Gebore en getoë
Christian Johannes Smith (John) Coetzee is op 25 November 1931 in Florida, Johannesburg gebore. Sy vader was AJ Coetzee, voormalige hoofvertaler van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, en sy moeder was ’n nooi Smith.
John het naby die Floridameer grootgeword en die natuurskoon van die omgewing, wat destyds nog natuurlik was, het hom van jongs af aangegryp. Hy het alles gehad wat ’n jong seun se hart kon begeer: ’n dam (of meer) waarin hy kon swem, visvang of kano ry. Langs die dam was dit ruig en bebos en hy en sy vriende kon allerhande avonture uitdink en beleef. Hulle kon na hartelus klim en klouter in die Floridakoppies en in grotte en gate rondkruip.
Vandat hy nege jaar oud was, het hy gediggies, asook ’n paar kortverhale en langer verhale geskryf. Reeds toe John nog net dertien was, is ’n verhaal van hom deur ’n tydskrif aanvaar.
Hy word in ’n Afrikaanse huis groot, maar bring sy skoolloopbaan in Engelse skole deur. Hy slaag sy standerd 8 (vandag graad 10) aan Marist Brothers’ College in Observatory, Johannesburg.
Verdere studie en werk
John se pa het geglo dat ’n seun ’n ambag moet leer en ná die voltooiing van standerd 8 skryf hy in 1948 in as vakleerlingelektrisiën by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. Hy het die vakleerlingskap na vyf jaar voltooi en vir ’n verdere drie jaar as elektrisiën daar gewerk.
“Maar,” vertel John aan Mediafokus (Junie 1994), “ek wou liewer ’n skeppende soort werk doen. Ek het baie gelees, sang geneem en jeugboeke begin skryf (wat op daardie stadium almal in die uitgewers se snippermandjies beland het). Ek het elke jaar gespaar en skeepsreise onderneem en hou nog steeds van reis.”
John wou egter van werk verander en op 25-jarige leeftyd verwerf hy sy matriek deur middel van ’n korrespondensiekursus en tree in diens van die destydse Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap in Pretoria as personeelklerk. Deur verdere deeltydse studie deur die Universiteit van Suid-Afrika behaal John sy BA-graad. Daarna werk hy vir vier jaar as sakeman by ’n Duitse familiefirma, waartydens hy die Hoër Nasionale Diploma vir Vertalers verwerf.
In 1965, op 34-jarige ouderdom, doen John rumatiekkoors op wat hom ses weke lank in die bed vasgekluister het. Om die tyd om te kry, skryf hy ’n jeugboek, maar dit loop dieselfde paadjie as die ander. Ná sy siekte tree hy in diens by die destydse Yskor as tegniese vertaler (Afrikaans, Engels, Duits en Frans) en werk tot sy aftrede as hoof van die Departement Vreemde Tale daar.
Hy gaan intussen voort met skryf in sy vrye tyd en skryf hom in vir ’n skryfkursus by Lyceumkollege. Hy begin ook konsentreer op jeugromans met ’n historiese agtergrond. “Ek stel veral belang in die tydperk van die Zuid-Afrikaansche Republiek, seker omdat ek as kind in Florida dikwels by een van die pioniers uit daardie dae gaan kuier het. By dié bejaarde dame het ek die eerste keer van die Jameson-inval gehoor, en nadat ek later ’n studie daarvan gemaak het, skryf ek die eerste van die Buks-reeks wat verskillende gebeurtenisse van daardie tyd dek. Ek stel intens belang in die ontdekking van die Transvaalse Goudvelde en dit het ook as grondslag gedien vir ’n hele paar van my jeugboeke,” (Mediafokus, Junie 1994).
Die uitgewers was baie beïndruk en het vir nog Buks-boeke gevra. Daarna was John op die wenpad, en al het hy geskiedenis op skool gehaat, was dit vir hom later ’n vreugde om navorsing te doen vir sy geskiedenisstories, skryf H Nel in Mediafokus van Junie 1994. Baie van die ondervindinge van sy karakters het hy self beproef. Tydens sy navorsing het John ook afgekom op gegewens oor die rampspoedige ontploffing van die dinamiettrein in 1896 in Braamfontein en dit gee aanleiding tot die ontstaan van Buks en die dinamietramp.
