Regisseur: Francis Lawrence
Spelers: Jennifer Lawrence, Josh Hutcherson, Woody Harrelson, Philip Seymour Hoffman, Donald Sutherland, Stanley Tucci, Lenny Kravitz, Elizabeth Banks
En dis tyd vir die tweede aflewering! Van die drie boeke het ek nommer 2 die swakste gevind, asof dit net ’n brug moes vorm tussen die gebeure in boek 1 en boek 3. Dat Katniss en Peeta (Jennifer Lawrence en Josh Hutcherson) wéér na die arena moes gaan kort nadat ons dit saam met hulle deurgeworstel het, het gevoel soos te veel van dieselfde ding.
In die fliek werk dit beter. Heelwat detail is uitgesny en die klem is heeltyd op die oplaaiende revolusie teen die Capitol. Die simboliek van die titel word visueel kragtig gebruik, veral in die slot. Dié is ’n duidelike cliffhanger vir die volgende fliek en gevolglik moeilik om treffend voor te stel.
Ek het Jennifer Lawrence intussen in ’n baie meer volwasse rol gesien in Silver Linings Playbook (waarvoor sy vanjaar die Oscar as beste aktrise ontvang het) en was bang dat sy my nie meer sou oortuig as ’n tawwe jagter en veldkind nie. Gelukkig was my vrese ongegrond. Josh Hutcherson was egter ’n valer Peeta, en sal hopelik tot sy reg kom in die volgende fliek, wanneer hy ’n groter rol speel. Aan die ander kant het Gale (Liam Hemsworth, kleinboet van Chris) my koud gelaat in die eerste fliek, terwyl hy my hier van die begin af beïndruk het.
Die grootste verrassing van die fliek is Philip Seymour Hoffman as Plutarch Heavensbee, wat blyk een van die leiers van die revolusie te wees. Hoffman is ’n topakteur, een van die heel bestes in Hollywood, en dat die fliekmakers op hom besluit het, kan net goeie dinge voorspel vir die oorblywende twee films in die reeks.
Sterre: 4
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

