PEN Afrikaans Vertaalfonds: ’n onderhoud met Marga Stoffer

  • 1

Naomi Meyer gesels met Marga Stoffer, ondervoorsitter van PEN Afrikaans, oor die nuwe PEN Afrikaans Vertaalfonds.

Marga, die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), is welkome nuus vir die Afrikaanse boekebedryf. Waar kom die gedagte vir ’n vertaalfonds vandaan en waarom is besluit om so iets op die been te bring?

Skrywers en uitgewers beywer hulle deurentyd vir vertalings. Die een kwessie wat oor die jare heen gereeld in onderhandelinge tussen uitgewers oor die lisensiëring van vertaalregte vir Afrikaanse tekste ter sprake kom, is die gebrek aan ’n vertaalfonds om dit te ondersteun. Daardie leemte het in baie gevalle tot gevolg gehad dat Afrikaanse boeke nie in vertaling verskyn het nie.

Wanneer ’n buitelandse uitgewer ’n vertaling van ’n Afrikaanse boek uitgee, moet daardie uitgewery al die koste aangaan wat deel is van die normale publikasieproses, maar daarby kom ook nog die vertaalkoste. Dikwels beteken dit dat hóé graag die oorsese uitgewer ook al die vertaling wil uitgee, dit finansieel te riskant is.

Dit is eintlik verstommend om te sien hoe algemeen vertaalfondse in ander lande en vir ander tale is. Ek is bewus van meer as 50 vertaalfondse of -projekte, vir ’n menigte tale: Engels, Duits, Frans, Italiaans, Nederlands, Vlaams, Iers, Wallies, Portugees, Spaans, Katalaans, Sweeds, Deens, Fins, Noorweegs, Grieks, Pools, Russies, Tsjeggies, Hongaars, Roemeens, Serwies, Slowaaks, Turks. Ook vir minder voor die hand liggende tale, byvoorbeeld Baskies (wat ongeveer 660 000 sprekers het), Maltees (520 000 sprekers), Yslands (330 000), Sloweens (2,5 miljoen), Estlands (1 miljoen), Letties (wat deur die ongeveer 2 miljoen inwoners van Letland gepraat word) en Litaus (3 miljoen). En dan is daar vertaalfondse wat gerig is op vertalings van boeke uit spesifieke kulture (waar tale betrokke is wat in verskeie lande gepraat word), byvoorbeeld Skots, Kanadees (Engels of Frans), Nieu-Seelands of Australies.

Dit was dus eintlik skreiend dat daar nie ’n vertaalfonds vir Afrikaans bestaan nie, en dit is waarom PEN Afrikaans besluit het om so ’n fonds vir Afrikaans te probeer stig.

Die grondbeginsel wat hierdie befondsing onderlê, is dat ’n vertaalfonds die Afrikaanse letterkunde sal bevorder. Maar bevorder Afrikaanse letterkunde per se nie die Afrikaanse letterkunde nie? Wil jy verduidelik hoekom jy meen dat vertaalde Afrikaanse werke (na ander tale) die letterkunde verruim, eerder as om die taal Afrikaans in boeke te bedreig?

Ja, natuurlik bevorder Afrikaanse letterkunde per se die Afrikaanse letterkunde; daarom is dit so belangrik dat Afrikaanse skrywers in Afrikaans moet aanhou skryf. Daarsonder het ons nie ’n letterkunde nie. Maar dit is ook so dat ’n letterkunde nie in isolasie bestaan nie. Vir die letterkunde van ’n klein taalgroep om deel te kan wees van die wêreldliteratuur, is vertaling nodig. Dit is belangrik vir ons letterkunde om as ’t ware deel te raak van die “literêre gesprek” in die wêreldletterkunde, en dit is ook belangrik in die konteks van die statuur van ons taal en kultuur en letterkunde. Dit is goed om te kan sien dat die beste Afrikaanse skrywers nie hoef terug te staan vir internasionale skrywers nie – dat ons trots kan wees op Afrikaanse skrywers wat internasionaal hoog geag word. Nie net literêre skrywers soos Marlene van Niekerk en Karel Schoeman en digters soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog nie, maar ook skrywers wat hulle in hul genre in die heel beste internasionale geselskap bevind, soos Deon Meyer met sy spanningsverhale en Irma Joubert met haar historiese romans. En dit is belangrik vir die skrywers self: vir die erkenning wat hulle kry deurdat hulle werk vertaal en internasionaal gerespekteer word, en ook die inkomste wat dit hopelik vir hulle moontlik maak om steeds in Afrikaans te skryf.

