In memoriam: Winnie Rust (14 April 1939 – 11 Mei 2016)

  • 19

Winnie Rust (foto: Naomi Bruwer)

Lees ook: Rouwbetuiging, Winnie Rust

Lees ook: By die afskeid van Winnie Rust

Winnie was ’n voorvrou. Van Wellington, spesifiek. Bolandse Boereadel. En sy was ’n scholar, in die outydse sin van die woord. Haar pa, die eerbiedwaardige CP van der Merwe, indertyd hoof van die Hugenote-kollege, was die broer van die digter Boerneef en self ’n gepubliseerde skrywer, en Winnie en haar broer, Chris van der Merwe, sou in hul pa se voetspore volg (Chris ook as akademikus).

Winnie se debuutroman, Martha (2004), is relatief laat in haar lewe gepubliseer, toe sy al in haar sestigs was, en was die uitvloeisel van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Met dié verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford, is Winnie se uitgebreide navorsing oor die geskiedenis van haar geliefde dorp – “het lieve Wellington” waaroor PH Nortjé ook geskryf het – aan ’n wyer gehoor bekend gemaak. (In 2008 het Richard van der Ross The Black Countess oor hierdie merkwaardige vrou van slaweherkoms gepubliseer; sy was onder meer die stigter van die skooltjie in Wynberg wat later ontwikkel het tot die Battswood Onderwyskollege.)

Juis deur Martha, uitgegee deur Petrovna Metelerkamp van Hemel & See Boeke, het ek Winnie leer ken. Ons kennismaking was per e-pos, toe ek die geredigeerde teks aan haar stuur met die gebruiklike lysie vrae daarby. Een vraag het gegaan oor datums wat nie klop nie, waarvolgens Martha sewe maande swanger was pleks van nege maande. Waarop Winnie enigsins krapperig antwoord dat maande tel nie haar sterk punt is nie. Maande later by ’n boekgeleentheid op Stellenbosch nader ’n mooi gryskopvrou my en ontmoet ons vir die eerste keer persoonlik. Sy skuld my ’n dankie, sê Winnie, oor daai lysie vrae wat haar van ’n paar flaters gered het. En dit het die res van ons verhouding as skrywer en redakteur gekenmerk: haar erkentlikheid en waardering.   

By dieselfde geleentheid gesels ons oor die skryfwerk waarmee sy besig is. Sy wil verder ingaan op die lewe van Celestine Schoch, die bejaarde vrou wat haar in die 1870’s saam met die Wederdopers op Wellington gevestig het, vertel Winnie. En Miss Abbie van die Seminary ook, sê ek, ek kon in Martha sien jou hart lê by haar. Winnie se volgende boek, Margie van die Seminary en ander verhale (Human & Rousseau, 2011), bevat dan ook die verhaal van Abbie Ferguson, die jong Amerikaanse onderwyseres en talentvole sterrekundige wat deur Andrew Murray gewerf is vir sy nuutgestigte meisieskool. Dié bundel oor merkwaardige vroue van Wellington bied ’n wonderlike blik op Winnie self: deur die ingewing van haar uitgewer, Janita Holtzhausen, word die ses verhale saamgebind deur stukkies vertelling uit haar persoonlike lewe terwyl sy daaraan geskryf het.

Winnie Rust kon die innerlike lewe, die binnewêreld van ’n karakter, uitbeeld soos min ander - haar taalgebruik fyn, haar beskrywings ontroerend. Dít is ook wat haar beweeg om te skryf, het sy gesê: dat sy ontroer moet wees deur iets. Haar laaste boek, Trek (2013), wys ten beste hoe sy haar kon indink en inlééf in ander se omstandighede. Sy was haar lewe lank nou betrokke by die Wellington Museum, en elke jaar met Vrouedag het sy ’n program aangebied om ’n besonderse vrou van die dorp te vereer. Deur haar vriendskap met die onderwyseres Charlotte Cupido (die karakter Miss Girlie in Trek), het Winnie die geskiedenis van Wellington se bruin gemeenskap leer ken. Haar skreiende uitbeelding van die gedwonge verskuiwings uit die middedorp in die 1960’s, waardeur die bruin mense selfs hul kerkgebou verloor het, het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak.