Die Buks van die Buks-reeks is Buks Jonkers en in hierdie boeke beleef hy allerlei avonture saam met sy oom Smittie. En in elke storie word geskiedenis op so ’n wyse met fantasie verweef dat jongmense wat hierdie boeke lees, ’n beter begrip van die verskillende geskiedkundige gebeurtenisse sal hê as wat hulle dalk op skool sal kry. John slaag ook daarin om uit die vervloë dae ’n atmosfeer te skep wat sy lesers wegvoer. Ook is daar genoeg spanning, interessante karakters en gebeurtenisse om die leser enduit te boei, terwyl talle wetenswaardighede die leser se kennis verbreed.
Mensies in die dorsland (1975) vertel die verhaal van ’n Dorslandtrekker wat in die woestyn verdwaal het. Hy het geen ander keuse as om ’n klein kliphuisie vir sy gesin te bou nie en hy slaag daarin om ’n sukkelbestaan te voer totdat ’n droogte uitbreek. Hier begin die verhaal van die gesin se stryd om aan die lewe te bly. Dit word vertel op ’n reguit manier met sinne wat goed saamgestel is en met ’n maklike, vloeiende woordeskat, skryf PM in Die Suidwester van 26 April 1976.
Al die ontberinge wat die gesin tydens die trek ondergaan het, word op ’n slim manier verweef met die kinders se speletjies. En die middelpunt van die intrige is die herkoms van die Boesmankind. Die gesin het hom op hulle onswerwinge gevind en hy word ’n deel van die gesin. Die Boesman-kinders word as die helde van die verhaal uitgebeeld. Die lessie dat elkeen van ons maar altyd teruggaan na waar ons vandaan gekom het, maar tog ’n keuse het watter weg ons moet volg sonder dat daar noodwendig vriendskap of waardigheid verloor word, word vertel sonder enige sedepreke.
Baie van John se verhale het te doen met die ontdekking van goud en hier het sy tegniese kennis van metale hom goed te pas gekom, asook die gate en tonnels van die Floridakoppies wat direk aanleiding gegee het tot Buks en die goudsoekers wat afspeel teen die agtergrond van die goudstormloop na die Witwatersrand. Van sy ander boeke wat ook oor die ontdekking van goud handel, is Struben se goue vallei, wat in Engels uitgegee is onder die titel Struben’s golden valley, en Vlam van die goudvelde.
Die agtergrond van Struben se goue vallei is die dorpie Pelgrimsrus in Mpumalanga. Simon, ’n jong seun, bly by sy ma in Pietermaritzburg. Hy gaan saam met sy oom Jim na Pelgrimsrus en Strubensvallei om spoelgoud te gaan delf. Behalwe al die avonture wat Simon daar ervaar, is daar ook die geheim van sy pa se dood tydens die Slag van Majuba en oom Jim, wat ook op Majuba geveg het, se vrees. Simon maak vriende met Nita en Lood Buisman en dit is veral Nita wat sy lewe beïnvloed.
“Die agtergrond waarteen die verhaal afspeel, is oortuigend realisties,” skryf Hannie Schutte in Die Transvaler (datum onbekend). Die agtergrond wat geskets word van die bedrywige lewe op die delwerye in teenstelling met die rustige lewe op die Buismans se plaas bied aan die skrywer ’n ryk en genuanseerde agtergrond waarteen hy sy verhaal kan teken. Al die elemente wat hierbo genoem is, maak die verhaal spannend. Die hoofkarakter, Simon, word goed uitgebeeld – ’n jong naïewe seun wat dit nie breed gehad het nie en in wie se lewe daar heelwat goed gebeur het wat hy nie verstaan nie. Sy karakter se ontwikkeling in die verhaal word goed uitgebeeld.
Die temas wat John vir sy boeke gebruik, is gewoonlik grepe uit die geskiedenis wat nie so bekend is nie of waaroor ander skrywers nog nie vantevore geskryf het nie, soos in onder andere Buks en die rooi woestyn, Die ysterpad see toe en Buks en die runderpes,watdie vierde verhaal in die Buks-reeks is en wat, soos die naam aandui, die verhaal vertel van die runderpes-epidemie wat in 1896 boere se vee afgemaai het.
