PG du Plessis (1934–2017)

  • 3

Gebore en getoë

Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1934 op Boshof in die Vrystaat gebore. Sy pa was vir 40 jaar onderwyser in Engels in die Vrystaat.

Pieter, soos hy verkies om genoem te word, gaan skool op Cornelia in die Vrystaat en Heidelberg in Gauteng, waar hy aan die Hoër Volkskool matrikuleer. Sy liefde vir Afrikaans begin by sy ma, wat Afrikaans baie goed gepraat het. Sy onderwyser-pa leer hom lees – goed en wyd: “Ons het elke aand gaan stap en hy sou sommer skielik oor ’n karakter uit Dickens begin praat tot hy my so nuuskierig gehad het dat ek die goed self gaan lees het. Hy het my Calvyn laat lees omdat hy moeg was vir al die verd... Calviniste wat Calvyn nie gelees het nie.”

Verdere studie en werk

Na matriek is Pieter na die Universiteit van Pretoria vir sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en geskiedenis as hoofvakke. Hy behaal dit in 1955 en werk ’n tyd lank as klerk by die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie. In 1957 verwerf hy sy onderwysdiploma aan die Pretoriase Onderwyskollege en begin skoolhou aan die Hoërskool Fakkel in Johannesburg.

In 1960 behaal hy sy BA Honneursgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand. Na ’n jaar as lektor aan die Johannesburgse Onderwyskollege word hy aangestel as lektor in Afrikaans en Nederlands aan Wits. In 1968 word hy bevorder tot senior lektor. Intussen behaal hy in 1966 sy doktorsgraad met sy proefskrif “Die verwysing in die letterkunde” onder NP Van Wyk Louw.

In 1970 word Pieter by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) aangestel as direkteur van die nuutgestigte Instituut vir Taal, Lettere en Kuns. Een van die eerste ondernemings van die Instituut was ’n ondersoek na die stand van Afrikaans.

In Oktober 1974 word hy eindredakteur van Standpunte, totdat hy in 1976 uittree. In 1978 word hy assistentredakteur van Die Transvaler en later, in 1979, redakteur van Hoofstad. In Februarie 1983 verlaat hy die heeltydse diens van Perskor, uitgewer van Hoofstad, maar bly nog aan as medewerker.

By sy uittrede as redakteur van Hoofstad het Pieter onder andere die volgende gesê: "As jy jou agterstewe uit die redakteurstoel lig, verlaat jy nie net ’n stoel, ’n onmoontlike verantwoordelikheid, en jou maandelikse grasie nie. Jy verlaat ’n spesie. Joernaliste en koerantbesture, verspreidingsmense en advertensie-ouens is, net soos die bevolking van die fabriek, subspesies van ’n spesie wat seker so half beskryfbaar is as die koerant-subspesie van homo sapiens – êrens uit die stam van die primate.

"Maar lig jy daardie agterstewe, dan is dit minstens ’n ryker agterstewe as die een wat jy aanvanklik met meer idealisme as voorkennis in daardie einste stoel kom neersit het.

"Niemand kan die versamelbak van probleme wees, soveel by besture neul, soveel hande in die lug opgooi, en soveel met ministers en die balju te doen kry, en nie ’n beter mens wees as hy daar uitkom nie. Jy weet meer van dinge ná die tyd, want jy het daagliks gesien hoe die aktuele dinge in die oog van die gemeenskap leef, net om ewe vinnig te verdwyn – dis jou job om van die dinge te weet.

"Jy weet ook meer van mense: dié wat van hulle goeie naam en hulle publisiteitjie leef; dié wat die openbare lig vrees en dié wat daagliks, sommer êrens voor die noodlot, die geweld, die geheime begeertes van die binnekant, seerkry en seermaak, ondergaan en opstaan, strewe en ontken, sleg is en erken, en so voort.

"Mettertyd behoort jy tot die subspesie wat dalk té veel kennis het van die donker/ligte aard van die spesie. Jy sien hoe joernaliste dit verwerk: sinisme, te veel drank in Vegkop en Die Hoekie, te veel redelose planne vir die wegbreek, te veel maklike oplossings na vier doppe – so hier en daar gryp een ’n mistiek, ’n bygeloof en ’n geloof aan.

"Die probleem is: jy kry hulle lief, dié goed wat joernaliste heet. Want in hulle kennis, hulle storie-gejaag, hulle verwerking van die dinge wat hulle beleef, sit daar baie moois van wat menswees is: die sin van die rat race dood toe. En, jy kry ’n vertroue in hulle. Nie in wat hulle weer gaan aanvang nie, maar iets baie dieper: dis boys dié wat jou, as die werklike ellende kom – soos kanker, skandale, bankrotskap en die ouderdom – nie gaan drop nie. Dit is die grootste vertroue wat jy kan hê – om iemand met jou persoonlike magteloosheid, wanneer dit kom, te kan vertrou. Dit glo ek van joernaliste. Dié dat ek lief is vir die spul. Want net hulle oppervlakte is luid, skurf en sinies. Hulle professionele gevoelloosheid is masker.

"Ek sal ’n joernalis met my lewe vertrou, maar verdomp nie met môre se soberheid nie. Werk dit uit. Dit werk. Want dis ’n lewenswyse gepuur tot die dinge wat regtig saak maak.

"Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid, as daar dalk sukses is. Maar oor mý moet julle nie twyfel nie. Ook nie oor my liefde nie – soos julle my, so sal ek julle nie drop nie. En as ek nie meer verder kan nie, gaan ek julle kom roep om te kom help. Nie die skynheiliges buite in die establishment nie. Julle. En julle kan mý ook maar roep. Want iets van julle dieper lewenswysheid het ek wel opgetel.

"Vir my opvolger het ek raad. Vertrou joernaliste met jou lewe. Maar nie met jou vrou/meisie/dogter of jou geld nie! Maar met jou lewe wel!" (http://mediamense.co.za)

Pieter is getroud met Marie, dogter van die skoolhoof van die Hoërskool Fakkel waar hy onderwys gegee het, en die egpaar het twee kinders, Frits en Marieta, en vyf kleinkinders.

Pieter debuteer in 1969 met die drama Die nag van Legio. Die karakters in die drama is almal geestelik versteurd en die handeling word in een nag voltrek. Hierdie drama besorg saam met Siener in die suburbs aan Pieter die Hertzogprys in 1972. Dit word ook in 1970 met die WA Hofmeyr-prys bekroon. In 1990 word die stuk op versoek van die destydse Sukovs deur Pieter aangepas vir vrouespelers. Die dramastudente van die Universiteit Stellenbosch bring ook hierdie weergawe in 1991 op die planke.

Oor Die nag van Legio het Temple Hauptfleisch (Die Burger, 13 Mei 1991) geskryf dat ’n mens hierdie drama uit die perspektief van twee "vreemde verskynsels" moet beskou: "’n Mens moet eers ’n vinnige draai gooi by Calvyn: die herrie rondom die Afrikaner, sy gewete en sy Calvinisme loop soos ’n leitmotiv deur die geskiedenis van die Afrikaanse drama. Die konfrontasies oor die jare met hierdie vreemde wese in ons midde strek van naïef en enkelvoudig (veral in studente- en 'protes'-teater), tot kompleks en verdoemend in die ryper werke van die gevestigde dramaturge. Maar interessant genoeg kom een van die mees fundamentele pogings om iets van die kompleksiteit en obsessionele mag van die religieuse ervaring te ondersoek, voor in ’n oënskynlik vreemde gedaante: dié van ’n drama oor duiwelsaanbidding. Nag van Legio praat oor ’n menigte dinge – die mooi, demokratiese beginsels van eensgesindheid en naastediens, van laer trek en saamstaan, van die vyand daar buite, van eendrag wat mag maak, van kragdadigheid wat alles oorkom, en so aan – maar vanuit Beëlsebul se perspektief. Dis sekerlik een van die meesterwerke van die moderne Afrikaanse teater, en tog: wanneer laas is dié stuk professioneel opgevoer (benewens ’n SUKOVS-aanbieding van die vroue-teks verlede jaar) – ten spyte van die oënskynlike relevansie van die tema vir ons vandag?

"Amnesie – Dit is vir my ’n eerste 'vreemde verskynsel' – in die tydelike amnesie wat ons kunste getref het tydens die worsteling van die 'struggle', het ons skynbaar die rug op die kanon van Afrikaanse dramatekste gedraai, om ten alle koste 'oorspronklikheid', betrokkenheid en jeug na te jaag. As gevolg hiervan het baie van ons toneeltekste (noodgedwonge) rak toe gegaan om stof te vergaar. In heelparty van die gevalle is dit moontlik ook maar goed so, aangesien van die werk duidelik tot ’n verbygaande era behoort. Maar daar is ook ander wat gewis tot ons verlies agter gelaat is, werke wat nie omgaan met trivia nie.

