![]() |
|
Andrew Buckland, Laugh the Buffalo (Foto: Oscar O’Ryan)
|
Dit was drie jaar laas dat Kapenaars Andrew Buckland op die verhoog kon sien. Hy keer terug met sy nuutste solo-werk, Laugh the Buffalo, nadat hy in Julie die Standard Bank Standing Ovation-toekenning by die Nasionale Kunstefees ontvang het om sy reuse-bydrae tot die teaterbedryf te huldig.
En wanneer hy op die verhoog kom in sy frokkie en kortbroek, met net ’n toiletsitplek – met horings nogal – as dekor en hulpmiddel, skuif jy reg vir 60 minute van lekker lag – Buckland-styl. Wat dié internasionale kunstenaar nie met sy lyf kan aanvang nie, moet nog uitgevind word. Voor jou oë wissel hy van geheime agent tot patetiese figuur tot buffel, en so tussendeur is hy verskeie ander kleiner karakters.
Die verhaal loop so: ’n geheime agent van die veiligheidspolisie moet deur ’n strawwe 10-dag-kamp gaan om sy talente en sintuie op te skerp, terwyl hy hoogs vertroulike inligting moet beskerm om ’n skandaal van korrupsie aan die kaak te stel. Hy soek die verklikker, en so tussen 14 ander mense op die kamp ontvou een snaakse insident na die ander. Dié agent is nie noodwendig die skerpste potlood in die blikkie nie en sy gevroetel in meditasieklasse, sy te veel vrae wanneer hy eintlik moet stilbly, en sy opmerkings oor sy klasmaats laat die gehoor skaterlag.
Sy vertolking van die hoof van die agentskap, mnr Niati, wat deur ’n buffel voorgestel word, is so oortuigend dat jy jou amper kan verbeel jy sien die man met die diep stem op die verhoog.
Buckland steek die draak met die regering, mense se liggelowigheid, die polemiek rondom die beskerming – of nie – van nasionale intelligensie en die geykte terme wat politici gebruik om intelligent te klink en voor te gee hulle tree in belang van landsburgers op. Sy lyf word fisies al die karakters met mimiek, fisiese teater, byklanke en humor.
As jy nie lus is om te dink nie, kom sit net agteroor en gee jou oor aan die fenomeen van Andrew Buckland se fisiese teater. As jy lus is vir baie dink oor die politiek van die dag, laat toe dat hy jou wys hoe lagwekkend baie van die politici se besluite is.
Buckland is al vir meer as drie dekades deel van vernuwende teater-ontwikkeling, met ondervinding as kunstenaar, skrywer en opvoeder in die teater, televisie en film. Sy oorspronklike teaterstukke het altesaam 20 nasionale en internasionale toekennings ingepalm. Hieronder is drie Scotsman Fringe First-toekennings van die Edinburgh-fees, ’n Standard Bank Young Artist-toekenning, ’n Silver Ovation-toekenning, en verskeie Fleur du Cap-, Naledi- en Vita-toekennings. Behalwe al sy oorspronklike tekste en optredes, het hy die rol van Sgt Pepper in Cirque du Soleil se Love-produksie vertolk en is sedert 1980 dramadosent by Rhodes Universiteit, waar hy nou adjunkprofessor is.
Laugh the Buffalo
Met: Andrew Buckland
Deur: Andrew Buckland
Regie: Janet Buckland
Golden Arrow Studio, Baxter-sentrum
16 Oktober tot 30 November 2013
Kaartjies van R100 tot R150 deur Computicket 0861 915 8000; aanlyn www.computicket.com; of enige Shoprite Checkers-takke.