Met Die ysterpad see toe (1986) delf John weer in die geskiedenis. Die “ysterpad” is die spoorlyn tussen Komatipoort en Pretoria wat in 1894 geopen is as die voortsetting van die spoorlyn vanaf Lourenço Marques (vandag Maputo). Hy belig twee aspekte, naamlik die verdwyning van die ossewa as gevolg van die bou van die spoorlyn en die drastiese vermindering van die wild in die Oos-Transvaal deur die jag van die wild vir voedsel en trofeë tydens die aanleg van die spoorlyn en daarna.
Andries Nagel moet aanskou hoe sy transportbedryf bedreig word deur die bou van die spoorlyn en hy besluit om ’n jagtog na die Oos-Transvaal te onderneem om olifante te gaan jag. Sy seun Dries werk (sonder sy toestemming) aan die spoorlyn en hy stuur sy 14-jarige seun Dolf om Dries te gaan haal. In Krokodilpoort maak Dolf kennis met die Nederlanders en ander in diens van die NZASM. Dolf leer die Nederlanders ken en besef dat hulle sterk gekant is teen die onbeperkte jagtery, veral Joop Behrends, wat president Kruger wil oortuig om jag in die Laeveld te verbied. Dit is ook in hierdie tyd dat Kruger die oudste deel van die Krugerwildtuin geproklameer het. In Zuid-Afrika van Januarie 1988 skryf C de Jong dat Coetzee se verhaal vlot vertel word en deurtrek is met ’n verfrissende ironie.
Vir WK (Beeld, 18 Augustus 1986) is Die ysterpad see toe knap en vinnig geskryf. Daar is baie aksie, goeie beelding van die Oos-Transvaal en die suggestie van ontluikende romanse. Daar is dus baie waarvan jong lesers sal hou.
John het in die Selati-wildernis ’n ossewatrek onderneem sodat hy dit persoonlik kon ervaar. Op die trek het hy die storie van Dina Fourie gehoor en Trekspoor in die wildernis geskryf.
Met Trekspoor in die wildernis (1989) neem John die tienerleser na onbekende streke. Marina le Roux (Die Burger, 26 Julie 1990) skryf: “Inhambani, Quelimane, Sofala – net die ‘wakker mars’ van plekname alleen verruk reeds die gees. Maar meer nog, die skrywer neem die leser werklik daarheen, na elkeen en meer van die eksotiese plekke, terug in die geskiedenis van ongeveer die middel van die vorige eeu. Na Sofala, aan die Ooskus van Afrika, waar vyftig swart krygers deur die oerbos draf, met ’n draagbaar met ’n baldakyn van rooi satyn wat die sonstrale van ’n blonde vrou se gesig wegkeer.
“Só draf hulle voort met hul vrag, vir meer as seshonderd kilometer deur die koorslandskap, tot by die plaas Goedewensch, naby Schoemansdal. Hier is die einde van hul ongelooflike reis, by João Albasini, die vriendelike Portugese handelaar, en superintendent van die swart stamme oos van Schoemansdal.”
Bogenoemde vorm deel van byna fantastiese agtergrond wat die basis van hierdie geskiedkundige en avontuurverhaal vorm. Die epiese tog van Dina Fourie en haar Engelse man, die droster en avonturier John Chambers lê die grondslag van hierdie verhaal. Die weeskind, Kobus Jonker, en sy voog oom Hannes, volg Dina-hulle se spoor deur die onherbergsame en gevaarlike gebied. Uiteindelik ná maande se swaarkry vind hulle die wondervrou by Albasini en kan hulle hul lewens hervat.
Marina le Roux vervolg: “Hoewel die verhaal deurgaans gebaseer is op historiese feite en gebeure, slaag Coetzee daarin om steeds die karakters uit te lig buite die muwwe bladsye van 'n vergete geskiedenisboek. Hy skep byvoorbeeld in Kobus ’n interessante en karakter met vele fasette, wat letterlik en figuurlik sy rites de passage voltooi binne ’n inisiasietydperk waarin hy tot die uiterste getoets word. Die uitbeelding van die hoofkarakter is slegs geloofwaardig omdat die leser Kobus leer ken in sowel sy sterk en sy swak momente.
