Regisseur: Ian Gabriel
Spelers: Brendon Daniels, Jezriel Skei, Abduragman Adams, Lindiwe Matshikiza, Irshaad Ally, Charlton George, Jerry Mofokeng, Jody Abrahams
Wat ’n plesier om nogmaals trots Suid-Afrikaans uit ’n fliekteater te stap. Four corners was ons amptelike nominasie vir vanjaar se Oscar vir die beste buitelandse film – ’n aanbeveling wat vanself spreek.
Nog nooit het Suid-Afrikaanse kykers só ’n binneblik op die Kaapse bendelewe en tronklewe gekry nie. Hierdie fliek wys hoe die Nommer-bendes (die 28’s en 26’s) hele gemeenskappe beheer. Dis maklik om van buite na die treurige omstandighede op die Kaapse Vlakte te kyk en te sê dat mense net beter lewenskeuses moet uitoefen: moenie met die bendes deurmekaar raak nie en moenie tik nie. Hier sien jy hoe die jong tiener Ricardo (Jezriel Skei) deur die bendeleier Gasant (Irshaad Ally) geteiken word. Dis ’n toksiese mengsel van afdreiging en groepsdruk, want almal ken mekaar van kindsdag af “soos broers”. Die fliek se titel het ’n dubbele betekenis: dis Sapela (tronktaal) vir die gevangenis, maar dis ook die vier hoeke van die skaakbord – Ricardo behoort aan die plaaslike skaakklub en is ’n baie belowende speler. Dié twee temas vleg om mekaar tot ’n einde wat tóg hoop bring.
’n Egter en meer lewensgetroue fliek as hierdie een sal jy moeilik kry. Alle tonele is in woonbuurte op die Kaapse Vlakte geskiet, en talle van die akteurs is gewone mense of gerehabiliteerde bendelede. Dis ook ’n uitstalvenster vir van die beste Kaapse talent: Brendon Daniels, Abduragman Adams, Charlton George, Jody Abrahams, noem maar op. Al die akteurs is puik, maar die dertienjarige Jezriel Skei speel ’n mens stil. En Brendon Daniels se kragtige spel as die bendeleier Farakhan laat jou net weer besef hoe ’n besonderse en veelsydige akteur hy is.
Gaan kyk hierdie fliek – dit stel ’n nuwe standaard vir ons filmbedryf.
Sterre: 
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

