9/11: One day in America – ’n resensie

  • 2

9/11: One day in America

Dokumentêre rolprente en reekse was tot onlangs die stiefkind van die glansryke vermaaklikheidsbedryf. Baie lesers het dalk met formele (sommige mense sou dit hardlywige noem) dokumentêre grootgeword waar ’n sonore mooi begrafnisstem dikwels uit eie geledere (en die uwe is self skuldig daaraan) stroewe, feitelike en vervelige kommentaar gelewer het oor wêreld- en ander dramatiese gebeure wat van ’n getikte teks afgelees is.

Daar is dikwels nagelaat om die kyker in gedagte te hou wat (dikwels destyds voor die koms van televisie) ’n kaartjie gekoop het om ’n rolprent soos Where eagles dare (1968) met Clint Eastwood te sien, maar dan eers ’n eensydige of enkellynige dokkie moet kyk oor ’n sekere onderwerp om die voorprogram te vul, ingedruk tussen Tom and Jerry, The three stooges en skyfie-advertensies oor plaaslike besighede.

In die stormloop na oulike poppies in opwiprokkies met skinkbordjies vol lekkernye om fraai nekkies wat heen en weer in paadjies getrippel het in fliekpaleise waar The Sand Pebbles (1968) vertoon is, is menige tannie wat nie wou opstaan nie, se liddoringtone seer getrap. Dan het die kliënte onderlangs gemor oor die vervelige halfuur-gesnater op die skerm. Let wel, nie noodwendig oor wat gewys is nie, maar die maniér waarop dit in ons kele afgedwing is.

Die dokumentêr het intussen van Aspoestertjie na Wonderwoman verander. Tot so ’n mate dat dit soms peperduur Hollywoodproduksies die loef afgesteek het en kykers in ’n toenemende mate na ware gebeure laat kyk het as meer as blote onbetrokke waarnemers. Hulle het begin om deelnemers te word, hoe grusaam ook al. Maar belangrik, die dokumentêre programme het in toeganklike rolprentterme gekommunikeer, in teenstelling met pratende koppe en ’n voorskrywerige kommentatorstem waarvan die infleksies met elke sin die vorige een herhaal het en dikwels amper apaties of afsydig was, behalwe natuurlik wanneer ’n drie gedruk is. “Sydie! Sydie! Sydie!”

Deesdae het dokkies soos Devilsdorp (2021); The rise of the Murdoch Dynasty (2020) en Jeffrey Epstein: Filthy rich (2020) die bordjies verhang en ’n onderhoudende narratiewe styl gehandhaaf wat kykers laat vraatkyk het. Om nie te praat van die mens se bedenklike masochistiese neiging om na brutale moordenaars se ware lewensverhale te kyk nie, soos Jeffrey Dahmer binnekort en Ted Bundy, om maar enkeles te noem.

Maar daardie dokumentêre het darem nog ’n “vermaaklikheidstyl” gehad. Dus: Dit is uiters kundig op so ’n manier aangebied dat die kyker nie sy/haar oë van die skokkende of grusame gebeure kon afneem nie en dit (durf ’n mens dit erken?) “geniet” het. (Die akteurs het ook altyd sag op die oog geval.)

9/11: One day in America open ’n ander deur, en dieselfde gaan eersdaags met die Amerikaanse onttrekking aan Afghanistan gebeur en, hoor ons, ook met Meghan Markle wat uiteindelik “alles” gaan vertel.

Op 11 September 2001, presies 20 jaar gelede, het dapper mense hul lewens gewaag (en dit sluit onverskrokke joernaliste in) om verslag te doen of hulp aan te bied waar benodig toe ’n katastrofe New York getref het. Sonder om dit te verfraai of lig-komies te maak of die “o my liewe aarde!”-Evita-faktor in te bring, gooi dit die waarheid in jou gesig tot jy bloedneus geskok is. Met ander woorde, waar kykers tevore opgewonde gebabbel en geredekawel het oor wat hulle gesien het, was daar nou slegs ’n oorblufte stilte.

Realiteitsvermaak begin die plek inneem van fiktiewe Botox-vermaak oor ware gebeure. ’n Voorbeeld, tog met sepie-elemente, is die huidige TV-reeks oor die verwoeste Berlyn, The defeated (2020), of (en ’n mens ril soms om sy naam te noem) die briljante Ryan Murphy wat gruwelmoorde soos Monster: The Jeffrey Dahmer story (2021) en die legendariese gevegte tussen Bette Davis en Joan Crawford in Feud: Bette and Joan (2017) verglans het met mooi mense en sensasionele skryfwerk. En moenie American crime story: Andrew Cunanon (2017) oor die moord op Gianni Versace vergeet nie.

......

9/11: One day in America verander alles. Dit hervertel die gruwels wat jy dink jy ken.

.......