Dit is wonderlik as wêreldletterkunde in Afrikaans vertaal word, en dit Afrikaanssprekendes (as ons nie in Engels of ander wêreldtale kan lees nie) toegang tot ’n wyer wêreld gee. Maar dit is net so belangrik dat ons eie, Afrikaanse stories toeganklik gemaak moet word vir die res van die wêreld. En: hoewel Afrikaans ’n klein taal is, het hierdie klein taal ’n aantal skrywers van wêreldgehalte opgelewer, en ons kan met trots uitreik na die res van die wêreld en ons eie verhale deel, eerder as om slegs te ontvang wat ander tale en kulture kan bied.

Ons dink baie oor die Engelse of dalk die Nederlandse wêreld wanneer Afrikaanse boeke ter sprake is. Is hierdie fonds beskikbaar vir boeke in ander tale ook? Wie stel belang en watter lande is veral geïnteresseerd in Afrikaanse boeke? Of hang dit ook nogal van die boek en die skrywer en die genre af?

Die fonds is beskikbaar vir vertalings in alle wêreldtale, hoewel tale soos Engels, Frans, Duits, Sweeds, Nederlands en Spaans, wat groter markte het en/of makliker tot vertalings in ander tale lei, voorkeur mag geniet as daar hopeloos te veel aansoeke sou wees.

Afrikaanse uitgewers het inderdaad goeie kontak met Nederlandse uitgewers – daar is belangstelling in ons boeke en verskeie goeie vertalers, dus word betreklik baie van ons skrywers se werk in Nederlands vertaal. Ander lande wat belangstel in Afrikaanse skrywers is Frankryk en Duitsland. Faktore wat die belangstelling bepaal, sluit die skrywer in – Karel Schoeman byvoorbeeld se werk word steeds in Frans vertaal en is onlangs ook in Nederlands heruitgegee, sowel as in die VSA. Deon Meyer, wat in baie tale vertaal word, maak deure oop vir ander skrywers – veral spanningsverhaalskrywers – omdat uitgewers wat sy werk ken, meer ontvanklik is daarvoor om Afrikaanse boeke te oorweeg.

Die rol van vertalers is ’n baie belangrike aspek wat nie onderskat moet word nie. Die beskikbaarheid van goeie vertalers – veral vertalers wat direk uit Afrikaans kan vertaal en nie via ’n ander taal moet werk nie – is dikwels van deurslaggewende belang. In die eerste plek is hulle funksie natuurlik om uitstekende vertalings te skep wat getrou is aan die oorspronklike werk. Maar soms gaan hulle rol en invloed ook verder, deurdat hulle aanbevelings aan buitelandse uitgewers doen en as ’t ware as pleitbesorgers vir ’n boek of skrywer optree. Ons is gelukkig dat daar uitnemende vertalers is wat na veral Frans, Engels, Nederlands en Duits vertaal, en ons hoop dat die vertaalfonds tot gevolg sal hê dat vertalers na ander tale ook met meer belangstelling na Afrikaanse tekste sal kyk.

Wat van al die ander tale vlak hier onder ons neus – die tale van ons eie land? Hoe lyk behoeftes, die mark en beskikbaarheid om boeke vir al die lesers van die land in mekaar se tale beskikbaar te stel?

