Nuwe kinderboeke by LAPA Uitgewers

  • 0

Klik op boekomslag en bestel hierdie boeke nou by Kalahari.net!


Ek + Jy
Nerine Ahlers & Alet Steenkamp
ISBN: 9780799362817
Prys: R110

Ek het finaal besluit. Ouens is agterbakse miswurms. Net wanneer jy op jou gelukkigste saam met ’n ou is, bars die borrel. Hy cruise aan na die volgende meisie en jy voel soos ’n gek. Verwerp en verneuk en alleen. Ek is klaar met ouens. Ek gaan eendag in die berge in ’n klein huisie bly en groente plant. Iewers in die Himalajas waar daar geen mans is nie. Ek wil nooit in my lewe weer ’n man sién nie.

Nadat haar vorige ou haar verkul het, besluit Annabelle sy stel nie meer in ouens belang nie. Daar is baie ander dinge waaraan sy al haar tyd en aandag kan bestee. Soos haar spysenieringsbesigheid, haar skoolwerk en haar kleinsussie, Mila, wat nog sukkel om hulle ma se dood te verwerk. Maar dan ontmoet sy ’n blouoog-hunk wat haar laat twyfel ... Moet sy dalk weer ’n ou ’n kans gee, of gaan sy weer seerkry? 

’n Lekkerlees-tienerroman oor die avonture van grootword – en die hoogtepunte en laagtepunte van jong liefde.


Meneer Monster
Jaco Jacobs
ISBN: 9780799362480
Prys: R70

’n Skoolhoof met ’n humorsin?

Hy kom beslis van ’n ander planeet!

Marko kan nie glo meneer Van Vuuren is so cool nie. Hy dink wraggies kattekwaad is snaaks. Dit lyk of hy van stout kinders hóú! Hy reël selfs ’n kamp vir baie spesiale leerders waarheen hy al die moeilikheidmakers in die skool nooi.

Maar Marko begin vermoed iets is nie pluis nie. Hoekom het dit gelyk of meneer Van Vuuren twee kinders se breins deur hul ore uitsuig? Is die nuwe hoof dalk ’n alien ... en hoe gaan hy dit bewys?

’n Gruwelike grilstorie (wat jou plek-plek sal laat skaterlag) uit die pen van die bekroonde skrywer Jaco Jacobs en swart-en-wit illustrasies deur Johann Strauss.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Meneer Monster nou van Kalahari.com!

 

Ons kan!
Martie Preller
ISBN: 9780799362800
Prys: R90

Diep, diep in ’n donker bos
waar die son net soms deur die takke loer,
diep, diep in ’n donker bos
waar die varings welig diepgroen staan,
diep, diep in ’n donker bos,
in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar,
woon die Babalela.

Duisende Afrikaanse kleuters ken die betowerende openingsrefrein van Martie Preller se immergewilde, bekroonde Babalela-boeke. Meer as 70 000 eksemplare van die vorige titels in die reeks is verkoop, die Babalela-verhoogstuk het die land platgetoer en danksy ’n Babalela-pop, -vingerpoppe, -T-hemde en ’n Babalela-legkaart het dié pers bosbewonertjie diep in kinderharte gekruip.

In die nuutste Babalela-avontuur skrik die Babalela hom yskoud toe daar op ’n dag ’n nare gerammel in die bos is. Hy kan nie glo wat hy sien nie. Aan die rand van die bos dreun en grom ’n reuse-stootskraper. Soos ’n kwaai bul loop die stootskraper ’n klomp bome storm. Die bome knak, vou en val. Oral lê daar bome en bosse rond wat die stootskraper omgeruk het. As die Babalela en sy maats, Wrrrumpie, Meermoskat, Potifant, Knortand en die agt Fripperwakkies, nie vinnig ’n plan maak nie, gaan daar niks van hul geliefde bos oorbly nie!

Nog ’n heerlike Babalela-avontuur – met ’n belangrike boodskap oor natuurbewaring en die krag van vriende wat saamspan!

Onverklaarbaar
Jaco Jacobs
ISBN: 9780799362268
Prys: R120

Ontdek van die tergendste geheime waaroor mense al dekades lank kopkrap!

Die mensdom het ’n fassinasie met monsters. Van die eeue oue legendes oor dapper ridders wat vuurspuwende drake verslaan, tot hedendaagse rillerflieks oor weerwolwe en vampiere.

En selfs al het die moderne wetenskap oor die jare logiese verklarings vir baie van hierdie mites en legendes gevind, bly sommige verskynsels steeds ’n raaisel ...

Stappers in die Himalajas ontdek reuse-voetspore wat dalk aan ’n onbekende aapmens behoort.

Twee kinders neem foto’s van feetjies in hul tuin.

’n Dokter beweer hy het ’n vreemde monster in Loch Ness opgemerk – en hy het foto’s om dit te bewys.

’n Karooboer sien ruimtewesens op sy plaas.

Die bemanning van ’n skip sien ’n seemonster naby Kaapstad.

’n Spookmeisie gooi duim op die pad na Uniondale.

Is daar logiese verklarings vir hierdie tergende raaisels ... of is dit bloot ONVERKLAARBAAR?

Hierdie boek beweer glad nie dat daar regtig iets soos weerwolwe of zombies of ander vreemde verskynsels is nie. Maar dit is nogtans interessant om uit te vind waar die bangmaakstories, soos van mense wat snags in wolwe verander, vandaan kom, of hoe die zombies wat ons deesdae in flieks sien, oor die jare verander het.

So, maak gereed om van aangesig tot aangesig te kom met die mites en monsters wat al eeue lank mense laat kopkrap en hulle die skrik op die lyf jaag ...

Met volkleur illustrasies deur Chris Venter.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top