
Winnie the Pooh hou Kersvakansie in Kaapstad vanjaar. Naomi Meyer het met Tigger (oftewel Dirk Joubert) oor dié produksie - van 10 tot 21 Desember 2013 in die Kunstekaap - gesels.
Hallo Dirk, die somervakansie is hier. Vertel asseblief vir ons lesers van die toneelstuk wat jou geselskap op die Kunstekaap se planke bring.
Ons werk aan die vertoning van Winnie the Pooh en ons is almal baie trots op hierdie projek!
Dié van ons wat kinders het, weet hoe ‘n uitkoms is kinderteater in die vakansie. Hoe voel dit as jy op die verhoog staan – is dit harde werk om voor kinders op te tree, of is dit pret?
Ek is mal oor kinderteater! Dit is 'n vreeslik vervullende gevoel om te weet dat jy 'n impak kan maak op kinders se lewens en daarom is al die harde werk 100% die moeite werd.
Mense besef nie aldag ‘n akteur is ‘n akteur is ‘n akteur nie. Hoe reageer mense as hulle hoor jy is betrokke by teater vir kinders? En maak dit vir jou saak as mense nie altyd positief is nie?
Daar is baie gevalle waar mense positiewe reaksies gee as hulle hoor ek is 'n akteur, maar natuurlik is daar ook negatiewe reaksies. Omdat ek baie passievol is en ongelooflik lief is vir hierdie vorm van kuns, is dit moontlik vir my om die negatiewe af te skud en op die positiewe te fokus.
Onlangs was daar gesprekke oor die kunste in Afrikaans op die radio. Wat maak mens om die pot aan die kook te hou?
Weet jy, die realiteit is dat werk skaars is – maar dit keer jou nie om uit te gaan en jou eie werk te skep nie. My advies is om jouself daagliks soveel as moontlik met kreatiewe invloede te stimuleer en daardeur sal die idees uit jou uit stroom! Ek het in 2004 my eerste advertensie gedoen vir Clover Danone se Danao en het kort daarna 'n advertensie vir Debonairs Pizza asook 'n advertensie vir Shell geskiet. Ek was 'n aanbieder op 'n kinderprogram met die naam Triple M en het ook al 'n paar keer op Binnelanders verskyn. My teater-ervaringe het begin met kinderteater in 2011, waar ek in die hoofrol was in 'n vertoning met die naam Get a Life. In 2012 was ek Don Kerr in A Chorus Line, asook Prince Luke in Snow White. Hierdie jaar was ek Roger Dunbar in Footloose en ook deel van die dansers in Guys&Dolls. Ek sluit my jaar af as Tigger in Winnie the Pooh.
As mense na Winnie the Pooh kom kyk, wat kan hulle en hul kinders verwag? Vir watter ouderdomme kinders (of grootmense) is dit dalk die mees geskikte vertoning?
Mense kan avontuur, musiek en baie pret verwag van alle kante af. Daar is ook baie interaksie met ons gehoor, sodat die kinders kan voel asof hulle deel is van al die aksie. Ek sou sê dat die meeste ouderdomme hierdie opvoering sal kan geniet, maar dit is die geskikste vir 5–8-jariges.
Vir nog inligting oor die produksie, klik hier: http://www.artscape.co.za/show/winnie-the-pooh/777/
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

