120+ Sommerstories is medisyne vir die Nuwe Suid-Afrika Blues

  • 0

120+ Sommerstories
PG du Plessis
Uitgewer: Lapa
ISBN:9780799347432
Prys: R160.00

Klik hier en koop 120+ Sommerstories nou by LAPA Uitgewers.

 

PG du Plessis se bundel (baie) kort kortverhale Sommerstories (Lapa, derde uitgawe, 2010) is waaragtig ’n belegging. Want mens kan, soos voorin voorgestel word, weekliks daaraan proe, eerder as om soos ’n resensent met een diep asemteug in te duik en dwarsdeur te lees omdat jy dalk móét – te veel boeke en te min tyd noodsaak jou om dit te doen - en die plesier van lees word die plig van werk. Altans, dis wat kan gebeur, maar nie in hierdie geval nie: ek het met behaaglike happe groot hompe uit die meer as 100 stories verorber en kort-kort my vrou gepla om iets aan haar voor te lees. En hard en lank gelag asof dit mý maaksels was.

Kom ek stel dit so: hierdie boek (al 400 bladsye van hom) laat mens onbetaamlik liries voel en jy wil iets skryf soos: “Wanneer mens stadig, uiters suinig smul aan hierdie pitkos, wat gesout is met sarkasme en gepekel met ironie, dik gesmeer soos skaapvet op tuisgebakte brood, moet jy jou oë stadig en genotvol sluit. En dink aan Die Sonde. En dan besef jy dat jy eintlik erg meerderwaadig voel.”

Die vernaamste rede hiervoor is dat jy etlike van die karakters herken en hoeka al voel húlle soort kan melk in jou krop in kits-jogurt verander. Genis is een van die diesulkes – sweerlik die onvergeetlikste karakter in die bekendste van dié drie “afdelings” in PG se slagorde. Hy is die kroonjuweel van PG se Koöperasie-skeppings, of eerder die langste doring in die folterkrans wat op die gewoonlik lankmoedige Veldsman se hoof gepers word. Sodat hy die hoenderborsie-snorman met sy skreiende skynheiligheid, met sy driwwe en drange, gestoei en geknoei en ander (al)gemene afstootlikhede telkens met flappende baadjiepante en bewende snor in sy petjie stuur. Genis is inderdaad die verpersoonliking van kleinburgerlike stiksienigheid.

Van Mietie, wat in die gelyknamige televisiereeks gespeel het, is daar geen teken nie en dit laat mens dadelik besef dat vroue nogal erg aan die kortste ent trek in die meeste van hierdie stories. As hulle nie slu en/of sensueel is nie, is hulle hoogstens “deetlik” om hulle “kamelerigheid” te versag. Maar voordat die Christi’s en Amandas hulle lendene omgord: die mans is darem ook alte dikwels bra bar (veral in die “bar”of tussen die driwwe met hulle siwwe), jaloers, besope, moorddadig, plank-onnosel, onderduims of kruiperig; dis heel algemene eienskappe van die troppie t’rug-oppie-brug bekvellers in Sommerstories. En ek hap nie na Afrikaners nie: natúúrlik is dit nie uniek aan ons DNS nie; waar jy ook al op aarde sou gaan – mik sommer reguit vir die uithoeke (die aarde is rond, maar kontinente mos darem nie) – sal sulke kalante sit, agter elke klip of krip. In al hulle glorie.

Sommerstories se karakters bly vir my die hoogtepunt onder al die baie voortreflikhede. Dié kort stories is bevolk met hoofkarakters wat nie soseer ontwikkel in die normale sin van die woord nie, maar storie vir storie (vat nou Genis en Veldsman en selfs die troppie roterende “byspelers” - soos die oopbek Pietersetjies) ontwikkel hulle meer soos foto’s: soos figure wat eers newelrig voorkom wanneer hulle stadig uit die emulsie gelig word, sien jy (paaiementsgewys) nuwe nuanses en fasette. Maar ook net soveel as wat die alsiende “fotograaf” dit nodig ag.

Dis nie net van Koöperasiestories wat ek hier praat nie. Die ongure kroegvlieë van Hier sit die manne, asook die delwers en opdrifsels van Tussen die riewe het wel hulle eie bekoring, maar met dieselfde menslike swakhede wat al die stories saambind – en ons ook daaraan. Skete en sondes, soms uitgelê deur Satan self, soos op huisbesoek aan die Onbekende Delwer van die Riewe, suggereer dat ons die Paradys nooit verdien het nie. Gelukkig kan ons (nog sover) daaroor lag. En daarom hoop ek dat sou ek hel toe gaan, ek ’n eksemplaar van Sommerstories kan saamneem sodat ek die mag van humor aan my kant het.