"Een hiervan is juis, glo ek, Nag van Legio. Die sentrale kwessies wat hierdie stuk opper – waaronder massahisterie en (demoniese) besitname, magspel en manipulasie, en die onderwerping van die individu – tel onder die mees relevante temas vir die ’nuwe' wêreld wat ons almal nou moet betree.

"Onvermoë – ’n Tweede 'verskynsel' wat my pla, is die onwilligheid en/of onvermoë van soveel kritici en teatermense om by die lees van ’n toneelteks by die woord op papier verby te kyk. En gaan jy met PG du Plessis om, moet jy juis daardie vermoë besit – of dit aankweek. Die aankoms van PG du Plessis op die Suid-Afrikaanse teatertoneel op 27 Augustus 1969 was miskien nie heeltemal so formidabel-boos soos dié van sy Dogoman nie, maar daar is min twyfel dat sy invloed op die Afrikaanse toneel ingrypend was. En kontroversieel. Vandag – na twee dekades van 'alternatiewe' en ander ’nie-literêre' vorme van teater – is dit byvoorbeeld moeilik om die ware impak van die skrywer se besondere teatrale aanslag op die gehore van die tyd ten volle te kan begryp. Maar dit bly ’n feit dat die energieke, vloeiende en speelbare dialoog, die kernagtige dramatiese struktuur, en die fyn komiese aanvoeling van Du Plessis, die gehore teater toe laat stroom het om met oorgawe saam te huil en te lag.

"En dit is juis hierdie algemene gewildheid wat skynbaar die kritici van die tyd gepla het. Dit was natuurlik ’n geslag kritici wat grootgemaak is op die 'ou' kanon van die Afrikaanse literatuur – die versdramas van Van Wyk Louw en Opperman, die swaarwigtige prosa van De Klerk en Bartho Smit en die ontgogelde wêreld van die Absurde, soos vergestalt in die beste werk van André P Brink en Chris Barnard – werke wat diep deurdenk, maar swak bygewoon was. Vir diesulkes was werke soos Nag van Legio en Siener in die Suburbs net té vermaaklik, té populêr, om 'goed' te kan wees. Ek oorvereenvoudig natuurlik en ek het my tong goed gebêre in my kies. Maar tog is daar steeds ’n blywende ongemaklikheid met Du Plessis se werk, en in min gevalle so ontsenuend as met Nag van Legio, vir baie mense steeds sy beste werk.

"Fyn balans – Dit is die een drama waarin hy sowel literêr as teatraal gesproke ’n fyn balans getref het: ’n universele (selfs kosmiese) tema, aangebied in ’n hegte, teatraal-gekonsipieerde teks, wat die leser én die teaterganger direk en verbeeldingryk by sy oorredingsprosesse betrek. Die ongemak wat klaarblyklik by soveel akademiese skrywers bestaan, het nie werklik te make met die tema of die manier waarop die drama gestruktureer is nie, maar met die feit dat baie nie die werklike vernuwing wat Du Plessis in Afrikaans gebring het, wil herken en benut nie.

"’n Onwilligheid skynbaar om te aanvaar, of te besef, dat Nag van Legio sy eie teatrale eise stel. Die stuk vereis sy eie 'willing suspension of disbelief' (in Eliot se effe oorwerkte term) en wil sy gehoor – saam met sy spelers, en die personasies wat hulle vertolk – deur ’n eie, unieke, meesleurende Walpurgisnacht voer. Dis tyd dat ons ons ophou blindstaar teen die oppervlakkige fieterjasies van die sogenaamde 'sosiale realisme' in die teater. Hierdie stuk behoort as teaterervaring ’n werklike kans gegun te word. Dis slegs dan dat die gordyne wat groei, word wat hulle bedoel is om te wees: ’n sinnelike simbolisering van oorgawe en lidmaatskap – nie ’n bedenklike 'realistiese truuk' nie. In die werklikheid van die opvoering word die slot nie ’n 'mislukking' en ’n 'epiloog' soos Kannemeyer dit noem nie, maar ’n onstuitbare en emosie-belaaide golf wat voorafgaande handeling saamsnoer, om dan gehoor en spelers te oorweldig en mee te voer, die nag in.

"Die sin van die gebeure in so ’n stuk lê nie in die realistiese konsekwentheid daarvan nie, maar juis in die teatrale onvoorspelbaarheid van die totale religieuse ervaring. Daarom speel Nag van Legio in ’n gestig af, waar die eise van die realisme tot oppervlakkighede beperk word, waar sin en sien by ’normaliteit' verby kan beweeg, en waar religie en geloof nie Calvinisties geïnstitusionaliseer is nie."

Oor die opvoering deur die Universiteitsteater van Stellenbosch in 1991 (die verwerking vir vrouespelers) het André le Roux in Die Burger (18 Mei 1991) geskryf: "Speelkans is legio – en dié groepie studente gryp elkeen aan. Dit sorg vir oomblikke van intensiteit wat op ’n professionele verhoog tuis hoort; en dan’s dit boonop lekker teater. Oor die algemene geldigheid van Du Plessis se teks (uit die laat jare sestig) staan daar nie te stry nie; die bose is immers nes die armes. (...) Du Plessis self sou nie ’n beter motto vir sy teks kon uitdink nie ... Dis ’n nag van vroue dié. Dogoman het Maluna geword, Oubaas Menge het Ounooi geword ... En dit werk goed, waarom nie? Basson het insgelyks ingegryp met sy verbeelding, hier en daar die teks aangepas, die gordyne wat groei vervang deur ligte wat groei, die stuk van ’n soort pro- en epiloog voorsien, en die dokter – in swart geklee – se rol 'verdiep'.

"Hy word sinistere kommentator, en ’n toeskouer (medepligtige?) aan die noodlottige einde. In hoe ’n mate die spelers se blink (en minder blink) oomblikke aan sy regie toe te skryf is, is nie ooglopend nie. Soms skyn die jeugdige onervarendheid duidelik deur (en soms pla dit dat die jong spelers ouer personasies voorstel, veral in die geval van Nanine Wessels as Ounooi Menge); dan lyk dit weer of dit die regisseur is wat die jeugdige entoesiasme nie behoorlik in toom kon hou nie. (...) Maar maak nie soveel saak nie: hier word drama gemaak en dis mooi om te sien.

"Waarvoor Basson veral deeglik gesorg het, is ’n stywe pas en goeie tydsberekening. En sy spelers het dit vlot gemaak, (...) maar gooi dié mal spulletjie almal bymekaar, en jy’t lekker drama en die speelkanse word netjies deur die akteurs benut."

In Maart 2004 het die dramastudente van die UV ook die weergawe met die vroue onder regie van Gerben Kamper in Bloemfontein opgevoer.

In ’n onderhoud met Elretha Britz (Volksblad, 13 Maart 2004) het Kamper gesê: "Die elemente van misterie, bedreiging en die sielkundige afwykings van die verskillende karakters word so fyn ingespan dat die stuk uiteindelik boeiend en spannend is. Die toneel is so persoonlik, so openbarend van die diep afgronde van die mens se siek gees dat jy soos deur ’n magneet aangetrek word om te kyk en luister, maar terselfdertyd ook nie wil sien en hoor nie."

Britz vervolg: "Nag van Legio handel oor vyf vrouens in ’n sielsieke-inrigting, met die sesde persoon, Maluna, wat by hulle ingedruk word. Só begin die nag van Legio. Legio is ’n Bybelse woord wat in verband met duiwels gebruik word en die tema van die stuk is dan ook die verwoestende werking van die bose, van die leuen.

"Maluna is moreel verrot, tog kry sy almal onder haar invloed, behalwe Hanna, die verpersoonliking van die goeie. Maluna word selfs as heilbringer gesien.

"Dit is een van die belangrikste temas in die stuk: Die individu wat in ’n soort massahisterie deur ’n bepaalde ideologie só op sleeptou geneem word en daar dan so saamgestem en saamgeglo word, dat onwerklikhede tot werklikhede gemaak word.

"Die nag van Legio met sy lewende dialoog en hegte bou, aktuele bowetone en verreikende implikasies, is wat menslike gedrag op alle vlakke betref een van die beste dramas in Afrikaans."

In 2004 is die stuk ook in sy verwerkte vorm op die KKNK opgevoer. In 1993 is die Engelse weergawe, My name is Legion, in Radio Africa se Monday Night Playhouse uitgesaai.

Pieter se volgende drama is die alombekende Siener in die suburbs (1972), wat saam met Die nag van Legio die Hertzogprys verower het. Hy skryf die drama in 1969 so stuk-stuk in vliegtuie oor Europa – hiér ’n stuk op die vliegtuig na Amsterdam, dáár een op pad Londen toe, ander in hotelkamertjies. En so stuk-stuk kom dit by die regisseur François Swart aan.

