Wonderlus
Regie: Johan Cronje
Met: Lea Vivier, Edwin van der Walt en Mila Guy
2017 het reeds ongelooflike Suid-Afrikaanse films opgelewer. 2018 lyk nog meer opwindend. Een van die hoogtepunte gaan vir seker Wonderlus wees. Dit gaan interessant wees om te sien wat Suid-Afrikaanse gehore daarmee maak. ’n Paar tannies gaan omgekrap wees, dit is vir seker.
Regisseur Johan Cronje het brawe keuses gemaak – van die openingstoneel waar karakters wakker word langs vreemde mense, tussen die sonneblomme, in karre, op buffettafels, almal babelas, tot die verbysterende slottoneel, wat ek vir geen geld of goeie wyn sal verklap nie.
Die dialoog verras. Dit is hoe Afrikaanssprekende mense werklik praat; dit is onderwerpe waaroor mense werklik baklei. Die bakleiery tussen Lindie en Ruan is die tipe bakleiery wat ek al gehad het, wat jy al gehad het – daardie bakleiery oor alledaagse, simpel goed wat so belangrik vir ons word om onsself te beskerm. Dus, alhoewel die film ongelooflik snaaks is met tye, het Cronje nie ’n greintjie diepte prysgegee nie. Hy bly ook nie aan die veilige kant soos byvoorbeeld Vuil wasgoed nie. Die seks en naaktheid getuig daarvan. Die toneel tussen die kelnerin (Lea Vivier) en Pietie (Edwin van der Walt) is veral sexy en rou, maar noodsaaklik vir die film se narratief. Kyk uit vir Lea Vivier. Sy het nie verniet Beste Aktrise by die 2017-Silwerskermfees gewen nie.
Die kamerawerk is 90% van die tyd besonders. Die BMW in die sonneblomveld sal my lank bybly as een van die mooiste landskappe wat nog op film vasgevang is. (Ek wil graag weet waar hul sulke perfekte blomme gekry het.) Waar die drie vriende teen die einde van die film in die veld sit, het ook ’n indruk gemaak.
Beer Adriaanse en trawante sorg vir ’n gemaklike vloei van humor, menslikheid en gepeperde dialoog. Beer self gaan vir lank onthou word vir dié wenner: “Tiete is ons troosprys.”
Mila Guy moet uitgesonder word. Sy verleen ’n weerloosheid aan die bruid waarsonder die karakter dalk koud en gewetenloos sou voorkom. Welgedaan.
Wanneer jy die film kyk, voel dit asof die regisseur ’n sekere vryheid aan die akteurs gegee het om te ontspan en bloot te gesels. Ek dink aan die toneel by die dam waar die kelnerin en Pieter sit en gesels. Dit voel nie gejaag nie; dit voel nie asof elke skoot presies beplan en georkestreer is om by die begroting en tydlyn in te pas nie. Dit verleen ’n ontspanne, maar innemende kwaliteit aan die film.
Ek hou duim vas dat Wonderlus goed vaar by die loket sodat meer sulke films vervaardig kan word en die akteurs, regisseurs en produksiespanne boonop goed betaal kan word.


Kommentaar
Goeiemiddag,
Ek wil graag weet wat is die liedjie se naam wat speel tydens die lokprent.
Byvoorbaat dank.
Hi. "December" deur Yesterday's Pupil, sê regisseur, Johan Cronje.
Ek het die prent baie geniet! Net een punt van kritiek: dialoog tussen karakters, by meer as een geleentheid, was soms pynlik lank! Goeie redigering kon die fliek met 15 minute verkort het. OK, daar was toe nie skinny dipping in die plaasdam nie - meer konserwatief in modieuse onderklere!
Los die tannies uit - dis moeg, verbeeldingloos en lui; dis in elk geval "tannies" wat die Afrikaanse kultuuraanbod met hul ondersteuning aan die gang hou ...
Ek het die fliek baie geniet. Ten minste word die Here se naam nie gebruik nie. Dit is 'n groot pluspunt.
Ek is op soek na al die fliek se liedjies, kan iemand my asb help daarmee?
Ek dink Volumes (Yesterday's Pupil REMIX) is een. Ek sukkel ook om die liedjies te kry.
Ek het die film baie geniet, alles was miskien dalk nie perfek nie, maar liefdestonele beslis beste in Afrikaanse films sover. Die duidelikheid van die klank was volgens my nie te goed nie.
Ek het dit baie geniet. Goeie fliek. Ek is op soek na die liedjies van die fliek? Ek het klaar volumes. Soek die res. Kan iemand help asb?
I absolutely loved!!!! The movie x
Can you please help me with one of the songs x
The song playing while they are saying their I do's x
Ek is uiters geskok dat ons so laag moet daal om ‘n goeie resensie te kry! As dit die vlak is waarheen goeie akteurs moet daal, sal ek liewer nie weer na Johan Cronjé se gevloek en gesuip kyk nie. Dit was skokkend! Ek verstom my dat mense so baie lelike woorde in een sin kan gebruik en ek sal maar eerder ‘n Amerikaanse fliek kyk as om sulke gemors te kyk.
Briljante movie. Na aanleiding van die publisiteit wat die naaktonele in hierdie film en in Desert Rose in die media ontvang het, net die volgende: Dit is sinvol en dra by tot die "verhaal" in die produksie. Naaktheid was nog nooit 'n probleem nie en regiseurs doen dit goed en stylvol. Antoinette Kellerman was die eerste Afrkaanse aktrise wat naak in 'n film opgetree het, in 1927. Sedertdien is daar baie wat stylvol optree. Daar is oor die honderd Suid-Afrikaanse aktrises wat naak in TV-reekse/films optree. Kyk gerus na die volgende en kom meer te wete oor Afikaanse aktrises in naaktonele:
https://afrikaansefilms.blogspot.com/
https://southafricanactress.blogspot.com/
https://blacksailssouthafrica.blogspot.com/
https://southafricanmovies.blogspot.com/
https://afrikaansemoviesnaak.blogspot.com/
https://sepiessterregewaagd.blogspot.com/
https://akrisesgewaagdlinks.blogspot.com/
Geniet.
Genoemde bladsye is nie meer beskikbaar nie. Besoek egter gerus die volgende - en geniet.