Zuma se fees van die ontplooides

  • 2

Dit is makliker vir president Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe om sy land uit ’n politieke penarie te red as wat dit vir Cyril Ramaphosa gaan wees om Suid-Afrika reg te ruk.

Ramaphosa sit opgeskeep met ’n swetterjoel van Zuma se ontplooide kaders in magsposisies van wie hy nie sommer oornag kan ontslae raak nie, al wil hy. 

So het die politieke wetenskaplike Willie Breytenbach Ramaphosa se uitdaging vir die land se toekoms opgesom nadat die ANC aangekondig het hulle gaan Zuma herroep.

Breytenbach het by ’n byeenkoms van die gespreksgroep DINK in Somerset-Wes reageer op die politieke magsverskuiwing wat die afgelope week in die ANC plaasgevind het.

Breytenbach sê die afgelope twee maande se gebeure in die Suid-Afrikaanse politiek was geensins ’n magsoordrag soos wat daar in 1994 was nie, maar bloot ’n magsverskuiwing.

Hy het gesê as hy kon kies sou hy eerder in Mnangagwa se skoene wou staan as in Ramaphosa s’n. Die rede daarvoor is omdat Suid-Afrika se grondwet wigte en teenwigte het wat keer dat die staatshoof nie mense kan hiet en gebied soos hy wil nie.

Dit is nie noodwendig sleg vir die land nie. Uit ’n politieke oogpunt is dit egter moeiliker vir Ramaphosa om vinnige besluite te neem as vir Mnangagwa wat nie aan dieselfde grondwetlike beginsels as Ramaphosa gebonde is nie.

Anders as Zuma ken Ramaphosa die land se grondwet beter as baie grondwetkenners omdat hy self ’n reusebydrae gehad het aan die skryf daarvan. Hy weet presies wat daarin staan en hoe om sy doelwitte binne die grondwetlike raamwerk te bereik.

Op die lang duur is Ramaphosa goeie nuus vir Suid-Afrika as hy sy doelwit kan bereik. Breytenbach het Zuma beskryf as “the last rural man” wat Suid-Afrika sal regeer teenoor Ramaphosa wat “the first urban man” is wat Suid-Afrika sedert 1994 sal regeer. Vir middelklas Suid-Afrikaners is dit goeie nuus ongeag aan watter ras hul behoort.

Dit is ook goeie nuus vir die land omdat dit ’n onderskeid tref tussen mag en gesag. Zuma het gesag aan sy kant gehad en het soos ’n stamhoof, aan wie al die gesag behoort, regeer. Ramaphosa weet aan die ander kant hoe om mag te bekom deur middel van fyn onderhandelings. Hy beroep hom nie op dieselfde tipe stamgesag waarop Zuma hom beroep nie, maar op die land se grondwet wat hy self help skryf het.

Een van Ramaphosa se hoofpyne is dat talle van Zuma se ontplooides nog steeds in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee dien. Met verwysing na PG du Plessis se boek, Fees van die ongenooides, wat handel oor die Anglo-Boereoorlog, noem Breytenbach die ANC se huidige NUK die fees van die ontplooides. Hy sê talle van Zuma se ontplooides dien steeds in die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam, naamlik die NUK. Dit sluit ministers, direkteur-generaals van staatsdepartemente en verskeie ander invloedryke mense in semi-staatsinstansies in wat hulle posisies danksy Zuma bekom het. Dit is nie so maklik om oornag van hulle ontslae ter raak nie. Hulle is almal deel van die fees van ongenooides wat Ramaphosa eintlik nie daar wil hê nie. Die probleem is dat daar nie binne ’n maand of twee van Zuma se “ontplooides” ontslae geraak kan word nie.

Breytenbach voorspel dat die ANC onder Ramaphosa se bewind aansienlik beter by die stembus sal vaar in volgende jaar se verkiesing as wat die geval sal wees indien die ANC nie van Zuma ontslae kan raak nie.

Hy het Suid-Afrikaners wat vrees die ANC gaan na die ANC se Desemberkonferensie hot en haar grond sonder vergoeding onteien gerusgestel. Volgens Breytenbach is die kanse dat dit sal gebeur omtrent nul. Hy sê Ramaphosa het duidelik met twee kampe in sy  party te doen. Onteiening van grond sonder vergoeding is een van die laaste dinge waaroor Suid-Afrikaners op die oomblik oor wakker hoef te lê. Lees maar net verder as die komma na Ramaphosa se uitspraak daaroor, het hy gesê. Grondonteiening sal nie geskied as dit voedselsekuriteit en ekonomiese groei benadeel nie. Dit sê volgens Breytenbach alles wat die vrese vir grondvergrype hoef te besweer omdat Ramaphosa graag die ekonomie wil sien groei en verseker dat daar voedselsekuriteit in die land is.

  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Die magspendulum in SA wentel tusen Afrika en Europa in sy onderliggende "kultuur" en is nou weer oor aan die Europese kant. Maar hy sal waarskynlik weer sy pad oorkant toe vind.

    Soos dit maar in Afrika gebeur die laaste 70 jaar.

  • Die vraag is, gaan Ramaphosa byval vind by die gewone mens in die straat?
    Hy en 'n aantal blankes het immers onder Mbeki se gear-beleid feitlik oornag
    biljoenêrs geword.
    Hy is tans na beraming blykbaar 451miljoen US$ werd. Glad nie sleg vir 'n man wat die mikrofoon vasgehou het tydens Mandela se eerste toespraak in Kaapstad, na sy vrylating.
    Dit is moontlik om die rede dat hy daarvan beskuldig word, dat hy eers deel van die 'struggle' was, dit verlaat het om ryk te word, en nou weer in die 'struggle' is.
    Maar soos een Comrade opgemerk het, hulle het nie 'gestruggle' om arm te bly nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top