Dit is hierdie drama wat Pieter bekend laat word het in die volksmond. 150 opvoerings in twee jaar volg met die storie van Tjokkie, Tiemie, Jakes en die ander karakters wat verfilm word met Marius Weyers en Sandra Prinsloo in die hoofrolle. Die drama word in 1971 ook met die CNA-prys bekroon en in 1973 met die WA Hofmeyr-prys. In 1986 is dit ook op televisie uitgesaai. In 1992 word die stuk uiteindelik vir die radio verwerk deur Robert Young, en die opvoering onder regie van Joey de Koker was volgens Helena Stroebel ”opruiend goed”. George Ballot verskyn in die rol van Tjokkie en Trix Pienaar as Ma. Siener kry in 1993 drie Artes-benoemings: vir André Rossouw as beste akteur, Trix Pienaar as beste aktrise en Joey de Koker vir beste regisseur.

Pieter vertel self van die kritiek wat daar op die stuk was toe dit die eerste keer opgevoer is: dit hou kwansuis “’n walglike beeld van die Afrikaner voor” en Pieter is as "een van die voorlopers van die kommunisme” uitgekryt.

In 2002 is Siener onder regie van Chris Vorster met onder andere Sandra Prinsloo, Gys de Villiers en Franz Marx in die rolverdeling by die KKNK opgevoer. Sandra Prinsloo word by die KKNK aangewys as die wenner van die Sarie Pronkpluimprys. In 1983 is die verhoogstuk deur meer mense gesien as enige ander Afrikaanse stuk, en in 1997 beleef die boek sy 19de druk.

In 2010 is dit deur dramastudente van die UK opgevoer en het dit wel deeglik bewys dat dit die toets van die tyd deurstaan het. Oor hierdie opvoering het Deborah Steinmair (Die Burger, 2 Maart 2010) geskryf: “Volgens Tolstoi toon alle gelukkige gesinne ooreenkomste, terwyl elke ongelukkige gesin op sy eie manier ongelukkig is. Maar daar is ook iets universeel aan ­armoede: met motorwrakke, goedkoop drank, geweld en buite-egtelike swangerskappe. En PG du Plessis se dramas is tydloos. Boonop is zef skielik cool.

"Dit was dus ’n geïnspireerde ­besluit om Siener in die Suburbs te laat herleef. Die regisseur Sandra Temmingh se interpretasie is ­liggies vernuwe en ver-Kaaps. Dit gaan om klas eerder as ras, maar Ma en haar gesinnetjie is bruin, die kansvatter Giel leliewit. Daar is uitdrukkings soos 'dik dinge' en 'aweh'.

"Die storielyn is bekend, die ­mense al volkskarakters. Tjokkie, sy ma en suster, Tiemie, woon in ’n armoedige huisie. Tussen die ­Arena-teater se swart mure word die huis ’n hutspot van onheil­spellende bedreiging. Die verhoog is diep; in ’n kamer agter staan Ma en stryk. Voor is ’n werksbank met ’n grinder, ’n katrol en ketting wat ’n afgeleefde bakkie oplig, ’n ­domkrag. Die musiek is evokatief en aan die einde is selfs Fokof­polisiekar aan die woord.

"As die gees oor Tjokkie kom, sien hy gesigte en voorspel die ­toekoms. Sy gawe ry hom bloots en laat hom nerf-af. Ma se minnaar is ’n leeglêer, Giel, wat inspirerende muurbehangsels verkwansel en ’n swakte vir die bottel en die perdjies het. Tiemie se kêrel is die dorpsboelie Jakes, wat ’n larney ma soek vir sy laaitie. Tiemie ­vermoed sy is in die moeilikheid. Sy wil uit die ­suburb ontsnap en van gewéét wees. Giel is in ­geldelike knyp. Almal wil hê ­Tjokkie moet sien – elkeen wil die diepsinnige, weerlose een 'melk' vir sy eie belang. Dinge in die ­suburb stuur onafwendbaar op ’n ramp af.

"Voor sommige van ons se geestesoog huiwer nog kolosse soos Wilna Snyman, Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Don Lamprecht in die rolverdeling, maar die ­studente, meestal in hul honneurs­jaar, druk hul eie ­stempel op die teks af. (...)

"Die produksie 'werk' en verplaas die kyker nie soseer na ’n tyd nie as na ’n gemoedstoestand, ’n uitsiglose ruimte waarin ’n mens voel dat jy agtergebly het en nie van geweet is nie. Dis ’n donker reis na die harige maag van die ­suburb."

Tydens 2015 se Woordfees word Siener in die suburbs die eerste keer met ’n volledig bruin rolverdeling opgevoer.

In 1973 verskyn Plaston: DNS-kind, wat die verhaal vertel van ’n seun wat chemies geskep is en dan na ’n klein dorpie geneem word. Robert Young verwerk ook hierdie drama vir die radio en dit word in 1993 uitgesaai. In 1994 ontvang hy ’n Artes as beste regisseur.

Die drama Vereeniging, Vereeniging (1985) word aanvanklik geskryf om die Staatsteater mee te open, maar Truk skuif dit op die lange baan. Dit skud Pieter só dat hy vir ’n ruk ophou om vir die teater te skryf.

Pieter verwerk Mikro se Mattewis en Meraai in ’n baie gewilde televisiereeks, en Mikro se novelles oor die Gonnakolkers, Die wa-asGonnakolkDie houtswaan en Die porseleinkat vir die verhoog.

In ’n Seder val in Waterkloof (1979) word die draak gesteek met die akademie en met bekende name en instansies. Die stuk is verfilm en is in 1994 op televisie uitgesaai. Dit is ook in Engels vertaal en in 2004 onder die titel Send for Dolly in die Kunstekaapteater op die planke gebring. En hoewel die stuk as “literêr minder geslaagd” beskryf is, besorg dit baie genot aan teatergangers.

Tydens die opvoering van die Engelse weergawe het PG du Plessis met Francois Smith in Die Burger (21 Desember 2004) gesels. In die gesprek het Pieter dit weer eens onomwonde gestel dat hy voel dat Seder se grondslag stewig genoeg is om "enige vertaling of verplasing te oorleef": "Kyk, dis ’n kombinasie van die Britse comedy of manners en die Franse klug. Dit word alles deurgeklits met ’n goeie skeut satire. Dit is ’n spel met mense wat hulle heilig hou, en as jy hierdie spel op ’n goeie basis bou, as jy genoeg universele elemente inbou, kan jy dit na enige plek verplaas – jy kan dit op die ryslande van Thailand laat afspeel. Dit is ’n wysie wat jy kan speel op die klavier, op die elektriese orrel, op die kitaar ... Jy kan afdwaal van die wysie, maar solank jy die song sing, kan jy doen wat jy wil."

Oor Send for Dolly sê hy aan Smith: "Dit is sommer ’n jolly ding, maar as hy genoeg menslikheid het ... As jy nie daai snaartjie raak nie, skryf jy eendagsvlieë." En volgens Du Plessis word hierdie snaar nie op ’n teoreties-bedinkte manier aangeraak nie. Hy verwys na "Soontjie", een van sy Koöperasiestories-verhale: "Dit is seker die beste storie wat ek ooit geskryf het, maar ek het nie gaan sit en gesê magiese realisme en al daardie k- nie. Ek het net geskryf ..."

In Send for Dolly of Seder word seks onder meer as katalisator gebruiken vir Pieter is dit ’n "interessante verskynsel". "Daar is niks waaroor ons skynheiligheid so absoluut is soos ten opsigte van seks nie. Daar is niks wat jy nie méér wegsteek nie. Jy sal jou hande saamslaan as jy weet wat dink die dominee daar anderkant ... En as dit uitkom, is dit snaaks. Kyk jy na die rol van seks in humor, is daar basies twee soorte grappe, naamlik skoolseungrappe (wat nie snaaks is nie, net vuil) en kroeggrappe (wat wel snaaks is). En as jy kyk na die benoeming van die verskillende onderdele van die mens deur die geskiedenis heen, is dit interessant hoe die eufemismes groei tot vloekwoorde."

Só praat ’n kenner, meen Smith. "Nee-nee, nie ’n kenner nie. Ek glo nie daar is kenners van humor nie. Jy kan dit net hanteer of nie, maar nie ken nie. Dit is soos skryf – die oomblik as iets uitgedink is, is hy klaar dood. Wat skryf en humor betref, is dit ’n intuïtiewe storie. As jy intellektuele dinge wil doen, doen dit in godsnaam in ’n essay, want in ’n roman of drama moet jy per slot van sake jou leser of gehoor kan ontroer."