Grappies op ’n stokkie: PG is ’n woordsmid van formaat en ’n meester van die vertelkuns. Ek geniet die slotstukke, wat altyd skielik om ’n hoek op jou afspring, terdeë, en dis glad nie ’n geval van “Dial-a-Dahl” nie – inteendeel; ou Roald sou PG kon waardeer as ’n ware kunstenaar: altyd oorspronklik, al werk hy met baie bekende bestanddele. En is dit nie waaroor kuns gaan nie? Al is niks dalk nuut onder die son nie, moet nuwe insigte en verhoudings en handelinge voorgestel word om ’n skynbaar nuwe wêreld te fabriseer. Al het die menslike skepper ook net sóveel om mee te werk – soos die dominee se kinders wat ook net die gemeente se kinders het om mee te speel, maar dit nie as verskoning behoort te gebruik as hulle die stoutste helletjies van die gebroedsel is nie, kan die skrywer nie kla oor watter beperkte inspirasie sy/haar milieu bied nie. Die skrywer moet oorsaak en gevolg ontleed en die beste spelers vir hul rolle kies om die gekose boodskappies keer op keer uit te dra.

PG kén mense, en hoe hulle in verskillende milieus met mekaar omgaan. Daarom kan hy hierdie verskillende wêrelde so suksesvol skep en van tipe-karikature steeds geloofwaardige karakters maak. Stukkie vir stukkie bou hy hulle op en geleidelik leer die leser hulle ken. Eindelik is hulle so bekend dat jy simpatie het vir die slegstes, indien nie empatie nie, en staan jy saam met die drie ongeïdentifiseerde ek-vertellers voor die koöperasie of die kroegtoonbank, of swets jy saam oor die bek-ekter wat al weer aan die gruis verstik het. En dis nie nét vir behaaglik kekkel nie - daar is ook etlike gevalle waar die tragiese by die komiese oorneem, met ’n vuurwarm sweepslag – met die armsalige Pietersetjies voor in die koor. Om die balans te herstel, ook letterlik, voer hulle één keer die botoon, een dag, in die Kerk. Maar sonder om dit regtig te besef.

So. Koöperasiestories bly vir my koning, met Tussen die riewe in ’n respektabele tweede plek. Hier kom die verteltrant sterker ooreen as wat die geval is met Hier sit die manne, wat ’n benoudheid het – die ewige gesittery in die kroeg laat mens só voel. Ook laat Tussen die riewe se Jan van Breda mens aan Koöperasiestories se Veldsman dink: die katalisators in gemeenskappies wat dreig om kort-kort op loop te gaan. Ek mis so iemand in Hier sit die manne en kan nie met enige van laasgenoemde ensemble se karakters identifiseer nie. Inteendeel: ek wil-wil kroegman Jannetjie se neus gaan platstamp. Of die AA soontoe stuur. Al twee soorte – hulle sal waarskynlik ’n sleeptrok nodig hê. Maar dalk is dit Hier sit die manne se vernaamste doel in hierdie bundel – waarom dit strategies in die middel daarvan ingedeel is – naamlik om ’n donkerder kant te verskaf. Wat by wyse van kontras die ander twee se helderder kant laat blink. Die mense wat kroeë beter ken as ek, mag dalk anders voel ...

Om mee af te sluit: laat ons kyk na ’n paar goeie frases as voorsmakie vir diegene wat reeds hulle duime en voorvingers in hulle beursies het. Volgens PG het hy nie die snoeiskêr ingelê om beter resensies te verseker nie. Hy het sy “little darlings” tussen die koerant- en televisiestories dus behou. So seg hy. En ek kla nie. Anders het van die volgende meesterstukkies ook gesneuwel:

Bladsy 95: “Genis sê dit lyk vir hom die duiwel werk ekstra aan kosters en goed, maar ek sou nie kon sê nie. Al wat ek weet, is dat Satan hier by ons nie laat slap lê nie.”

Bladsy 117: “Ons het op die oomblik nie ’n prokureur op die dorp nie, so dinge gaan redelik eerlik hier.”

Bladsy 132: “Sarie staan toe glo in die deur. Die konstabeltjie wil verbydruk, maar sy stáán. Met dié kom hy toe telkens met haar volheid in aanraking. ’n Fiks man het die probleem, sê Veldsman, dat hy half ’n registrasie vir dié klas van volheid het.”

Bladsy 241: “Freud sou by Fred kon leer, want die vrees uit die horries is dalk die diepste vrees, daar sit soveel selfverwyt en daaglikse neerlaag in die miere, goggas en duiwels wat die horries teen toonbanke, kroegmure en uiteindelik die wit van hospitaalbeddens laat oprys en verbykruip.”

Bladsy 244: “So Jellie lieg oor hy nie van Fred hou nie, want hy’t Fred beledig oor Fred se neef Piet Oosthys sy brak met derms voer en toe’t Fred vir hom gesê sy ma is Engelsgesind.”

Bladsy 310: “’n Gazette is ’n soort koerant, net nog slegter, sê Gawie Frank ons, en hy sal weet, want hy’t van landbougeleerdheid uitgeboer.”

En laaste, op bladsy 321, ’n stukkie politieke satire: “Staak is daar buite die kwessie en vakbonde word nie toegelaat nie. Alhoewel die vakbondsisteem direk vanuit die hel in die ondermaanse aan die gang gehou word, word dit nie in die Verdoemenis geduld nie. Selfs die warmplek sit perke aan pynlike domastrantheid.”

Kóóp die boek. Anders het PG pêrels voor die swyne gewerp! Vir R160 kry jy nie beter medisyne vir die Nuwe Suid-Afrika Blues nie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top