valiant, Dana Snyman, Johan Badenhorst en Johan Bakkes saam op verhoog. Sarie, 26 Julie 2011
- Van der Merwe, Elna: ’n Ware pallieter. Huisgenoot, 5 Mei 2016
- Van der Spuy, Carla: Gaan saam op reis met Bakkes. Maroela Media, 20 Maart 2024
- Veldkos. Die Burger, 19 Mei 2009
Artikels deur Johan Bakkes
- Ag man, moenie moan nie. Rapport, 22 September 2010
- As eendag nie aanbreek nie. Rapport, 22 Junie 2011
- ’n Brief aan Jan Rabie. Rapport, 4 Augustus 2010
- C Johan Bakkes vind nuwe lewe ná aftrede. Rapport, 26 Junie 2022
- Daar’s nooit goeie nuus nie. Rapport, 1 Desember 2010
- Diamond Lil en ’n ster in die weste. Rapport, 26 Maart 2010
- Dis weer ons en hulle. Rapport, 15 September 2010
- Een aand met ’n Nobelpryswenner. Rapport, 26 Mei 2010
- Elkeen het sy eie swart gat. Rapport, 26 Maart 2010
- Hansie slim. Berg wil klim … Rapport, 22 September 2011
- ‘n Komedie van foute. Rapport, 26 Maart 2010
- Die laaste reis. Deel 1. Rapport, 26 Maart 2010
- Die laaste reis. Deel 2. Rapport, 26 Maart 2010
- Lagos deur ’n eerlike oog. Rapport, 26 Augustus 2010
- Na Putsonderwater. Rapport, 6 Julie 2010
- Niks bly dieselfde nie. Rapport, 23 Maart 2011
- Om bederf te kan word. Rapport, 10 November 2010
- Onder ’n Toskaanse son (met apologie aan Frances Mayes). Rapport, 13 Desember 2011
- Onse Vader gee ons. Rapport, 5 Mei 2011
- ’n Oukersaand op Graaff-Reinet. Netwerk24, 25 Desember 2022
- Rus vir ’n reisiger. Rapport, 13 April 2011
- ’n Rylopersgids deur Keimoes. Rapport, 8 April 2010
- Toe loop ek in die Uysbere se hinderlaag op Prieska. Netwerk24, 30 Januarie 2022
- Vullisverwyderaar van die Marienfluss. Rapport, 2 Augustus 2011
- Waarom? LitNet, SeminaarKamer
- Die weduwee. Rapport, 12 Mei 2010
- Wittebrood in Venesië. Rapport, 24 Mei 2011
C Johan Bakkes se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2015-05-27 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: Naomi Bruwer
Kommentaar
Dit bly altyd 'n belewenis om sy boeke te lees ... selfs weer en weer!!!
Ek is versot op C Johan Bakkes se boeke. Ek het eendag na Vat 5 op RSG geluister. Ek dink dit was Marius Bakkes. Ek het n Vincent van Gogh-afdruk wat hy moontlik in sal belang stel. Waar kan ek hom kontak? Ek woon in die Wes-Kaap.
Dis eenvoudig wonderlik. Ongelooflike mens en storieverteller gewees. Soo lekker om Afrikaans te kan lees. Vir ons almal geskryf om saam te loop op sy lewenspad - 'n pad sonder einde...