Seder is tydens die Volksblad-Kunstefees in 2002 deur die Universiteit van die Vrystaat se Dramadepartement opgevoer en weer in 2010 by die Vryfees. In 2012 is dit ook by die KKNK op die planke gebring.

Met sy Koöperasiestories, wat as ’n reeks op televisie uitgesaai is, kruip Pieter nog dieper in die harte van die volk. Oor die omnibus van Koöperasiestories het Riaan Cruywagen, die bekende, nou uitgetrede, nuusleser, gesê dat dit van sy gunstelingleesstof bly. "Die boek bevat amper 70 tydlose stories en elkeen is net lank genoeg vir ’n paar teue yskoue sauvignon blanc onder die sonsambreel langs die swembad. Die lekkerte van Koöperasiestories is dat ’n mens die stemme van die skynheilige rokjagter Genis, die nugterdenkende Veldsman en die skinderbekkige Mietie in jou kop hoor terwyl jy lees. Dit verleen selfs ekstra plesier aan PG se genotvolle skryfstyl. Ek het nog nie eens begin nie en ek weet al by voorbaat hoe ek gaan skree van die lag vir 'die man wat so kon spu'!" (Die Burger, 20 Desember 2014).

Pieter is saam met Jan Spies die aanbieder van die ewe gewilde televisieprogram Spies en Plessie – met permissie, waardeur persoonlikhede soos Tolla van der Merwe, Koos Meyer, Danny Pretorius, Nico Nel en Pyp de Villiers in die volksmond bekend geword het.

In 1987 stig Pieter sy eie rolprentmaatskappy saam met die filmmaker Albie Venter. Films soos Nag van die negentiendeLiewe hemel, Genis en Koöperasie-stories: die moewie vloei uit sy pen. Liewe hemel, Genis is in 1987 onder die top tien geldmakers van daardie dekade. Nag van die negentiende spog met akteurs soos Embeth Davidtz, Shaleen Surtie-Richards, Jacques Loots, Marcel van Heerden, Dawid Minnaar en ander. Koos Roets was die regisseur.

Intussen vestig Pieter en sy vrou Marie hulle op ’n plaas, Sémoér, by Rysmierbult net duskant Ventersdorp. Hier boer Marie en kan Pieter sy liefde vir houtwerk uitleef. Oor sy kroeg wat hy eiehandig op Rysmierbult gebou het, het Pieter aan Anim van Wyk (Die Burger, 31 Augustus 2012) verduidelik dat niemand in die omgewing gedink het dat jy iets met die kaiingklip op Rysmierbult kon bou nie. "Jy kan nie ’n hoek maak nie, soos die boere sê,” vertel hy. “Maar ek en ou Booi (Monyagene) het ’n sisteem van profiele ontwikkel waarmee ons ’n hoek kan uittrek. Elke klip het ’n gesig en ’n gat. Die gesig wys na die buitekant van die muur; die gat is die onderkant."

Sy studeerkamer is ook van klip en oor hierdie plek wat syne is, sy skryfplek bedags, vertel hy aan Van Wyk: "Hierdie heiligdom is ’n totale wonderlike ding. Sy mure is 700 mm dik. Ek kan hier maak wat ek wil. Jy weet, as ek toneel skryf, byvoorbeeld, dan het ek die neiging om ’n bietjie toneel te speel, om die dialoog te proe ... En dan wil ek graag totaal afgesluit wees. Die hele plaas gaan aan, hulle neuk op en aan, maar ek is geïsoleer.”

Intussen gaan hy voort met die skryf van televisiedraaiboeke soos TJ 7 en ’n Rand ’n droom, wat albei medaljes van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, en Die maplotters, wat minder goed ontvang is. Pieter erken dat sommige van die episodes daarvan sy swakste werk ooit was.

In 1999 word sy Inkleurboek vir twee opgevoer met Annelisa Weiland en Frantz Dobrowsky in die rolle. Dit is Pieter se eerste toneelstuk vir die verhoog in tien jaar. Na die KKNK is dit ook in Pretoria en Johannesburg opgevoer.

Paul Boekkooi skryf in Rapport (13 Junie 1999) só oor Inkleurboek vir twee: "PG du Plessis vat in sy jongste teaterstuk, die drieluik getiteld Inkleurboek vir Twee, aspekte rondom die menslike natuur uiters kernagtig vas. Hy is, wanneer dit moet, meedoenloos skerp, maar toon ook deurgaans die nodige empatie met sy karakters. As ondertitel het die dramaturg die volgende reël bygevoeg: ‘’n Dobbelsteen vir twee akteurs, ’n rot en ’n klankbaan'. Die drieluik is nog in die proses om ’n sesluik te word, sodat dit die ses kante van ’n dobbelsteen kan verteenwoordig. In die huidige produksie gooi ’n gehoorlid die dobbelsteen om te bepaal met watter van die drie stukke die aand sal begin, watter een daarop sal volg en watter een die aand sal afsluit. (Dieselfde modus operandi geld vanselfsprekend vir middagopvoerings.)

"As ’n mens hier van ’n ryper PG du Plessis sou praat, bedoel jy nie dat alles met ’n groter erns gepaardgaan nie, maar eerder met ’n lig-speelse besonkenheid. Met ander woorde: daar’s minder wroeg en meer woema. Aan die ander kant is sy karakters nog net so meervlakkig en verstrengeld. Die jare se werk vir televisie het Du Plessis geensins minder mensgerig gemaak nie. Hy gaan nou net meer ekonomies te werk. Hy dra nie meer swaar aan dramatiese strukture nie. Ons is nou betrokke by tweegesprekke van die hart wat die psige oopspalk tot op ’n vlak van ’n bykans naakte openheid wat jou ongemaklik laat rondskuif. Dit sny tot in murg en been. Dis rou. Maar Du Plessis sluit nie sy oë vir die humor wat die potensiaal het om iewers en in elke situasie soms diep versteek te lê nie. Hy gaan haal dit. En dit is eerder lewens-eg as absurd.

"Die regisseur Stephan Bouwer het met Annelisa Weiland en Frantz Dobrowsky geensins gedobbel toe hy sy rolbesetting moes kies nie. Die onpaar paar daag mekaar so op die verhoog uit dat die vonke plek-plek spat. Tog word die grense nie so grandioos soos in sê maar Who's Afraid of Virginia Woolf? versit nie. Hierdie is soos rype kamermusiek in die taal van die teater. Op die openingsaand het die dobbelsteen bepaal dat die verhaaltjie van Annie, die prostituut, en Stoffeltjie, haar berader, vertel sal word. Dit is PG op sy skerpste, sowel as verteller en as dramaturg. Hy keer Stoffeltjie se skynheiligheid binneste buite terwyl Annie se openlike kommunikasie oor haar lyflikheid jou soms walg. Dis uitdagende teater.

"Stuk nommer twee verplaas ons na die voorportaal van die hel waar Tant Antjie haar gehate susterskind inwag wat deur ’n taxi die ewigheid ingestuur is. Hy is Christoffel, ’n pastoor wat baie aktief sy herderspligte (’n wolfie as skaapwagter!) vervul het. Hier speel PG duiwelsadvokaat en bied, soos die programnotas dit stel, ‘’n boeiende nuwe blik op helbegeleiding’. Weiland is skitterend in die rol, terwyl Dobrowsky uitnemend daarin slaag om die pastoor se ongemak te suggereer, veral wanneer hy sy onkuise huisbesoekies op ’n televisieskerm sien afspeel. Nou weet jy ook waar die uitdrukking hell's belles vandaan kom!

"Die noodlot het bepaal dat die aand afgesluit word met die verhaal van Anna en Stoffel, van tafel en bed geskei, wat ’n losieshuis betrek nadat hy uitgeboer geraak het ... seker die treffendste en aktueelste van die drieluik. Hier is die vrouerol gesublimeer tot die van ’n stille berusting. Haar opstand word tog stadig maar seker deur Stoffel uitgelok en wanneer dit tot volle wasdom groei, word dit tot een van die sterkste stellings van die aand verhef. Ek gaan dit nie verwoord nie. Dit moet ervaar word.

"Inkleurboek vir Twee is nie heeltemal vry te spreek van periodieke stellingmakery nie, maar as geheel bied dit ’n eiesoortige teaterervaring wat in min toeskouers se koue klere sal gaan sit. Ook die gebruik van dieselfde klankbaan in al drie die stukke, is uiters oorspronklik en dra in homself veraf eggo's van Sartre. Benewens die ekonomiese regie, behou Weiland en Dobrowsky die toeskouer se aandag en lewer die tipe vertolkings waarmee almal oombliklik kan identifiseer."

Hy toer ook saam met Alexa Strachan met die storieprogram Lieg dan deur jou tande.

