Onse Vaders boei van begin tot einde

  • 0

Titel: Onse Vaders
Skrywer: Karin Brynard
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798158237

 

Klik hier om Onse Vaders te koop by Kalahari.com.

Met haar eerste boek, Plaasmoord (2009), het Brynard ’n merkie gekerf aan die deurkosyn van die spanningsroman-genre, ’n merkie waaraan haar en ander skrywers se boeke in die vervolg gemeet sou word.

Onse Vaders trek met ’n spoed weg wat die leser só aan die nek naderpluk dat daar nie tyd is vir neersit om ’n koppie koffie, of iets sterkers, saam met die karakters te drink nie ... en lesers het daardie iets sterkers nodig!

Aanvanklik wil dit steur dat die aandaglyn gebreek word met die spring na die twee ander storielyne wat Brynard met die hoofstorielyn van Beeslaar se Stellenbosch-ekspedisie vervleg. Weldra word daar egter padtekentjies geplant wat die leser rig op die feit dat hierdie drie storielyne belangrike raakpunte sou hê. Brynard bedank haar uitgewer, wat voorgestel het dat die twee boeke wat sy wou skryf, met mekaar moes trou en een word. Dit was duidelik goeie raad, want Onse Vaders sou armer gewees het daarsonder. Geloofwaardige storielyne word om die beurt aangebied en elke hoofstuk se einde skep nuwe afwagting. Eers in terugskoue word besef dat die drie storielyne aansienlik verskil in lengte, maar elkeen ’n volledig afgeronde, noodsaaklike element van die boek vorm.

Tog kon herhalende feite wat hier en daar voorkom, uitgesny word sonder om die storielyne te benadeel.

Brynard is duidelik ’n deurwinterde joernalis, wat deeglike navorsing doen en nie ge-Google-de halfwaarhede opdis nie. Dit is selfs te sien in die korrekte roetes wat karakters in hul omswerwinge volg. Enige leser wat bekend is met die omgewings waar die gebeure afspeel, hardloop saam met Beeslaar, Ghaap en Gerda in elke windverwaaide of stofbeswaarde straat en ruik en voel die verskillende omgewings in die geestesoog saam met hulle.

Die taal, wat eie is aan elke omgewing, is ook goed nagevors en die kleurrykheid daarvan gee net sóveel meer natuurlike lewe aan die karakters. Dit breek die wêreld van hul lewens vir die lesers oop om ’n intieme kykie daarbinne te kry. ’n Loslit- alledaagse spreektaal word nie net deur karakters aangebied nie, maar vloei ook uit die skrywer se alsiende oog met heerlike nuutskeppinge, byvoorbeeld “diefdig” (p 171) (vir eiendomme met sekuriteitstelsels), “skarrelbrak” (p 77) (vir flentergat sluipers), “leegrusper” (p 86) (vir die skoon eet van ’n bord kos), “knaterkrimper” (p 99) (vir ’n meer as stewige handdruk), “inslukstoel” (p 150) (vir daardie diep sit), “hardekooltjie” (p 284) (vir die karakter wat nie rondgeneuk word nie), en my gunstelingprentjieskepper: “Hy sit en sluk soos ’n Krismiskalkoen wat ’Stille nag’ hoor” (p 246). Hierdie boek is nie in Standaardafrikaans geskryf nie en bring die leser na die straatvlak, waar gewone mense in omgangstaal met mekaar verkeer en kommunikeer. Alhoewel baie van die dialoog vreemd op die oor val, slaag Brynard daarin om die boodskap duidelik oor te dra sonder om lang verduidelikings te gee.

Detail wat gebruik word om tonele te verf, skep prentjies wat beter is as film, en die grusaamheid sal die sensitiewe leser se maag soms laat draai.

Die karakters, gebore in Plaasmoord, word in Onse Vaders meer ingeleefde karakters waarmee lesers erbarming en meelewing ervaar. Die leser deel graag hul leefwêreld. Dat hulle goed beleef wat lesers nie in die normale omgang ervaar nie, dui op hoe diep verdeeld en versnipper Suid-Afrika is. ’n Wêreld waarvan min bekend is, tensy dit blootgelê word deur ingeligte, ingeburgerde deelnemers aan die andersins geslote wegkant van die samelewing. Dit is dalk juis hierdie onbekende speelvelde wat die leser so insuig in die storie en wat vir Brynard die geleentheid bied om met goeie karakterisering en ’n flinke pas die leser van begin tot einde te boei.

Brynard se nuwe merk aan die kosyn is nou selfs hoër gekerf, en daar word met groot afwagting uitgesien na die volgende intrige in die lewens van dié karakters. Hopelik sal ons hulle weer ontmoet, want al die karakters het nog baie skop in hulle, selfs Quebeka wat alleen in die Kaap agterbly. Brynard sal ’n kragtoer moet uitvoer om haar nie verlore te laat gaan nie.

Hierdie boek is ’n saamdra-in-die-kop boek, wat bevestig dat Brynard een van Afrikaans se meester-spanningsromanskrywers is. Onse Vaders word graag aanbeveel vir almal wat pitkos saam met lekkerlees soek.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top