“’n Besonder sensitiewe siening van vriendskap is dié tussen Kobus en Dawid, Dina Fourie se broer. Ook die skugter verhouding tussen Kobus en Nella ontwikkel rustig en ongedwonge tot ’n dieper geneentheid. Naas die simpatieke tienerkarakters word die belangrike historiese figure soos kommandant-generaal Stephanus Schoeman en veldkornet Piet Eloff ‘warts and all’ voorgestel. Die leser sien hulle as patriotiese, ambisieuse leiers, maar ook as dwarstrekkerige korrelkoppe, wat tweespalt en konflik tussen die mense van Schoemansdal veroorsaak. (...)
“En Coetzee slaag beslis, nie net in sy uitbeelding van bekende figure nie, maar ook in die milieu-skildering van Schoemansdal. Kontroleer ’n mens sy agtergrondnavorsing teen boeke (...) is dit duidelik dat Coetzee sy huiswerk goed gedoen het. Trouens, dit word verder weerspieël in 'n nuttige kaart in 'n nawoord oor die geskiedenis van Schoemansdal en sy mense.
“Coetzee het beslis nie maklike kortpaadjies gekies nie, behalwe soms by liriese natuurbeskrywings of hinderlike cliché-frases. Innerlike spanning word nog te dikwels beskryf met ’n spiertjie wat spring en woede deur ’n stem wat soos ’n sweep klap. Hande en vuiste is altyd knoetserig, rokies styg lui-lui op, mense spreek mekaar aan of staar mekaar sprakeloos aan. Hierdie klein irritasies ten spyt, het Coetzee ’n spannende en opwindende avontuurverhaal geskryf wat begeester en oortuig. Dit sal beslis tot jong lesers spreek omdat dit ’n bres slaan vir die beste en edelste menslike emosies – dié van naasteliefde. Daar word dikwels gekla dat geskiedenis ’n ‘dooie’ vak geword het. Onderwysers behoort van Trekspoor in die wildernis kennis te neem. Dit sal lewe blaas in die doodsbeendere.”
The message (1990) handel oor die Trichardt-trek en die heldin is ’n Boesmanmeisietjie wat om hulp gaan soek wat heeltemal anders is as die gewone benadering.
John skryf nie net historiese verhale nie, maar ook eietydse jeugverhale. Agon en die donker planeet en Die gedoente op planeet Boris is lekkerlees-wetenskapfiksie, met die bewaring van ons hulpbronne as onderliggende tema.
Agon en die donker planeet is geïnspireer deur die merkwaardige reis van een van die twee Voyager-ruimtetuie wat in 1977 deur NASA in Amerika gelanseer is. Elke tuig is destyds toegerus met ’n spesiale vergulde langspeelplaat met oudiovisuele opnames. Dié opnames het onder meer tonele van lewe op aarde ingesluit, asook voorbeelde van die wêreld se beste musiek, boodskappe in verskillende tale en ’n verskeidenheid ander aardse geluide, insluitende walvisgeluide. Agon en die donker planeet begin met die ontsyfering van só ’n vergulde opname.
Agon en Albek is die eerste KRI-bewoners wat die vreemde ruimtetuig gewaar. Binne-in vind hulle die goue plaat met simbole daarop geëts. ’n Ondersoekspan onder leiding van kommandeur Lo Kago van die ruimtesentrum, dekodeer die simbole en stel vas dat die tuig van ’n vreemde planeet, Aarde, afkomstig is. Daar word besluit om ’n ekspedisie na dié planeet te onderneem. Maar Agon en die res van die bemanning is glad nie voorbereid op wat hulle dáár aantref nie.
Agon en die donker planeet is John Coetzee se eerste jeugroman in die wetenskapfiksie-genre. Dit is ’n aksiebelaaide verhaal wat die jong leser se verbeelding sal aangryp. Die omgewingsbewaring-tema word subtiel en oortuigend met die verhaal verweef en veral die lot van die walvisse word pragtig uitgebeeld.
In Die gedoente op planeet Boris vind die leser vier vriendjies wat in die Kalahari woon naby die ruimteskip wat Iwan se Russiese pa en ’n span tegnici kom oprig het vir ’n intergalaktiese reis. Iwan weet hoe om die skip te lanseer en toe al vier vriende en klein boetie Hentie in die skip sit, styg hulle skielik op en daar begin ’n groot avontuur in die buitenste ruim. Hulle land op ’n vreemde planeet en dinge raak lewensgevaarlik.
