Verkeerde boetie in die tjoekie

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

Op 'n dag in Mei 1979 is ene Rudolf van der Heever in Darling in hegtenis geneem op 'n aanklag dat hy sy voertuig onder die invloed van sterk drank bestuur het. In sy beskonke toestand het Rudolf seker aan die Bybelse verhaal van Jakob en Esau gedink, want toe die polisieman hom sy naam vra, gee hy sy broer – John – se naam en dié se adres in Matroosfontein aan. 'n Maand of wat later het hy voor die hof as John van der Heever van Matroosfontein verskyn en is hy skuldig bevind. Hy is gewaarsku om 'n paar dae later weer voor die hof te verskyn om gevonnis te word.

Toe Rudolf – of is dit nou "John"? – nie op die afgesproke datum voor die hof verskyn nie, het die landdros 'n lasbrief vir sy inhegtenisneming gelas. Die lasbrief is gestuur aan die polisie te Elsiesrivier, wat dit moes uitvoer, want Matroosfontein het onder hulle jurisdiksie geval. Toe die polisie by John van der Heever se adres in Matroosfontein aankom – onthou nou, dis die adres wat boetie Rudolf vir die polisie gegee het – is hulle meegedeel dat hy jare gelede al van daardie adres verhuis het en tans by 'n ander adres woonagtig is. By die nuwe adres is 'n boodskap gelaat dat John dadelik met die polisie in verbinding moet tree.

Kort daarna is John toe saam met sy vrou na die polisiestasie om hom by ene konstabel Cleophas te gaan aanmeld. Op navraag van Cleophas het John bevestig dat dit sy naam is en dat hy voorheen by die adres in Matroosfontein gewoon het, maar hy het heftig ontken dat hy 'n motor onder die invloed van drank bestuur het of dat hy in Malmesbury op die dronkbestuurklagte in die hof verskyn het.

Konstabel Cleophas het kop gekrap en hy besluit om die ondersoekbeampte, ene konstabel Williams, te Darling te skakel. Williams het 'n kort beskrywing van die vermiste man gegee. Hy het gesê dat die beskuldigde 'n gesette man was; dat sy bo-voortande uit was en dat hy 'n baardjie en 'n snor gehad het. Cleophas het John van der Heever deurgekyk en toe besluit dat hy aan die ondersoekbeampte se beskrywing voldoen. John is net daar in hegtenis geneem. Cleophas het hom toestemming geweier om sy identiteitsboekie by die huis te gaan haal, asook sy werkgewer se bywoningsregister waardeur hy sou kon bewys dat hy op die datum toe hy na bewering onder die invloed van drank bestuur het, by die werk was.

Die volgende dag het John voor die landdros in Goodwood verskyn. Hy en sy vrou het weer eens ontken dat hy die man is vir wie die lasbrief bedoel was, waarna hy na Malmesbury oorgeplaas is. Hy is per trein soontoe gestuur en omdat daar geen polisievervoer beskikbaar was nie, moes hy met geboeide hande deur die strate van Malmesbury tot by die polisiestasie loop.

Vyf dae nadat hy in hegtenis geneem is, het hy voor die landdros te Malmesbury verskyn, waar bevind is dat hy die verkeerde man was. Hy is onmiddellik vrygelaat.

Van der Heever het daarna twee aksies om skadevergoeding teen die Minister van Wet en Orde ingestel: een in die landdroshof te Goodwood vir 'n bedrag van R1 500 ten opsigte van onregmatige arrestasie en aanhouding, en die ander in die landdroshof van Malmesbury, óók vir R1 500, op grond daarvan dat hy verneder en in sy eer gekrenk is toe hy gedwing was om van die stasie na die polisiestasie te loop terwyl hy geboei was.

Die twee sake is gekonsolideer en het voor die landdros te Goodwood gedien. Die landdros het ten gunste van Van der Heever beslis en aan hom 'n totale skadevergoedingsbedrag van R1 200 toegestaan. Hierteen het die Minister van Wet en Orde appèl aangeteken en die saak het op 7 Mei 1982 voor regter-president Munnik en waarnemende regter Odes van die hooggeregshof in Kaapstad gedien.1

Die Minister van Wet en Orde se vernaamste verweer was 'n bepaling in die Strafproseswet wat iemand wat gemagtig is om 'n persoon in hegtenis te neem, en wat dan – terwyl hy rederlikerwys méén dat hy daardie persoon in hegtenis neem – 'n verkéérde persoon in hegtenis neem, onthef van aanspreeklikheid vir só 'n onregmatige inhegtenisneming. Die sleutelwoord in dié bepaling is dat die persoon wat die fout gemaak het, redelik moes opgetree het.

Die hof was nie tevrede dat konstabel Cleophas redelik opgetree het toe hy vir John – pleks van sy broer, Rudolf – in hegtenis geneem het nie. Ten eerste was daar 'n vae beskrywing wat die ondersoekbeampte op Darling vir hom gegee het wat talle mense sou gepas het. Sowel John as sy vrou het verskeie kere ontken dat hy die persoon is wat in hegtenis geneem moes word. Cleophas moes ook agterdogtig geraak het toe hy by die adres wat Rudolf aangegee het, vasgestel het dat John van der Heever jare gelede al daar weggetrek het. Cleophas het ook geweier om John toe te laat om sy identiteitsdokument by die huis te gaan haal. Les bes het nóg Cleophas nóg die ondersoekbeampte Williams enige poging aangewend om Rudolf se identiteitsnommer, wat wel korrek verstrek is, met dié van John te vergelyk. Hierdie eenvoudige stap sou deurslaggewend gewees het en dit sou dadelik vir die polisie gewys het dat hulle die verkeerde man in hegtenis geneem het.

Die hooggeregshof in Kaapstad was tevrede dat John van der Heever geregtig was om te slaag in sy eis teen die Minister van Wet en Orde. Inderwaarheid het die hof 'n hoër eisbedrag toegeken – R1 500 in stede van R1 200, aangesien John 'n teenappèl geloods het waarin hy gevra het dat die landdros se toekenning verhoog moes word. In vandag se geldwaarde is die R1 500 wat die hof in 1982 toegeken het, natuurlik aansienlik hoër.

Ons lees nie in die hofverslag hoe John met sy dronklapbroer, Rudolf, afgereken het nie. Dié karnallie het seker vir sy broer verduidelik dat dit 'n ligte mistykie was en dat hy in sy dronkenskap sy eie naam vergeet het, of so iets.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top