Resensie: The Monuments Men

  • 0

Regisseur: George Clooney
Spelers: George Clooney, Matt Damon, Cate Blanchett, John Goodman, Bill Murray, Jean Dujardin

In ’n land waar die gewese minister van polisie pas aangestel is as die minister van kuns en kultuur, is dit besonder gepas om na hierdie fliek te gaan kyk. Dit gaan oor ’n stukkie onbekende (maar myns insiens belangrike) geskiedenis uit die Tweede Wêreldoorlog en is gebaseer op werklike gebeure.

Hitler het as jong man kuns gestudeer, en gevolglik was kuns ’n groot deel van sy planne vir sy Wêreldryk. Dis taamlik algemeen bekend dat die Jode se private kunsversamelings gekonfiskeer is (die mees gesogte stukke, bygesê), maar blykbaar is hul woonplekke ook metodies opgeruim soos hulle weggevoer is na die konsentrasiekampe – ’n mens sien sale vol kosbare ou meubels, porseleinware, beeldhouwerke en dies meer, netjies gekatalogiseer in deeglike Duitse styl.

Soos die Nazi-leërs se opmars deur die ganse Europa uitgebrei het na lande soos Italië, Frankryk en België, is ook hierdie lande se kunsmuseums geplunder om Hitler se toekomstige Führer-museum te vul – die skaalmodel daarvan wys ’n grandiose projek. Dié kunswerke is geneem na geheime bergplekke in Duitsland.

In 1943 tree die Amerikaanse kunsgemeenskap onder leiding van Harvard se George Stout (Frank Stokes in die film, gespeel deur George Clooney) in en oorreed met moeite die regering om ’n taakspan na Europa te stuur. Hul missie is om die kunswerke op te spoor en terug te besorg aan die regmatige eienaars. Hierdie manne is elkeen ’n kenner op sy vakgebied en uiteraard nie soldatemateriaal nie, maar hulle was vir ’n jaar lank, tot die einde van die oorlog in April 1945, die “Monuments Men”.

Die fliek is tipies Amerikaans, met voorspelbare dialoog en ’n aanslag wat wissel van sentimenteel tot triomfantelik. Maar nou ja, die Amerikaners ís immers die helde in die verhaal, en danksy hulle het miljoene van die Westerse wêreld se kunsskatte die oorlog oorleef.

The Monuments Men word aanbeveel vir alle kuns- en geskiedenisliefhebbers.

Sterre:

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top