Gelukkig land hulle veilig terug op aarde en daar is ’n wonderlike verduideliking van wat werklik met die maters gebeur het. Steeds ’n ruimtestorie, skryf Madeleine Roux (Die Burger, 19 Februarie 1997), maar glad anders as verwag. Die dialoog kan net beskryf word as mooi met baie lekker woorde. Die storie word vertel in ’n Afrikaans wat gemaklik lees en verbeeldingryk is en dit alles maak van Die gedoente op planeet Boris ’n klassieke avontuurverhaal met karakters waarin geglo kan word. Elke jong entoesias van wetenskapfiksie behoort hierdie boek te geniet.
Menseverhoudings is vir John belangriker as oorloë en hy probeer met sy verhale ’n brug tussen die verskillende kulture in Suid-Afrika bou. Vyf van sy boeke is al voorgeskryf. Waar die hoogoonde gloei was op die voorskryflys van die Universiteit Stellenbosch en Buks en die goudsoekers en Struben se goue vallei vir die destydse Departement van Onderwys en Opleiding.
Van die hoogtepunte in John se skryfloopbaan was toe Struben as voorgeskrewe werk aanvaar is. Die ongeluk by Loskrans was die boek waaraan hy die lekkerste geskryf het. Hy verkies om self sy verhale en temas uit te dink, maar het al vir ’n wedstryd ingeskryf waar die uitgewers ’n bepaalde tema wou hê. The mystery of Cloud mountain was die naaswenner vir die Volkskasprys vir Jeuglektuur in 1989.
John is getroud met Lene Maier (van Deense afkoms) en hulle het twee seuns (Sven en André) en ’n dogter (Inger). Hy het ook drie kleinkinders. Sy stokperdjies is sang, klassieke musiek, lees en wandel.
Om stof vir sy werke in te samel, het John gewoonlik na die plekke van belang gereis om ’n gevoel vir die omgewing te verkry, waarna hy ’n deeglike studie gemaak het van die historiese agtergrond van sulke plekke. Hy het sy vrou en kinders saamgeneem op hierdie uitstappies om dit ook vir hulle leersaam te maak. Op hierdie wyse het hulle Namibië, die Kalahari, KwaZulu-Natal en die destydse Transvaal goed leer ken. Hy het ook van fotografie en ’n klein bandopnemer gebruik gemaak as verdere hulpmiddels.
Omdat John se denkbeeldige karakters gewoonlik self daarop aandring in watter taal hulle 'n storie vertel wil hê, dwing dit hom om soms in Afrikaans en soms in Engels te skryf, na gelang van die omstandighede en die soort agtergrondmateriaal wat ter sprake is.
In 2007 word Black swan down by Tafelberg gepubliseer. Die verhaal speel af in die 1950’s in ’n myndorp wes van Johannesburg en vertel die storie van die 14-jarige Roy Trundler en sy blikkano, die Black Swan. Roy se pa, ’n alkoholis, het al ’n paar maal probeer ophou drink, maar hy kan vir slegs ’n paar dae op ’n slag die drank laat staan.
Roy se enigste wegkomkans van sy pa se dronk nagmerries en hulle vervalle huis met die kaal rakke is wanneer hy met sy kano op die dam kan gaan roei. Op die water, tussen die voëls en die visse, is hy gemaklik met homself en pas hy in. Sy vriendskap met Pam en haar tweelingbroer, Davin, laat hom voel asof hy ook iewers behoort en hy deel sy liefde vir die dam en die natuur met hulle. Maar dan verdwyn Davin en die Black Swan. Die kano word na ’n soektog in die dam gevind en Roy verwag die ergste. As Davin verdrink het, gaan Roy verdink word.
In 2007 is John die wenner van die Sanlamprys vir Jeuglektuur (silwer) in die Engelse afdeling met Dance of the freaky green gold. Hierin raak John die saak van aardverwarming aan. Rick en sy gesin moet by sy oom Bert, ’n ingenieur by die Ashby-kragsentrale, intrek. Oom Bert is baie geheimsinnig oor sy nuutste plan, maar Rick vermoed dat dit iets te doen het met die mense wat eksperimente doen by die dam. Hy en sy nuwe vriend Sipho besluit om ondersoek in te stel.
