7de Laan geen reënboog nie

  • 2

Is dit regtig so moeilik vir die draaiboekskrywers van 7de Laan om dié sepie in ’n reënboog-laan te verander waar gemengde verhoudings en huwelike aan die orde van die dag is?

Hierdie (ongelukkige) vraag kom onwillekeurig by my op as ek in gedagte hou dat die beeldskone Indiër-meisie Asha na ’n kort rukkie in die Laan dié sepie verlaat het.

Veral omdat sy met haar uitsonderlike skoonheid ongewone skilderagtigheid aan die (valerige) Laan verskaf het.

Dit kom nadat haar verhouding met Sanjay – wat ook intussen die Laan verlaat het om in die buiteland te gaan werk – nie lank gehou het nie.

Nou is daar geen Indiër in die Laan meer oor nie. Dié verskynsel herinner aan ’n tyd toe die apartheidsregering Indiërs uit die Vrystaat verjaag het.

Dit is asof die Laan die Vrystaat soos onder apartheid geword het, waar Indiërs voor 1994 nie welkom was nie. Iewers tussen 1910 en 1983 is ’n wet in die parlement aanvaar wat Indiërs uit die Vrystaat verbied het. Dié gemeenskap kon ook nie daar grond besit het nie.

Dat Asha en Sanjay in ’n verhouding in die Laan was, is glad ook nie toevallig nie.

Behalwe vir Felicity en Herman se aan-en-af “gemengde” huwelik, vind die Suid-Afrikaanse werklikheid van “gemengde” verhoudings en huwelike glad nie in die Laan neerslag nie.

As ek reg onthou was dit net Vince wat nog tot dusver met ’n wit meisie in ’n verhouding was. Daar was egter komplikasies omdat sy bang was om ’n bruin kêrel aan haar (wit) ouers voor te stel.

Die ou apartheidsmagverhoudings tussen wit en “nieblankes” word ook nog taamlik in die sepie in stand gehou.

So sal Maria altyd die skoonmaker wees en Aggie word altyd deur Paula geboelie en tot haar nie-amptelike persoonlike assistent gereduseer.

Gita bly die miesies van die Laan. Sy kom altyd met moord weg en word nooit uitgevang nie. Haar rol het so voorspelbaar geword dat as sy binnekort die Times gaan oorneem, dit my glad nie sal verbaas nie.

Die swart mense verdwyn ook een vir een uit die Laan. Waar is Mandla, Kabelo, Zinzi en Lilian?

Dit was nogal interessant wat Leon Schuster, bekende grapjas, wie se jongste rolprent, Mad Buddies, pas begin draai het, onlangs gesê het. Hy het gesê die rede hoekom sy movies so suksesvol is, is dat dit by alle Suid-Afrikaners aanklink vind. Hy doen dit deur te sorg dat akteurs van alle gemeenskappe in sy movies te sien is en dat die inhoud tot alle mense spreek.

Goed en wel, die Laan-draaiboekskrywers kan terugkap en sê hulle skryf vir ’n bepaalde gehoor. Miskien vir ’n hoofsaaklik wit Afrikaanse en nog boonop konserwatiewe gehoor? Wie anders as skrywers, joernaliste en redakteurs weet nie dat dit gevaarlik is om jou tradisionele kykers, lesers of luisteraars, te vervreem nie.

Die Suid-Afrikaanse landskap het egter na 1994 baie verander. Dit sal help as die draaiboekskrywers grense wil verskuif deur ook die (kleurryke) veranderinge in dié sepie in te skryf.

  • 2

Kommentaar

  •  

    Suid-Afrika is 'n demokrasie en dit gee aan elkeen binne sy grense die reg om te voel en te leef soos hy of sy wil.  Ook om te kyk en lees wat hulle wil en soos Jason Lloyd, te sê wat hulle wil; maar, ai! dit word altyd 'n slagveld want mense met 'n bietjie sê wil alewig kleur by alles insleep.

     

    Die 'verdwyning' van kleur uit 7de Laan was in elkeen van die gevalle nie 'n storielyn variasie nie, maar was die vervaardigers genoodsaak om 'n U-draai te maak deur optrede (Kabelo, bv) en veranderde planne van die akteur.  Om te sê 7de Laan is 'Vrystaat soos onder apartheid' is skone prul en tipies 'n afforseriing van die individu se verminkte siening van demokrasie.  Demokrasie beteken nie jy-moet-nou-maak-soos-ek-sê nie; dit beteken dat elkeen vry is om te leef soos hy/sy verkies- binne die wette van die land en samelewing.