Dit is ’n heel ander kwessie, en ’n baie belangrike een. Wanneer dit kom by al Suid-Afrika se tale, gaan dit oor die deel van verskillende plaaslike kulture onderling, in ons eie land; oor mekaar beter leer ken en verstaan deur mekaar se stories; oor respek vir ons eie tale en lees in ons eie tale. Dit sluit in dat, om geletterdheid te bevorder, dit belangrik is dat kinders in hulle huistaal leer lees voordat hulle in ander tale leer lees. (Hoewel dit nie betwis word nie, is daar skynbaar nie ’n sterk verbintenis daartoe om dit te laat gebeur nie.) Ek dink ook dat dit weens die baie amptelike tale eenvoudig net meer prakties is om een taal, Engels, as voertaal en skryftaal te gebruik, dat Engels weens sy posisie as saketaal ’n sekere statuur het, en dat dit alles ten koste van ander tale en hulle letterkunde is. Maar dit is ’n lang, lang gesprek, en die kwessies is anders as dié wat betrokke is by die “uitvoer” van ons letterkunde – dit is meer sosio-ekonomiese kwessies wat hier aangespreek moet word. Die doel van die vertaalfonds, daarenteen, is internasionale bevordering van spesifiek die Afrikaanse letterkunde (PEN Afrikaans se mandaat), en is dus nie eerstens gerig op die belange van ’n interne Suid-Afrikaanse samelewing nie.

Dit sou natuurlik wonderlik wees indien die regering fondse sou beskikbaar stel vir die vertaling van Suid-Afrikaanse tekste in die verskillende landstale onderling. En wie weet, moontlik sou ’n Suid-Afrikaanse vertaalfonds wat die vertaling en internasionale publikasie van al die amptelike Suid-Afrikaanse tale ten doel het, mettertyd ’n moontlikheid wees. Dit sou strook met wat in ander lande gebeur: die oorgrote meerderheid van vertaalfondse internasionaal is inisiatiewe van en word befonds deur die regerings van daardie lande.

Daar is sekere kriteria waaraan boeke moet voldoen om in aanmerking te kom vir die vertaalfonds. Wil jy dalk iets hieroor sê?

Ja. Nie alle soorte boeke kom in aanmerking vir befondsing nie. Die fokus is op goeie skryfwerk in Afrikaans, op teksgebaseerde boeke van gehalte. Dit beteken dat fiksie (literêr, maar ook uitstekende genrefiksie), narratiewe niefiksie en goeie kinder- en jeugfiksie in aanmerking kom. Prenteboeke, resepteboeke, reisgidse, selfhelpboeke edm kom nie in aanmerking nie. Uiteraard is die befondsing ook beperk tot boeke wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Daar moet reeds ’n kontrak met ’n buitelandse uitgewer wees vir die lisensiëring van die regte, hoewel ’n voorwaarde van die kontrak die befondsing van die vertaling mag wees. En die buitelandse uitgewery moet kan bewys dat dit ’n stabiele besigheid is wat die vertaalde werk professioneel sal uitgee en behoorlik sal bemark. Die vertaling moet, indien moontlik, direk uit Afrikaans gedoen word (dws nie via Engels nie). Die onderliggende riglyn is dat ons Afrikaanse skrywers en hulle werk wil beskerm en bevorder en in hulle beste belang wil optree. Die volledige reglemente is beskikbaar op PEN Afrikaans se webtuiste.

Wie kan aansoek doen vir hierdie vertaalfonds? Het skrywers iets hiermee te doen, of sal die gesprekke deur die uitgewers en oorsese agente gevoer word – ook ten opsigte van watter boeke in aanmerking behoort te kom?

Slegs buitelandse uitgewers wat ’n Afrikaanse werk in vertaling wil uitgee, kan om befondsing aansoek doen. Die eerste gesprek sal dus plaasvind tussen die buitelandse uitgewer en die persoon wat die skrywer se vertaalregte bestuur, byvoorbeeld die skrywer self, sy uitgewer of sy agent.

Wat van boeke wat lank gelede verskyn het – kom hulle ook in aanmerking?

Ja, hulle kom in aanmerking. Daar is wonderlike klassieke werke in Afrikaans wat dit verdien om internasionaal gepubliseer te word.