Die beoordelaars het die volgende oor Dance of the freaky green gold (http://nb.co.za/Books/2955) te sê gehad: “This is a gripping story that manages to explain some quite complex scientific facts in a very accessible manner. Global warming and the Kyoto Protocols are extremely topical. The scientific experiment is to turn algae into bio-fuels, and the details are intriguingly conveyed, with the photographs and diagrams contributing to the clarity.
“The initial plot-impetus of a parental divorce and break-up of the home will impact on teen readers, as will the dislocation of moving to a new home and school. The element of the mysterious will intrigue, and the shading in of a love interest will be recognisable and familiar.
“The opening chapter is excellent: we’re into the situation straight away, the tension between son and parent is palpable, the dilemma they are in is authentic. It is easy for the reader to believe completely in these people and in the relationship between Rick and his mother, as well as between Rick and his little sister.
“In a situation of recognisable stress the character of Rick is brought face to face with some major dilemmas, and with issues that threaten the futures of both himself and his family, and those of his new friends Sipho and Inez.
While the author has clearly done solid research on the topic, he has managed to introduce science and the concept of global warming in a very readable manner.”
Publikasies
|
Publikasie |
Buks en die stropersbende |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624004848 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Waar die hoogoonde gloei |
|
Publikasiedatum |
1972 |
|
ISBN |
0624 |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Staalbedryf |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Buks en die dinamietramp |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels: Flint and the dynamite train, 1987 |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Buks en die goudsoekers |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die ongeluk by Loskrans |
|
Publikasiedatum |
1974 |
|
ISBN |
0624005801 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels: The accident on Rocky Pass, 1982, 1985, 1986, 1987, 1988, 1989 |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Mensies in die dorsland |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0624007472 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Buks en die runderpes |
|
Publikasiedatum |
1977 |
|
ISBN |
0624009408 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die brand by Wilgemeer |
|
Publikasiedatum |
1977 |
|
ISBN |
0624010104 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Struben se goue vallei |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels: Struben’s golden valley, 1984 |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Buks en die geheim van Zimbabwe |
|
Publikasiedatum |
1980 |
|
ISBN |
0624014649 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Berg van die bosduiwe |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0624 |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die goue ring |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0624015599 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Buks en die rooi woestyn |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0624022978 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels: Flint and the red desert, 1986 |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die ysterpad see toe |
|
Publikasiedatum |
1986 |
|
ISBN |
0624023418 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Burning river. Onder die skuilnaam John Quest |
|
Publikasiedatum |
1987 |
|
ISBN |
079862230X (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: De Jager-HAUM |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Trekspoor in die wildernis |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0624028577 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
The mystery of Cloud Mountain |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Symbol |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
The golden rhinoceros |
|
Publikasiedatum |
1990 |
|
ISBN |
0798630787 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
The message |
|
Publikasiedatum |
1990 |
|
ISBN |
0624029220 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Vlam van die Goudvelde |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
0799316563 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Agon en die donker planeet |
|
Publikasiedatum |
1993 |
|
ISBN |
0624032116 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Crash flight |
|
Publikasiedatum |
1994 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Kagiso |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die gedoente op planeet Boris |
|
Publikasiedatum |
1996 |
|
ISBN |
0624034739 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Black swan down |
|
Publikasiedatum |
2007 |
|
ISBN |
9780624045588 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Dance of the freaky green gold |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780624046714 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Sanlamprys vir Jeuglektuur (Engels) 2007 (Silwer) |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Artikels oor John Coetzee beskikbaar op die internet:
Bronne
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Bygewerk: 2014-05-13
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za


Kommentaar
Mnr/Mev/Mej,
Ek het al oral op internet iemand probeer kry om saam met my miniatuur ossewaens en perde- kapkarretjies te maak, maar duidelik adverteer hul hulself nie. Dit is vir net die wiele wat baie tydsaam is so ek wil baie graag weet dat indien u van iemand weet wat die wiele wil help maak dan maak ek die wa of perde-kapkar want hul verkoop vreeslik vinnig en ek hou nie by nie en as hy net die wiele maak dan deel ons die wins of soos hy wil want ek is reeds 66jr oud en is nog fiks en gesond en wil graag iets doen om die tekort aan finansies in ons stygende lewenskoste aan te vul.
Ek dank u by voorbaat
Phillip Bruyns