Elders gesien: Margot Luyt was só ’n dapper mens

  • 0

Foto: Izak de Vries

Ben du Toit skryf op Facebook:

Die dood van Margot Luyt is ’n groot, groot hartseer.

Sy was só ’n dapper mens, deur haar hele lewe vol groter as groot uitdagings. Sy het kon leef deur vir ander groot vreugde en sin te gee.

Sy’t haar talente van vertolking deur woord en spel aangewend om ons estetiese behoeftes te verryk. Intussen was haar naaste, persoonlike lewe met Graham, Jacqui en drie kleinkinders ’n voorbeeld van liefde, toewyding en opoffering.

Ek onthou helder hoe sy my ferm op my plek gesit het deurdat ek durf simpatiek vra na die uitdagings van Graham se versorging as parapleeg: “Hoe kan jy so iets vra? Dis hy wat vir my sorg. Hy gee my lewe betekenis deur sy helder intellek en humor!”

Deur haar het ek geleer om anders te kyk na alle mense. Sy’t dit reggekry om die grense in jou psige te verskuif na ’n nuwe plek, ’n beter “jy”.

Sy’t ons altyd oor die radio gegroet met die nadruklike toewensing van “alles van die aller, aller, allerbeste” wat steeds in my ore in haar intense, gemoduleerde stemtoon weerklink.

Gegroet, liewe Margot ♥️
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top