2019: Gesamentlike byeenkoms van leeskringe in en om Pretoria

  • 1

Hierdie baie gewilde jaarlikse byeenkoms, dié keer aangebied deur die Prisma Leeskring, vind sommer vroeg in 2019 plaas.

Wanneer? Om 9:30 vir 10:00 op Saterdag 16 Februarie 2019.  Die funksie behoort teen 12:00 verby te wees.

Waar? Die ouditorium van die Lynnwoodrif NG Kerk, Lanciastraat 269, Lynnwoodrif, Pretoria.

Toegangsgeld is R80 by die deure – daar is nie vooraf kaartjieverkope nie.

Die spreker: Die vonkelende TV-aanbieder, leesambassadeur en digter Bibi Slippers, skrywer van die pryswennende bundel Fotostaatmasjien, het nagedink oor waarom mense in die eeu waarin ons lewe nog gedigte skryf, koop en lees. Het dit in ’n praktiese tydvak enige NUT? (En wat is "nuttig" eintlik?) Haar onderwerp dus:  "Wat is die praktiese nut van poësie in die 21ste eeu?" Die gaskunstenaar is die immergewilde Jannie du Toit.

En? Niemand sal sonder ’n soet- en ’n southappie en ’n koppie tee huis toe hoef te gaan nie. ’n Baie groot deel van die spyskaart is ook die voorreg om met ander lees-entoesiaste te kan kuier.

Deel asseblief die uitnodiging met almal op jul eie adreslys wat ook belang sal stel, bring vriende en vriendinne en susters en eggenote en bure saam. Ons reken op ’n entoesiastiese opkoms. 

Vir enige verdere  navrae, skakel Erika Theron by 082 337 4381. Ons sien mekaar met vreugde op 16 Februarie. 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Zandra Bezuidenhout

    Die vraag oor "die praktiese nut" geld vir alle kunste. Wat presies word met "prakties" en "nut" bedoel? Die waarde van die estetiese objek lê in die sielsverryking, die bewusmaking, prikkeling, vraagstelling en nadenke, en die skoonheidsbelewenis. Tog wel "nuttig", en prakties, nie waar nie? En in die 21ste eeu? Natuurlik, soos altyd bly die mens, al leef ons in 'n verbruikerskultuur, 'n belewende wese. Honger vir ervaring wat verder strek as onmiddellike, oppervlakkige bevrediging. Die eeu is nie ter sake nie; die behoefte aan singewing en verdieping wel. Hiervoor is die poësie by uitstek geskik. Tog?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top