trek300Winnie was by uitstek ’n meelewende mens en ’n gemeenskapsmens. Ná die gruwelike moord op Lisbé Smuts-Smith in 2005 het sy intens betrokke geraak by Alexa (Fuff) Kirsten, die buurvrou wat Lisbé wou help en wat toe vermink is. Winnie het ’n eenbedryf oor Fuff geskryf, ’n Venster vol son, wat in 2007 met Paasfees opgevoer is (dit het in 2010 in Engels verskyn as Colours of Hope). Die karakter Miss Pat in Trek is ook op Fuff se lewe geskoei.

Wat ’n bitter ironie dat Winnie in soortgelyke omstandighede moes sterf, watter ontsettende verlies. Haar plek in haar huis en haar dorp en in ons literêre wêreld is leeg, maar die herinneringe en haar boeke – dit bly.

  • 19

Kommentaar

  • Ek is 'n kind van Wellington en het saam met die Rust-kinders grootgeword en skoolgegaan. My ouers is huisvriende met hulle en woon steeds daar. Ons staan verslae. Maar sal altyd bly glo dat ons Here weet wat Hy doen en hoekom. Ons gebede bly met haar hele familie.

  • Georina Westraadt
    Georina Westraadt

    Dit is so hartseer, tragies en wreed, onnodig. Wat kan mens doen behalwe om haar nalatenskap te eer. Die hele gemeenskap van Wellington is verslae.

  • Anette van der Spuy

    Liewe Suzette
    Ironies dat ek jou nou so moet raakloop na al die jare... 'Ouma Winnie' was vir die eerste paar jare van my kinders se lewe vir hulle soos 'n spesiale-geleentheid ouma - hulle boesemvriende in die huis langsaan was gelukkig genoeg om haar as regte ouma te hê, en my twee het die lekker gehad om dan soms saam te gaan kuier in Wellington. Hulle onthou nou nog die betrokkenheid; die stappies tweede tol toe, die konserte by die huis, die ou karavaan in die tuin, spesiaal ingerig vir die kleinkinders om ook te kan speel, haar lekker mieliepap met die baie suiker. So 'n wonderlike en warm mens. So 'n onsinnige einde. Bly jy kon haar ken en so met haar saamwerk. Pragtige woorde vir 'n pragtige vrou. Anette (Kappet)

  • Lizette Murray

    Wanneer ek die berigte sien en na die foto's kyk, weet ek dat dit waar is, maar in my gedagtes leef Winnie Rust. Ek sien haar in die wintersonnetjie in haar dogter, Winnie, se huis sit, kop effens skuins soos sy luister. Wanneer sy praat, weeg sy haar woorde. Ek onthou 'n oggend toe 'n klompie van ons saam met haar op 'n 'Martha-stap' deur Wellington gegaan het en kon hoor en sien waar haar Wellingtonkarakters leef en geleef het. Sy ontvang ons by haar aan huis. Dis 'n feesmaal. Ook 'n gedagtenismaal. Dit was goed om Winnie Rust'n bietjie te kon ken.

  • Barry Moolman

    It's with shock that I convey my sincere condolences to her husband and family. Only
    a few months ago, had the opportunity to encounter her work at a poetry circle in Durbanville. Her passionate enthusiasm for poetry and writing leaves one spellbound. Winnie Rust will be sorely missed by the local community and her zeal for life and writing as well.

  • Rensia Robinson

    Vandag, presies een maand gelede op 13 April, stuur ek vir Winnie die volgende wense vir haar verjaarsdag die volgende dag: "Saam met jou geliefdes vier ons graag jou verjaarsdag omdat ons bly is oor jou. Soos die jare vermeerder, word die betekenis en inspirasie van geesgenote net groter en die waarde van elke geleentheid vir van hart tot hart gesels al kosbaarder. Hoe graag sou ons dus meer sulke goue ure met jou wou deurbring ..."
    Die 'afsluit-gedagte' van my skrywe lui soos volg: (Spr.22:12) "Die Here sorg dat die regte insig behoue bly."
    Soos ons albei weet, vra dit die gevoelige oor. Ons bede vir jou nuwe jaar is dat jou talent hiervoor jou rykdom en vreugde sal wees, sowel as die verryking van jou vriende/geliefdes."
    Winnie se 'woorde' bly die koestering midde-in die hartverskeurende 'afwesigheid'.

