2026-UJ-debuutprys vir Afrikaans: Commendatio vir Shane van der Hoven se  Kruiper/Crawler

  • 0

Klik op die video, of volg hierdie skakel na YouTube.

Goeiemiddag, voorsitter, pryswenners, dames en here

Dit is vanmiddag my voorreg om die commendatio te lewer vir die toekenning van die UJ-debuutprys in Afrikaans aan Shane van der Hoven vir hulle translinguistiese digbundel Kruiper/Crawler (2025).

Die keurpaneel het vanjaar 15 debuutinskrywings in hoofsaaklik prosa en poësie ontvang. Dit was die eerste keer sedert die ontstaan van die UJ-debuutprys vir Afrikaans dat al die inskrywings op die kortlys slegs poësie was. Hoewel Shane van der Hoven se bundel nie die eerste inskrywing van meertalige of tweetalige digbundels is nie, is Kruiper/Crawler die eerste sodanige inskrywing om die UJ-debuutprys te verower.

Van der Hoven se tweetalige digbundel Kruiper/Crawler word ingelei met “’n nota aangaande die vertalings”. Hierin noem hulle dat die Afrikaanse gedigte “klou ānie vertalings [terwyl] die Engelse gedigte probeer weghardloop”. Hulle praat ook van ’n “kweer inmenging of kweer interference” tussen die gedigte. Die woord kweer word nie net as ’n verwysing na gender gebruik nie, maar ook in die sin van ongewoon of vreemd – soos blyk uit die vreemdmaking van die taal in die bundel. Die Afrikaanse gedigte word nie woordeliks in Engels vertaal nie. Dit lei dikwels tot ’n verandering in betekenis en sodoende word die gedigte en bundel as geheel verruim.

Die “remix” (soos dit genoem word) van ’n Bybelteks uit Levitikus 11 word gebruik om die titel van die bundel te verklaar. Daar is ’n verwysing na sogenaamde onrein diere, soos dié wat “oppie grond rondkruip” en dus aansluit by die titel Kruiper/Crawler. In een van die gedigte, getiteld “iemand wat op hulle knieë hoort” (26), word daar ironies verwys na die steel van idees “uit [d]ie bybel vir gedigte”. Van hierdie kruipende diere vorm die vertrekpunt vir ’n beduidende aantal gedigte. Die digter-spreker verwys onder andere na kruipende diere soos rotte, erdwurms, bosluise, oorkruipers, wurms en miere. Van der Hoven gaan skerpsinnig te werk met beeldspraak, asook woordspeling met verwysing na die ewe grillerige kreepy krauly wat die swembad moet skoonmaak en oopmond tot op die bodem van die swembad afseil. Ek lees graag die gedig “’n kreepy krauly” (28) voor:

nie meer bang vir die ruk van
’n kreepy krauly se slaak en pols
hikke harking van versuipte blare
   skaakspel tussen water en lug
die swembad tot teenaan die keel
vol chloor sukkel-sukkel gesluk
ek prik die walsende blou blad
seil af tot by die bodem oopmond
   met geriffelde palms trek
ek jou suier          nader my lippe
die teruggestotter
         die waterhondjies wat in
         die meniskus van my keel      klits

Hierdie verbeeldingryke gedig dien as ’n enkele voorbeeld waarin Van der Hoven hulle vernuftige spel met woord, taal en klank ten toon stel.

Wat hierdie bundel so verfrissend maak, is die ontluistering wat daarmee gepaard gaan. Daar is ’n selfbewustheid oor hulself as digter-spreker in die bundel, maar dit word dikwels as tong in die kies beskryf. Die drie afdelings in die bundel dissekteer die verskillende fases van hulle lewe.

Ter illustrasie word die ouer-kindverhouding in die gedig “bosluise” (34) beskryf en word genoem dat die digter-spreker as “my eerste daddy se eerste kind” albei “dabble in digkuns” – net om direk hierna te noem dat die eerste daddy ’n vroueslaner is. Hierdie kontrasterende beeld skakel met die kruiper-motief wat as die misverstane, groteske wesens van die aarde beskou word. Ook Antjie Krog se klassieke “Ma” word intertekstueel herskryf en daar word tot die gevolgtrekking gekom dat “hierie wêreld nie meer tyd [het] vir kaalvoetgedigte nie”. Die digter-spreker is nie langer die onskuldige kaalvoetkind nie, maar ’n veelvlakkige individu wat hulle kweerheid onverskrokke uitbasuin.

’n Ander vonds in hierdie debuut is die opwindende verskeidenheid stylfigure wat gebruik word: “spatare van tamatiesous”, “hoe die klokke van ’n prostaat kan lag”, “bierdoppie-tepels”, “’ie weerlig se bordkryt gekrap”, die feit dat “vlieë nie skrik vir aardbewings nie” of dat “[ek] tydens loadshedding ’n slaai miere in ’n swartsak” word.

Shane van der Hoven se Kruiper/Crawler versinnebeeld ’n verfrissende, eietydse digterstem. Hulle skroom nie om risiko’s te neem en gevestigde literêre en linguistiese grense te bevraagteken en oorskry nie. Hierdie bundel is tekenend van ’n nuwe geslag Afrikaanse digters wat kordaat “dabble in die digkuns”. Soos sommige van hulle digterlike voorgangers, verteenwoordig Kruiper/Crawler die hedendaagse zeitgeist van ’n samelewing waarin konvensies uitgedaag en die digter-spreker stilisties woord vir woord gedissekteer word. Vraagstukke rondom identiteit, seksualiteit, politiek, kuns, kultuur en liefde word indringend ondersoek – in beide Afrikaans én Engels.

Van der Hoven verleen ’n stem aan die sogenaamde kruipers – letterlik én figuurlik – wat in allerlei gedaantes verbeeld word. Met hierdie veelvlakkige debuutbundel beïndruk Van der Hoven met ’n skerpsinnige, innoverende spel van woord en klank.

Shane, vanmiddag kan ons sonder skroom verklaar dat hierdie digter met hulle endoskelet nie een van die groteske, misverstane of krioelende kruipers van die aarde en struikveld is nie, maar eerder ’n behendige digdebutant wat met Kruiper/Crawler kaalvuis die figuurlike eksoskelet van die Afrikaanse poësie vindingryk herrangskik.

Dit is hiermee my voorreg om die voorsitter Karen de Wet te vra om die 2026-UJ-debuutprys vir Afrikaans aan Shane van der Hoven te oorhandig vir hulle spitsvondige digbundel Kruiper/Crawler.

Van harte geluk, Shane.

Shane en Cindy Ramhurry, Departementshoof LanCSAL, UJ

  • Foto’s en video’s verskaf deur UJ
Lees ook:

Aftrek, a(a)ntrek, optrek en uittrek van metafore in Kruiper-Crawler: ’n onderhoud met Shane van der Hoven

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top