4 Love: teaterresensie

  • 0

4 LOVE
Met Delena Kidd, Donald Douglas, Nicholas Waring en Claire Carrie
’n Pieter Toerien-produksie in The Theatre On The Bay, Kampsbaai. Tot 16 Maart.

Die vier gesiene akteurs kom uit Londen se teaterland om uittreksels te doen uit bekende, gewilde toneelstukke uit die 20ste eeu.

Delena Kidd lewer die skakelteks tussen die tonele. Onderhoudend vertel sy van die dramaturge, die ontstaan van die tekste en die opvoeringsgeskiedenis, en sy berei ons voor op die inhoud. Spitsvondig en kort vertel sy ook ’n ietsie oor haar eie teaterervarings.

Haar eerste rol van die aand is Dolly Otley in Michael Frayn se Noises off. Dis die komedie uit 1982 oor ’n toneelstuk wat die volgende aand moet open, maar die spelers en tegnici is nog nie, sal ons sê, gereed nie. Dolly vergeet ’n bietjie wat sy moet afdra en wat om daar te laat. Die regisseur (Donald Douglas) moet ook die opstand van die romantiese held (Nicholas Waring) êrens vanuit die ouditorium hanteer. As jy self toneelervaring het, herkén jy al die gedoentes en kan jy lekker lag.

Vir my was Alan Bennett se The Old Country (1977) onbekend. Omdat besonderhede op die teaterprogram ontbreek, aanvaar ek maar dié titel uit ’n naslaanbron. Dit is van die soort toneel waar jy soms skielik agterkom jy lag alleen. Vir my was dit snaaks as Waring die deftige jas sommer so rondgooi op ’n bank.

In John Osborne se Look back in anger (1956) is Claire Carrie die opstandige Jimmy se vrou, Alison. Sy is in gesprek met haar pa (Donald Douglas), verwyt hom vir haar huweliksprobleme. Hier is ’n byna rustigheid soms, asof hulle in televisiestyl speel. Ek kon die sagte spraak volg in die tweede ry van voor af. Hulle is so ervare dat hulle seker weet hoeveel stemprojeksie om te gebruik in ’n nie te intieme teater nie.

In Alan Ayckbourn se Absurd person singular (1972) speel almal energiek. Veral Carrie raak baie atleties. Al die gedoentes is in ’n kombuis met onsigbare, maar hoorbare gaste elders in die huis. Ayckbourn het dit akkuraat beskryf as ’n “offstage action play”. Wat gebeur nie alles in en rondom daardie moderne kombuistoestel nie? Hoekom ruik die ou se das so snaaks?

Noël Coward se Private lives (1930) is volgens sy biograwe, Charles Castle en Philip Hoare, destyds deur die kritici beskryf as “thin, tenuous, brittle”; “iridescent”; “a trickle of inanities”. Geoordeel aan hierdie uittreksel is dit steeds meevoerend. In Cowardy Custard, die musiekrevue van 1972 wat ’n oorsig oor sy werk bied, is ook hierdie toneel tussen Elyot (Nicholas Waring) en Amanda (Claire Carrie) in die Franse hotel ingesluit. Die twee het van mekaar geskei, het weer geliefdes gevind en beland nou tydens hulle onderskeie wittebroodsreise in dieselfde hotel. Energiek gee hulle kort voor lank nuwe betekenis aan “elope”.

’n Hoogtepunt is ’n verwerking van ’n Harold Pinter-teks. Volgens die  verteller was dit oorspronklik nie bedoel as ’n toneelteks nie. (Kon ons maar iets daaroor lees in die program!) Dit is blykbaar tipies van sy verhoogwerk en van sy latere bemoeiing met wêreldpolitiek. Veral met die VSA se presidente. Ons moderne gehoor vind Ronald Douglas dadelik baie oortuigend in sy voorstelling van ’n Amerikaanse president wat sy weermag wil uitstuur om ’n sekere hoofstad te “nuke”. Hy is die ewebeeld van president Donald Trump. Dan blyk hy ’n gevaarlike tekortkoming te hê: beroerde kennis van aardrykskunde. ’n Televisieopname behoort baie gewild te wees.

Ek het die indruk gekry dat die opvoering  as ’n vuller dien voor Peter Shaffer se Equus opgevoer word. Daarom die baie kort speelvak. Die programaantekening is uiters beknop en is feitlik ’n herhaling van die persverklaring. Dit is ingesluit in ’n program met  inligting oor verskillende aanbiedings in die huidige teaterseisoen. In die geval van vollengte-produksies is daar byvoorbeeld inligting oor die spelers. Oor hierdie produksie het ons net die name van die akteurs en die dramaturge. Was daar ’n samesteller, ’n regisseur? Wie was verantwoordelik vir die tegniese afdeling? ’n Mens sou byvoorbeeld inligting uit die skakelteks op skrif wou kry, of in die persverklaring.

Daar was ook ’n soort informeelheid in die verhoogoptrede, met dinge wat tog as ongewens beskou word: ’n Ophef is aan die begin gemaak oor die studente van die nuwe teaterskool wat toneelveranderings aangebring het en ook as figurante opgetree het. Dit het gelei tot luide toejuiging vanuit die gehoor, seker deur hulle maters. ’n Aantal kere was daar tydens die spel mense sigbaar aan die kant van die verhoog. En die hele opvoering deur kon ’n mens die getreur van die wind hoor “omdat hy alleen is” (Eugène Marais: “Hart-van-die-dagbreek”.) Of was dit die jeremiade van ’n waterpyp? 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top