Filmresensie: Tess

  • 7

Tess
Regie: Meg Rickards
Draaiboek: Tracey Farren, gegrond op haar roman Whiplash
Spelers: Christia Visser, Brendon Daniels, Dann-Jacques Mouton, Lee-Ann van Rooi, Tashanay Daniels, Quanita Adams

Ek het laas met Black swan (2010) só gebomskok uit ’n fliekteater gestap. Tess, wat laas jaar drie pryse by die Durban International Film Festival ontvang het, is die soort film wat elke byvoeglike naamwoord wat ’n resensent kan kies, banaal laat voel. Laat ek volstaan deur te sê dis een van die beste flieks wat ek al ooit gesien het. As enigiemand nog bewyse soek dat ons plaaslike filmbedryf werk van wêreldgehalte kan lewer – hier is dit.

Tess (Christia Visser) is ’n jong prostituut wat die Kaapse strande Muizenberg en Strandfontein “doen”. Soos die dwelmhandelaar Merrick (Brendon Daniels) dit stel: “Jy’s ’n wit, Afrikaanse meisie wat ordentlik grootgeword het, hoekom is jy dan ’n hoer?” Deur terugflitse na Tess se kinderdae kom die kyker mettertyd agter die hoekom.

Die verhaal word vertel met min dialoog, ’n treffende klankbaan en uitstaande kinematografie (grinterige beelde, beligting wat feitlik wit uitgeblaas word). Moet vir geen oomblik selfs net ’n sweem van die skoonste Kaap in Tess se wêreld van verlate treinspore, afgeleefde woonstelblokke en windverwaaide strande verwag nie. Moet ook nie ’n verromantisering van prostitusie as beroep verwag nie – dit is nie Pretty woman nie, dis harde, skokkende realiteit.

In ’n onlangse onderhoud sê Christia dat sy nie gerig is op ’n Hollywood-loopbaan en Oscar-beeldjie à la Charlize Theron nie. Met die gehalte spel wat sy hiér lewer, kan sy egter maar gerus daardie soort ambisie hê. Ek wil dit waag om te sê dat Tess nie moontlik sou gewees het sonder haar in die naamrol nie. Bygesê: die hele span in en agter hierdie film verdien net die hoogste lof.

As jy ernstig is oor film as ’n kunsvorm, móét jy Tess gaan kyk. Wees egter voorbereid op grafiese geweld en ’n uiters ontstellende verkragtingstoneel. Tog eindig die verhaal met ’n hoopvolle wending wat die ongenadige kykervaring draaglik maak, en dis des te meer oortuigend omdat die redding nie van buite kom nie, maar vanuit die karakter self groei.

Sterre: 5

  • 7

Kommentaar

  • André Gildenhuys

    Ek het lank gesoek om iewers kommentaar te lewer oor die fliek TESS. Ons weet wat 'n sekswerker doen, maar om dit in so baie tonele uit te beeld, op verskillende maniere en so aanhoudend, was uiters swak smaak. Die advertensie op TV was briljant en het my nuuskierigheid geprikkel met hopelik 'n storie van hoop. Waarom is daar nie in die advertensies op die "tonele" klem gelê nie ? Teleurstellend! Hierdie fliek kan ek vir niemand aanbeveel nie. Ek sal volgende keer versigtiger wees om 'n Afrikaanse fliek te gaan kyk.

  • So lank mense so reageer op flieks soos hierdie, sal daar geen vooruitgang wees nie. Dit is nie 'n seksfliek nie. As dit is waarna jy gesoek het, sal jy teleurgesteld wees.

  • Sorry, dame, maar dis glad nie wat ek bedoel het nie. Ek meen ek is 'n jong dame en ek voel dat Tess 'n baie wyse besluit gemaak het met haar baba - dit vir alles waardeur sy is ...

  • Chanele Roodt

    Die feit dat daar verskeie sekstonele was, is juis nodig om te kan wys hoe mense in hierdie omstandighede weer en weer mishandel en misbruik word. Die feit dat daar meer as een toneel gewys is, illustreer ook dat daar meer as een "tipiese" gebruiker van hierdie dienste is. Mense wat hulself vind in hierdie lewe word weer en weer aan trauma blootgestel, hulle lewe basies in 'n permanente PTSD-staat. Dis nie vir almal net "business as usual" met elke kliënt nie. Geen wonder dat hulle nie altyd die beste keuses maak nie. 'n Tweede ding om ook in ag te neem is dat wanneer jy net gefokus is op oorlewing, neem jy ook nie altyd die beste besluite én doen jy soms dinge wat jy nie andersins sou nie, hetsy positief of negatief (die toneel met die dogtertjie en die gangster illustreer dit tog ook uiters goed). Hierdie film was vir my ontsettend goed en voel vir my soos 'n baie meer ware verteenwoordiging van wat regtig gebeur. Daar is ongelukkig vir die meeste mense nie altyd 'n silwer randjie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top