In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Woensdag 20 November 2013
LitNet publiseer vandeesweek ‘n reeks van vyf artikels oor die sluipmoord op president John F Kennedy van die VSA net mooi 50 jaar gelede op 22 November 1963 in Dallas, Texas. Gister is onder meer vertel dat die Warren Kommissie van Ondersoek tot die gevolgtrekking gekom het dat Lee Harvey Oswald alleen vir die sluipmoord verantwoordelik was. Oor die jare heen is hierdie bevinding fel deur deskundiges van aansien gekritiseer. Dit is dus g’n wonder nie dat verskeie meningspeilings wat die afgelope drie, vier dekades uitgevoer is, daarop dui dat tot soveel as 75% van Amerikaners wat ondervra is, van mening is dat daar ‘n sameswering was om Kennedy te vermoor.
Die eerste punt van kritiek is teen wat as die kommissie se "single bullet theory" bekend staan. Jy sal onthou dat die polisie ongeveer 45 minute na die sluipmoord op Kennedy drie patroondoppies gevind het naby 'n venster op die sesde verdieping van die gebou van waar die president na bewering geskiet is. Kort daarna is 'n Italiaansvervaardigde geweer met 'n teleskoop ook in die gebou gevind. Dié drie patroondoppies het daartoe gelei dat die Warren-kommissie beslis het dat drie skote op die presidensiële voertuig gevuur is – ondanks verskeie getuieverklarings dat méér skote gehoor is.
Jy sal ook onthou dat die goewerneur van Texas, John Connally, saam met die president in die motor was. Ook hy is tydens die sluipmoord ernstig gewond. Net soos Kennedy is Connally in die Parkland-hospitaal opgeneem, waar 'n noodoperasie op hom uitgevoer is. 'n Rukkie nadat hy in die hospitaal opgeneem is, het iemand 'n byna volmaakte koeël op die einste hospitaaltrollie waarmee die goewerneur uit die motor na die traumakamer geneem is, aangetref. Hierdie koeël is forensies ondersoek en daar is bevind dat dit afgevuur is deur die geweer wat ná die sluipmoord op die sesde verdieping van die gebou gevind is. Die eienaar daarvan was Lee Harvey Oswald.
Kennedy is deur twee skote getref. Die eerste, het die kommissie bevind, het hom in die nek getref, het sy nekwerwels rakelings gemis en is by sy keel uit – presies teenoor sy dasknoop. Die tweede skoot, 'n paar sekondes ná die eerste, was die dodelike kopskoot wat 'n groot gedeelte van die president se brein vernietig het.
Connally, wat voor die president in die presidensiële ampsmotor gesit het, is van agter getref. Die koeël het sy regterskouer naby die armholte binnegegaan, waarna dit die vyfde rib aan die regterkant van sy borskas vergruis het. Vervolgens het dit sy regterpols vergruis en 'n wond aan sy linkerbobeen gelaat. Al dié beserings is deur 'n enkele koeël veroorsaak en volgens die kommissie was dit daardie einste koeël wat op die goewerneur se trollie by die Parkland-hospitaal gevind is.
In die lig van die aansienlike skade wat aan Connally se liggaam aangerig is, is kenners van mening dat daardie koeël wat op sy hospitaaltrollie gevind is, onmoontlik steeds in so 'n haas ongeskonde toestand kon gewees het.
Opsommend: daar was dus drie koeëlwonde aan Connally en die president saam. By Kennedy was daar die nek- en keelwond wat deur een koeël veroorsaak is, asook die massiewe kopwond wat deur 'n tweede veroorsaak is. By Connally was daar die beserings wat ek so pas beskryf het en wat ook deur ‘n enkele koeël veroorsaak is. Dit klop met die drie patroondoppies wat op die sesde verdieping van die gebou gevind is.
