Tien vrae: Willem Anker oor die boek Samsa-masjien

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Willem Anker oor Samsa-masjien

Willem, die drama Samsa-masjien, waarvan jy die teks geskryf het, is pas deur Protea in boekvorm uitgegee. Maar dis ’n drama en hierdie een is beslis geskryf vir ’n verhoog (of twee). Moes jy iets aan die teks verander om dit geskik te maak vir publikasie?

Ek en die redakteur, Danél Hanekom, het probeer om ’n formaat te vind wat die teks oral maklik leesbaar maak. Die teks was tot nou toe meestal net gebruik deur mense wat betrokke was by die produksie, so in baie gevalle was net halwe woorde nodig as dit gekom het by die aanwysings. Omdat sommige tonele gelyk afspeel, moes ons ter wille van leesbaarheid soms aanpassings maak in die manier waarop die toneelaanwysings werk. Op een plek waar daar byvoorbeeld twee gesprekke gelyktydig plaasvind, het ons die bladsy in twee gedeel en die twee gesprekke langs mekaar geplaas. Omdat die stuk op twee vlakke en in drie vertrekke gespeel word en daar met die verloop van die stuk toenemend tonele op dieselfde tyd maar in verskillende ruimtes afspeel, moes ons vir die gepubliseerde teks seker maak dat dit altyd duidelik is wie waar is. Behalwe om die verhoogaanwysings en formatering soms effe aan te pas, het ek nie veel aan die dialoog verander nie – die opvoer van ’n verhoogteks is gewoonlik die dialoog se strengste toets.

Wat is die agtergrond van die toneelstuk – was dit in opdrag van ’n fees, of het Kafka jou geïnspireer en toe konseptualiseer jy en Jaco Bouwer die werk as verwerking van sy Verwandlung, of wat was die proses?

Ek en Jaco het reeds in 2009 begin praat oor idees wat later sou muteer tot Samsa-masjien. Jaco wou ’n stuk maak wat handel oor insekte waarin hy kon speel met beweging en lig. Die aanvanklike plan was om ’n stukkie teks te skryf van ’n bladsy of minder wat herhaal en opgebreek kon word om elke keer iets anders te kan beteken. Hoe meer idees bygekom het, hoe meer het ons gevoel dat ons ’n narratief nodig het om aan die abstraksies vashaakplek in die regte egte wêreld van ’n storie te gee. As mens werk met idees oor menslikheid en insekte, dan is dit nie lank voor mens maar weer Kafka gaan lees nie. Ná ek ’n eerste weergawe van die teks voltooi het in 2011, het ons die komponis Pierre-Henri Wicomb genader en het hy begin werk aan musiek vir die stuk. Ons moes egter tot 2014 aanhou voorleggings skryf en instuur tot ’n kunstefees uiteindelik gebyt het aan ons goggas. Daarvoor sê ons baie dankie vir Theo Kemp en die KKNK.

Het jy Kafka in Engels of in Duits gelees, en maak dit saak vir doeleindes van wat jy gedoen het?

Ek het Die metamorfose in Engels gelees, maar eintlik meer óór die teks gelees, en ook gekyk hoe andere, soos Berkoff, Kafka verhoog toe bring. Kafka was ’n wegspringplek, maar die verhaal van Samsa-masjien het gou sy eie loop geneem. Die hoop is dat dit iets onafhanklik is wat gelees kan word met of sonder enige kennis van Kafka of enige ander skrywer wat saampraat in teks.

Daar is twee pare in die teks. Watter een van die karakters is die meeste soos jy? Of dan: Watter een roer jou die meeste?

Ek herken nie veel van myself in enige van die karakters nie, maar soos die ouerpaar, Gregor en Josefine, verkies ek ’n geraasmasjien bo small talk. Die verhaal fokus op hulle verhouding en my simpatie lê miskien meer by hulle.

Gedeeltes van die teks is nie teks nie. Hoe nou gemaak, in ’n boek?

Ons het die musiek van Pierre-Henri ingesluit op ’n CD wat agterin die boek lê en wag om kliphard geluister te word, asook ’n hele paar foto’s uit die produksie, sodat die lesers ’n idee kan kry van die stel en die aksie op die verhoog.

Die mens is chaos. Die mens is ’n insek. Die insek is die mees intelligente wese wat bestaan, en oorleef tyd. Wat kan jy nog teenoor potensiële lesers verklap?

Hopelik word dit ook gelees as bloot ’n storie oor twee mense wat op hul oudag weer leer speel.

Ek het gevra oor die klank in ’n gedrukte boek. Maar hoe lyk daardie drama, met sy unieke ... gebeurtenisse en ruimtes in ’n boek? Beskryf mens breedvoerig, hou mens dit kort, of is die leser se verbeelding nou ’n verdere karakter wat intree en alles deurmekaarkrap?

Ek het probeer om die aanwysings so bondig maar so duidelik as moontlik te maak. Ek wou die gepubliseerde teks nie te voorskriftelik maak vir enige moontlike volgende produksie of die leser se verbeelding nie. Die hoop is dat elke leser ook haar eie teaterstuk in haar geestesoog sal sien afspeel.

Is die boek bedoel vir lees of is dit bedoel om ’n toneelteks te argiveer sodat mense dit nou elders kan opvoer?

Ek hoop dat die publikasie op drie maniere sal werk: eerstens, dat dit gelees word, tweedens, dat dit beskikbaar sal wees vir volgende produksies, maar derdens ook definitief om te dien as ’n tipe argief van hierdie spesifieke produksie. Dit is hoekom ons die CD en die foto’s ingesluit het.

Ons almal in ons kommersiële sisteem met ons blink eetgerei: Hoe paradoksaal en hoe noodsaaklik is die uitgewersbedryf en die uitgee van hierdie boek, spesifiek, vir jou – ten spyte van, as gevolg van?

Uitgewers soos Protea verdien groot lof daarvoor dat hulle nog hoegenaamd dramas uitgee. Dit is iets wat nie juis geld vir hulle inbring nie. Om ’n dramateks te kan publiseer is ’n belangrike manier om die drama te laat voortleef na die kortstondige lewe van die produksie self. Dit is in hierdie geval vir my baie spesiaal dat Protea ingewillig het om Pierre-Henri se musiek en die foto’s van die stel en akteurs in te sluit. Ek en Jaco en Pierre-Henri was vir byna vyf jaar aan die praat en werk met hierdie storie, dus is dit vir my mooi dat daar nou iets tasbaar van hierdie proses behoue sal bly: die teks is gepubliseer, die musiek is op CD beskikbaar as ’n onafhanklike album en benewens die foto’s in die boek wat sy ontwerp wys, het Jaco ook onlangs ’n film van die stuk voltooi (soos hy ook gedoen het in die gevalle van Rooiland en Balbesit).

Besoek Protea Boekhuis vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top