In 2004 skryf hy Nagkantoor, wat ’n poging was om die mens agter die sanger en liedjieskrywer Koos du Plessis beter te leer ken. Marcel van Heerden en Frantz Dobrowsky is die twee akteurs wat ’n tweegesprek voer met Van Heerden as ’n joernalis wat grafskrifte skryf en Dobrowsky wat net bekend is as Die Man. Daar is ook vier sangers op die verhoog. Pieter vertel: “Vir die slim ouens is daar heelwat om te sien. En vir die dommes is daar alles om te sien. Die hele ding moet nie só vlak gekyk word nie. Koos se hele lewe was nie so epogmakend in soveel aspekte nie. Tog was hy op ’n manier ’n baie merkwaardige mens” (Beeld, 22 Maart 2004).

In 2007 word twee van sy skeppings, Andries Plak en Dryfsand, op televisie uitgesaai en in 2008 word die epiese Feast of the uninvited, wat die Anglo-Boereoorlog as sentrale tema het, uitgesaai. Katinka Heyns was die regisseur. Dryfsand ontvang in 2007 die ATKV-Televisieprys vir Beste Draaiboek vir ’n Afrikaanse Dramareeks, Sepie of Enkeldrama, Beste Regisseur (Koos Roets), sowel as Beste Afrikaanse Dramareeks, Sepie of Enkeldrama.

Feast of the uninvited het redelik lank gevat voor dit gebeeldsaai is, maar dit was baie gewild by die kykers. Anna-Mart van der Merwe het die rol van Martie van Wyk vertolk. Sy het aan Riëtte Grobler vertel (Beeld, 29 Februarie 2008) dat Pieter die Anglo-Boereoorlog uit verskillende hoeke benader het. "Hy kyk na die impak daarvan op die lewens van die Afrikaanse vroue én mans, maar ook na die impak daarvan op die lewens van die Britse soldate."

In 2006 word Pieter se Bedevaart vir drie aktrises met Jaco Bouwer as regisseur op die Aardklop Kunstefees aangebied. Hy skryf die stuk vir die drie veteraanaktrises Sandra Prinsloo, Antoinette Kellerman en Aletta Bezuidenhout. Die drama is gebaseer op ’n ou idee waarin die drie aktrises hulle loopbane so te sê begin het as die drie hekse in Macbeth. Een van hulle is nou al oorlede en hulle moet afskeid neem. Pieter het op hierdie gedagte gekom toe "Truida Louw (...) my vertel het van tant Anna (Neethling-Pohl) wat eendag op ’n armmansbegrafnis afgekom het. Sy het die affêre só gestaan en kyk en besluit ’n mens kan nie ’n siel onbeweend in die ewigheid instuur nie. Toe het sy hom behoorlik beween. Alleen!” Hy meen hierdie stuk is die naaste nog aan Die nag van Legio (Volksblad, 6 September 2006).

In 2007 word Sophia Mentz beredder haar boedel by Aardklop aangebied. Dit is ’n baie snaakse klug oor ’n spook wat haar familie tydens die lees van haar testament uit die hiernamaals dophou. In Volksblad (14 Julie 2008) skryf George Michalakis dat die rolverdeling baie goed gedoen is en dat die samewerking tussen PG du Plessis en Sandra Prinsloo, wat die rol van Sophia vertolk, weer vir ’n genotvolle teaterervaring sorg.

"Al die karakters het net een ding in gedagte, om hul hande op Sophia se miljoene te kry. Selfs al is die geld nie heeltemal 'skoon' nie. Maar Sophia die spook het ander planne. Die stuk is ’n regte crowd-pleaser en daar was maar selde ’n stil oomblik in die ouditorium (van die Wynand Mouton-teater in Bloemfontein). Sophia Mentz beredder haar boedel is ’n lekker lawwigheid."

In 1988 ontvang Pieter die FAK-prys vir Ontspanningsleesstof vir Het olifante elmboë? en in 2002 die Insig Afrikaans Onbeperk Pioniersprys. Sy reaksie hierop is: “As iemand jou bel en sê jy kry die Pioniersprys, dan weet jy jy is so na aan ’n postume verering as wat jy kan kom. (...) As skrywer sit jy soms op jou knieë op die vloer. Maar selfs wanneer mense jou nie glo nie, staan jy op en sê: ek gaan aan want ek is ’n professional” (Die Burger, 9 April 2002).

Pieter se eerste roman in Engels, The married man’s guide to adultery, verskyn in 1998. Oor die feit dat die boek in Engels is, sê hy aan Stephanie Nieuwoudt: “Hoekom nie in Engels nie? As Brink en Breytenbach in Engels kan skryf, waarom nie ek ook nie? Ek het sestig geword en ek wou my bevry van baie dinge. Ook van my skryfstyl en my beeld na buite. Ek was bang ek is ’n ou man versand in sy blêddie gewoontes” (Beeld, 29 September 1998).

"En," sê hy aan Nieuwoudt, "ek wou my verbeelding ’n slag laat hardloop soos die Suid-Amerikaanse romansiers doen." Die gebeure in die boek het egter nie ’n Suid-Amerikaanse geur nie en kan enige plek afspeel.

Vir Nieuwoudt kon die boek nie maklik opgesom word nie. Sy het die verhaal (wat sy as "onvoldoende" bestempel het), so saamgevat: "(T)wee wetenskaplikes wat al jare vriende is, bestudeer ’n gemeenskap waar intelery tot allerlei abnormaliteite lei. Daar is ’n ryk magnaat wat die een wetenskaplike probeer vernietig, ’n hofsaak en in die agtergrond is die beeldskone Annalind Hastings se teenwoordigheid deurentyd tasbaar.

"Dis ’n boek wat jou soms hardop laat uitbars van die lag en jou ander kere onkant betrap met humor en dan weer sosiaal-wetenskaplike verklarings. Ondanks die boek se uitlokkende titel dui die woord adultery nie net op seksuele ontrouheid nie, maar ook op die verwringing van die waarheid en die verwringing van ’n profeet se woorde wat uiteindelik tot gedrogte in ’n ingeteelde gemeenskap lei."

Pieter verduidelik aan Nieuwoudt: "Die sleutel van die boek word vervat in die woorde A study of adulterations, wat voor in die boek as subtitel verskyn. Dis adulteration in verskeie vorms,” sê hy. "Van al die vroulike karakters wat ek nog geskep het, lê Annalind my die naaste aan die hart. Ek hoop nie sy is soos enige vrou wat ek ooit sal ontmoet nie. Ek is bang vir haar. En daarom hou ek van haar. Sy lieg en bedrieg en haat, maar terselfdertyd is sy ’n plesier. Ek het enorme respek vir vroue se voelhorings en intuïsie. Daar is sekere goed waarmee hulle vrot is, maar ander dinge kan net hulle regkry.”

Annalind is ’n pragtige vrou wat ’n betowerende invloed op almal in haar omgewing het. As sy ’n vriendin van iemand is, is haar toewyding "onverskrokke", maar wanneer sy iemand “die rug toekeer”, doen sy dit vir altyd.

Pieter het verwag dat resensente se reaksie op The married man's guide to adultery uiteenlopend gaan wees. "Ek verwag iets soos wat destyds met my drama Siener in die suburbs gebeur het. Ek hoop net dat die boek uiteindelik sal wen," sê hy aan Nieuwoudt.

Tydens die Volksblad-Kunstefees in 2002 lewer Pieter die PJ Nienaber-gedenklesing en vra die vraag: "Voor God, of voor die jongste mode – voor wie staan die apartheidsgeslag Afrikaner aangekla? En daarmee saam: Is dié nageslag se nalatenskap (dus) net boos?" Op die tweede vraag lê die antwoord in PJ Nienaber se “verbete versamelingsdrang” wat getuig van ’n omgee vir taal, musiek en letterkunde. Maar ’n besliste antwoord op die eerste vraag kom daar nie. (Volksblad, 13 Julie 2002)

Gedurende 2008 tree Pieter saam met Valiant Swart en Ollie Viljoen op in Klets, klawers en kitaar, wat storievertel meng met musiek op die kitaar en trekklavier. Hulle tree op tydens die Kalfiefees en die Volksblad-Kunstefees.

In 2008 is Pieter se roman oor die Anglo-Boereoorlog, Fees van die ongenooides, gepubliseer – die Afrikaanse weergawe van die televisiereeks Feast of the uninvited. Hierdie roman is in 2009 met die WA Hofmeyr-prys vereer en in 2012 met die grootste letterkundeprys wat geld betref, die Helgaard Steyn-prys. Daarmee het hy R450 000 ryker geword.