Daar is egter ‘n lastigheid: 'n dérde persoon is tydens die skietery gewond, hoewel hy nie eens naby die presidensiële motor was nie. Sy naam is James Thomas Tague, wat kort voor die skietery met sy motor op pad na Dallas se middestad was. Hy was besig om in die teenoorgestelde rigting as die president te ry toe hy net buite die spoorwegbrug waarheen die president se motor op pad was, deur verkeersmanne voorgekeer is. Hy moes eers wag vir die president se voertuig om verby te gaan. Tague het uitgeklim en op 'n beton-middelmannetjie gaan staan. Van daar af sou hy 'n goeie uitsig hê op die president se motor wanneer dit sou verbykom. Tydens die skietery het 'n koeël 'n randsteen baie naby die plek waar Tague gestaan het, getref. ‘n Stuk beton het opgeskiet en Tague teen sy regterwang getref, net regs van sy neus. Die wond het vryelik gebloei.
As dié koeël afkomstig was van die sesde verdieping van die gebou, dan beteken dit dat één van die drie koeëls wat afgevuur is, heeltemal skadeloos óór die president se motor moes getrek het ten einde die randsteen op daardie besondere plek te tref. Dit het 'n aansienlike probleem vir die Warren-kommissie veroorsaak. Die drie patroondoppies wat op die sesde verdieping van die gebou gevind is, het geklop met die drie koeëlwonde wat Kennedy en Connally opgedoen het. Maar as een van Oswald se skote heeltemal mis was, is die onvermydelike gevolgtrekking dan dat die drie wonde aan Kennedy en Connally deur slegs twéé koeëls veroorsaak kon gewees het. Dit is ook presies wat die kommissie bevind het. Die eerste koeël, wat Kennedy in die nek getref het, is by sy keel uit, het sy dasknoop deurboor en daarna die vermelde ernstige skade aan Connally se liggaam aangerig. Boonop was dit die énigste koeël wat forensies met die beweerde moordwapen verbind kon word. “Baie gerieflik,” meen kritici van die Warren-kommissie se bevinding dat Oswald die alleen-moordenaar was.
‘n Moontlike probleem met hierdie bevinding van die kommissie is dat dié koeël, nadat dit by Kennedy se keel uit is, as't ware in die lug bollemakiesie moes slaan ten einde so skerp afwaarts by Connally se regterskouer te kon ingaan. Dalk onthou jy hoe Oliver Stone in sy bekende rolprent JFK hierdie teorie selfs as lagwekkend afgemaak het. Onlangse rekenaargedrewe rekonstruksies van die sluipmoord werp egter ‘n ander lig op die enkelkoeël-teorie: dalk het Connally nie presies voor Kennedy in die motor gesit nie, en was sy opslaan-sitplek daarby ook laer as dié van die president (wie se sitplek hoër gestel kon word as die Lincoln se koepeldak verwyder is). So gesien, kón die twee mans bes moontlik wel deur een en dieselfde koeël getref gewees het. Maar dat dié koeël daarna nog steeds haas ongeskonde op ‘n hospitaaltrollie opgeduik het, is darem dik vir ‘n daalder, kap die skeptici terug.
'n Laaste punt: die Warren-kommissie het bevind dat die drie skote na die presidensiële voertuig ál drie binne 'n tydsbestek van tussen 4,8 en 7,9 sekondes afgevuur is. Die geweer wat na bewering gebruik is, was 'n gewone meganiese slot-tipe geweer en Oswald was maar 'n vrotterige skut. Nogtans was twee van die drie skote wat hy sou afgevuur het volgens die kommissie voltreffers. G’n wonder nie dat die Warren-kommissie se bevinding dat slegs drie skote geskiet is (al drie deur Oswald) steeds fel gekritiseer word. Daar is net eenvoudig te veel onbeantwoorde vrae. Daarom gryp mense na 'n ander teorie: daar was méér as drie skote en dit het uit verskillende rigtings gekom. Dus: daar was 'n sameswering om Kennedy te vermoor.
Môre dus meer oor die teorie dat daar uit verskillende rigtings op die president geskiet is.
Lees die res van die artikels in die reeks:
- JFK 50 Jaar: Maandag
- JFK 50 Jaar: Dinsdag
- JFK 50 Jaar: Woensdag
- JFK 50 Jaar: Donderdag
JFK 50 Jaar: Vrydag
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

