Hennie Serfontein (1933–2017): Afrikaner buite die laer

  • 5

Hennie Serfontein (Foto: © Anli Serfontein, http://www.ourmaninsouthafrica.com/hennie.html)

“Joernaliste doen vlietende werk, mense onthou hulle nie, dis maar soos dit is,” word ek ligweg op die vingers getik toe ek mor omdat die Afrikaanse koerante en hul webwerf so traag was om oor Hennie Serfontein se dood te berig.

Ja wel, dis waar van baie joernalistieke werk, maar dit geld nie almal nie, en sekerlik nie Hennie Serfontein, of dan JHP Serfontein, die naam waaronder hy meer as 40 jaar lank geskryf het, nie.

Dis nie net die omvang en gehalte van sy verstommende joernalistieke werk in daardie jare waarvoor hy gehuldig moet word nie; dis ook vir sy onverskrokkenheid en sy beginselvastheid wat hom uit die Afrikanerlaer van sy tyd laat tree en ʼn stuk of veertig jaar lank die verguising daaroor laat verduur het.

Toe ek hom in die laat 1970’s leer ken het, was hy reeds ʼn groot naam in die joernalistiek. Daarvan sou jy niks vermoed het as jy hom terloops raakgeloop het nie: ʼn reguit man wat dinge pront by die naam kon noem en wat graag gekuier en gesels het, sonder enige grootdoenerigheid en met sy voete plat op die aarde; ʼn gesinsman – hy en Herta was met sy dood 60 jaar getroud en hy laat vier dogters en nege kleinkinders agter – en al het hy 12 jaar lank vir die Sunday Times, geskryf, het ʼn mens nooit aan hom as iets anders as ʼn Afrikaner gedink nie. “Die beste Afrikaner,” het Van Zyl Slabbert glo gesê.

Dit hang natuurlik af van wat jy as ʼn Afrikaner beskou. Jy kan saamstem met wat Max du Preez verlede week in ʼn onderhoud gesê het: “Hennie was altyd ʼn Afrikaner, maar hy het nooit Afrikaners se belang bo die res van Suid-Afrika gestel nie. Hy het geweet Afrikaners is maar ʼn deel van Suid-Afrika en as jy wil trots en Afrikaans wees, moet jy inpas by die res van die samelewing.”

Of jy kan met die eng blik kyk van die destydse Afrikaner-establishment (amper vergete: só is die Afrikanerdom met sy netwerk organisasies, sy Nasionale Party, sy kerke, skole en universiteite destyds genoem) en dan sal jy heftig van Slabbert verskil. Wat dié Afrikaners betref, was Hennie ʼn verraaier. Verwoerd het hom in die parlement uitgekryt, John Vorster van politieke verhoë af. In die kerk was hy so persona non grata dat sy vrou onder sensuur geplaas is en daar geweier is om een van sy dogters te doop. Is daar nog ʼn woede soos dié van die tradisionele Afrikanerdom teen dié wat die laer verlaat het?

Dit het só gekom: die (Afrikaner-)wêreld het in 1950 voor die briljante jong Hennie Serfontein oop gelê. Sy pa was ʼn staatsamptenaar wat aan die parlement verbonde was en dus het die gesin in Hennie se laerskooljare heen en weer tussen Kaapstad en Pretoria gereis. Dalk was dit hoe die politiek in sy bloed gekom het. Hy was daarna hoofseun van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria en was skaars 16 toe hy matrikuleer. Daarna het hy sy regskwalifikasies aan die Universiteit van Pretoria en Unisa verwerf.

Toe het dit gelyk of die pad in die Nasionale Party-politiek vir hom oop lê. Hy was die Suid-Transvaalse voorsitter van die Nasionale Party se Jeugbond (die wegspringplek vir menige latere NP-leier) en daar word vertel dat hy self gesê het hy wou in daardie stadium eendag eerste minister word.