Die beoordelaars van Fees was Hennie van Coller, Heilna du Plooy en Godfrey Meintjes. Hulle het die roman beskryf as "geen tipiese verhaal oor die Anglo-Boereoorlog nie omdat die aandag juis gevestig word op ongewone en onbekende fasette van die oorlogsgeskiedenis. Die kerninsidente in die verhaal handel oor dinge wat meestal onverwoord gebly het, soos verraad op ’n politieke en persoonlike vlak, lafhartigheid waar dapperheid verwag word en die rol en lyding van swart en bruin mense in die oorlog, onder meer deur die uitbeelding van die beleg van Kimberley. Die sentrale verhaallyn handel oor die gekompliseerde verhoudinge tussen mense wat die naaste aan mekaar behoort te wees.

"Tot op hede is reeds sowat 27 000 eksemplare van Fees van die ongenooides verkoop, ’n buitengewone prestasie vir ’n gekompliseerde 'literêre' teks. Die skrywer het ’n besondere sin vir die historiese. Die roman is ten diepste gemoeid met die kompleksiteite van die betekenis van die geskiedenis vir die hede en die toekoms.” (Beeld, 17 Julie 2012)

Nadat hy Feast of the uninvited klaar geskryf het en die reeks nie dadelik gebeeldsaai is nie, het hy besluit om dit in boekvorm te verwerk. "Jy sien, ’n roman kan jy soveel voller maak, want jy raak mense op ’n ánder manier, hoop ek," verduidelik hy aan Anim van Wyk (Die Burger, 31 Augustus 2012). "Ek het dit die slag in Afrikaans geskryf, die taal waarin ek grootgeword het en waarin ek haat en liefhet en dwaal en dink."

Hy vertel verder aan Van Wyk dat hy as klein seuntjie altyd vreeslik nuuskierig oor die Anglo-Boereoorlog was. Beide sy oupas was in die oorlog betrokke en sy ouma aan vaderskant het met sy pasgebore pa en tweejarige oom op ’n perdekar na die destydse Betsjoeanaland gevlug om die Engelse te ontwyk. "Oupa Venter het ’n ruk by ons in die huis gebly. Hy het vir ons ure vertel van hoe die oorlog was."

Die idee van die verkragting in Fees van die ongenooides het by hom opgekom toe hy as student eenmaal nie kerk toe gegaan het nie. ’n Vroedvrou het saam met hom tuis gebly. "Sy het altyd nagmaal toe gekom, maar nooit nagmaal gebruik nie. Al die dienste bygewoon, behalwe daai een. Sy het gesê daar is goed wat die Here nooit sal vergewe nie, sy kan nie nog ’n oordeel oor haarself gaan drink nie. Sy het so ’n bruin Bybel gehad waarop sy my laat sweer het ek sal nooit haar naam noem nie, want toe vertel sy my die dinge waaroor niemand ooit gepraat het nie."

Hierdie dinge is oor hoe verkragte Boerevroue in die ABO se babas doodgemaak is. Pieter vertel: "By die Oorlogsmuseum in Bloemfontein was ek ’n dag (omstreeks 2000) en ek het daai nag gaan loop. Al die dinge in die mensdom wat my pla, was by my – die verkragting, die oorlog, die haat, die liefde, al daai dinge. En toe het die storie eenvoudig net so bymekaargekom. Want hulle wys my toe die dag by die museum die handskrif van iemand wat vertel hoe jy die dooie kampkinders kon hoor sing. En toe besef ek ek kry ’n stuk magiese realisme vir my storie.

“Daar is plekke wat ek nogal trots is op my skryf, (soos) die ete saam met die Engelsman. (Die skrywer) Chris Barnard sê altyd ’n boek kan wees soos hy wil, solank hy net ’n paar momente het. Ek dink my boek hét momente. Fienatjie se dood, byvoorbeeld. En die skeel fotográfie se liefde vir Fiena. Ag, ek het lines daar wat ek baie van hou."

Pieter was baie trots op die Helgaard Steyn-prys wat die boek ingepalm het. Hy het aan Christal-Lize Thomas in Die Burger van 4 Augustus 2012 gesê: "Dis ’n verskriklike genade dat my werk nog erken word op my ouderdom.

"Ek het buite die bane van die gewone geskiedenisskrywer beweeg met dié roman, terwyl my vrou, Marie, gek geword het omdat ek elke paragraaf telkens oorgeskryf het en beneuk was oor my sinsritmes. Jy sit jou skryfwerk neer en dit word ’n bietjie koud, dan moet jy jouself eers weer ’n bietjie warm skryf."

In ’n onderhoud met Francois Smith (Beeld, 23 Julie 2012) stel Smith dit aan Pieter dat "daar ’n blywende belangstelling in die ABO as bron vir niefiksie en fiksie is. ’n Mens sou selfs sê daar is deesdae ’n nuwe belangstelling daarin. Maar daar is diegene wat sê dis ’n gevaarlike tendens. Daar was pas weer ’n polemiek nadat ’n resensent gesê het die ABO-geskiedenis moet ter wille van verhoudings met ander Suid-Afrikaners liefs nou laat staan word. Hoe dink Du Plessis pas Fees in hierdie debat?”

Hierop het Pieter as volg gereageer: "Geen deel van die geskiedenis behoort as verbode verklaar te word nie. Dis gek, want dis materiaal wat môre geniaal gebruik kan word. Die idee dat die literatuur dienstig gemaak moet word aan buite-motiewe is onsinnig en die grootste enkele sonde is politieke korrektheid. Dít wat die literatuur betref; die niefiksie-skrywers se storie lyk seker polities anders."

Verder wou Smith weet of hy nou die stadium bereik het waar hy sy skryfvaardighede as vanselfsprekend aanvaar, of probeer hy steeds met elke sin ’n beter skrywer word? Pieter: "Niemand sal ooit ophou probeer nie en niemand is ooit detail-tevrede met sy maaksels nie. Daarmee moet jy leer saamleef."

Hy vertel aan Kirby van der Merwe (Beeld, 2 Oktober 2008): "Dit het my enorme plesier gegee om daai 400 bladsye te skryf. Ek dink ek het die storie darem redelik heg aanmekaar gesit. Jy weet, ek is ’n ou wat ure en dae en weke plot. Maar ’n skrywer wissel mos maar tussen twee goed wanneer jy skryf. Een dag lees jy en jy kan nie glo dat jy die klomp tjol geskryf het nie. Die volgende dag is jy in jou maniese fase en jy dink jy is die beste, hierdie volk verdien jou nie. Hulle kyk jou eintlik mis.

"Die uitgangspunt van die roman is: Wat doen al hierdie groot dinge soos ’n oorlog aan die klein mannetjie op die grond? En dit gaan maar ’n bietjie oor die storie van ons eie sterfte ook. En uiteindelik, wanneer alles verby is, wat bly van ons lewens oor? Dit is die rede waarom daar in die hele roman nie een generaal se naam genoem word nie, want generaals is ook maar abstraksies vir die gewone ou."

Hy probeer in Fees verklarings kry op dinge en vrae waarin hy al baie lank belanggestel het. "Dit is die deurlopende tema in die roman: Wat gebeur met ’n verkragtingskind? Wat gebeur met ’n ou wat sy lewe uitverkoop aan ’n leuen omdat hy nie dapper was nie? Hoe lyk verkragting? Want alles tydens ’n oorlog is ’n verkragting. As jy navorsing begin doen, dan sien jy wat eintlik in die konsentrasiekampe aangegaan het.”

En al was die mense saam met wie hy grootgeword het, in die oorlog, was die gebeure in die konsentrasiekampe nie vir hom ’n werklikheid nie. “Dit het verander die dag toe ’n televisievervaardiger, Nic van Rensburg, ’n pak ongepubliseerde navorsing oor die konsentrasiekampe hier kom aflaai het. En toe het ek begin somme maak. Hoe lyk dit as 26 000 vroue en kinders in 100 kampe sterf?”

Fees van die ongenooides het die volgende motiverende kommentaar ontlok toe de ATKV-prosaprys in 2009 aan Du Plessis toegeken is: “Du Plessis se roman voldoen uitmuntend aan al die vereistes vir die ATKV-prosaprys. Dit is ’n boek vir die massamark én vir die gesofistikeerde leser.”

Die akteur Chris van Niekerk, wie se voorlesings van Fees van die ongenooides op kunstefeeste uitverkoop was, is veral getref deur die liefdesverhale en “hoe liefde nie bestand is teen die oorlog se geweld nie – die fisieke én emosionele geweld nie. Miskien het daardie oorlog ons ontvanklik gemaak vir ons eie stories. Dit het ’n woede wakker gemaak wat ’n uitlaatklep moes vind.”

Joan Hambidge noem dit “’n roman wat veral gewone lesers meegesleur het” (Die Burger, 17 Julie 2012).