Na skatting, hoeveel boekvertalings sal per jaar deur dié vertaalfonds ondersteun kan word?

Dit is alles nog baie nuut, en ek raai maar. My skatting is dat ongeveer tien vertalings (van vollengte-romans – maar dan nou nie so dik soos Agaat of Buys of Die wêreld van Charlie Oeng nie!) ondersteun kan word. Die vertaalkoste kan volledig of ten dele befonds word, afhangend van ’n verskeidenheid faktore.

Is alle Afrikaanse boeke vertaalbaar? Ek dink byvoorbeeld aan ’n boek wat in ’n sosiolek geskryf is, of ’n boek waar ’n spreker of styl baie spesifieke taalgebruik behels.

Ek dink die meeste Afrikaanse boeke kan vertaal word. (Ek was al verbaas oor boeke wat ek as onvertaalbaar beskou het wat wél in vertaling verskyn het!) Of alle boeke tot ’n internasionale leser sal spreek, is egter weer ’n ander vraag. In sommige gevalle is ’n boek ontoeganklik vir lesers uit ander kulture, omdat die boek tot “ingewydes” spreek, en veronderstel dat die leser ’n sekere agtergrondkennis het – van taal, kultuur, geskiedenis, wat ook al. In ander gevalle kan dit wees dat die onderwerp van ’n boek nie interessant is vir enigiemand buite die spesifieke kultuur nie – soos uitgewers soms sê: “It doesn’t travel.”

Watter oorsese skrywers het onder jou aandag gekom as gevolg van hul boeke in vertaling (Engels, Afrikaans, of in ’n ander taal wat jy magtig is)? Of watter oorsese skrywers het onder die Suid-Afrikaanse boekemark se aandag gekom as gevolg van vertaling, as jy na verkope kyk?

Die heel eerste boeke wat ek deur vertaling leer ken het, was Shakespeare se Hamlet, in Afrikaanse vertaling, toe ek ’n kind was, en Gejaagd door de wind, die Nederlandse vertaling van Gone with the wind, deur Margaret Mitchell. (Ek het geen idee hoe Hamlet in ons huis beland het nie – dit was so ’n onwaarskynlike boek om in die boekrak van ’n Nederlandse immigrante-gesin te wees.) Daar was ’n hele klomp boeke wat ek as kind en jong meisie in Nederlandse vertaling gelees het voordat ek eers op hoërskool Engelse boeke begin lees het – ek onthou Leon Uris, en ’n klomp spanningsverhale.

Die mees onlangse voorbeeld van boeke wat onder die plaaslike boekemark se aandag gekom het danksy vertaling en wat buitengewoon suksesvol was, is waarskynlik Stieg Larsson se heerlike The girl with the dragon tattoo en die titels wat daarop gevolg het. Dié reeks boeke was maande lank topverkopers. Die Brasiliaanse skrywer Paulo Coelho se boeke is ook gedurig op die topverkoperlyste.

Dis vir my moeilik om skrywers in vertaling uit te sonder. Ek noem enkeles aan wie ek nou kan dink en wie se boeke ek op my boekrak raaksien, maar ek weet ek gaan iemand vergeet: Haruki Murakami (Japannees), Orhan Pamuk (Turks), Umberto Eco (Italiaans), Jostein Gaarder (Noorweegs), Gabriel García Márquez en Isabel Allende en Laura Esquivel (Spaans). En dan het ek gehou van The hundred year old man who climbed out the window deur die Sweedse skrywer Jonas Jonasson, wie se ander boeke ek ook nog wil lees. En nadat ek Håkan Nesser se Hour of the wolf gelees het, is ek ook lus vir nog Sweedse misdaadverhale.

  • 1

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    Dis 'n lieflike en nodige inisiatief, Marga Stoffer, en dat dit nou in plek gestel word kan grotendeels toegeskryf word aan jou visie, entoesiasme en kennis van "die duisende paadjies van tale deel en waardeer om daarmee die mensdom se ervaringskim ruimer te maak."

    Veels geluk namens ons almal en veral baie dankie.

    Breyten Breytenbach

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top