     

    Sanjay en Asha se insetsel was vir my logies omdat die Indiërgemeenskap baie gesteld is op verhoudings en huwelike buite hul gemeenskap en stande.  Maar daarvan is Jason seker nie bewus nie.

     

    Maria sal moontlik altyd die skoonmaker wees totdat sy genoeg geld kan maak vir haar gastehuis in Qwaqwa.  Maar dis 'n professie soos enige ander.  Aggie is 'n administratiewe beampte en, in my oë; die kantoorbestuurder en word glad nie 'geboelie' deur Paula nie.  Dis duidelik dat Jason Lloyd nog nooit in 'n kantoor gewerk het nie - ek het en ek weet!!!

     

    Meneer Lloyd (en die res wat soos hy dink en hul opinies in ander se kele wil afforseer:  Hou op om apartheid lewendig te hou; dit vrot al.  Gee elkeen die reg om te leef volgens sy eie verwagtings.  As jy groen vrugte voor 'n verwarmer neersit, gaan hulle brand, nie ryp word nie.  Moenie gemengde lewenswyses kunsmatig ryp maak nie; jy gaan brand.  Hou op om jou blind te staar teen dit wat nie daar is nie; kyk na dit wat daar is en bou dit uit.  Selfs die wittes moet nog leer dat hulle vry is om te leef soos hulle goeddink.

     

  • Dis tog so jammer dat mense met 'n uitreikingsvermoë soos diè van Jason Lloyd, nie die apartheids-koei kan uitlos nie - die ding vrot al, man!  Die deursnee Suid-Afrikaner -van alle kleure - sal graag VORENTOE wil gaan.  En die deursnee Suid-Afrikaner is siek daarvan dat gemengde huwelike en verhoudings heeldag in ons kele afgedruk word asof dit die Alfa en Omega is.  Dit takel gesonde en normale ontwikkeling af.  Kyk wat het gebeur met seks:  Dit word nou die norm om swetende, wriemelende lywe en kaalbasse in al wat 'n sepie en rolprent te sien - selfs natuurprogramme hamer op die voortplanting van die spesie!!  En hoekom?  Omdat mense met sogenaamde invloed die media 'toeganklik' vir almal wou hê!

       Dit noop my ook om die volgende aan mnr Lloyd te noem:-

       Die storielyn van Asha en Sanjay was vir my heel logies.  Die Indiërgemeenskappe is baie streng op hul kultuur en die feit dat Sanjay, en haar 7de Laan-vriende, nie aanvaarbaar was vir Asha se ouers nie;  is absoluut geloofwaardig.  Meneer Lloyd kan gerus 'n bietjie regte navorsing daaroor gaan doen en ook die werklike rede hoekom diè twee uitgeskryf is!  Jason Lloyd se vewysing na die Vrystaat se wette van toeka, is onvanpas en poog om 'n politieke dwarsklap te wees.

       Wat die verhoudings in 7de Laan betref, lyk dit vir my asof meneer Lloyd 'n 'selektiewe' kyker is - hy sien nie die vriendskapsverhoudings tussen die karakters raak en waar almal SAAM jol nie!  Nee, hulle moet noodwendig oor die kleurlyn (agter die skerms!) tussen die lakens inklim.  Verder betreffende Kabelo (ons weet dis nie oor sy velkleur dat hy uitgeskryf is nie!), Zinzi, Mandla, ensovoorts.  Elkeen van hulle het aanbeweeg in hul loopbane - wat normaal is vir my.

       Ja, Maria SAL altyd die skoonmaker wees - totdat haar gastehuis in Qwaqwa klaar is en dan sal sy ook aanbeweeg na 'n volgende rol.  Aggie word NIE deur Paula 'geboelie' nie.  Sy is die kantoorbestuurder en elkeen van ons ken iemand soos Paula wat met sy/haar houdinkies op ander se rug probeer ry.   Dit word DIE LEWE genoem.

       Gita is ook nie die 'miesies' van die Laan nie.  Jason, jy probeer alweer 'n kleurhou slaan!! Sy is die skelm, die boef:  Sou jy wou hê dit moes iemand van kleur wees??  Sodat jy dit kan gebruik om te sê mense van kleur word altyd as sleg uitgebeeld???  En hoekom peper jy nie die skrywers van 7de Laan omdat daar nie ook  gay en lesbiese verhoudings ingeskryf word nie??

       Hou op om menseverhoudings in sekere rigtings te forseer.  Dit sal natuurlik gebeur na elke individu se keuse en verlange - al neem dit ook 'n duisend jaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top