In sy resensie in Beeld (19 April 2009) skryf Jaybee Roux dat nadat hy Fees van die ongenooides gelees het, dit vir hom was asof die hele verhaal "eindelik tuisgekom het, dat die verhaal bedóél was om in boekvorm te verskyn en inherent ’n Afrikaanse storie is. Nie dat ’n Boeregesin se verhaal nie in Engels vertel mag word nie, maar die kragtige, soms liriese Afrikaans wys hierdie verhaal kom uit ’n Afrikaanse hart.

"Een van die roman se sterk punte is, ironies genoeg, Du Plessis se beeldende vermoë. Sy karakters en die ruimtes waar die verhaal hom afspeel (’n Vrystaatse plaas, ’n Britse konsentrasiekamp), word so raak geteken dat ’n mens bladsy vir bladsy midde-in die drama staan.

"En drama, bo én onder die oppervlak, is daar genoeg. Du Plessis het die Van Wyk-gesin – met Danie van Wyk aan die hoof – 'ontwerp' soos ’n argitek ’n wolkekrabber, met gesinslede wat druk en spanning op mekaar plaas, maar wat saam ’n ineenstorting voorkom. Die mate waarin die onderskeie gesinslede mekaar aanvul en die wrywing waarmee hulle moet saamleef, is perfek bepaal. Die 'bagasie' waarmee elkeen toegerus is, is tot die gram toe geweeg.

"Daar is, benewens Danie van Wyk, ook sy vrou, Dorothea, oupa Daniël en hul seun, Daantjie, getroud met die beeldskone Magrieta. En natuurlik Danie se suster, Gertruida, die donker, enigmatiese oujongnooi. Dan is daar Nellie, die jongste dogter, en ’n bywonersgesin: die stil, hardwerkende Jakob Minter, sy vrou en kinders. Van hulle speel Petrus, met sy oog op Nellie, en Fienatjie, met die 'gawe' om die toekoms te kan droom, die grootste rolle. Swart Suid-Afrikaners se rol in die oorlog word bevestig deur Soldaat, Daantjie se bondgenoot.

"Joey Drew, ’n arm Engelsman en alleenloper wat Johannesburg se myne verruil vir ’n beroep as rondreisende fotograaf, speel ’n beduidende rol in die Van Wyks se lewe. En dan is daar die Engelse majoor wat jare ná die oorlog terugkeer Suid-Afrika toe.

"Dis asof Du Plessis sy karakters – elkeen ’n kunswerk in eie reg – sorgvuldig en in presies die regte formasie opstel, ’n oorlog op hulle loslaat en dan agteroorsit om dinge self te laat gebeur. Die karakters is so goed bedink en so volmaak teenoor mekaar geposisioneer dat die resultaat niks anders kan wees as ’n aangrypende, dig geweefde web van intrige nie; iets groots en klassieks. Elke karakter is verwikkeld genoeg om die hoofprotagonis te kon wees, maar eintlik is dit Magrieta se storie hierdie; die storie van Magrieta en Daantjie – en lang versweë geheime wat dekades ná die oorlog ’n verwoestende uitwerking op veral Magrieta se lewe het.

"Fees van die ongenooides is ’n diep, deurdringende boek oor waarheid, leuens, oorlog, vrede; oor wat menswees behels. Dié boek bewys dis inderdaad nog moontlik om die mooiste, sterkste letterkunde uit hierdie dramatiese greep van ons geskiedenis te haal.

"Al wat dalk kan pla, is dat die slot te selfverduidelikend is. ’n Waardiger slot vir so ’n grootse verhaal sou ’n groter uitdaging aan die leser se verbeelding en intelligensie moes stel. Maar soos Kerneels Breytenbach jare gelede gesê het: Daar skuil verveling in perfeksie."

Op LitNet skryf Heilna du Plooy: "Nogtans is hierdie roman geen tipiese verhaal oor die Anglo-Boereoorlog nie. Die roman besit ’n eie en unieke karakter, omdat die aandag juis gevestig word op ongewone en onbekende fasette van die oorlogsgeskiedenis, maar veral ook omdat daar op ’n baie spesifieke manier vertel word. (...)

"Vir my was Fees van die ongenooides ’n heerlike leeservaring vanweë die skrywer se vermoë om ’n wonderlik sterk verhaal (eintlik baie verhale) met ’n subtiele intellektuele benadering en ’n diep menslikheid te kombineer. Dit gaan hier inderdaad om ’n manier van skryf wat Milan Kundera soos volg beskryf het: ‘The union of a frivolous form and a serious subject lays bare our dramas (those that occur in our beds as well as those we play out on the great stage of History) in all their terrible insignificance.’

"Fees van die ongenooides doen wat die roman tradisioneel veronderstel was om te doen: dit vertel ’n storie. Maar die roman beskik ook oor ’n fyn-uitgewerkte intrige, en die regulering van inhoud is deeglik beplan en hou die leser geboei. Onderliggend is daar ook ’n begronde filosofie oor die mens en sy geskiedenis wat die noukeurige leser sal raaksien. Hierdie roman is dus in geheel beskou die werk van ’n goeie vakman maar een met ’n hart vir die mens in al sy fasette."

In 2011 is PG du Plessis saam met Ollie Viljoen op die Innibos-fees vereer. Die beeldhouer Arend Eloff het spesiale bronsbeelde gemaak wat aan Pieter en Ollie geskenk is. Die motivering vir die toekenning aan Pieter het soos volg gelui: "Dit is sy uitsonderlike skryftalent en kreatiwiteit, maar ook sy innemendheid en skerp gees wat van hom so ’n besondere mens maak, en dit is vir Innibos ’n groot voorreg om die Innibos Toekenning vir sy uitnemende skrywersbydrae tot die Afrikaanse Kultuurskat aan hom te oorhandig."

In 2012 voltooi Pieter die projek wat hy met Inkleurboek vir twee begin het: hy skryf nog drie dramas en die ses word onder die titel Teerling opgevoer. Teerling beteken “dobbelsteen” en soos reeds hier bo verduidelik is,  moet die gehoor die dobbelsteen gooi sodat bepaal kan word in watter volgorde die stukke opgevoer sal word.

Teerling (maar slegs twee van die ses stukke) is ook in 2012 in Radioteater uitgesaai.

Pieter het intussen ook nie stilgesit wat die skryfwerk betref nie. In 2013 is daar begin met die opneem van sy nuwe televisiereeks, Pandjiewinkelstories, wat grootliks geskoei is op sy gewilde Koöperasiestories. Frank Opperman, Elize Cawood en Deon Lotz vertolk die hoofrolle in die reeks, wat op kykNET uitgesaai is.

In Bloemnuus van 30 September 2013 vertel Marisa Fockema dat Frank Opperman en Deon Lotz in die Vrystaatstadion in Bloemfontein as stoere Cheetah-ondersteuners hul span luidkeels aangemoedig het. Hulle het voor die Cheetah-WP-wedstryd vir die verfilming van die eerste twee episodes van Pandjieswinkel in snaakse Cheetah-uitrustings verskyn.

Pieter vertel: "Die skryf van die reeks was opwindend omdat elke storie anders is. Daar is ’n lekker storie, ’n goeie storie, ’n lag-storie en ’n huil-storie. Dié oom is storie-bedonnerd.”

Die regisseur, Koos Roets, het gemeen die reeks kan net so gewild soos Koöperasiestories wees. “Elke nuwe geslag mense wat Koöperasiestories ontdek, vind dit verskriklik amusant. Hy (Du Plessis) laat jou lag – en die oomblik wat jy lag, steek hy jou met ’n mes in die maag. Hy het net daai vermoë om dit te doen.”

In die eerste twee episodes, wat in Bloemfontein verfilm is, sien die kyker vir Toffie (Opperman) wat ’n fanatiese ondersteuner van die Cheetahs is. Hy raak so erg dat hy saam met sy vriend Skroef (Lotz) sy huis en meubels oranje met swart kolle verf. As sy vrou (Sally Campher) dit sien, bars alle hel los.

Pieter is self ’n "redelose" Cheetah-ondersteuner. “Deur dik en dun. Ek het in die Vrystaat (Cornelia) grootgeword. Die Vrystaat het in my ingegroei.”

Opperman, Lotz en Elize Cawood is die deurlopende karakters in die reeks. In elke episode sit hulle op die stoep van ’n pandjieswinkel terwyl hulle vertel oor interessante stories in hul verlede.

In Sarie van 26 Januarie 2010 is aan Pieter en Marie gevra wat hulle resep is vir 50 jaar van gelukkige getroude lewe. Hulle het mekaar ontmoet toe Marie se pa skoolhoof in Johannesburg was en Pieter Afrikaans-onderwyser by dié skool. Die hoof vra toe of die jong onderwyser nie sy dogter, wat pas ná drie jaar in Engeland terug was, wil saamnooi wanneer hulle pluimbal gaan speel nie. Met haar blou oë, wit pluimbalbroekie en mooi bene het sy PG se hart verower ...