9/11: One day in America verander alles. Dit hervertel die gruwels wat jy dink jy ken. Dit wys enkele skote wat jy al herhaaldelik gesien het en wys dieselfde stofwolke wat voortvlugtende New Yorkers soos ’n staal-en-beton-sneeustorting in winkels vasgekeer het saam met kinematograwe om die paniek te dokumenteer. Tussenin word daar gefokus op die onverskrokke menslike element toe kinematograwe, joernaliste, brandweermanne en die polisie sonder om eers aan hulleself te dink die brandende noordelike en toe suidelike toringgeboue deeglik uitgekyk en daarna bestorm het om na vasgekeerde slagoffers te soek nadat twee vliegtuie daarheen gekaap is.

Die kyker vergesel hierdie dapper redders, Samaritane van die Vuur, en word dikwels in sogenaamde borrels of lugleegtes op die trappe of in geboue vasgekeer terwyl die betonreuse om hulle en hul kameras inmekaarstort. Nog nooit het ’n dokumentêr met soveel onverskrokke dapperheid die gruwelike waarheid, sonder op dit op te tert, ontbloot nie. Waar onderhoude met slagoffers gevoer word van wie slegs die blink oë soos twee oorblufte albasters uit ’n stof-en-bloed-besmeerde gesig gesteek het. Die huiwerige, stotterende, geskokte manier van praat, die feite wat geselekteer is om met die kyker te deel, en die gruwels en vrees vir die dood wat hierdie mense omring het, was feitlik onhoudbaar.

Weer eens: Daar is geen sensasie nie, geen vriendelike verteller wat simpatieke (of toonlose) kommentaar lewer nie. Die beelde spreek vir hulleself. Van slagoffers wat onder puin uitgegrawe is en swakkies beweeg en ’n paar woorde geprewel het, tot by seker die ergste wat ek nog in ’n dokumentêr gesien het: hoe mense sterf. Dink ook aan die beangste mense in programme oor die brand en ineenstorting van die Grenfelll-woonstelle in Londen jare gelede.

Voeg daarby die onnoembare vrees, van dié van slagoffers wat wit sakdoeke of selfs papiere by vensters onder die brandende vliegtuie rondgeswaai het om hulp, tot diegene wat besluit het om te spring. Ons is onder, die lyke val bo-op en om ons. En elke slag hierna is nog ’n lewe wat beëindig word. Soms bespreek brandweermanne wat hierdie slae beteken in geskokte, stil, suf terme (dit is hoe ons weet wat daardie slae beteken) tot die dapper terugstorm in die geboue in na ’n sekere dood. Dit kenmerk hierdie uitmuntende dokumentêr wat nou Sondagaande op National Geographic in verskeie episodes gewys word.

Kyk ook na die gewone mense wat verstom en gebroke ’n entjie daarvan toekyk hoe hul geliefde stad brand en die toringgeboue inmekaarstort. Dit skud jou. Daardie gesigte, sonder enige vorm van toneelspel of bewustheid van die kamera, vertel meer as wat enige kommentator ooit kan. En na dese kan die kyker eintlik nie in ’n geredekawel of opgewonde bespreking verval nie. Die gebeure is te verwoestend, te werklik. Die waarheid en skok het tot in ons voorkamers ingebars sodat dit voel of die stukke beton en staal jou emosioneel tref. Hier is geen versagtende musiekkussing nie.

9/11: One day in America se titel is dan ook doelbewus so gekies, want vele mense (ook Amerikaanse vriende met wie ek in New York gepraat het terwyl die katastrofe plaasgevind het) sê: “Dit was ’n doodgewone dag soos enige ander in Amerika. Net een doodgewone dag wat die wêreldgeskiedenis sou verander.”

’n Vriend wat naby die toringgeboue gewoon het, het selfs vertel dat hy op die toilet gesit het en deur sy badkamervenster gesien het hoe ’n vliegtuig die noordelike toringgebou tref.

En dan natuurlik die rare en dalk mees skokkende skoot van die tweede vliegtuig wat die suidelike toringgebou tref. ’n Joernalis was besig om verslag oor die tragedie te doen en was nie tevrede met sy eerste probeerslag nie. Toe hy vra om ’n tweede kans te kry en die kamera toe weer op hom fokus voor die suidelike gebou, skeur die tweede vliegtuig agter hom daardeur, wat die terreuraanslag verdubbel het en mense laat besef het: Dit was nie ’n ongeluk hierdie nie. Dit is terreur.

Vir dié van ons wat New York gereeld besoek het en dikwels op die dakke van die toringgeboue gestaan en na die stad hier onder ons gekyk het – vir ons was dit ook of ’n stuk van jou hart uitgeskeur is en ’n gat daar gelaat is sonder visuele manipulering of enige ander TV-kameratruuks.

Dikwels het die waarheid nie woorde nodig nie. Dink aan jou reaksie op die kameraskote van die onlangse plundering in ons land, waar verwoestende optrede, wat sonder houding op beeld vasgevang word sonder dat ’n woord gespreek word, ’n dolk in jou rug steek.

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top