Maar toe DF Malan se Nasionale Party-regering die bruin mense van die algemene kieserslys verwyder, het hy bedenkinge gekry en in 1955 uit ʼn NP-kongres gestap uit protes teen die party se rassebeleid. Daarna nooi hy, as voorsitter van die Pretoriase Politieke Studiegroep, die destydse president van die ANC, Albert Luthuli, om ʼn vergadering in Pretoria toe te spreek. Die vergadering is met geweld deur ʼn groep Afrikaners opgebreek en Hennie en Luthuli is erg aangerand. In 1960 het hy sy werk as regtersklerk verloor weens sy betrokkenheid by die opposisiepolitiek

ʼn Ruk lank het dit gelyk asof dié politiek sy voorland is, eers in die destydse Suidwes-Afrika (vandag se Namibië) en in die vroeë 1960’s in Suid-Afrika as die destydse Progressiewe Party se publisiteitsekretaris.

En toe kom hy op die Broederbond se spoor ... By die Sunday Times het Charles Bloomberg net begin proe-proe aan die Broederbond en Hennie het vir hom dokumente in Afrikaans help vertaal sodat hy sy berigte kon skryf. Toe Bloomberg in 1965 vinnig landuit is, het die Sunday Times, toe nog onder die redakteurskap van Joel Mervis, Hennie aangestel ... en die loopbaan van een van Suid-Afrika se mees vreeslose en produktiefste joernaliste het begin.

Jare lank het hy ʼn foutlose stroom inligting oor die binnewerkinge van die Broederbond gepubliseer. Dit was nie ter wille van die blote sensasie nie: vir die eerste keer is met jota en tittel aan Suid-Afrika voorgehou hoe ver en diep dié magtige organisasie van wit Afrikanermans se tentakels in die samelewing strek. Teen die laat 1970’s het die Sunday Times sy smaak vir onthullings oor Afrikanerkwessies en veral die Broederbond begin verloor (daar is wyd aanvaar dat Joel Mervis se opvolger onder druk geswig het), en Hennie het ʼn gerekende vryskutjoernalis geword. Maar eers het hy sy Broederbond-fase afgesluit met ʼn boek, The Brotherhood of Power (1978).

Dié onthullings was miskien van Hennie se opsienbarendste werk, maar hy het ʼn veel wyer veld gedek. So het hy die 1968-skeuring in die Nasionale Party sien kom toe ʼn regse faksie onder Albert Hertzog weggebreek en die Herstigte Nasionale Party gestig het, en breedvoerig oor al die woelinge daaromheen berig. Daardie gebeure was die voorloper van die sogenaamde verlig/verkramp-verdeling in die Afrikanerdom en Hennie se boek oor daardie bykans vergete, maar belangrike, stuk politieke geskiedenis, Die verkrampte aanslag (1970), is vandag kosbare Africana.

Hy het, dalk meer as enige ander joernalis van sy tyd, die NG Kerk se politieke rol verstaan en daaroor geskryf. Dit het in 1982 uitgeloop op sy boek Apartheid, Change and the NG Kerk. Die tafel was gedek vir dié kerk se jare lange binnestryd oor apartheid en Hennie het tot ergernis van die kerklui uitvoerig daaroor geskryf.

Teen dié tyd het Hennie sy vlerke al wyer in Suider-Afrika gespan. Hy was ʼn gesaghebbende oor Suidwes-Afrika/Namibië. Hy was die eerste joernalis aan wie Samora Machel kort ná sy verkiesing as president van Mosambiek ʼn onderhoud toegestaan het. Hy het ʼn wye netwerk kontakte in die toe reeds verbanne ANC opgebou en OR Tambo goed leer ken. So het dit gekom dat hy in 1989 die eerste joernalis was wat berig het dat die destydse minster van justisie, Kobie Coetsee, en die toe nog gevange Nelson Mandela verkennende gesprekke gevoer het.