  • Cecile Cilliers

    Winnie was 'n geliefde vriendin, 'n geesgenoot. 'Verslae' is 'n toepaslike woord. Meelewing en troos haar familie toegebid.

  • Suzette
    DANKIE, vir jou mooi manier waarop jy ons geliefde Winnie Rust onthou ...
    Ek hou haar styf in my gedagtes-oog vas terwyl ek haar geliefdes toevou met liefde en simpatie.
    My onthou gooi die volgende draai ...
    Ek was Winnie se buurvrou vir 22 jaar.
    Derdelaan 12 in ons geliefde Wellington.
    Saam met Manie, die kinders, kleinkinders, en die hele Wellington is ons harte stukkend ... stukkend ... stukkend.
    Sy was die een wat ons met die gasvryste skinkbord tee en koekies verwelkom het in die Boland.
    Met tyd en gesels oor haar liefde vir ons taal het sy eendag opgemerk: “Magda, jy roep nie skryf nie, skryf roep jou ...”
    Op ’n koue wintersaand met leserskring drink ons koppies warm sop en gesels oor skrywers en gedigte ...
    Sy het ’n liefde in haar hart gehad vir Tina. Op Vrydae het Tina vir ons blikbroodjies gebak, die nota het gesê: Met liefde, van Winnie.
    Ons het saam ’n tuisgeoefende drama oor Andrew Murray met museumhoede, pakke en rokke vir skoolkinders opgevoer en ons vrek gelag as die klere nie pas nie ...
    Baie spesiaal was ons Sondae-aande saam as ons in die Kollege se auditorium met Ds Fanie Marais se aanddiens vol diep emosie ’n kersie brand vir ons geliefdes ...
    Willem se geselsie met haar as sy en Manie met die honde gaan stap het, sal ons altyd bybly ...
    Winnie was die buurvrou wat ons kinders sou voorkeer en inspireer met ’n vinnige geselsie, altyd die scholar, om te hoor van Jac Alana en Maree se doen en late. n Mens met tyd en empatie vir almal.
    Sy het een jaar onder in haar tuin by die groot boom, met die kleinkinders se swaai die hele erf toegesaai met groot warm rooi poppies ... indrukwekkend skildermooi ...
    Sy sal ons altyd bybly ... adel voorwaar.

  • Jeanne Henning Els

    Winnie Rust is sommer net weggevat.

    Dit is glad nie oukei nie.

    Tog bly praat haar woorde,

    Haar stem.

  • Louise du Toit

    Liefste Familie Rust
    Om julle te ken, is om julle lief te hê, en in geen geringe mate is dit die nalatenskap van julle ma Winnie.
    Mag julle troos ontvang.

  • Dierbare Winnie met die hart van goud en gees van uitreik, was 'n getroue, geliefde, jarelange lid van ons 1980 Poësieleeskring, en haar glimlaggende kommunikerende oë sal my gedagtes altyd bybly. Sewe jaar gelede het dierbare Winnie my uitgenooi om by hulle oor te slaap, toe ek 'n vriendin se huweliksgeleentheid op Wellington bygewoon het. Dankie Winnie en Manie vir julle spontane gasvryheid met daardie onthoudag. Mag ons Heilige Vader Manie se hand, asook die van die res van die hartseerfamilie s'n, vashou ... Met liefde, Mari Mocke

  • ursula gelder

    Dit is 'n skok om te hoor van 'n merkwaardige persoon Winnie Rust se heengaan. Engels en Afrikaans is so ver van mekaar verskuif dat ons nie daarvan gehoor het nie. Ek wonder net hoe het dit gebeur dat sy so skielik, so jonk afgesterf het? Ek het vir Mev Rust ontmoet by my tante Charlotte Helen Cupido se 80ste verjaarsdag in 2001 ... Ek is jammer vir Mnr Rust en die kinders ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top