Melvyn Whitebooi en Jakes Gerwel

  • 0

Afrikaanssprekendes, veral bruin mense, behoort elke jaar in November besieling te put uit die mooi en inspirerende lewensverhale van twee besonderse lede van die swart Afrikaansskrywende gemeenskap.

Ironies genoeg het Jakes Gerwel (66) en Melvin Whitebooi (55) albei in Novembermaand gesterf. Gerwel het verlede jaar na ? hartoperasie gesterf en Melly, soos hy in die volksmond bekend gestaan het, het in 2011 by sy huis in die Kaap beswyk.

Albei dié here het ? ontuitwisbare bydrae tot die ontwikkeling en vestiging van swart Afrikaans gemaak. Dit was pas weer November en dus is dit gepas om terug te kyk en te besin oor die bydrae wat hulle gelewer het.

Gerwel en Melly was plat-op-die-aarde-mense en sou nie juis daarvan gehou het om in dié ruimte opgehemel te word nie. Hulle was ook ordentlike mense wat waardering sou toon, maar tog ook beskeie sou wees.

Die feit dat hulle albei ? nederige agtergrond gehad het, behoort baie mense te inspireer om die hoogste sport in die lewe te bereik.

Hierdie twee taalmanne was Oos-Kapenaars in murg en been wat, soos Madiba, aan dié provinsie ? goeie naam gegee het.

Ongelukkig is dit so dat die Oos-Kaap meer in die nuus is om verkeerde redes, maar Gerwel en Melly het hulle bande met dié provinsie nooit ontken nie. Inteendeel, hulle kan vandag voorgehou word as van die baie goeie seuns wat dié provinsie opgelewer het.

Melly kom uit die tydperk toe universiteitsopleiding – veral in die joernalistiek – nog ? absolute luukse vir niewittes was. Na ? ruk as fabriekswerker in Uitenhage het hy hom in die Kaap gaan vestig en sy joernalistieke loopbaan by Die Burger begin. Later word hy kunsredakteur van Rapport Metro, en in 2003 word hy ? stigter-redaksielid van Son.

Hy was dus deel van die era van die “ekstras” (oftewel bruin Afrikaanse koerante) van Die Burger en Rapport, en was altyd in voeling met sy lesers.

Nie net het Melly mense soos Jonathan Butler tot sterstatus geskryf nie, maar hy het baie bruin jongmense, my inkluis, geïnspireer om joernaliste te word. Sy skryfwerk en bekende rubriek “Pop met Melly” het talle bruin musikante tot bekendheid verhef.

Wanneer die geskiedenis van swart Afrikaanse joernalistiek eendag geskryf gaan word, moet Melly se naam prominent figureer. Hy was ook ? dramaturg en kortverhaalskrywer. Die eerste TV-reeks oor bruin mense, Die Allemans, was uit sy pen.

Dit is Zelda Jongbloed wat in 2012 op RSG gesê het dis ? jammerte dat die mediamaatskappy waarvoor Melly gewerk het, nooit erkenning aan hom gegee het nie.

Gerwel se naam is sinoniem met die debat oor nierassigheid in Afrikaans en die stryd teen apartheid in die 1980’s aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar hy rektor was.

Hy het UWK gevestig as die “intellectual home of the left” en het die universiteit se deure oopgegooi vir alle rasse. As direkteur-generaal van Madiba se presidentskantoor het hy gehelp met versoening en om die politieke oorgang suksesvol te bestuur.

Dit is die moeite werd om Jakes Gerwel en Melly se nalatenskap te eer.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top