In die laat 1980’s het hy vir Max du Preez se Vrye Weekblad begin werk en nadat dié onafhanklike koerant in 1994 tot niet is, het hy sy vryskutloopbaan voortgesit, teen hierdie tyd ook as TV-joernalis. Met die juk van apartheid verbreek, kon hy nou vryelik dokumentêre TV-programme vir Suid-Afrikaanse gehore maak. Dit het ingesluit dokumentêre oor aartsbiskop Desmond Tutu, Zanele Mbeki, Breyten Breytenbach en Beyers Naudé, asook verskeie programme tydens die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog, waaronder een oor die lot van swart vroue en kinders in die konsentrasiekampe.

Ook in die buiteland was sy werk gesog, veral in Nederland, waar hy onder meer vir die koerant Trouw en vir die TV-stasie IKON gewerk het. So hoog is hy geag dat IKON twee jaar gelede ʼn program oor hom, “Our man in South Africa”, uitgesaai het.

Vlietende joernalistiek? Nie JHP Serfontein sʼn nie. Nie net omdat hy die Afrikaner- en Suid- en Suider-Afrikaanse geskiedenis volledig en gesaghebbend opgeteken soos dit jare lank gebeur het nie, maar bowenal omdat sy werk gevolge gehad het, tot vandag toe: deur sy beriggewing en onthullings en ontledings het hy ʼn reusebydrae gelewer tot die bewuswording nie net van die dwaasheid van apartheid nie, maar van die rol van die georganiseerde Afrikanerdom en by name die Broederbond en die NG Kerk daarin. Hy het saam met ander – baie van hulle ook Afrikaners buite die laer, mense soos Beyers Naudé en Nico Smith – die weg vir die aftakeling daarvan help berei.

Vir sy vreesloosheid en beginselvastheid het hy ʼn prys betaal. Hennie moes sy hele lewe lank vyandigheid, dreigemente en intimidasie verduur. Tot vandag toe, soos nydige leserskommentare onderaan Netwerk24 se berig verlede Woensdag getuig. Want steeds, blyk dit, is daar ʼn Afrikanerlaer. Ironies is daar juis weer in die week van Hennie se dood uit dié laer met grofgeskut losgetrek op die ATKV, wat “brûe wil bou en mure wil afbreek”.

Maar Hennie kan in vrede rus: hy het enduit geleef en gewerk soos sy gewete aan hom voorgeskryf het.

  • Bronne: A century of Sundays: Hundred years of the Sunday Times (2006); IKON: Our man in South Africa (2015); David Harrison: The white tribe of Africa (1982); John Mattison in Daily Maverick: The passing of a giant of the pen; “Hennie Serfontein was die beste Afrikaner” – Van Zyl Slabbert aangehaal deur Max du Preez op Netwerk24.
  • 5

Kommentaar

  • Klink of die " broeders " nog die sweep klap by die Afrikaanse koerante en hul webwerf! Hul wil duidelik nie aan hul en hul voorganger se dade herinner word nie.

  • Hannes van der Westhuizen

    Hennie was die volk se Jeremia, sy boodskap was ook nie aangenaam en aanvaarbaar vir sy tyd nie.

  • By die 1971 Grabouw-byeenkoms van Afrikaanssprekendes vanaf verskillende kante van die Natte se kleurlyn, het my Duitswes-uitdrukking "so-by-so" 'n ontmoeting met Hennie veroorsaak. Die Verkrampte Aanslag het by eerste lees in 1970 (Windhoek, September, R3.50, volgens die inskrywing in my kopie) al gehelp om 'n twyfelende jong Afrikaner oor die rand na Helen Suzman se Progs te beweeg. My indruk is dat Ivor Wilkins en Hans Strydom se The Super Afrikaners (ook 1978) meer aandag as Brotherhood of Power gekry het. Maar Brotherhood was die Deurbraak (met apologie aan wyle Jan van Eck). Dankie Hennie.

  • bertie geensteen

    'n Waardige huldeblyk vir 'n man wat baie Afrikanergewetes aan die werk gekry het (nie genoeg nie, maar dit was nooit sy skuld nie). En dit is moontlik goed om aan ons bose laers van weleer herinner te word, as mens wil verstaan hoekom die regerende party nou ewe kranksinnig in hulle steun van die bestaande orde is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top