Huweliksresep

PG: “Respek, vergifnis van sondes, geen verwyte, tevrede-dankbaarheid vir wat jy het: Iemand wat jy met foute en al kan liefhê sonder om hom/haar te probeer verander. Sy’t byvoorbeeld die nuk om soms beduiweld wakker te word. Stuur die honde op die wekking-sending en wag totdat die gaafheid in haar siel eers na vore kom. Buitendien het ons nooit genoeg geld gehad vir ’n egskeiding nie.”

Marie: “Begrip van hoe ’n man se kop werk: As hy wil skryf of sommer net sy eie ding doen – gun hom dit sonder ’n gekarring. Buitendien, as jy hart en mond belowe het jy gaan by hom bly tot die dood julle skei, dan weet jy mos daar’s nie plek vir wegloopgedagtes nie.”

Uitdagings

Marie: “Om nooit net ’n aanhangsel te wees nie, maar ’n mens uit jou eie reg te bly.”

PG: “Met die jare loop uitdagings uit op ’n doodgewone samesyn. Daar’s net uitdagings as een van die twee begin verwagtings koester van beter en nuwe dinge. As jy nie normaliteit as norm vir jou lewe kan geniet, vertrou en koester nie, moenie trou nie, bly in sonde, moenie kinders verwek nie en hou jul bankrekenings uitmekaar. Terloops, my oorle’ skoonpa het gesê: Vroue is nie spandabel as hulle weet hoe min jy in die bank het nie. Ek het in 1962 laas geweet, want geld verveel my en ek vertrou my vrou daarmee.”

Wenke

PG: “Trou reg, weet verliefdheid lieg alles pienk, alle skewighede word mettertyd net meer, nie minder nie. Probeer mekaar se respek verdien en begrawe jou ego. ’n Huwelik is nie ’n wedstryd waarin jy wen of verloor nie en ou rolmodelle geld nie meer nie.”

Marie: “Alle vroue gaan deur aartappeljare waarin hulle nie mooi weet wie en wat hulle is nie. Maar dit gaan verby. Moenie verwyt nie. Alles wat onoorkomelik lyk, gaan verby. Moenie oorreageer in die oomblik nie, dan’s jy later spyt as julle stry. Moet nooit, maar nooit, begin krenkinge uitdeel wat jy later nie sal kan uitwis nie. Die antwoord is: respek.”

Lekkertes

PG: “Om ’n huis en ’n tuiskomplek te kan hê en oral waar jy ook al swerwe dít te kan weet, is die grootste enkele plesier. En samesyn. En om saam te kan lag oor wat die ouderdom besig is om met jul lywe aan te vang, dis kosbaar. Die soveel stiller liefde van die ouderdom is die grootste en lekkerste gawe wat jong mense nie altyd verstaan nie.”

Marie: “Om skaapvleis en patats so te kook dat man en kinders dit nêrens elders so sal kan kry nie, is lekker. Al is dit só corny.”

Af tye

PG: “Hou jou bek. Al die kommunikasiestories is net vuurhoutjies by die brandhout!”
Wat ek nou weet.

Marie: “Die huwelik is ’n marathon. Die bulte moet jy maar uitstap en as jy struikel, staan jy op, maar jy hou aan, want soms word die hardloop weer lekker en sou jy dit vir niks in die wêreld wou misloop nie.”

PG: “Mense kan klaarkom, aan mekaar vasgroei, alles deel en gelukkig wees – al weet ’n mens nooit jy’s gelukkig terwyl jy dit is nie, jy kom dit eers later agter. Geite, eiesinnighede, oormatige strewes vir andermansoë en grênd probeer wees befoeter net alle verhoudinge. Wees so ongeveer tevrede met wat jou toegemeet is.”

Albei: “Ons voel lekker, rustig en dankbaar om ná vyftig jaar nog getroud te wees.”
In 2013 is Pieter by die jaarlikse toekenning van die kykNET Fiëstas vereer toe hy ’n toekenning ontvang het vir sy lewenslange bydrae tot die woordkuns. Ook die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur het sy enorme bydrae in 2013 erken toe ’n Sala-toekenning aan hom oorhandig is vir sy lewenswerk.
In 2014 het Pieter 80 jaar oud geword en is ’n spesiale verjaardagkonsert vir hom in die Atterbury-teater in Pretoria gehou. Alexa Strachan het aan die stuur van verrigtinge gestaan en sy het gesê: “Mense gebruik die woord ‘ikoon’ nogal maklik, maar ek dink dié woord kan gebruik word wanneer PG du Plessis ter sprake is."

Van die ander bekendes wat die aand op die verhoog was, was Sandra Prinsloo en Marius Weyers, wat oorspronklik die rolle van Tiemie en Jakes in Siener in die suburbs vertolk het, asook Christo Davids, wat in 2015 in dieselfde stuk te sien was, Anna Davel, Elize Cawood, Deon Lotz en Frank Opperman.

Vir PG was die aand wonderlik en hy het aan Maroela Media vertel: “Hierdie aand beteken vir my verskriklik baie dat soveel mense nog vir my omgee om hierdie aand te reël, te maak, te kom optree, te kom vir my … Ek voel ’n ou verdien nie eintlik so iets nie, maar vir my is dit ’n ongelooflike kompliment dat ek op 80 nog soveel mense het wat die nodige toegeneentheid het teen die ou ‘has been’…” (Burger Meyer, Maroela Media, 18 Junie 2014)

Pieter du Plessis is in sy 80ste jaar ook op ander maniere gehuldig vir sy onmeetbare bydrae tot die Afrikaanse literêre skat en in die besonder ook vir sy noue verbintenis met Aardklop. ’n Installasiewerk deur die kunstenaar Jan van der Merwe is by die geleentheid aan hom oorhandig.

Chris Barnard het op ’n keer van PG du Plessis gesê: “Hy is vinniger met die mond as Eitemal, hy is aardser as Opperman, hy is so gevat soos Kaspaas, hy is slimmer as die houtjie van die galg. Hy is ’n méns in die volste sin van die woord. En hy leef die lewe.” (Rapport, 21 Junie 2011)

“PG verwoord ons menslikheid. Die woede, nyd en kwaadheid wat ons voel, vang hy vas in woorde en laat ons tuis voel,” vertel Alexa aan Sarie.com. "Hy is in elkeen se hart wat Afrikaans praat."

PG du Plessis is Woensdagmiddag 7 Junie 2017 oorlede. Marita Carnelley, sy dogter, het dit aan Netwerk24 bevestig.

Publikasies

Publikasie

Die verwysing in die literatuur

Publikasiedatum

1968

ISBN

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die nag van legio

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1970
  • 1972
  • 1974
  • 1977
  • 1982

ISBN

  • 0624003299 (hb)
  • 0624017846 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 1970
  • Hertzogprys 1972

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Siener in die suburbs

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1973
  • 1974
  • 1977
  • 1979
  • 1983
  • 1985
  • 1987
  • 1989
  • 1991

ISBN

  • 0624001555 (hb)
  • 0624018741 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1971
  • Hertzogprys 1972
  • WA Hofmeyr-prys 1973

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Plaston: DNS-kind

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1974
  • 1978
  • 1982
  • 1985

ISBN

  • 0624004724 (hb)
  • 0624108601 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Seder val in Waterkloof

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1987

ISBN

  • 0624010317 (hb)
  • 0624024547 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koöperasie-stories op Donderdag

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1983
  • 1986
  • 1991

ISBN

  • 0628017529 (hb)
  • 0628025025 (hb)
  • 0628034601 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hier sit die manne ...

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1989

ISBN

  • 0628023804 (hb)
  • 0628033737 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nog koöperasie-stories

Publikasiedatum

1985

ISBN

0628027443 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vereeniging, Vereeniging

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624021580 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Het olifante elmboë?: Outobiografiese verdigsels soos bygelieg deur PG du Plessis

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1991

ISBN

  • 0624024903 (hb)
  • 0624025985 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

FAK-prys vir Ontspanningsleesstof 1988

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koöperasie-stories: die omnibus

Publikasiedatum

1991

ISBN

062803492X (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Neklis: jollies en smarties soos uit- en ingeryg

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624032000 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussen die riewe

Publikasiedatum

1997

ISBN

1868920917 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Benedic

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The married man’s guide to adultery: a study of adulterations

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036839 (hc)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tweehonderd stories

Publikasiedatum

1998

ISBN

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

120+ sommerstories: uit die koöperasie, die kroeg en die delwersgate

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336386 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fees van die ongenooides

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046875 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2009
  • Helgard Steyn-prys 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kortetjies en ’n lange: outobiografiese verdigsels soos bygelieg

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048107 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortkuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

PG du Plessis as samesteller

Biografiese artikels oor PG du Plessis beskikbaar op die internet

 

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top