Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns veroordeel geweld op kampusse

  • 0

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is ernstig besorg oor die huidige vlaag van redelose geweld op kampusse en die skadelike uitwerking daarvan op gehalteonderrig en navorsing in die nasionale tersiêre opvoedingsektor. Geen Suid-Afrikaner, van watter kultuur, religie of politieke oortuiging ook al, ook die mopoproeriges, het belang by die aftakeling van ons universiteite nie, aldus die Akademie.  Sinnelose eise wat volgens berigte deur groepe ten koste van Afrikaans as onderrigtaal en administratiewe taal gestel word, is klaarblyklik polities geïnspireer en alle aanduidings is daar dat rassisme (antiblank) ’n onderliggende faktor in die konflik is.  Dit getuig ook van totale onkunde oor Afrikaans as taal wat deur ’n meerderheid niewit Suid-Afrikaners gebesig word.  Byna 7 miljoen Suid-Afrikaners is moedertaalsprekers van Afrikaans en miljoene Suid-Afrikaners gebruik Afrikaans in die werkplek as tweede of derde taal. Dit lyk of Afrikaans gebruik word as slaansak om ander doelwitte te bereik.

’n Dringende beroep word op leiers van alle politieke partye gedoen om hulle faksies tot orde te roep en te sorg dat ’n kosbare bate – die tersiêre opvoedingsektor in Suid-Afrika – sy status van uitnemendheid in landsbelang behou.  Die Regering van die dag, by name die Minister van Hoër Onderwys, moet in hierdie geval sy magte gebruik en ’n sterk standpunt inneem en nie toelaat dat universiteitskampusse letterlik slagvelde vir ideologieë word nie.  Die SA Akademie besef dat besture van universiteite, by name die rektore, onder geweldige druk verkeer en nie in werklikheid toegerus is om bogenoemde konfliksituasies te hanteer nie. Daarom is dit des te meer die Regering se taak en plig om dissiplinêr in nasionale belang op te tree.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top